Riemtelegram oor Bacchus het drinkers op hol

  • 0

..............

“Sekere winkels is glo wel gewaarsku dat hulle toegemaak sal word indien hulle nie by die regulasies hou nie. Sommige winkels het ook gesê SAB het ernstige voorraadtekorte.”

..............

Gerugte dat die regering die verbod op die verkoop van alkohol later dié week weer gaan instel, het Maandag soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.

Dit het daartoe gelei dat ’n hele paar paniekerige Suid-Afrikaners hulle drankvoorraad inderhaas aangevul het ingeval daar weer ’n droogte sou toesak op die land se dorstige drinkers.

Foto: Canva.com

Dit het behoorlik gegons op platforms soos WhatsApp, Twitter en Facebook soos wat Suid-Afrikaners mekaar gewaarsku het om drank te koop voordat die verbod op drankverkope (na bewering) weer volgende week van krag word.

“Ons vriende hier in die wynbedryf het gehoor die regering hef die einde van die week weer die drankverkope op vir 7 weke, as jy dalk wil opstock,” is een van die tipiese boodskappe wat die rondte gedoen het.

Navrae by drankwinkels het egter gou laat blyk dit is ’n riemtelegram. ’n Bestuurder by een van Spar se Tops-takke het gesê hy het met Distell en die Suid-Afrikaanse Brouery (SAB) gepraat en nie een van hulle dra kennis van die besluit nie.

Sekere winkels is glo wel gewaarsku dat hulle toegemaak sal word indien hulle nie by die regulasies hou nie. Sommige winkels het ook gesê SAB het ernstige voorraadtekorte.

Dit is nie bekend hoe en waar die gerug ontstaan het nie. Die regering sowel as die polisie het op navraag gesê hulle dra geen kennis van so ’n besluit nie.

..............

“Die minister van nywerheid en mededinging, Ebrahim Patel, het wel vroeër gewaarsku dat die toelaat van drankverkope in die weegskaal kan wees indien die alkoholverwante probleme weer die hospitale en nooddienste onder druk plaas.”

..............

Die Pretoria East Record was een van die eerste koerante wat die publiek gerusgestel het dat hulle nie hoef te vrees die drankkraantjies gaan weer toegedraai word nie. “Die regering is nie van plan om die verbod op die verkoop van drank vir die huidige weer in te stel nie,” het die presidensie later bevestig.

Khusela Diko, president Ramaphosa se woordvoerder, het by navraag oor die gerugte aan Netwerk24 gesê sy is ook nie bewus van so ’n besluit nie.

Vish Naidoo, die nasionale polisiewoordvoerder, het ook gesê hy het nog nooit van so ’n besluit gehoor nie. Hy het aan Netwerk24 aanbeveel om eerder te wag dat iets gebeur as om dit vooruit te loop, omdat dit verwarring kan veroorsaak.

Die minister van nywerheid en mededinging, Ebrahim Patel, het wel vroeër gewaarsku dat die toelaat van drankverkope in die weegskaal kan wees indien die alkoholverwante probleme weer die hospitale en nooddienste onder druk plaas.

Hy het gesê drankverkope is verbied onder vlak 5 en 4 van die ramptoestand omdat die aantal alkoholverwante voorvalle en geweld die kapasiteit van hospitale om na COVID-19-pasiënte om te sien in die gedrang bring.

Een van die redes vir die beperkte dae waarop verkope toegelaat word, was om probleme met alkoholmisbruik te beperk. Sedert vlak 3 op 1 Junie in werking getree het, kan drank weer van Maandae tot Donderdae van 09:00 tot 17:00 gekoop word, maar nie op Vrydae, naweke en openbare vakansiedae nie.

Nog een van die redes vir die gerug se ontstaan was waarskynlik ’n berig dat die Oos-Kaap se bevelsraad gesê het hulle gaan president Ramaphosa vra om die verbod weer in te stel. Volgens die provinsie sukkel die hospitale se trauma-eenhede om kop bo te water te hou weens die toename van alkoholverwante insidente sedert drank weer verkoop mag word.

Ondanks die regering se ontkenning dat hulle die herinstel van die verbod oorweeg, het heelwat Suid-Afrikaners gesê hulle sal maar in elk geval vir die wis en die onwis seker maak hulle het genoeg voorraad net ingeval die regering weer van plan verander en wel ’n stokkie steek voor die verdere verkoop van drank.

Lees ook

Miljoene liter bier byna drein af weens inperking

Dit gons oor verbod op tabak- en drankverkope tydens inperking

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top