Vloek met flair in Afrikaans

  • 0

’n Simposium wat sedebewakers na seep sal laat gryp om die monde mee uit te spoel word Vrydag in Pretoria gehou. Die Vloek met Flair-simposium, wat deur die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) aangebied word, wil graag bestek opneem van die taboes wat in die Afrikaanse spreek- en skryftaal geld.

Grafika: Pixabay.com

Gerhard van Huyssteen, taalkundige en stigter van die webwerf vloek.co.za, sal die hoofspreker tydens die geleentheid wees. Dié webwerf wat vroeër vanjaar die lig gesien het, vertel die leser alles en nog wat van gekruide taal en lesers word gewaarsku dat hulle dit op eie risiko besoek.

VivA het diegene wat belangstel in gekruide taal uitgenooi om Vrydag die vloeksimposium in Menlo Park by te woon. Die ander deelnemers op die paneel is die oud-RSG-joernalis Foeta Krige, Susan Lombaard van Maroela Media, Lizane Basson van die ATKV, en Johan Jack Smith, die redakteur van Taalgenoot.

VivA se uitvoerende direkteur, Marlie Coetzee, sê die simposium wil daarop fokus om ’n veilige ruimte vir die debat oor vloekery te skep. Sy sê die hoofdoel is om navorsing te doen oor taal, en vloek is deel van die taal. Dit is ’n kuns om reg te kan vloek, het sy aan Netwerk24 gesê.

“Hoewel die grense aan die verskuif is en ’n mens deesdae taal hoor en sien wat selfs tien jaar gelede nooit in ‘opgevoede geselskap’ gebruik sou word nie, is daar steeds perke aan wat hoorders, luisteraars, gehore, lesers en gebruikers van sprekers en die skeppers van tekste sal aanvaar. Daar is ook ’n punt waar die waarde van die inspan van sulke taboes verlore gaan.”

Van die vrae wat nou tereg gevra word, is volgens haar:

  • Waar lê die grense vir taalgebruik? 
  • Waar lê die grense vir gespreksonderwerpe? 
  • Waar lê die grense vir verskillende genres? 
  • Waar lê die grense in sosiale media? 
  • Waar lê die balans tussen vryheid van spraak teenoor sensuur en selfsensuur?

Daar is baie Afrikaanse webblaaie waar gevloek en geskel word. Maar volgens Van Huyssteen is daar nog nie ’n webblad wat spesifiek oor Afrikaanse vloekwoorde en verwante verskynsels handel nie. Hy sê vloek.co.za probeer om dié gat te vul. Boonop word die webwerf gekoppel aan ’n navorsingsprojek oor vloek.

Die projek geskied onder die vaandel van die Noordwes-Universiteit (NWU), in samewerking met medewerkers van onder andere die Universiteit van Pretoria (UP), Universiteit van die Vrystaat (UV) en die Katolieke Universiteit Leuven (KUL).

Die hoofdoel van die navorsingsprojek is om die leemte in kennis oor en begrip van vloek in die Suid-Afrikaanse konteks aan te vul deur taalnavorsing (hoofsaaklik gefokus op Afrikaans en tale in sy ekosisteem) en multidissiplinêre navorsing.

Vloek is volgens die webwerf ’n fassinerende verskynsel wat ons nie net diep insig in menslike kognisie en neurofisiologie gee nie, maar ook in sosiale interaksies en magsdinamika.

“Baie min multidissiplinêre navorsing is egter gedoen oor vloek in die Suid-Afrikaanse konteks – ’n leemte wat hierdie projek poog om te vul met insigte uit die Digitale Humaniora en met insette van en implikasies vir taalkunde, literatuurstudie, kommunikasiekunde, sielkunde, sosiologie, rekenaarwetenskap en die regte.”

Die sekondêre doel van die projek is om alternatiewe, hedendaagse geleenthede vir wetenskaplike kommunikasie te ondersoek, spesifiek gefokus op podsendings, blogs, video’s en webinare.

Lees ook 

P-woord gons op Twitter oor Malema #p@*$ genoem word

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top