Vertaling en dinamiek tussen ’n Afrikaanse en Engelse debuutroman

  • 0

......

Oor Fourie se benadering van die verhaalgegewens had Bergsma dit oor die Coetzeeaanse begrip autrebiografie. “Tot die naam van die hoofkarakter [in Fourie se roman] is Paul, dis my tweede naam, en ek hou van daardie effense ‘is dit of is dit nie?’. Dis is ek, maar dit is ook ’n ander weergawe,” het Fourie gesê. Vir hom gaan enige fiksionalisering daaroor om die waarheid te versterk sonder om obsessief te wees oor feitelikheid.

......

Die vertaler is die mees kritiese leser van ’n skrywer se werk, iemand wie ’n swak plek in die teks nooit ontgaan nie, wat nooit ’n woord oorslaan nie en wat oor elke onvolkomenheid in ’n teks struikel. Só skryf Peter Bergsma in die artikel “Oefening baart kunst. Coetzee volgen en vertalen”.

In die geval van PP Fourie se debuutroman, The heart is the size of a fist en die Afrikaanse vertaling daarvan as ’n Hart is so groot soos ’n vuis het die skrywer en die vertaler, Marius Swart, nou saamgewerk. Sekere stelwyses in Swart se Afrikaans het trouens daartoe gelei dat Fourie die Engelse teks dienooreenkomstig aangepas het.

Sowel die skrywer as die vertaler is hier Afrikaanssprekend. Swart is as dosent in vertaling en Afrikaanse taalkunde aan die Universiteit Stellenbosch werksaam en is die Engelse vertaler van Marlene van Niekerk se bundel verhale Die sneeuslaper as The snow sleeper. Fourie doseer politieke wetenskap aan dieselfde universiteit.

Bergsma het vir die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam se skrywersgespreksreeks Boeken uit het Huis met Fourie en Swart gesels. Die onderhoud, een van verskeie in die reeks waarin Afrikaanse skrywers se werk aan ’n groter publiek bekend stel word, is op die Zuid-Afrikahuis se YouTube-kanaal beskikbaar.

Bergsma is, benewens vertaler van vele werke van Coetzee in Nederlands, ook die vertaler van verskeie ander skrywers in die wêreldletterkunde.

......

Vir Fourie gaan die boek oor gesinsgeweld, alkoholisme en disfunksionele families, oor geheue, oor Suid-Afrikaanse politiek, die politiek van die slaapkamer, oor wat in families gebeur en die geheime in families, hoe dinge weggesteek word tussen ouers en kinders, die vertalings tussen ouers en kinders.

......

Die afstand tussen skrywer en karakter

Bergsma stem saam met wat hy in Willie Burger se resensie van die Afrikaanse vertaling op LitNet gelees het, naamlik dat die skrynende gebeurtenisse daarin danksy die musikaliteit van die taal tog in ’n ander lig geplaas word.

Fourie en Swart het uit onderskeidelik die Engels teks en die Afrikaanse vertaling voorgelees om iets van die oorkoepelende temas in die boek te illustreer. Fourie had dit oor gesinsgeweld en die sinistere realiteit daarvan.

Oor Fourie se benadering van die verhaalgegewens had Bergsma dit oor die Coetzeeaanse begrip autrebiografie.

“Tot die naam van die hoofkarakter [in Fourie se roman] is Paul, dis my tweede naam, en ek hou van daardie effense ‘is dit of is dit nie?’. Dis is ek, maar dit is ook ’n ander weergawe,” het Fourie gesê.

Vir hom gaan enige fiksionalisering daaroor om die waarheid te versterk sonder om obsessief te wees oor feitelikheid.

Bergsma noem dat Fourie in korrespondensie voor die gesprek geskryf het dat hy veel weggelaat het, ook sommige tonele sodanig verander het dat die werklikheid daar deurskyn, maar nie feitelik is nie.

“Partykeer kan feite ’n mens se aandag van die waarheid af wegtrek. En daarom het ek van daardie feite verander hier en daar sodat die waarheid helderder kon deurskyn.”

Hy beklemtoon sy roman “is beslis nie ’n outobiografie nie, omdat ek by voorbeeld geen pretensie het om volledig te wees nie”.

Fourie het as voorbeeld genoem ’n toneel waarin ’n skildery deur die pa-karakter vernietig word. Buite die romanwerklikheid wás daar ’n skildery wat oor ’n lang ruk tot niet gegaan het as gevolg van ’n muur met vogskade. Dit was vir Fourie egter te subtiel en stadig gewees om só in die verhaal te gebruik en dat die feitelikheid nie gehelp het met die storie nie. “Dus, outobiografie is dit beslis nie, nee.”

’n Mes wat twee kante toe sny

Swart haal ’n gefiksionaliseerde professor in kreatiewe skryfkunde aan uit Die sneeuslaper wat gesê het om te skryf moet jy lieg, maar nie bedrieg nie.

“Ek kan regtig sê dat dit my poging was,” het Fourie gesê.

“Ek onthou nie meer die waarheid nie. Dit wat ek neergeskryf het in hierdie boek het die feitelike geheue verplaas. En op daardie manier het die boek vir my groter werklikheid gekry as die feitelike gebeure.”

Fourie het wel genoem dat sensitiewer, skreiende materiaal in die roman egter nie gefiksionaliseer is nie. “So, wanneer daar vertellings van geweld is ... Daar was nie baie nie, maar hulle is dramaties en daar is ’n kernhoeveelheid, so vyf of ses, en hulle is almal waar. En die besonderhede van daardie vertellings is tog waar, so ek is bedag daarop, ek is versigtig daarvoor dat geen van die dramatiese gebeure in die boek gefiksionaliseer is nie. Dit is ’n mes wat beide kante toe sny.”

Vir Fourie gaan die boek oor gesinsgeweld, alkoholisme en disfunksionele families, oor geheue, oor Suid-Afrikaanse politiek, die politiek van die slaapkamer, oor wat in families gebeur en die geheime in families, hoe dinge weggesteek word tussen ouers en kinders, die vertalings tussen ouers en kinders.

Spanning sonder chronologie

Vir Swart hang die werking van die verhaal saam met wat ’n kollega in ’n gesprek met Fourie gesê het, dat hy dit regkry om ’n baie duidelike en sterk spanningslyn te handhaaf sonder dat daar sprake is van chronologie.

“Ek dink dit is deur die taal wat dit plaasvind,” het Swart gesê. “En dit was vir my die groot uitdaging om dit te handhaaf. En ek dink nie jy kry dit reg sonder ’n bepaalde taalsensitiwiteit nie.”

As jy vir baie skrywers vra wat die ding is wat hulle opgewonde maak oor ’n boek, dan is dit die taal, het Fourie gesê.

Bergsma het The heart is the size of a fist gelees en vertel dat daar vir hom sekere ooreenkomste was met die werk van byvoorbeeld Coetzee, maar in feite meer verskille.

By albei skrywers gaan dit vir hom oor ’n jeug in Afrika: in die geval van Coetzee die jare veertig en vyftig van die vorige eeu en by Fourie die jare tagtig van die vorige eeu. In beide gevalle is daar ’n sterk band met die moeder, maar in die geval van Fourie is dit veel meer ‘n gevoel van solidariteit as wat dit in verhale van Coetzee is.

Bergsma noem dat die verskille tussen die band met die vader ook heel duidelik was, want by Fourie is dit ’n baie problematiese band weens gewelddadige, alkoholistiese gedrag van die vader, waar dit in die geval van Coetzee ’n vorm van vervreemding is.

Fourie het nie die roman in sy moedertaal geskryf nie, hoewel hy en Swart albei Afrikaans is, soos reeds genoem.

Waarom het Fourie die roman in Engels geskryf? het Bergsma gevra.

Fourie, blyk dit, kon in die Engels ’n sekere afstand van die inhoud en gegewens vind waarmee hy in die Afrikaans nie kon volhou nie. “Dit (om die roman in Engels te geskryf het) het baie goed gewerk om die emosionaliteit en sentimentaliteit uit die weergawe uit te haal wat ek wou vertel.” Hy wou in die vertelling ’n sekere kilheid daarstel. “Dit kon ek nie regkry in Afrikaans nie – nie in terme van die primêre neerskryf van die vertelling nie, maar ook nie sekondêr, as my eie vertaler, nie.”

Hoe het Swart dit ervaar om ’n skrywer te vertaal wat dieselfde moedertaal as hy praat? wou Bergsma weet.

Swart het te kenne gegee dat dit aan hom bepaalde uitdagings gestel het. Hy het vroeër navorsing gedoen oor wat dit is wat ’n storie Afrikaans maak. En in hierdie geval was die storie, die verhaalgegewe, inhoud, ruimte, tematiek en konteks fundamenteel Afrikaans en het hy gesê dat ’n mens sou verwag dat dit die taak in ’n sekere sin makliker moet maak. In sy ervaring het dit egter in baie opsigte eerder die teendeel waar gemaak.

“Dit is die outeur se moedertaal en dit is ’n lewenswêreld en ’n stel gegewens waarvan daar, in hoe ’n mate dit ook al gefiksionaliseer is, aspekte is wat in Afrikaans beleef is. En jy het in jou agterkop die gedagte: Waarmee is ek besig? Is dit gewoon ‘n soort transponering van die Engelse vertelling in Afrikaans of aktiveer dit iets wat in Afrikaans geaktiveer kan word? En hoe balanseer jy daardie twee goed? Dit was moeilik. Gelukkig kom ons goed oor die weg, so dit het dit wel makliker gemaak. En ek het ook natuurlik vrye toegang gehad tot die skrywer, wat ook baie gehelp het.” 

Wedersydse invloede

Vir Fourie was die skryf van die boek dan ook nie ’n liniêre proses nie.

“Daar was ses maande waarin ek brokstukke in Engels totaal en al buite volgorde geskryf het. Ek het toe vir twee of drie jaar daaraan geredigeer. ’n Groot gedeelte van die bestaande teks, 50 000 woorde, was nie in die finale manuskrip nie.”

In die gang van sy werk aan die roman het Fourie dele op sosiale media geplaas, en sowat 20 jaar gelede is ’n weergawe van een van die hoofstukke in Tydskrif vir Letterkunde in Afrikaans gepubliseer.

Die uiteindelike boek is gelyktydig in Afrikaans en Engels uitgereik en Fourie noem dat die manuskripte mekaar in die laaste twee maande van die redigering van die Engelse en Afrikaanse tekste beïnvloed het.

“Daar is voorbeelde wat ons vir jou kan gee waar ek die Engelse bronteks verander het omdat die Afrikaanse vertaalde teks die Afrikaanse leefwêreld en -ervaring beter vasgevang het as die oorspronklike Engelse vertaling van ’n Afrikaanse leefwêreld. So daar was interessante wisselwerking.”

Fourie sê dat hy as skrywer en tot ’n baie groot mate as medeskrywer aangenaam verras en verwonderd was oor die uiteindelike boek(e).

Taalperspektiewe

“Ek kan nie meer sê, in alle eerlikheid vandag, watter weergawe van hierdie boek vir my meer die bronteks is as die ander een nie,” het Fourie gesê. “Selfs die Engelse teks was ’n vertaling na Engels deur my van my eie Afrikaanse leefwêreld.”

“Ek dink die ding van dieselfde gegewe vanuit twee taalperspektiewe beskou is ’n mooi metafoor vir wat ook inhoudelik en tematies in die boek aan die gang is,” het Swart gesê. “In terme van ’n soort mosaïekwerk, een van die beelde wat mense baie gebruik, ’n soort weergawe van weergawes, die problematisering van waarheid en fiksie.”

Volgens Swart is iets wat mens dan kan vra: In hoe ’n mate staan “daardie wisselwerking tussen die taal waarin iets beleef word en die taal waarin iets uiteindelik oorvertel word, en waar op daardie spektrum is dit wat werklik gebeur het, as dit wat werklik gebeur het, nog hoegenaamd saak maak”.

Titels en oorwegings

Bergsma het Fourie en Swart gevra na die keuses vir die bewoording in die titels, onderskeidelik The heart is the size of a fist en ’n Hart is so groot soos ’n vuis. Wat is die rede vir die verskillende lidwoorde in die titels?

Vir Swart is klanksensitiwiteit in ’n bepaalde taal belangrik vir poësievertaling. “Toe ek die verhaal vertaal waarin die reël voorkom dat ’n hart en ’n vuis ongeveer ewe groot is - dis ’n baie treffende beeld – het ek gevoel dat om die bepaalde lidwoord in Afrikaans daarvoor te gebruik, iets wegneem van die groot tema van die boek. En dit is dat hierdie ervarings baie mense se ervarings is, hoewel dit as een persoon se ervarings opgeskryf word, dat dit verwys na goed wat verhul word, goed wat weggesteek word, goed waaroor nie algemeen gepraat word nie. So ek wou om daardie semantiese rede die onbepaalde vorm daar hê.

“Dan sou mens nou logieserwys wou voorstel dat dieselfde in die Engels moes plaasvind, maar as jy dit in Engels met ’n onbepaalde lidwoord probeer doen, klink die titel gewoon nie lekker nie. En dit was op die ou einde ’n geval van sê dit ’n paar keer hardop en dit het goed geklink en dit het semanties goed gewerk met die onbepaalde lidwoord in Afrikaans. Dit sou nie in Engels op dieselfde manier werk nie, want die twee tale wérk nie op dieselfde manier nie.”

Bergsma had uit sy vertaling van werk van Coetzee te make met iets soortgelyks wat betref die feit dat Coetzee Nederlands goed ken.

Coetzee kon sy vertalings dus saam lees, het vraagtekens geplaas en af en toe ook wel ander vertalings voorgestel.

Bergsma het nooit sy voorstelle letterlik aangewend nie, maar dit eerder ontsettend nuttig gevind om te weet wat hy wou sê, het hy verduidelik.

Op Fourie se vraag na die beste vertaling van die titel in Nederlands van die Engelse titel, het Bergsma gesê vir die Nederlands sal hy die kant van Afrikaans oorweeg vir ’n titel soos “Een hart is zo groot soos een vuis”.

Fourie het eers ’n heeltemal ander titel in gedagte gehad vir die boek, te wete The splendid imperfections en in Afrikaans dan Die lieflike gebreke. Op die ou einde het ’n Hart is so groot soos ’n vuis beter gewerk wat betref sentiment, maar ook tematies, het hy gesê. Hy moes toe akkoord gaan met sy uitgewer by Kwela, Carolyn Meads. “Sy en Marius was absoluut korrek gewees.”

Bergsma het dan met ’n vertalersblik die titel beskou en te kenne gegee dat hy gelukkiger wees met “een hart” as met “splendour”.

Van brokstukke na legkaartstukke

Vroeg in 2017 het Fourie ’n uitnodiging ontvang van ’n life coach om hom te help om ’n beter bestuurder te wees. Die raad wat hy ontvang het, het daarop neergekom om enigiets kreatiefs te doen sodat dit die res van sy wêreld kon binnedring en dat hy met groter gemak ’n meer vreugdevolle mens kon wees, het hy verduidelik.

Hy het toe begin om naweke ’n baie kort stukkie te skryf uit eie ervaring met geen gedagte aan die plot of opeenvolging van gebeure nie. Hy het in sy motor op pad werk toe en terug gesit en gedink aan dinge en aan dit waaraan hy gedink het oor die naweek neergeskryf.

“Oor ’n Saterdag en Sondag, so 1 000 woorde per dag, en dan die volgende week weer aan iets anders gedink, sonder enige voorafbeplanning van plot. En dit beteken dat ek ná 26 weke hiervan in die tweede semester in 2017 so net meer as 100 brokstukke, legkaartstukke, van iets gehad het. Van daardie dele het ek ineengesmelt, ‘n groot gedeelte daarvan, so 120 000 woorde; 50 000 daarvan is bloot net nie gebruik nie. En daardie 70 000 woorde het ek op die ou end heel toevallig aan die einde van die formele skryfproses uitgedruk en op my vloer in my spaarkamer neergesit en toe moes ek besluit nou in watter volgorde sal ek dit aanmekaar sit.

“Dit was toe ’n derdepersoonvertelling met ’n ander naam vir die hoofkarakter. Ek het toe besluit om dit te verander. Ek moes skielik begin dink aan moet ek verlede tyd of die hede gebruik? Ek moes dink aan of ek dit tematies wil collapse, kristalliseer, netjies dink aan temas, of gaan ek ’n ander manier kry om die ding neer te sit? Heel aan die einde het ek die idee gekry van "Toe" en "Nou" (die twee hoofafdelings van die roman). Die oorspronklike skryf daarvan was daarom onbepland, toevallig. Ek het nooit gedink om daardie boek te skryf nie.

“Ses maande later was die boek klaar, en toe volg twee, drie jaar van redigering.

“Ná die verskyning van hierdie boek het ek aangehou daarmee en daar is drie, vier nuwe dele wat praat oor die boek en wat die proses voortsit wat in die boek is. So dit was ’n heerlike, toevallige, anargistiese, vreemde proses wat vir my net so misterieus is soos vir enige iemand anders wat probeer sin maak daarvan.

Toe hy ’n groot deel van die Engelse teks gehad het, het hy die voorstel van die uitgewer ontvang dat hulle dit in Afrikaans wil uitgee. Maar sy eie vertaling wou net eenvoudig nie die regte vertaling wees van wat hy in Engels geskryf het nie, het hy gesê. Swart se vertaling bestempel hy dan as die "genuine article" in hierdie verband.

Oor skrywers wat hul eie tekste vertaal

Vir Bergsma bly dit dan ook ’n interessante vraag of iemand in staat is om homself op ’n betroubare manier te vertaal. Hy het die roman Laughter in the dark van Nabokof in Nederlands vertaal wat die skrywer oorspronklik in Russies (Camera obscura) geskryf het. Bergsma vertel daar was heelwat veranderinge tussen die eerste Engelse vertaler se teks en dié wat Nabokof daarna self gemaak het. Bergsma het gesê hy kan hom voorstel dat Fourie as outeur wat sy eie boek vertaal, outomaties dinge sou verander, ook as hy vertaler is. Bergsma se oudste Coetzee-vertalings het by drie verskillende uitgewers verskyn en by elke nuwe uitgewer het hy gesê hy wil dit eers reduseer, en iedere keer het hy dinge gaan verander. Hierdie neiging sou nog veel sterker en waarskynlik ook veel ingrypender by ’n skrywer wees, het Bergsma gesê.

Fourie meen tog hy sou ’n boek wat hy skryf, self kon vertaal en het gesê hy wil graag nog ’n roman skryf.

“Ek was vir die laaste tien jaar in my gedagtes in die abstrakte besig gewees met ’n moordverhaal, ’n riller, ’n krimi. Soos Deon Meyer. En wie wil nie soos Deon Meyer wees nie, of Jo Nesbo, die Noorweër? In daardie genre. Maar hierdie boek (The heart is the size of a fist) was, ironies genoeg, te persoonlik vir my om dit self te vertaal. Dit het ’n buite paar oë en tong nodig gehad om hierdie spesifieke teks te vertaal.”

Die boek waaraan hy volgende wil werk, sal suiwer fiksie wees, het hy gesê, maar terselfdertyd sou hy wou voortgaan met autrebiografiese werk, omdat dit tot hom spreek.

Lees ook op LitNet:

’n Hart is so groot soos ’n vuis deur PP Fourie: ’n resensie

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top