“Ons droom vir die toekoms is om studente te kry wat sê: ‘Ek sien kans om tegnologie, sagtewareontwikkeling, webbladontwerp, grafiese kuns, grafiese uitleg, webbladontwikkeling, kommunikasie of joernalistiek te gaan swot.’ Ons wil graag hê daar moet ’n volgende groot skrywer of taalkundige wees wat vir ons nuwe insigte tot Afrikaanse taalkunde gaan gee,” sê Marlie Coetzee, die uitvoerende direkteur van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA).
Vanaf 27 September tot 9 Oktober 2023 neem VivA hoërskoolleerders op ’n taal-en-tegnologietoer na Frankryk, België en Nederland. Dit is ’n opwindende geleentheid vir die leerders om meer te leer oor die moontlikhede in die veld van Afrikaanse taal en tegnologie. Cliffordene Norton het met Marlie Coetzee gesels om meer uit te vind oor hierdie avontuur.
Een van die eerste vrae wat aan Marlie gevra is, is wat die doel van die toer is. Sy beklemtoon dat dit nie net ’n gewone toer is nie, maar ’n geleentheid om hierdie leerders bloot te stel aan die werks- en studiemoontlikhede in Afrikaans.
“Afrikaans is nie ’n sterwende taal nie. Afrikaans is lewendig en alhoewel ons ’n jong taal is, verrig ons wonderwerke,” sê Marlie. Die inspirasie vir die toer het ontstaan omdat VivA bekend is as ’n leier in die navorsing van Afrikaanse taalkunde en gereeld genooi word na plaaslike en internasionale konferensies.
“Tog is dit opvallend dat baie mense nie bewus is van die geleenthede om in die buiteland Afrikaans te studeer nie. Ons wil leerders bewus maak dat Afrikaans die taal is waarin hulle hul drome kan uitleef. As jy hard werk, is daar Afrikaanse organisasies wat saam met jou sal wil werk.”
Besoeke aan die Universiteit Leiden en die Universiteit van Amsterdam, waar Afrikaans as ’n universiteitsvak aangebied word, is deel van die toer. Hier sal die leerders die kans kry om met professors te gesels wat in die veld van Afrikaanse taal en tegnologie betrokke is. Die leerders sal ook die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam besoek, ’n kultuur- en inligtingsentrum vir Afrikaans wat ’n ryk bron van inligting en ’n uitgebreide versameling van Afrikaanse boeke en tydskrifte het.
Die toer is spesifiek gerig op hoërskoolleerders om hulle aan te moedig om vroeg betrokke te raak in die veld van taal en tegnologie. Dit is waardevol vir graad 9-leerders wat besig is om hul vakke te kies, sowel as vir graad 11-leerders wat voorberei vir universiteitskeuring.
Tydens hierdie toer kry die leerders die geleentheid om internasionale geleenthede binne ’n veilige omgewing te verken. “Ons wil aan leerders sê: Praat met ons. Vertel vir ons jou drome. Wat is jou ideale? Waarvoor het jy ’n passie? Dalk is dit een van die dinge wat ons op die toer gaan doen en dan kry leerders ’n voorsmaak,” sê Marlie.
Hierdie toer fokus nie net op die voordele en werksgeleenthede in taalkunde nie, maar kyk ook na die potensiaal in sagtewareontwikkeling, digitale inhoudskepping, ingenieurswese, grafiese ontwerp, webbladontwikkeling en taaltegnologie.
Die gekose bestemmings is spesifiek gekies vanweë hul invloed op die ontwikkeling van Afrikaans. Die toer fokus op die taal se oorsprong, asook die rol wat Afrikaans vandag nog in hierdie deel van die wêreld speel. En hoe Afrikaans as ’n akademiese en wetenskapstaal presteer.
Tydens die toer sal jong reisigers voorgestel word aan Europese akademici en instellings wat Afrikaans in hulle navorsing en tegnologie-ontwikkeling insluit.
Daar is ook ’n sterk fokus op pret, met ’n dag in Parys saam met die bekroonde skrywer Marita van der Vyver, ’n besoek aan Disneyland Parys en besoeke aan drie universiteite en die Poësiesentrum in Gent. Die Poësiesentrum is ’n dokumentasie-, inligting- en studiesentrum vir Nederlandstalige poësie, wat ook Afrikaans insluit.
Marlie erken die uitdagings van die toer, insluitend die administratiewe werk en aansoeke vir visums, en is dankbaar vir die hulp van Elza Gerber van Tienie Jonker Toere wat saam met haar as toeroperateur optree.
Drie toere is beplan vir April, Junie en September 2024. As een toer nie vol bespreek is nie, sal dit uitgestel word tot die volgende datum.
Marlie hoop dat die hoërskoolleerders met nuwe entoesiasme sal terugkeer. Sy glo dat hierdie leerders ’n nuwe waardering vir Afrikaans sal hê en besef hoe waardevol die taal is.
“Ek sien uit daarna om te sien hoe die kinders sal groei tydens die toer. Reis en internasionale ervarings kan jou lewensuitkyk verander en jou as individu verryk. Dit mag nie dadelik sigbaar wees nie, maar dit gebeur met jou,” sê Marlie met passie.
“Ons sal vir hulle ’n paar aktiwiteite gee om op die toer te doen. Dit sal hulle help om hul vaardighede te ontwikkel en suksesvol toe te pas wat hulle leer.”
Buro: MvH