Die herrie wat losgebars het oor die aanstelling van oudregter Edwin Cameron as kanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) kring al hoe verder uit.
’n Regsjoernalis en nie-praktiserende advokaat, Gustaf Pienaar, sê oudregter Cameron behoort op etiese regsgronde uit sy amp as kanselier van die US te bedank, asook Wim de Villiers as rektor. Pienaar het ’n artikel in Die Burger geskryf waarin hy aanvoer hoofregter Mogoeng Mogoeng behoort ook die taaluitspraak oor die US ter syde te stel.
Dit volg nadat dit bekend geword het dat Cameron deur De Villiers genader is om hom as kanselier beskikbaar te stel terwyl Cameron een van die Konstitusionele Hof se regters was wat ’n beslissing moes neem oor die grondwetlikheid van die US se taalbeleid.
Die DA het gevra vir ’n onmiddellike ondersoek na die beweerde optrede van De Villiers. Die DA sê in ’n verklaring dit is verregaande dat De Villiers vir Cameron genader het terwyl die universiteit ’n respondent was in die hofsaak oor die posisie van Afrikaans by die US.
"We call on the SU and relevant law enforcement agencies to immediately launch an investigation into De Villiers’ alleged conduct." - @Leon_Schreibhttps://t.co/Kzi8QchMHd
— Democratic Alliance (@Our_DA) October 27, 2019
Die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, het ook tot die geveg toegetree. Sy het haar oudergewoonte tot Twitter gewend en gevra of daar nie dalk ’n belangekonflik in De Villiers se optrede was nie.
“Al die feite asseblief! Die publiek moet sien dat geregtigheid geskied, veral met ’n paradigmaskuif soos die uitfasering van Afrikaans as instruksiemedium op die kampus,” het Zille getwiet.
Was daar ’n belangekonflik in die optrede van S'bosch Rektor Wim de Villiers? Al die feite asseblief! Die publiek moet sien dat geregtigheid geskied, veral met ’n paradigma skuif soos die uitfasering van Afrikaans as instruksie medium op die kampus.https://t.co/v3UVyKHfZY
— Helen Zille (@helenzille) October 27, 2019
Zille se twiet het tot nóg ’n storm op sosiale media gelei. Sommige mense het haar geprys omdat sy in die bres tree vir Afrikaans terwyl ander haar daarvan beskuldig dat sy goedkoop politiek maak om Afrikaanse mense se steun te probeer werf vir die DA ná die party se onlangse binnegevegte.
Die DA sê in hulle verklaring universiteite is uiters belangrike instellings van die gemeenskap en dit is ononderhandelbaar dat hulle leiers te alle tye bo verdenking optree. Die DA sê niemand is bo die reg verhewe nie en De Villiers moet tot verantwoording geroep word vir die bewerings wat daar teen hom gemaak word.
Universities are extremely important institutions in our society & it is non-negotiable that their leaders must at all times be seen to be above reproach. At the same time, no person is above the law & De Villiers should be called to account for his alleged conduct. @Leon_Schreib
— Democratic Alliance (@Our_DA) October 27, 2019
Die US ontken ten sterkste dat daar enige inmenging was in die regsproses oor die universiteit se taalbeleid. De Villiers het volgens Netwerk24 gesê hy is oortuig hy het met absolute goeie trou opgetree en dat die verkiesingsproses van die nuwe kanselier korrek verloop het.
Hy sê Cameron se integriteit is ook bo alle twyfel verhewe omdat hy hom eers as kanselier verkiesbaar gestel het nadat die drukgroep Gelyke Kanse, wat hulle beywer vir Afrikaans as een van die onderrigtale aan die US, skriftelik aangedui het dat Cameron se nominasie ook vir hulle aanvaarbaar is.
Pienaar skryf egter in sy artikel dit is nie die volle verhaal nie. Hy sê Gelyke Kanse wou aanvanklik ook vir Cameron as kanselier nomineer maar het later besef daar is ’n onvermydelike belangebotsing. Volgens Pienaar was Gelyke Kanse nie daarvan bewus dat Cameron die hof se uitspraak sou lewer toe hulle verklaar het hulle het geen beswaar teen sy aanstelling as kanselier nie.
Pienaar beweer verder in sy artikel dit blyk dat De Villiers persoonlik probeer verseker het dat Cameron onbestrede verkies word.
Hy sê niemand sal ooit weet wat alles agter die skerms gebeur het nie en dat Cameron sy welverdiende reputasie slegs kan red deur afstand te doen van sy verkiesing as US se volgende kanselier omdat daar ’n gebrek aan geloofwaardigheid ontstaan het rondom sy aanstelling.
Met De Villiers het Pienaar minder simpatie as met Cameron en sê sy betrokkenheid by die aangeleentheid was uiters naïef. De Villiers behoort volgens hom die eerbare weg te volg en te bedank.
Lees ook
Lees ook op LitNet
Stellengate? ’n Ongelyke kans: Ope brief aan regter Edwin Cameron
Stellenbosse taalbeleid: woed die Anglo-Boereoorlog dan nog steeds?
US-taalbeleid en die Konstitusionele Hof se beslissing: Afrikaans? Afrikatale? Stellenbosch?
Buro: MvH