...
Hierdie tipologieë is egter nie die enigste innoverende aspek van vanjaar se werkwinkel nie. Hierdie jaar is ook die eerste jaar waar deelnemers die geleentheid gegun is om hul aanbiedings tot vollengte artikels te verwerk vir ’n portuurbeoordeelde konferensiepublikasie.
...
Die vierde Afrikaans Grammar Workshop of Afrikaansgrammatikawerkwinkel (AGW) is vanjaar op 27 en 28 November as ’n hibriede aangeleentheid in Muldersdrift aangebied. Die AGW is ’n samewerkingsinisiatief wat moontlik gemaak word deur die Meertens Instituut, Universiteit van Michigan en die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), en dit is hierdie jaar in samewerking met die Noordwes-Universiteit aangebied. Dit is die tweede keer dat hierdie werkwinkel in Suid-Afrika aangebied word en die eerste keer sedert die pandemie waar die Suid-Afrikaanse deelnemers fisies teenwoordig kon wees.
Daar was in totaal 19 aanbiedings deur 25 deelnemers, hoewel ongeveer 50 plaaslike en internasionale navorsers die werkwinkel virtueel en in persona bygewoon het. Hierdie deelnemers is verbonde aan verskeie universiteite en instansies, waaronder in Amerika, België, Duitsland, Nederland en Suid-Afrika.
Die werkwinkel het ten doel gehad om ’n saamkomplek te skep vir taalkundenavorsers wat die Afrikaanse grammatika vanuit verskeie teoretiese en metodologiese perspektiewe bestudeer. Bydraes het gefokus op al die verskillende grammatikale vlakke van Afrikaans, naamlik fonetiek en fonologie, morfologie, sintaksis, semantiek en pragmatiek. Baie van die aanbiedings het ook die Afrikaanse grammatika vergelyk met dié van ander Germaanse of onverwante tale, en veral die invloed van taalkontak op hedendaagse grammatikale variasie in Afrikaans is op die voorgrond geplaas.
...
Baie van die aanbiedings het ook die Afrikaanse grammatika vergelyk met dié van ander Germaanse of onverwante tale, en veral die invloed van taalkontak op hedendaagse grammatikale variasie in Afrikaans is op die voorgrond geplaas.
...
Die belangrikste van hierdie aanbiedings is deur die twee hoofsprekers vir die werkwinkel gelewer en soos die gebruik geword het, is een van Suid-Afrika en een van die buiteland afkomstig. Frank Hendricks van die Universiteit van Wes-Kaapland het in die eerste (hoof-) aanbieding oor hervatting of prolepsis in Afrikaans gepraat. Prolepsis is ’n taalkundige fenomeen waar ’n antesedent vroeër in die sin aan bod kom en ’n anaforiese ketting vorm met ’n latere sinsdeel/anafoor wat na dieselfde referent verwys, byvoorbeeld Pollard, dié is ’n knap losskakel. Tydens sy aanbieding het hy ’n vernuwende blik op die grammatikale (en veral pragmatiese) aard van prolepsis in Afrikaans gelewer, ’n onderwerp waaroor hy al sedert sy doktorale studie onder Fritz Ponelis in die 1980’s navorsing doen.
Timothy Colleman van die Universiteit Gent in België (asook leerstoelbekleër van die Nederlandse Wisselleerstoel in Suid-Afrika) was die tweede hoofspreker van die werkwinkel en het gepraat oor kompeterende argumentstruktuur-konstruksies of alternansies in Afrikaans, met vergelykings met Engels en Nederlands. Een voorbeeld van so ’n alternansie is die datiefalternansie in Afrikaans (byvoorbeeld Jan het Marie ’n boek gegee × Jan het ’n boek aan Marie gegee), hoewel minstens vyf ander alternansies op die makro-, meso- en mikrovlak ook bespreek is.
Die aanbiedings wat tydens die werkwinkel gelewer is, het meestal ’n sterk tipologiese fokus en dit is verblydend om te sien dat baie van die aanbiedings gefokus is op die formalisering van hierdie grammatikale modelle op die een of ander wyse. Een so ’n poging tot die kategorisering van Afrikaanse nonklouse is gelewer deur VivA se span taalkundenavorsers wat verantwoordelik is vir die uitbreiding van die Algemene Afrikaanse Grammatika (oftewel AAG). Thilo Weber en Simon Pröll, beide van Duitsland, het weer Afrikaans met altesaam 28 variëteite van Germaanse tale vergelyk. Hulle bevind dat Afrikaans binne die Wes-Germaanse taalfamilie as taamlik afwykend na vore kom en eintlik tipologies nader aan ander hoëkontak-variëteite soos Jiddisj as aan Nederlands vertoon.
Ander taalkundiges het weer voortgebou op medenavorsers se tipologieë. Astrid de Wit van die Universiteit Antwerpen, om maar ’n enkele voorbeeld te noem, het op ’n nuutdenkende wyse aangetoon hoe perifrastiese progressiwiteitskonstruksies in Afrikaans nie net gebruik kan word om aspektuele meerduidigheid uit te klaar of betekenis uit te druk nie, maar óók gebruik kan word om gemerkte of atipiese situasies uit te druk. Peter Dirix, ook van België, het weer gekyk na die maniere waarop onderskikking in Afrikaans vergestalting vind deur die werk van ’n ander navorser wat aanvanklik Afrikaans by haar konstruksionele tipologie uitgesluit het, te repliseer en die bestaan van haar subtipes te valideer.
Hierdie tipologieë is egter nie die enigste innoverende aspek van vanjaar se werkwinkel nie. Hierdie jaar is ook die eerste jaar waar deelnemers die geleentheid gegun is om hul aanbiedings tot vollengte artikels te verwerk vir ’n portuurbeoordeelde konferensiepublikasie. Hierdie publikasie sal gratis aan die publiek beskikbaar wees en eersdaags op VivA se webtuiste gepubliseer word. Hierdie soort publikasies speel ’n toenemend belangrike rol in die vinnige verspreiding van data en bevindings in taalkundige navorsing, wat veral belangrik is vir diegene wat wil tred hou met die nuutste verwikkelings in die veld.