Vrees by skole oor COVID-19 is volgens mediese spesialiste oordrewe

  • 0

...........

“Die vrese dat kinders superverspreiders van die koronavirus kan wees, is aangevuur deur verskeie berigte wat die afgelope tyd gereeld in die media verskyn het.”

...........

Ouers se vrees dat hulle kinders aan onnodige risiko’s blootgestel word tydens skoolure as gevolg van COVID-19, is oordrewe. Daar is geen rede vir ’n kultuur van vrees noudat kinders weer begin skoolgaan nie.

Dít blyk uit omvattende gesprekke wat die joernalis, Willemien Brümmer, met mediese spesialiste gehad het oor wat presies kinders se risiko is wanneer hulle weer moet skoolgaan terwyl die koronavirus nog met ons is.

Foto: Pixabay.com

Vakbonde en ouers het vroeër kommer uitgespreek oor skole se gereedheid om te heropen, te midde van berigte oor tekorte aan die nodige beskermingsmaatreëls by skole.

Die vrese dat kinders superverspreiders van die koronavirus kan wees, is aangevuur deur verskeie berigte wat die afgelope tyd gereeld in die media verskyn het.

Die onderwyskenner, Jonathan Jansen, het onder andere groot reaksie uitgelok toe hy voorgestel het die akademiese jaar behoort vanjaar heeltemal geskrap te word. Sy standpunt is onder andere gedeel deur die Instituut vir Rasseverhoudings (IRV) se uitvoerende hoof, Frans Cronjé.

Cronjé se argument was dat miljoene kinders daagliks skole besoek en baie na aan mekaar beweeg. Volgens hom sou die skoolterrein die broeiplek wees vir die verspreiding van die COVID-19 pandemie in Suid-Afrika. Die heropening van die skole sou, volgens hom, al die ander aksies ondermyn wat deur die regering ingestel is om COVID-19 te beveg.

...........

“Fiona Kritzinger, pediatriese dokter by die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad, meen kinders kan dalk in sekere opsigte selfs hierdie winter veiliger by skole wees as in vorige winters. Dit is omdat hulle meer gereeld sal hande was, maskers dra en verder uitmekaar sit as in die verlede.”

...........

“As kinders die virus vanaf die skole na hulle huishoudings sou oordra, kan dit verskriklike skade aan die land se familiestrukture aanrig wat vergelykbaar is met die skade wat die Vigs-pandemie vyftien jaar gelede aan gesinne aangerig het,” het Cronjé gewaarsku.

Nou blyk dit egter dat ouers grootliks gerus kan wees oor die omvang van die virus in skole.

Volgens Brümmer se ondersoek is verreweg die meeste medici dit eens met die Suid-Afrikaanse Pediatriese Vereniging wat onlangs in ’n verklaring gesê het dat hy die regering steun dat kinders moet terugkeer skool toe.

Volgens die vereniging is kinders biologies meer bestand teen die virus en ook minder geneig om siek te word indien hulle besmet word. Indien hulle wel siek word is die simptome meestal gering tot matig en hulle kanse om te sterf is uiters klein.

Kinders is blykbaar ook glad nie die “stil korona-sluipers” of “superverspreiders” van die siekte soos wat aanvanklik vermoed is nie. Volgens Brümmer se artikel op Netwerk24 toon verskeie studies dat kinders selde die “sondaars” is wat die virus die eerste keer by ’n huis inbring of wat in mediese terme bekend is as die indeksgevalle.

Volgens die kenners wat sy aanhaal moet regerings wêreldwyd toelaat dat kinders toegelaat word om terug te gaan skool toe, ongeag of die kinders onderliggende siektes het.

Fiona Kritzinger, pediatriese dokter by die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad, meen kinders kan dalk in sekere opsigte selfs hierdie winter veiliger by skole wees as in vorige winters. Dit is omdat hulle meer gereeld sal hande was, maskers dra en verder uitmekaar sit as in die verlede.

Volgens haar was die vrees dat kinders superverspreiders van die koronavirus sou wees, nooit gegrond op enige wetenskaplike getuienis nie.

Nandi Siegfried, spesialis in openbare gesondheid met ’n doktersgraad in kliniese epidemiologie, sê die probleem is dat ons die afgelope paar maande ’n kultuur van vrees geskep het. Sy sê ons kan dit nie regkry om alle siektes en sterftes te voorkom nie, maar ons het die kennis. Tesame met behoorlike opvoeding, bewusmaking en opleiding, kan ons as samelewing ’n sterk teensang teen die virus bou, berig Netwerk24.

Die daaglikse syfers wat oor COVID-19 bekendgemaak word, toon dat meer as die helfte van mense wat die virus opdoen tussen 50 en 69 jaar oud is. Dit beteken dat 560 mense wat weens die virus dood is, in dié ouderdomsgroep val. Die koronavirus is tot dusver by altesaam 50 879 mense in die land gediagnoseer.

Lees ook 

Geskarrel agter skerms oor heropening van skole

Buro: MvH
  • 0
Top