LitNet-argief: Vertaalkompetisie: Vryheid, Zandra Bezuidenhout

  • 0

Vertaling van "Vrijheid" deur Marion Bloem

Vryheid

As vry wees beteken: hou jy jou mond
want ek het iets te sê

As vry wees beteken: jy agter tralies, want
dan hoef ons nie bang te wees
vir al jou anders wees en ander
doen en late nie

As vry wees beteken: om die dag van môre
streng te bepaal deur van die dag vandag
iets minder dag te maak

As vry wees beteken: die deure sluit
en op die televisieskerm vryelik bekyk
wat veilig uit die pad moet bly

As vry wees beteken: steeds rustig slaap
omdat andere hul tong doelbewus
ontneem is

As vry wees beteken: eet wat en wanneer jy wil
maar die skille laat jy val in die koerante
waar honger verswyg word

As vry wees beteken: nie hoef te weet wat my 
vrygemaak het, my vry hou, my
in vryheid elke dag gevange neem nie

As vry wees beteken: wag tot die ander
my bevry van angste waarop ek
plegtig vertrou

As vry wees my gedagtes pleister
As vryheid om my heen oral rondom 
en deur my waai,
maar buite jou bereik bly

As vry wees my beskerm
teen jou idees wat vir my te
anders is

As vry wees vir my vandag so
vanselfsprekend lyk, en jy nie
weet wat dit beteken nie

Dan is vry wees wins vir my
en waardeloos vir jou
Dan is vryheid lug en willekeurig

Maar dalk staan dit my vry
om iets van my lugtige vryheid – met 
wedersydse instemming natuurlik – 
tydelik of op die lange duur

af te staan om jou
van my verstikkende vryheid
te bevry

 

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top