Mediese kenners sê drankverbod moet waai

  • 0

……….

“Hulle sê die verbod het reeds die verlangde effek gehad en dat dit tans nadelig is vir die drankbedryf omdat baie mense hulle werk gaan verloor.”

……….

Daar bestaan geen mediese of wetenskaplike redes meer waarom die verbod op die verkoop van alkohol langer van krag moet wees nie.

Die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) sê die verbod op alkoholverkope kan reeds binne twee weke opgehef word sonder dat dit enige nadelige invloed sal hê op die bestryding van die COVID-19-pandemie.

Foto: Canva.com

Volgens twee kenners in die SAMNR het die verwagte buitengewoon hoë druk op hospitale as gevolg van COVID-19 nie gerealiseer soos wat daar voorspel is nie. Dit beteken dat daar vir ten minste die huidige stadium genoeg kapasiteit in die meeste hospitale se trauma-eenhede is om om in die huidige behoeftes te voorsien.

Die president van die SAMNR, Glenda Grey, en Charles Parry, direkteur van die SAMNR, het aan Business Day TV gesê ’n verbod op alkohol is nie ’n langtermynoplossing nie. Hulle meen die tyd het aangebreek dat die verbod weer opgehef word.

Volgens Parry was dit nooit die bedoeling dat die verbod op die verkoop van alkohol ’n langtermynmaatreël moes wees nie.

……….

“Die uitsprake deur die twee senior lede van die SAMNR kom op die vooraand van ’n hofsaak deur die familieboerorganisasie Saai in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria op 18 Augustus.”

……….

“Ons behoort nou gereed te maak vir die opheffing van die verbod en die implementering van ander standhoudende maatreëls in die plek van die alkoholverbod wanneer dit opgehef word, hetsy dit binne ’n week of twee,” het Parry in die TV-onderhoud gesê wat oor die afgelope naweek uitgesaai is en ook in twee dele op YouTube gesien kan word.

Hulle sê die verbod het reeds die verlangde effek gehad en dat dit tans nadelig is vir die drankbedryf omdat baie mense hulle werk gaan verloor.

Die drankbedryf het die oproep deur die SAMNR verwelkom.

Die uitsprake deur die twee senior lede van die SAMNR kom op die vooraand van ’n hofsaak deur die familieboerorganisasie Saai in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria op 18 Augustus.

Saai wil die hof dringend nader om die verbod op die verkoop en verbruik van wyn in restaurante ter syde te stel.

Saai sê in ’n mediaverklaring die instelling van dié regulasies is arbitrêr en irrasioneel. “Die regering se stelling dat die regulasies ingestel is om die verspreiding van die COVID-19-virus te beperk en om te voorkom dat die land se gesondheidstelsel oorbelas word, dra nie water nie.”

Volgens Saai gee die regering voor dat hulle die ekonomie wil red, maar pas dubbele standaarde toe wanneer dit kom by die toepassing daarvan.

Saai meen dat hierdie regulasies die bestaan van die oudste familieplase in Suid-Afrika bedreig en ’n sektor kniehalter wat met die bestes in die wêreld kompeteer en ’n kernrol in die land se ekonomie speel. Die regering bied reeds geen droogtehulp of finansiële bystand vir hierdie boere nie – deur hul mark te sluit, verseker die regering hul einde.

“Anders as alkoholprodusente, is ’n wynboerdery nie net geskoei op ’n strewe na toenemende winsbejag nie. Dit gaan ook oor ’n nalatenskap; die oordrag van kennis van geslag tot geslag; die integriteit van ’n handelsmerk; die naam op die etiket; en die onderhoud van ’n gesin en ’n gemeenskap. ’n Wynboerdery is ook nie net ’n wingerd met ’n kelder langsaan nie. Dit is ’n bestemming waar besoekers en toeriste iets tasbaar van die omgewing kan ervaar. Dus speel so ’n landgoed ’n wesenlike rol in die bemarking van ’n streek of provinsie en sy geskiedenis, en is hy afhanklik van ondersteuning nie net in terme van sy produk nie, maar ook as toeriste-aantreklikheid,” sê Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Saai sal versoek dat artikel 44(1) en (2) van die nuwe regulasies opgehef word en dat wyn op wynplase en in restaurante bedien mag word. Saai se aansoek word deur 13 ander applikante uit die wynbedryf ondersteun.

Lees ook 

Riemtelegram oor Bacchus het drinkers op hol

Miljoene liter bier byna drein af weens inperking

Dit gons oor verbod op tabak- en drankverkope tydens inperking

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top