Vlaamse skrywers kom in Suid-Afrika skryf

  • 0

Die Jakes Gerwel Stigting verwelkom vir die eerste keer skrywers wat van buite Suid-Afrika afkomstig is by Paulet Huis in Somerset-Oos.

Hierdie veelbekroonde internasionale skrywers, Miriam van Hee en Rachida Lamrabet, sal die huis deel met twee Suid-Afrikaners, die opkomende skrywer Chase Rhys en die dramaturg en taalaktivis Denver Breda.

Jakes Gerwel het destyds sy doktorsgraad in literatuur en filosofie aan die Vrije Universiteit Brussel in België voltooi. Dit is binne hierdie konteks dat die Jakes Gerwel Stigting hande neem met Passa Porta, ’n internasionale literatuurhuis in Brussel.

Hierdie gesamentlike projek behels ’n jaarlikse uitnodiging aan Vlaamse skrywers om aansoek te doen vir ’n skrywersresidensie van drie weke in Suid-Afrika. Meer nog, die Stigting nooi dan ook Suid-Afrikaanse skrywers uit om hulle gedurende dieselfde tydperk by die Vlaamse skrywers in Paulet Huis aan te sluit.

Sodoende wil die Stigting skrywers van verskillende agtergronde bymekaar uitbring om kruisbestuiwing van idees en die verruiming van letterkunde – hier en elders – teweeg te bring. Dit is die eerste keer dat daar so ’n samewerkingsooreenkoms gesluit word tussen ’n literatuurhuis in België en ’n Suid-Afrikaanse organisasie.

Miriam Van Hee het in 1978 met haar bundel Het karige maal gedebuteer waarvoor sy dan ook die Letterkundeprys van die Provinsie van Oos-Vlaandere gewen het. Haar poësie is reeds in tien ander tale vertaal en haar tiende bundel is in 2017 bekroon met die Ultimaprys vir Letterkunde.

Rachida Lamrabet is ’n Vlaamse skrywer van Marokkaanse afkoms. Sy het tot onlangs nog as prokureur vir die Sentrum vir Gelyke Geleenthede en Teenstand teen Rassisme gepraktiseer, maar skryf nou voltyds. Haar eerste roman Vrouwland is in 2007 gepubliseer en bekroon met die Vlaamse Debuutprys.

Chase Rhys het met sy toneelstuk Kinnes die heel eerste skrywer geword om die Adam en Rosalie Small-prys te ontvang. Hierdie stuk handel oor die lewens van ’n groep jongmense op die Kaapse Vlakte en dit is ook deur Rhys tot novelle verwerk. Hiervoor het hy verskeie literêre nominasies ontvang.

Denver Breda is ’n onverskrokke taal- en kultuuraktivis asook skrywer. Hy beywer hom vir die herlewing van die Khoesantale asook vir die voortbestaan van Afrikaans in sy verskillende dialekte. Breda het reeds verskeie werke gepubliseer, onder meer Stories wat kort is en sy dramaproduksie Rokkie.

.............

Klik op www.jgf.org.za om meer uit te vind oor die projekte van die Jakes Gerwel Stigting of stuur ’n e-pos na Theo Kemp, die uitvoerende direkteur, by theo@jgf.org.za.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top