Vlak 2 en fase 2 – die land juig én grom boos

  • 0

Suid-Afrikaners het die afgelope week skaars bly geword oor die moontlike vooruitsig dat die noodregulasies van vlak 3 na vlak 2 verlig gaan word, toe hulle wreed deur Eskom ontnugter word met fase 2- en selfs fase 3-beurtkrag wat in werking kan tree.

Die vooruitsigte wat krag betref, lyk ook nie goed vir ten minste die volgende paar maande nie. Die land kan hom volgens die meeste kenners gereedmaak vir minstens drie maande van beurtkrag. “Eskom is deur die jare so deur die ANC verrinneweer dat ons midde-in ’n pandemie terug is in die donker eeue terwyl ons ’n ekonomiese ramp gadeslaan,” het James Styan van Kaapstad op Twitter sy frustrasie uitgestort.

“Die land maak gereed om na vlak 2 van die noodmaatreëls oor te skakel en Eskom implementeer fase 2-beurtkrag. Wat ’n gelykmaker,” het nog iemand sarkasties op Twitter geskryf.

Eskom het vroeg Donderdag aangekondig dat hy genoodsaak is om fase 2-beurtkrag in te stel nadat verskeie kragopwekkingseenhede deur die nag en vroeg Donderdagoggend onklaar geraak het. Vier eenhede by die Kriel-, Tutuka- en Kendal-kragstasies is buite werking en daar is ook ’n vertraging om twee eenhede by die Duvha- en Tutuka-kragstasies weer aan die kragnetwerk te koppel.

Fase 2-beurtkrag het om agtuur Donderdagoggend in werking getree. Eskom het gewaarsku dat hulle later kan oorskakel na fase 3, en sê die moontlikheid is groot dat dit die naweek sal voortduur.

Die enigste mense wat van Eskom se krag afhanklik is en nog met ’n effense glimlag rondloop in die donker dae is die Kapenaars. Stad Kaapstad het sy inwoners weer soos die vorige keer toe beurtkrag toegepas is, tegemoetgekom en slegs fase 1-beurtkrag toegepas toe die res van die land fase 2 gehad het.

Stad Kaapstad het op Twitter aangekondig die meeste van die stad se inwoners sal slegs fase 1-beurtkrag moet trotseer en dat die stad die verbruikers een fase sal spaar om hulle teen die volle omvang van beurtkrag te beskerm.

Die stad sê hulle neem met afkeuring kennis van die hervatting van nóg ’n ronde beurtkrag deur Eskom. “Die stad sal sy bes doen om die meeste van sy kraggebruikers op die laagste moontlike vlak van beurtkrag te hou deur ekstra kapasiteit op te wek.”

Donderdagaand kon Eskom daarin slaag om weer vier van sy kragopwekkingseenhede aan die gang te kry, maar sê dit is nie genoeg om beurtkrag op te skort nie.

Die Vryheidsfront Plus het intussen kritiek uitgespreek oor die wyse waarop Eskom van sogenaamde ladingbesnoeiing gebruik maak.

Foto: Canva.com

In die afwesigheid van beurtkrag maak Eskom deesdae elke dag gebiede bekend waar kragtoevoer weens “ladingbesnoeiing” (load reduction) vir ’n deel van die dag opgeskort word. Die praktyk dat betalende kragverbruikers daagliks sonder krag is, is volgens die Vryheidsfront Plus skadelik vir ekonomiese groei, terwyl dit ook gevaarlik en ongerieflik is. Die party sê in ’n mediaverklaring vanuit ’n reguleringsoogpunt behoort instansies wat daarvoor verantwoordelik is, gedwing te word om dringend op te tree.

“Die verskil tussen die twee, is wat die oorsaak van die onderbreking is. Met beurtkrag is dit Eskom se onvermoë om aan die kragaanvraag te voldoen, maar met ladingbesnoeiing is dit verspreidingsnetwerke wat gebrekkig is.

“Die kern van die probleem is dat betalende kragverbruikers dikwels aan die kortste ent trek wanneer kragverskaffing opgeskort word. Dit lei nie net tot ongerief nie, maar ook verlaagde ekonomiese aktiwiteit, te midde van negatiewe groei en werksverliese wat die land teister.”

Die party sê hulle gaan hierdie kwessie opneem met die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa), wie se taak dit is om kragverbruikers en -leweransiers te beskerm en te dwing om hul verpligtinge na te kom.

Lees ook

Einde van Vlak 3 dalk om die draai

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top