Vroedvrou (Midwife) bewaar ’n rykdom van inheemse kennis

  • 0
Vroedvrou ondersoek die onontbeerlike rol van tradisionele vroedvroue in die Noord-Kaap met ’n besondere fokus op die Nama-gemeenskap in Namakwaland. Die film het sy oorsprong in navorsing deur Feris wat deur lede van die Nama-gemeenskap in Namakwaland genader is om die kennis van verouderde vroedvroue te bewaar.

“Dis nie maklik om geboorte te gee nie,” deel vroedvrou Katriena Majiedt (80 jaar oud) ’n eenvoudige, maar betekenisvolle waarheid in die dokumentêre film Vroedvrou se voorskou.

Vroedvrou – ’n moet-nie-mis-nie-dokumentêr (Grafika: Skermgreep uit Traditional midwives, enca.com)

Inheemse vroedkuns het ’n ryk erfenis wat deur die geslagte heen bewaar is, maar in die skadu van moderne gesondheidsorg word dit dikwels oor die hoof gesien en is besig om verlore te gaan.

In ’n treffende dokumentêre film deur Siona O’Connell, ’n lektor in Afrikastudies en ’n lid van die Skool vir die Kunste, en Loretta Feris, regsgeleerde en UP Visehoof: Akademies aan die Universiteit van Pretoria (UP), word hierdie waardevolle kennis vasgelê en in die kollig geplaas.

Vroedvrou ondersoek die onontbeerlike rol van tradisionele vroedvroue in die Noord-Kaap met ’n besondere fokus op die Nama-gemeenskap in Namakwaland. Die film het sy oorsprong in navorsing deur Feris wat deur lede van die Nama-gemeenskap in Namakwaland genader is om die kennis van verouderde vroedvroue te bewaar.

Feris is ook die akademiese stem wat die kyker tydens die dokumentêr vergesel. Sy is self van die Noord-Kaap en het self haar lewe in die hande van ’n vroedvrou begin.

“Ek is genader deur ’n gemeenskapsaktivis,” het Feris tydens die onderhoud verduidelik. “Die gemeenskap was besorgd oor die dreigende verlies van hierdie onskatbare inheemse kennis soos vroedvroue ouer word en uitsterf.”

Dit het haar aangemoedig om Siona O’Connell te nader, wat reeds verskeie impakvolle dokumentêre vervaardig het.

Saam het die twee akademici gewerk om die rykdom van inheemse vroedvroukennis – of “inheemse wetenskaplikes” – vas te lê en meer bewustheid te skep oor die onontbeerlike rol van tradisionele vroedvroue in die Noord-Kaap.

Die mooie Noord-Kaap (Foto: Skermgreep uit Traditional midwives, enca.com)

Foto: Skermgreep uit Traditional midwives (enca.com)

Foto: Skermgreep uit Traditional midwives (enca.com)

Foto: Skermgreep uit die Vroedvrou-voorskou (YouTube)

In die verkorte dokumentêr op eNCA se nuus- en aktuele sake-program CheckPoint (DStv, kanaal 403) wat op 6 Maart uitgesaai is, vertel Feris dat sy aangeneem het inheemse vroedkuns is ’n verlore tradisie – maar baie van die vroue praktiseer nog vandag. “Vroedvroue dra en ontwikkel kennis op ’n sekere wyse,” verduidelik Feris. “Hulle maak staat op die kennis wat deur hul ma’s en oumas oorgedra word oor die vroedkuns, maar hulle leer ook uit wat hulself waarneem.”

“Ek het geleer by my antie,” sê vroedvrou Veronika Roberts. “Sy het my gereeld gesê ek moet by haar kom sit en so het ek geleer om te doen wat sy gedoen het.” Een van die mees roerende oomblikke tydens die vervaardiging vir O’Connell was die herlewing van haar eie ervarings van swangerskap en moederskap.

“Ek het die ongelooflike eensaamheid en verwarring wat ek beleef het, onthou. Ek het my diepe depressie en behoefte om my seun te beskerm – op maniere wat ek nie heeltemal geweet het hoe om te doen nie – onthou. Dit is weerspieël in die onderhoud met Liza Mazaleni wat haar ervaring van geboorte in ’n private hospitaal beskryf.”

Al haar films het ’n persoonlike verbintenis: “Ek dink dit is die enigste manier vir my om te werk, maar dit vereis dikwels dat ek grawe, wat my in ’n diep, komplekse en onopgeloste warboel laat beland!”

Hierdie persoonlike verhale bring ’n dieper dimensie tot die film, wat die menslike ervaring van geboorte en moederskap uitlig.

Die ondersteuning wat hierdie vroedvroue en smeervroue jong ma’s bied – selfs ná die geboorte – is ’n uitstaan-oomblik in Vroedvrou. Veronika gesels oor die tyd wat sy saam met die ma deurbring en daardie ondersteuning en omgee blyk aan die afsterf te wees in moderne mediese sorg.

’n Studie deur Sarmiento, Paredes-Solís, Morris, Pimentel, Cockcroft en Andersson (2020) beklemtoon die alomteenwoordigheid van tradisionele vroedvroue in inheemse gemeenskappe regoor die wêreld. Hierdie vroedvroue bied nie net basiese mediese sorg tydens geboorte en swangerskap nie, maar ook ’n bron van lewenswysheid en ondersteuning in tye van nood.

Katriena som dit mooi in die dokumentêr op: “Wanneer die vrou huil, vat jy daai vrou se trane op jou.” “Inheemse vroedvroupraktyke regoor die wêreld doen soveel meer as om net ’n vrou te help om geboorte te gee,” stem O’Connell saam. “Hierdie vroue is die kern van kennis wat van generasie tot generasie oorgedra is en wat lewe ondersteun het, dikwels in omstandighede van armoede en in die skadu’s van erkende gesondheidsorg. Afgesien van die wetenskaplike kennis wat hulle besit, is hulle in staat om ons te leer wat dit beteken om betekenisvolle bande te skep wat lig kan werp op wat dit beteken om gesonde gemeenskappe te midde van vernietiging te handhaaf.”

Die ongelooflike vroedvrou Katriena Majiedt wat steeds op 80 jaar praktiseer. Foto: Skermgreep uit Traditional midwives (enca.com)

Vir O’Connell bied die vervaardiging van dokumentêre films ’n unieke geleentheid om akademiese gesprekke met ’n breër gehoor te hê. Sy beklemtoon die krag van film as ’n medium om die menslike ervaring te vang en te deel.

Die dokumentêr Vroedvrou belig die noodsaaklikheid om tradisionele kennis te bewaar en te bevorder, nie net vir die Nama-gemeenskap in Namakwaland nie, maar vir gemeenskappe regoor Suid-Afrika en verder. Die film is ’n oproep tot aksie om die wysheid van tradisionele vroedvroue te beskerm en voort te laat leef vir toekomstige generasies. 

Feris hoop dat die film nie net bewusmaking sal verhoog nie, maar ook ’n aansporing sal wees vir die regering om stappe te neem ter beskerming van hierdie belangrike kennis.

“Ek hoop ook om studente te laat besef dat hulle moet oop wees vir kennis binne en buite die universiteitskonteks. Indien ons genoeg befondsing kry, sal ek graag jonger vroue wil neem om ’n vakleerlingskap te doen om die kennis van die vroedvroue te leer.”

Vroedvrou is ’n essensiële bydrae tot die gesprek oor moederlike gesondheid, ’n huldeblyk aan die tradisionele vroedvroue en ’n noodsaaklike bydrae tot die bewaring van inheemse kennis in Suid-Afrika en daarbuite.

  • Die film het op 23 Maart 2024 in Springbok, Noord-Kaap première. ’n Verkorte weergawe is op die webblad van die eNCA se nuus- en aktuele sake-program CheckPoint (DStv, kanaal 403) beskikbaar.

Bron:

Sarmiento, I., S. Paredes-Solís, M. Morris, J. Pimentel, A. Cockcroft, N. Andersson. 2020. Factors influencing maternal health in indigenous communities with presence of traditional midwifery in the Americas: protocol for a scoping review. BMJ Open, 10:e037922. DOI: 10.1136/bmjopen-2020-037922.

Lees ook op LitNet en Voertaal:

Vroedvrou: Kan ’n dokumentêr jou iets van jouself teruggee?

Tamia Botes, winnares Africa Thesis Award 2021: "Deze prijs is voor de voetvroue. Ik ben alleen maar het vehikel"

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top