US-koor reg om Vlaandere te wys dat hulle die beste koor is

  • 0

André van der Merwe

Die Stellenbosch Universiteitskoor, wat tans die beste koor ter wêreld is, toer volgende jaar Vlaandere toe om aan die Wêreldkoorspele deel te neem en weer eens hulle titel te verdedig.

Die koor beklee al vir die afgelope sewe jaar die nommer een posisie op Interkultur se ranglys van top internasionale kore, en beplan om die posisie volgende jaar vir die agtste keer te verseker.

Die Interkultur-wêreldranglys is ’n ranglys wat bestaan uit meer as ’n duisend internasionale kore wat sedert 2000 aan Interkultur-kompetisies, soos die tweejaarlikse Wêreldkoorspele, deelneem.

Dié prestasie is egter nie al nie. In 2016 ontvang die koor ’n kykNET Fiësta-toekenning vir Beste prestasie in klassieke musiek. Hulle ontvang ook in 2016 en 2019 onderskeidelik die US Woordfees se Woordtrofee in die kategorie Klassieke musiek: Vokaal.

Die US-koor is die oudste koor in Suid-Afrika en is in 1936 deur William Morris gestig. Daarna neem verskeie koorleiers die leisels: Gawie Cillié (1940–1954); Philip MacLachlan (1955–1976); Johan de Villiers (1977–1984); Acama Fick (1985–1992); en Sonja van der Walt (1993–2002).

Die Interkultur Wêreldkoorspele vind van 5 tot 15 Julie 2020 in Vlaandere, België plaas en die koor is tans besig om met behulp van skarebefondsing fondse in te samel om volgende jaar Vlaandere toe te toer.

André van der Merwe, wat die US-koor sedert 2003 dirigeer, vertel meer oor volgende jaar se toer.

André, vir diegene wie nie bekend is met die US koor nie, vertel asseblief meer oor die koor – onder andere die geskiedenis van die koor, wie julle is en wat julle doen.

Die US-koor is die oudste koor in Suid-Afrika en is in 1936 gestig. Daar is tans 120 koorlede van verskillende studierigtings in die koor. Ons sing ’n uiteenlopende program wat werke van verskillende styltydperke insluit en ons sing ook graag verwerkings van populêre musiek, Afrika-werke en Afrikaanse komposisies.

Waarmee is julle alles tans besig? Enige geleenthede waarvoor julle tans oefen?

Omdat die koor uit studente bestaan, strek ons konsertseisoen elke jaar van Maart tot September. In hierdie tydperk bied ons heelwat konserte by die US Woordfees aan, hou galakonserte en gaan elke tweede jaar op ’n nasionale toer. Vanjaar het ons ook op Erfenisdag ’n geskiedkundige optrede in Soweto aangebied.

Julle toer volgende jaar Vlaandere toe. Vertel asseblief meer oor die toer. Waarom gaan julle Vlaandere besoek?

Ons gaan aan die Wêreldkoorspele in Vlaandere, België deelneem. Dit is die grootste koorkompetisie in die wêreld en die organiseerders verwag meer as 500 deelnemende kore.

Die koor is tans eerste in die wêreld op die Interkultur-wêreldranglys, ’n posisie wat julle al ’n paar opeenvolgende jaar beklee. Hoe word die ranglys bepaal en wat behels dit?

Die Duitse maatskappy, Interkultur, hou rekord van kore se prestasies regoor die wêreld. Vanaf 2012 tot op hede is die US-koor nommer een op die wêreldranglys vir die top 1 000 amateurkore in die wêreld.

Wat beteken hierdie prestasie vir julle?

Die uitslag van kompetisies en ’n lys bepaal nie wie ons is nie. Tog is ek baie trots op hierdie prestasie, aangesien dit gepaard gaan met groot opoffering en harde werk. Om oorsee deel te neem is elke keer ’n groot uitdaging vir ’n Suid-Afrikaanse koor. Die reis- en verblyfkoste is duur en ons moet kreatief te werk gaan om hierdie droom vir ons Matiestudente te verwesenlik.

Wat verg dit om hierdie posisie te beklee? Hoe maak julle seker dat julle voortdurend optredes van wêreldgehalte lewer?

Omvattende repertoriumbeplanning en -navorsing is nodig.

Ons probeer altyd om nuwe werke spesiaal vir die US-koor te laat komponeer, sodat ons aan die voorpunt van nuwe tendense en idees kan bly. Ons word deur die Toyota US Woordfees bestuur en hierdie span doen alles in hulle vermoë om die koor te koester en geleenthede te skep.

Wat is die boodskap wat julle met julle musiek wil oordra en wat inspireer julle musiekkeuses?

Ons wil vir Suid-Afrika en die wêreld wys wat diversiteit in een span kan vermag. Ons musiek spreek met ’n unieke energie en vertolking. Dit is ’n aspek wat bly ontwikkel en ek is trots hierop.

  • Foto’s: verskaf
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top