België vaar tans goed met inentings, en nuwe gevalle van COVID-19 neem by die dag af, maar vanoggend se hoofnuus in die The Brussels Times is dat daar ’n uitgebreide soektog van stapel gestuur is na ’n verregse persoon wat skynbaar gewapen is met ’n vuurpyllanseerder, ’n masjiengeweer en ’n pistool.
Die persoon is ’n soldaat wat klaarblyklik gedros het uit sy barakke by Peutie in die provinsie Vlaams-Brabant. Sy teiken is na bewering die viroloog Marc van Ranst, ’n hoogleraar aan die Katolieke Universiteit Leuven en ’n Covid-raadgewer vir die regering.
Van Ranst is nie bloot ’n kundige op die gebied van virusse nie, hy is ook uitgesproke oor Israel se hantering van die Palestyne.
Die polisie het intussen ’n veiligheidskordon om Van Ranst gespan.
België is besig om die stryd teen COVID-19 te wen
Dit is ironies dat Van Ranst en sy span se werk om Belgiese burgers teen die virus te beskerm, besig is om vrugte af te werp.
Nuwe COVID-19-getalle is besig om af te neem en hulle derde piek was laag. Die drie grafieke hier onder, wat België met Nederland en Suid-Afrika vergelyk, toon dit duidelik. (Bron van al drie grafieke: Worldometers.info | Skermgrepe op 19 Mei 2021)
België het minder aktiewe gevalle gehad as Nederland, maar meer sterftes. Hierdie tabel verskaf ’n breë oorsig oor hoe België teen Nederland, Suid-Afrika, die VSA en Indië vaar. (Bron: Worldometers.info | 19 Mei 2021)
Land |
Gevalle van COVID-19 |
Sterftes weens COVID-19 |
VSA |
33 774 945 |
601 330 |
Indië |
25 496 330 |
283 276 |
Suid-Afrika |
1 617 840 |
55 340 |
Nederland |
1 606 319 |
17 473 |
België |
1 034 714 |
24 749 |
Die inentingsprogram in België is ook goed op dreef.
Die Vlaamse deel van België het 95 inentingsentrums opgerig en het ’n spesiale blad geskep, https://www.laatjevaccineren.be, ewe met ’n klingel:
Je laten vaccineren
is het beste plan,
zodat het leven straks
weer starten kan.
Die langer weergawe om burgers te vra om hulle te laat inent, eggo veldtogte wat ons in Suid-Afrika sien:
Vaccinatie is onze belangrijkste troef om de COVID-19-pandemie achter ons te laten. Om terug gewoon met vrienden je verjaardag te vieren, je (groot)ouders te knuffelen, op café of restaurant te gaan, of naar een concert of het voetbalstadion. Vaccinatie kan voorkomen dat je ernstig ziek wordt en levens redden. Heel belangrijk dus om je te laten inenten. Niet alleen voor jezelf, maar ook voor elkaar. Zodat we stukje bij beetje weer het gewone leven kunnen oppikken.
Dit wil voorkom of hierdie veldtog vrugte afwerp.
Our World in Data het op 17 Mei 2021 hulle syfers vir België bygewerk. Toe was daar reeds 5,34 miljoen dosisse toegedien, terwyl 1,4 miljoen Belgiese burgers (dit is 12,2% van die bevolking) reeds volledig ingeënt is.
Die feit dat 5,34 miljoen van die 11,63 miljoen burgers reeds ’n eerste inenting gekry het, sê baie. Dit is byna 50% van die bevolking. Daardie eerste inenting bly die belangrikste, want dit verskaf aan die liggaam teenliggaampies om die virus te beveg.
Die Centres for Disease Control in die VSA het in Maart 2021 reeds bevindinge bekend gemaak dat ’n enkeldosis van Pfizer of Moderna se dubbeldosisinentings reeds tot 80% beskerming bied teen infeksies, maar dat die neem van beide dosisse, soos aanbeveel, beskerming opgestoot het tot meer as 90%. (CNBC het op 29 Maart 2021 ’n toeganklike berig daaroor uitgesaai.)
België, wat swaar steun op AstraZeneca, probeer egter baie hard om al hulle burgers binne agt weke ’n tweede inenting te gee. (In Suid-Afrika is AstraZeneca nie meer op die amptelike program nie, hoewel die syfers onder diegene wat daarmee getoets is, wys dat sterftes en hospitalisasie daardeur voorkom is.)
Selfs ’n uitbraak van die sogenaamde Indiese variant (B.1.617+ of G/452.V3) het tot nog toe net een sterfte veroorsaak in België, en die oorsaak van die persoon se dood is nog nie bevestig nie. Die sterfte het plaasgevind in ’n Belgiese ouetehuis waar die pasiënte reeds ingeënt is. Die ander pasiënte wat met die variant besmet is, het nie ernstig siek geword nie.
Individuele regte teenoor die land se regte
In België is daar tans ’n groot debat aan die gang oor werkgewers se regte om daarop aan te dring dat werknemers ingeënt moet word. Tans moet alle werknemers van Belgiese maatskappye steeds van die huis af werk, tensy hulle of die maatskappy kan bewys dat dit nie moontlik is nie.
Soos wat inentings meer geredelik beskikbaar word, het vrae ontstaan of Belgiese maatskappye hulle werknemers kan dwing om ingeënt te word.
Die globale regsfirma Eversheds Sutherland het op 26 Januarie 2021 reeds ’n mening op hul webruimte geplaas wat lui:
The employer cannot oblige the employees to be vaccinated against COVID-19. Enforcing a vaccination would violate the right of private life and the right to physical integrity guaranteed by the European Convention on Human Rights and the Belgian Constitution. It could also infringe the right of freedom of religion and belief.
Tog het staan daar in die volgende paragraaf:
This would only be possible on a legal basis. Today, the vaccine is not mandatory. If rendered mandatory, there should be legitimate purpose and this should be proportionate.
Daar is inderdaad antivaksers in België; die man met die vuurpyllanseerder is dalk ’n ekstreme voorbeeld.
Die regering probeer tans baie hard om oorreding te gebruik, nie strafmaatreëls nie. Gudrun Briat, ’n woordvoerder van die taakspan wat inentings in België beheer, het Dinsdag aangekondig dat hulle mense wat in die eerste ronde nie kans sien nie, sal opvolg ná almal wat wel ingeënt wil word, reeds hulle spuite gekry het.
Intussen is daar ’n sprankie hoop: Jonger mense wil skynbaar so graag hulle eerste prik kry dat hulle bereid is om daarvoor te jok.
Soos in Suid-Afrika word die ouer bevolking eerste ingeënt, want hulle kanse om in hospitale te beland is veel groter ná infeksie as jonger mense s’n. Toe maak die jonger inwoners van die Vlaamse buurte ’n plan: Mense in Brussel is vinniger ingeënt as in die res van die land, dus het heelwat jonger Vlaminge hul adresse vervals en dan hulle prikke in Brussel gaan haal.
Die regering het dit nou agtergekom en die webruimte waarop registrasies plaasvind is verbeter, maar niemand oorweeg dit om op te tree teen diegene wat hulle eerste prikkie so effens onderduims gekry het nie. Al waaroor nou vrae gevra word, is: Waarheen sal ons hulle vir die tweede prik laat gaan?
Almal wil tog “zodat we stukje bij beetje weer het gewone leven kunnen oppikken”.
Lees ook:
COVID-19: Jeremy Nel on vaccines, returning to normal and ivermectin
COVID-19: Verdraaide feite wat so vinnig soos ’n virus versprei
Saphra kry pak oor ivermektien; inperking, reisbeperkings en inentings ook ondersoek