………
“Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) is die enigste bierprodusent wat bykans 100% van hul bestanddele plaaslik vir hul bedrywighede bekom. Dié organisasie, en vele ander, word volgens Agri SA ernstig benadeel deur die verbod.”
………
Die verbod op die verkoop van alkohol weens die noodregulasies as gevolg van COVID-19 is ’n korporatiewe bloedbad, sê die landbou-organisasie Agri SA.
Agri SA sê in ’n mediaverklaring wat Donderdag uitgereik is dat die kansellasie van beleggings deur die alkoholbedryf van meer as R15 miljard ’n groot bedreiging vir die volhoubaarheid van die bedryf en die ekonomie inhou.
Volgens Agri SA se uitvoerende direkteur, Omri van Zyl, is Agri SA uiters bekommerd oor die uitwerking van die huidige alkoholverbod op die hele alkoholwaardeketting, wat strek van wyn-, gars-, hops-, vrugte- en mielieboere tot glasvervaardigers en verwerkers.
Hy sê boere sal gars teen die einde van die jaar oes, wat onsekerheid onder die boere oor die komende seisoen wek. Gars word meestal in een streek – die Suid-Kaap geproduseer – dit sal ’n groot impak hê op hul streeksekonomie na ’n verwoestende droogte verlede jaar. Die oordrag van garsvoorraad sal volgens Agri SA ’n negatiewe invloed hê op die tonnemaat wat volgende jaar geproduseer word. Boere verwag hierdie seisoen goeie opbrengste, maar hulle benodig nog opvolgreën in die volgende maand vir ’n goeie oesseisoen.
“As ons een van ons belangrikste fokusareas op ekonomiese herstel is, help dit beslis nie. Die bedryf is bereid om streng protokolle na te kom, maar die skielike verbod maak nie sin nie. Onwettige alkoholverhandeling skiet deur die dak en die regering verloor miljarde rande aan belasting en aksynsinkomste,” sê Mihlali Xhala, hoof van die Korporatiewe Kamer by Agri SA.
Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) is die enigste bierprodusent wat bykans 100% van hul bestanddele plaaslik vir hul bedrywighede bekom. Dié organisasie, en vele ander, word volgens Agri SA ernstig benadeel deur die verbod. “Dit vloei oor na die plaashek, waar die boere onder ernstige druk geplaas word wat afnemingskontrakte aanbetref.”
Dieselfde gebeur glo in die wynbedryf, waar baie verkopers onder geweldige druk verkeer. Agri SA het ’n beroep op die regering gedoen om die verbod op alkoholverkope te heroorweeg om die landbousektor toe te laat om tot ekonomiese groei by te dra.
………
“Mkhize het na data van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) verwys wat toon dat 31% van Suid-Afrikaners van 15 jaar en ouer die afgelope 12 maande alkohol verbruik het.”
………
Hulle sê in die lig van COVID-19 sal die kansellasie van R5 miljard aan kapitaalbeleggings deur die wêreld se grootste brouer, AB InBev, ’n ernstige negatiewe uitwerking op die ekonomie hê.
“Die besluit om beleggings te kanselleer kom na die verlies van 12 volle handelsweke waarin SAB 30% van sy jaarlikse produksie verloor het. Die wynbedryf het alreeds R3,3 miljard aan verkoopsinkomste en 117 000 werksverliese gehad weens die verbod. Meer as 800 klein alkoholvervaardigers staar bankrotskap in die gesig,” sê Agri SA.
Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het die verbod op die verkoop en verspreiding van alkohol verlede maand tydens ’n mediakonferensie regverdig. Volgens Mkhize is die verbod op alkohol heringestel om die skade wat normaalweg hand aan hand met alkoholmisbruik gaan, te beperk.
Mkhize het na data van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) verwys wat toon dat 31% van Suid-Afrikaners van 15 jaar en ouer die afgelope 12 maande alkohol verbruik het.
Die vakbond Solidariteit berig op hulle webwerf terwyl hierdie syfer relatief laag voorkom, het Mkhize gesê dat Suid-Afrikaners se verbruikerskoers van die hoogste ter wêreld is. “Hy het bygevoeg dat die land ’n besonder hoë persentasie fuiwers, oftewel ‘binge drinkers’ het, en dat ses uit 10 mense wat drink, alkohol misbruik.”
Voertaal het vroeër die week berig dat daar geen mediese of wetenskaplike redes meer bestaan vir waarom die verbod op die verkoop van alkohol langer van krag moet wees nie. Die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) sê die verbod op alkoholverkope kan reeds binne twee weke opgehef word sonder dat dit enige nadelige invloed op die bestryding van die COVID-19-pandemie sal hê.
Buro: NM