Vir soveel jare hoor sy van die Loeriesfontein Windpomp Museum, en toe dit uiteindelik blommetyd in die Namakwaland word, word die kar gepak en die pad uit die Kaap aangedurf, want dan is die museum oop vir besoekers, skryf Maryke Roberts.
Die platteland as jy eers oor die Piekenierskloof- en Vanrhynspas is, is beslis ’n hele week of meer se besoek werd – blomme of nie. Om wynavonture met ’n vakansiewegbreek te kombineer, in ’n streek van skouspelagtige skoonheid en diversiteit, is nie te sleg nie.
Deel van die Namaqua-Weskus se sjarme is ongetwyfeld dat dit minder besoekers as ander streke kry. Diegene wat egter wel die reis aanpak, staan in stille vervoering oor die rotsagtige kuslyn en versteekte baaie, unieke dorre landskappe, baie buitelewe-ervarings en onvergelykbare kos- en kultuurtradisies soos bokkoms, skuinskoek, afval en die rieldans. Die blomtapyte wat na die reën verskyn, is ’n besonderse hoogtepunt.
Die streek sluit die kusdorpies Doringbaai, Strandfontein, Ebenhaezer en Papendorp in, asook binnelandse dorpe soos Lutzville en Koekenaap, Vanrhynsdorp, Vredendal, Klawer en Trawal. Dit is die tuiste van die Hardeveld en Bokkeveld asook die Knersvlakte, wat verduidelik kan word as “die knaende vlakte” en vernoem na sy uiterste omgewing.
Landbou en groot wyndruifwingerde kan in dié gebied floreer, danksy ’n 300 km-netwerk van kanale wat deur die Olifantsrivier gevoed word en waarvan die bouwerk in die vroeë 1920’s begin het. Dit verteenwoordig steeds een van die land se groot ingenieursprestasies.
Die mense leef na aan die aarde, afhanklik van wind en son en reën.
“Olalla” van Blanco White speel toe ons teen laatmiddag die eerste draai van die kronkelende R357 buite Nieuwoudtville vat. Die bossies se lang skaduwees verf hul eie kunswerke op die donker teerpad. Ek draai my ruit af en trek die Hantamlug diep in my longe in.
By Gannabos lê die plat koppies in die verte soos ’n vaalblou Pierneef-skildery die hele voorruit vol.
Hier en daar staan polletjies dieppers blomme.
’n Halfuur of wat later wag Elna Brand se wit bakkie ons in voor die wit plaasmuur van Taaiboskraal, hul nuwe gaste-akkommodasie.
Toe ons agter haar aankruie na die verblyf, vul ’n heimwee my. Ek is weer kind op my ouma-hulle se plaas met die peperbome oortrek van insekte en voëls. Dis egter die tortelduif se koer-koero, koer-koero wat my hoendervleis gee. Ek kon as haasbekkie-vlegseltjiekind die tyd vergeet as ek onder die peperbome gestaan en luister en ruik het.
Ons het gou afgepak en die plaashuis ons eie gemaak. Die vuurtjie knetter buite en ek kan nie onthou wanneer laas ek in absolute stilte die son oranje-pienk agter ’n kokerboom sien ondergaan het nie. Die twee kleure werk nie lekker saam op ’n menselyf nie, maar in die natuur is dit asof dit hoort en jou asem opnuut wegslaan as die einde van ’n dag aangebreek het.
Ek kom uit die kombuis met braaibroodjies met die hemele wat pienkrooi verkleur tot teen die horison. My geliefde gooi nog hout op die vuur. Dis net sy gesig wat verlig is, die res van dit wat onder die hemelse kleurespel is, is pikswart. Ek staan asof versteen. Dié oomblik wil ek vir altyd in my hart hou, want dit is hoe sy teenwoordigheid in my lewe voel; as alles andersins donker voel, is dit die liefde in sy oë wat sy hele gesig verlig wat my deurdra.
Ons steek kerse aan en speel kaart. Die lang rit uit die Kaap het ons almal egter gou moeg en dis vroeg in die vere. Toe die bedliggies afkliek, is ons in droomland.
Die oggend breek bewolk en koud aan. My maat het gaan fietsry en dis net ek op die voorstoep met my warm moerkoffie en beskuit. Gisteraand se doodse stilte is iets van die verlede, want die veld is ’n kakofonie van voëlklanke. Maar dis nie ’n malle getjilp en gekoer en getjier-tjier nie. Iewers is daar ’n onsigbare maestro met ’n manelpak en strykstokkie wat dié voëlkoor in toom hou dat dit soos musiek op die ore klink en nie net ’n malse lawaai nie.
Voor die huis is daar ’n draad gespan om ’n kamp waarin verskeie groot bome staan. My 92-jarige pa slurp oordadig aan sy koffie en met sy brillense wat effe toewasem kom dit wysneusig: “Seker sodat hulle nie wegloop Kaap toe agter die water aan nie.” Ek kyk vraend na hom. “Die bome is omhein.” Ek kliek ... Natuurlik moes ek kon dink dat sy droë sin vir humor een of ander tyd sal terugkeer as die vreemdheid van ’n nuwe omgewing gewyk het.
Teen middagete stop ons voor die Fred Turner Windpomp Museum op die dorp. Uiteindelik is ons hier! Elna en haar dogter, Joretha, is die gidse en maak die afval, trekpadpoffertjies en koffie en pannekoek wat gaste gedurende die blomseisoen in die skerm, die werkende deel van die uitstallings, bedien word. Dit bestaan uit ’n gedeelte asbosskerm soos dit tradisioneel gepak is, en ’n gedeelte van die muur is met klip uit die omgewing gepak – ’n meer moderne manier.
Binne die skaaptrekuitstalling is die oorspronklike skerm wat net uit asbos gepak is, neffens die ossewa en tent wat uitgestal is om te wys hoe die trekboere destyds geleef het.
Die museum word in die ou Baptistekerk gehuisves en verteenwoordig min of meer die geskiedenis van die dorp, en om die draai is die windpompe, en in die Vissersaal is die uitbeelding van die leefwyse van die trekboer, wat maar eintlik die ontwikkeling van die hele Boesmanland is. Boere trek tussen somer- en winterweiding te voet met hul skaapkuddes.
Die gebou was al ’n skool en geannekseer vir hospitaalgebruik in die Anglo-Boereoorlog, maar nooit vir die doel gebruik nie en was toe vir baie dekades ’n kerk. In die sewentigerjare het die Baptiste se getalle gekrimp en het die oorblywendes by die dorp se nuwer NG Kerk aangesluit. Die kerk het die grond en geboue teruggeskenk aan die munisipaliteit met die verstandhouding dat dit ’n museum sal wees.
Dit wat jy daar kan sien, is uit die era rondom 1900. Daar is klere, gebruiksartikels, beddegoed en ’n kaart wat in 1895 in Engeland gedruk is op ’n kombinasie van papier en materiaal. Dit het aan die Anglikaanse Kerk behoort en is toe aan die museum geskenk.
Gezina Louw, ’n agterkleinkind van Paul Kruger, het van 1976, toe die museum gestig is, tot 2015, die museum bedryf. Elna het in 2017 heel toevallig in die skerm begin werk en in 2020 die museum se bestuur oorgeneem.
Die meeste van die skrif is kursief, maar fyner detail is in donkerder skrif, want ek neem aan die kerk het dit aangebring waar hulle kerke gehad het.
Die kerk se diep doopbad is steeds sigbaar en ’n agterste kamer beeld baie Afrikana uit.
Ons stap buitentoe. Elna verduidelik: “Loeriesfontein se plantegroei is spesiaal. Hier is ’n stukkie Namakwaland uit die westekant en plante wat endemies aan die Namakwaland is, maar van Nieuwoudtville se kant – die Bokkeveld-plato – is daar heeltemal fyner blommetjies.
“Die blomme – hoeveelheid en soort – word deur die reënval bepaal. Te min of te veel reën op die regte of verkeerde tyd het alles ’n invloed. As die streek Paasnaweek reën kry saam met die Kaap, dan piek die blomme middel-Augustus. Enige twee weke wat die reën later kom, skuif die piek aan. En as ons in Junie of Julie reën kry, sal jy ander blomme sien. Dis belangrik om te weet voor jy maande vooruit blomme bespreek en in niks anders belangstel nie.”
Elna verduidelik: “Vanjaar is besonders, want ons het donderweer in Maart gehad en dan, soos die oumense sê, “plant die Hantam”. Goed wat gewoonlik eers in Oktober blom, blom nou al van Maart af in sulke plate en dit maak saad vir die volgende seisoen. Die veld herstel nou mooi. Mense is dan soms teleurgesteld as hulle hier kom en nie die blomme aantref wat hulle verwag het nie. Ons is opgewonde, want hier gebeur wonderlike, groen goed in die veld.”
Die laaste paar dae se bietjie reënval bring nuwe blommetjies vir besoekers, vertel sy opgewonde.
Elna vertel van baie mooi verskynsels uit die voëlwêreld: Die rooilewerik is endemies aan die streek en verskeie trekvoëls kom daar verby; die bruin hoep-hoep wat sy kuifie so oopmaak is Augustus hier, en in September kom die Europese byvreter – hierdie mense noem hom die Krismis-swael, want hy bly gewoonlik so ses weke hier, maar soms tot Kersfees toe en hy is so veelkleurig.
Joretha vertel van die windpompe en sê Loeriesfontein se museum bied die wêreld se grootste verskeidenheid windpompe. “Hier is 30 stanende windpompe, waarvan heelwat in werking is. Onder hulle is ’n windmeul, ’n installasie waarmee jy jou koring of mielies maal. ’n Windpomp is nie ’n windmeul nie. Die een pomp water uit die grond, die ander werk met die wind en draai om die koring of mielies fyn te maak.”
Daar is selfs ’n klein windpompie op die donasiebus as mense buite seisoen by die museum kom en wil rondkyk en ’n donasie los.
Die oudste windpomp is die Mogul uit 1880. Die interessantste is die Beatty Pumper wat spesiaal só geïnstalleer is dat dit vir jou die werking van die windpomp kan demonstreer; en ook die sesvoet-Climax-model, wat nie meer vervaardig word nie.
“Wat ons versameling spesiaal maak, is dat ons fabrikate uit die voor- en naoorlogse tyd het. Op die vooroorlogse 1910-model is die ratte nog oop en op die naoorlogse een uit 1930 is die ontwikkeling in ontwerp duidelik te sien.”
Van die windpompe is van oorsee bestel en het in ’n kis arriveer en mense het dit self aanmekaar gesit, vertel sy.
Joretha vertel: “Tannie Gezina het van plaas tot plaas gery en besluit watter pomp sy wil hê, en die boer moes maar net sorg dat die pomp na die museum toe kom!”
Climax is ‘n Suid-Afrikaanse model en hy het ’n ingeboude veiligheidstelsel om homself teen sterk wind te beskerm.
‘n Unieke aspek van die museum is die skaaptrekuitstalling. Alles wat jy daar sien, is handgemaak, herwin en weer gebruik. “Dis vir ons ’n leefwyse. Ons gebruik ’n ding tot hy op is. As ’n emaljeding só op is en ’n gat in het, dan plant jy iets daarin.”
Elna vertel haar skoonpa sê altyd hierdie streek het ontstaan met wolgeld. Mense het nog al die jare met skaap geboer. Dis hoe die wêreld ontwikkel het.”
Kort-kort kom woon kontrakteurs vir etlike maande op die dorp, eers om die Sishen-Saldanha spoorlyn te bou, toe die Eskom-opgraderings gedoen, toe die windplase en nou die sonplase.
Ons smul aan Elna se afval, pannekoek en poffertjies, met lekker sterk moerkoffie voor ons versadig – geestelik en fisiek – terugkeer plaas toe.
Laatmiddag gaan stap ons ver in die veld; my pa lê skuins ná die afvalbederf baie geskiedenisfeite en luister!
Die aandete-braairitueel en oggendkoffie-en-beskuit-ritueel herhaal hom op ons laaste oggend.
Brandkop Farm Accommodation and Camping is op pad na ons volgende bestemming en ons gaan kuier daar vir middagete. Dis wyd en syd bekend vir sy lekker fietsryroetes en plaasakkommodasie, maar ek is in vervoering oor die pragtige dekor in die nuwe eetgedeelte, waar jy ook ná ete voor die lekker kaggel met ’n glas wyn kan ontspan.
Die eienaars, Elizna en Pieter Louw, is raakvatters. Die kos is heerlik, die gasvryheid warm en eg, en toe hy vertel van Saterdag se rugby en plankie met lekker ribbetjies en biefstuk op, is ek spyt ons oornag nie! Die kristalkandelare en fluweelbanke is só mooi, ons staan maar moeilik op vir middagete, maar ons smul aan tuisgemaakte bobotie en drink van Teubes Family Wines se syrah/grenache 2020.
Elizna vertel dat hulle in die seisoentyd ook aandetes aanbied en alles op hul Facebook-blad aankondig.
Soos sy vertel van hul toerismereis, van die Hantamkloof-basaar wat jaarliks by hul kampplek gehou word en waar jy “asvaal van die stof en blinkvet om die mond” kuier, weet ek dat ons sal moet terugkom vir ’n behoorlike kuier.
Daar is ’n kokerboomwoud vir nagfotografie, Oorlogsfontein-stap- en -fietsroete en ander besienswaardighede om in die omgewing te beleef.
Elizna bederf ons met tuisgebakte plaasbrood en -botter en dik konfyt, waarin ons tandmerke sit.
Pieter sê Nieuwoudtville is uniek oor die blomme wat hier so geil opslaan na die eerste behoorlike reën. Toerisme is Brandkop se redding in jare wat die boerdery swaarder trek. “Jy spring aan die diepkant in, omskep werkershuisies, werk spyskaarte uit, lê fietsroetes uit. Toerisme is nou ’n vertakking van ons boerdery.”
Toe Elizna hoor ons wil weer kom kuier, sê sy trots: “Ek kook ’n afval wat jou oë gaan laat traan. Jou mond gaan taai wees ná die tyd!”
Ons koop tuisgebakte koekies en konfyt, voor ons in die pad val, vir ons volgende oornagverblyf by Leeuriet Gasteplaas buite Nieuwoudtville, waar Tina en Jacques Strauss op ons wag. Hul plaas is teen die R27 tussen Nieuwoudtville en Calvinia, net voor die Oorlogskloofrivierbrug, aan die linkerkant.
Ons is flou met die aankomslag en skrop eers nes voor Jacques die binnebraai se vuur kom aansteek. Dié bederf van vir jou kom braai en Tina se tuisgemaakte bykosse is deel van hul toerisme-aanbieding. Bederf 101, sou dit kon heet!
Die ontbeende skaapboud op die kole sing in mooi harmonie met die Bellpost Merlot 2017, wat ook eie aan die Namaqua-Weskus is en op die walle van die Olifantsrivier gemaak word.
Jacques vertel die plaas lê op die skeidslyn. “Die blomme en die veld verander in alle rigtings en die tipe skaap waarmee daar geboer word, ook: Dohne Merino, Dorpers en Geelbekke loop nie oral nie. Geen boer hier doen vandag meer wat sy buurman doen nie.”
Tina voeg by hier op hul Hantamplaas kan jy in skeertyd sien hoe die skape geskeer word en vry wees om die plaas te ontgin. “Hier kan jy stap, fietsry en rondry soos jy wil. Saans onder die sterre sit en droom. As jy iewers by ’n geslote hek kom, is jy nie meer op ons grond nie,” vertel Jacques.
Tina bring braai-aartappels en groente en gebakte poeding soos wat ek laas by my VLV-tannie geniet het. Gasvry, gaaf en goed is die woorde wat by my opkom toe al die bakke blink geëet is.
Vroegoggend kraai ’n ywerige haan nog voor môrelig tevergeefs dat ons moet opstaan. Ons lê lepel tot die ergste koue bedaar. Drie hanslammers wei om die huis en die plaas kom stadig in sy daaglikse ritme.
Ons gaan vul ons kos- en wynversterkings op Vredendal aan voor ons vir drie dae op Strandfontein gaan kuier. Ons het plaaslike tjoppies en wors en gaan later op Doringbaai by The Cabin Restaurant eet, met die ligtoring waar Fryer’s Cove sy ding doen, in sig.
Reynel van Wyk is die eienaar en vertel: “My ouma Thys en Annie van Wyk het die kafee in 1955 begin en die baaitjie voor ons is bekend as Thys se Baai. My ouers, Elize en Reynold van Wyk, het in 1975 oorgeneem. Ek het my hele lewe hier gewerk en nou bestuur ek en my lewensmaat, Thea Tolken dit. Die restaurant was vroeër vanjaar in Bertus Basson, die glanssjef, se program In die sop, wat sukkelende restaurante weer op hul voete help.
Ons smul aan die Weskus-feesmaal wat jy twee dae voor die tyd moet bespreek, sodat die vis so vars moontlik is. Dis vyf lieflike visgange en my hart trek sommer ’n punt toe ons prawn cocktail en kerrievis soos uit my kinderdae kry!
Die dekor sluit nostalgiegoed uit die omgewing in en Reynel verduidelik: “Daar is stukke van regte visserskuite gebruik.
“Doringbaai het al drie jetties gehad. Die eerste twee was van hout en die derde en bestaande een is uit sement. Ons het van die ou houtpale gekry en dit laat uitdroog. Die locals praat van die trane van al die verdrinktes wat eers uit die jettypale moes uitdroog.”
Die skip wat deel van die restaurant se vooraansig vorm, die Mega, was haar swaer se diamantboot wat reg voor in die see gesink het. “Die Mega het al vir ons megageluk hier gebring,” vertel sy.
Dis sekerlik die beste manier om ons Namaqua-Weskus-reis te beskryf: Die mense het vir ons megageluk gebring. Ons kom beslis weer!
Maak dit ’n volledige reis:
- Vir meer inligting oor al die doendinge, al die wynkelders en lekker eetplekke in die omgewing, besoek die Namaqua-Weskus-webwerf by www.visitnwc.com, bel 082 608 7554 of +27 (0) 27 201 3376 of stuur ‘n e-pos na info@visitnwc.com.
- Loer op Facebook na die Loeriesfontein Fred Turner Windpomp Museum, WhatsApp Elna by 062 886 4047 of bel 027 662 1525. Maak afsprake buite seisoen as jy die museum wil besoek.
> Woorde: Maryke Roberts
> Foto’s: Clifford Roberts