Op die wêreldkaart, en selfs op die kaart van Europa, is Malta net ’n spikkeltjie in die Middellandse See. As Sisilië die rugbybal is wat deur Italië se voet geskop word, dan is Malta ’n stukkie grond wat van die veld af opspat. Dit is een van die kleinste en mees digbevolkte lande ter wêreld.
Historiese opgrawings dui daarop dat Malta reeds teen 5900 vC bevolk was, waarskynlik deur mense wat met primitiewe bote uit Sisilië gekom het. Reeds 1 000 jaar voordat die groot piramide van Cheops in Egipte gebou is, het die mense van Malta groot rotsblokke van 50 ton gemanipuleer om Stonehengeagtige strukture op te rig. As gevolg van sy strategiese ligging in die Middellandse See was Malta deurentyd ’n gesogte vesting. So was dit opeenvolgend in die hande van die Fenisiërs (800–480 vC), Kartagers (480–218 vC), Romeine (218 vC–395 nC), Bisantyne (395–870), Arabiere (870–1090), Normandiërs (1090 –1530), die Ridderorde van Sint Johannes (1530–1798), Franse (1798–1800) en Britte (1800–1964). Elkeen van die besetters het op een of ander wyse sy merk gelaat. Malta het in 1815 ’n Britse kolonie geword en Engels is, saam met Maltees (Malti), die amptelike taal. Maltees is deel van die Semitiese taalgroep waartoe Arabies en Hebreeus behoort en stam af van die taal van die Fenisiërs. Dit is die enigste Semitiese taal wat Latynse skrif gebruik. ’n Aantal spesiale simbole word ook wel gebruik, byvoorbeeld ’n h met ’n strepie deur soos by ’n t (ħ) om onderskeid te tref tussen die gewone h-klank en die stemlose een.
Malta het ’n baie belangrike rol in die Tweede Wêreldoorlog gespeel. Malta het in 1974 ’n republiek geword en is tans is deel van die Europese Unie.
Nou wát het ons laat besluit om dié oorbevolkte klein eilandjie te besoek? Ons was op soek na ’n bestemming om ons tyd te verwyl voor ’n week lange wynproetoer in Frankryk. Die hoofoorweging was egter die uitstekende openbarevervoerstelsel in Malta. Daar is ’n netwerk busroetes en bushaltes dwarsoor die hele eiland en ’n 7-dag-buskaartjie is goedkoop. Ons het in ’n Airbnb naby Malta se lughawe by Luqa gebly, reg in die middel van die eiland, van waar ons elke dag ’n bus in ’n verskillende windrigting geneem het. Ons verblyf was in ’n gewone middelklaswoonbuurt met rye skakelhuise met ’n kenmerkende Maltese boustyl met balkonne. Malta het ’n rykdom aan geskiedkundige en kulturele besienswaardighede en ook natuurtonele.
Dag 1. Bugibba en Mellieha
Die eerste dag neem die bus ons in ’n noordwestelike rigting na Bugibba en Mellieha wat aan Sint Paulus-baai geleë is. Volgens oorlewering het Paulus se boot in hierdie baai gestrand toe hy van Kreta af onderweg na die Keiser in Rome was. Malta is streng Rooms-Katoliek en Paulus se naam duik orals op. Onder andere is daar ’n kerk in Bugibba gebou op die plek waar die stranding sou plaasgevind het en die gebeurtenis word jaarliks op 10 Februarie herdenk.
Ons besoek ook Mellieha-baai en verkyk ons aan die rykmansbuurt terwyl die Church of our Lady of Victory, wat glo persoonlik deur sint Paulus geseën is, bo van die heuwel op die baai afkyk. Die Feast of our Lady of Victory (ter herdenking aan hul oorwinning oor die Turke) word jaarliks op 8 September gevier en het toevallig met ons besoek saamgeval. Die klokke het die hele middag oor die baai weerklink en almal was op pad fees toe.
Dag 2. Rabat en Mdina
Die tweede dag is ons reis in ’n noordoostelike rigting na die sentrale gebied, waar ons Rabat en Mdina, twee stede wat binne loopafstand van mekaar is, besoek. Historici glo dat die Fenisiërs die eerste bewoners van die streek om Mdina was, ca 7000 vC. Hulle het die ommuurde vesting op die strategies geleë hoë rotsagtige heuwel gebou en dit Maleth genoem. Eeue later het die Romeine Mdina verder ontwikkel en mure om die goewerneur se woning gebou. Die stad se huidige vorm, met die dik mure en die grag daarom, dateer uit die tydperk ná 1091 vC toe dit deur die Normandiërs beset is. Mdina en Rabat was eens binne die ommuurde gedeelte, maar die muur is tydens die Arabiese besetting in 870 vC versterk en teruggeskuif sodat die twee stede geskei is. Selfs nadat die Arabiere verdryf is, het die naam Mdina (afgelei van die Arabiese woord medina, wat “stad” beteken) behoue gebly. Mdina was die hoofstad van Malta totdat die Ridders van Sint Johannes die nuwe hoofstad Valetta aan die begin van die 16de eeu gestig het. Dit het steeds ’n gewilde blyplek vir die adel gebly en is vandag nog ’n rykmanstad.
Ons het Rabat eerste besoek. Dit is maar ’n deurmekaar stad met huise wat baie verwaarloos is. Soos dikwels in Malta die geval is, is die kultuurskatte amper weggesteek in die stad. Die Domus Romana is ’n museum wat opgrawings van ’n woonhuis van ’n gewone Romeinse gesin uit die 1ste eeu nC uitstal. Ons besoek die Sint Paulus-katakombes – ondergrondse grafkelders wat uit 3de eeu nC dateer.
Daarna kom Mdina, die ommuurde kulturele hoofstad van Malta, met ’n grag daaromheen, aan die beurt. Dit is nou ’n netjiese stad geboue en strate waarin geen voertuie toegelaat word nie. Die grag is onlangs herontwikkel en mooi tuine en grasperke is aangelê.
Dag 3. Valetta en die Hipogeum en Tarxien-tempels
Ons besoek die hoofstad Valetta wat in 1566 deur die Ridders van Sint Johannes gebou is. Die Ridderorde het sy oorsprong in die kruistogte van die 11de en 12de eeue nC toe monnike hospitale langs die pelgrimsroete vir die versorging van die gewondes opgerig het. Uit dankbaarheid is hulle mildelik vergoed en het hulle ’n vermoënde organisasie geword. Hulle het as monnike en soldate opgetree, geklee in monniksklede wat die agtpuntige Maltese kruis vertoon. Toe Jerusalem in 1291 deur Islam herbeset is, het die Ridders na die eiland Rhodos uitgewyk, maar toe die Turke hulle daarvandaan verdryf, is hulle in 1530 na Malta. Die Turke plaas Malta onder beleg, maar word in 1565 deur die Ridders, onder aanvoering van Jean Parisot de la Valette, (tussen 1557 en 1568 Grootmeester van die Ridders) beslissend verslaan. De la Valette besluit, ten einde verdere aanvalle van die Turke die hoof te bied, om ’n nuwe gefortifiseerde hoofstad by die see te bou. Die stad wat sy naam dra, is binne vyf jaar voltooi en word beskou as die eerste voorafontwerpte stad in Europa. Die strate is nou en die geboue is hoog genoeg om koelte te verskaf.
Valetta is gedurende die Tweede Wêreldoorlog erg gebombardeer. In 2015 is die stadskern herontwikkel en die hipermoderne parlementsgebou gebou. Dit is ’n omgewingsvriendelike gebou met sonpanele op die dak om voorsiening te maak vir verkoeling en verhitting. Die Koninklike Operahuis is nie herbou nie, maar die ruïnes daarvan vorm nou deel van ’n opelugteater.
Vervolgens besoek ons die Hal Safieni-hipogeum in Paolo, naby Valetta. Die ondergrondse grafkelder is toevallig in 1902 tydens boubedrywighede ontdek toe ’n waterput gegrawe is en dateer van 3600 tot 3000 vC. ’n Geraamde 7 000 mense is hier te ruste gelê in nisse wat sorgvuldig in die rots diep onder die aarde gekap is. Versierde patrone in rooi oker is teen die dak van die tonnels aangebring. Aanduidings is dat verskeie begrafnisrituele uitgevoer is en die ontwerp is so dat sekere panele met die wintersonstilstand deur die son belig word. Verskeie artefakte is ook hier ontdek, oa ’n beeldjie van ’n gesette vrou wat op haar sy lê. Om die erosie van die kalksteen deur koolsuurgas te beperk, word die getal besoekers tot tien per uur beperk. Dit is dus wys om vooraf toegangskaartjies op die internet te bespreek.
Die Tarxien-tempels daar naby is in 1914 toevallig ontdek toe boere ’n land wou omploeg. Die tempels dateer van 3600 tot 2500 vC en bestaan uit groot rotsblokke wat in spirale gepak is. Die swaar rotsblokke is etlike meter groot en is versier met spiraal- en diermotiewe. Daar is ook ’n gedeelte van ’n groot beeld van ’n gesette vrou. Dié soort beeld het blykbaar een of ander religieuse betekenis gehad.
Dag 4. Gozo-eiland
Vir ons volgende reis het ons per bus na Cirkewwa op die noordelikste punt van Malta gereis en is van daar met die veerboot na Mgarr in Gozo. Die retoerkaartjie word nie voor die heenreis gekoop nie, maar net voor die terugreis. Dit is seker om ’n samedromming by kaartjiekantoor op Cirkewwa te vermy. Ons is per bus via Victoria, Gozo se hoofstad, na Xaghra. Gozo is minder dig bevolk as Malta en daar is ook heelwat landboubedrywighede, insluitende wingerde.
Ons reis daarna oos na Xaghra, waar ons die grootste van die megalitiese (maw van groot klippe gebou) tempels, Ggantija, besigtig. Die tempels dateer uit 3600 tot 3000 vC en is 1 000 jaar ouer as Stonehenge. Die rotsblokke se afmetings is ongeveer 6 by 4 m en hulle weeg 57 ton en is dalk ook met die hulp van rollende klippe beweeg.
Vervolgens is ons per bus reg wes tot aan die kus by Dwerja. Die groot trekpleister was ’n bootvaart wat in die kalm Binnesee begin en dan deur ’n natuurlike tonnel tot in die oop en wilde see vaar. Die rit was veronderstel om deur die Asuurvenster (Azure Window), ’n ongelooflike rotsboog in die see, te gaan. Groot was ons verbasing en teleurstelling toe die Venster nie daar was nie. Dit het ’n paar maande vantevore tydens ’n storm omgeval. Om verstaanbare redes het die toeriste-inligting ons nie daaroor ingelig nie. Die rit op die oop en rowwe see was nogtans opwindend.
Dag 5. Ghar Dalam en Marsaxlokk
Op die laaste dag is ons met verskeie busse in ’n suidoostelike rigting na Ghar Dalam. Daar is ’n museum en ’n 145 m lang grot waarin fossiele van so oud as 500 000 jaar gevind is: dwergolifante, seekoeie, klein soogdiere en voëls. Malta was glo eers vas aan Europa en toe het die landbrug onder water verdwyn. Hier kan ’n mens in die verskillende lae in die grot die fossiele sien van prehistoriese diere van 180 000 jaar gelede en van diere en mense uit later periodes.
Daarna besoek ons die vissersdorp Marsaxlokk, wat ’n opelugmark en baie opelug-visrestaurante op die strand het. Ons eet hul tradisionele vis, geroosterde lampoeki (dorado), wat ietwat rouerig na ons smaak was. Die vis word op drywende vlotte met palmtakke gevang as die vis die skadu van die palmtakke kom opsoek.
Slotgedagte
Aan die einde van die 5-dag-reis, terug in die geskiedenis in, staan ons verslae. Ons kon nog baie langer gebly het en vele ander paadjies die geskiedenis in geloop het. So deel iemand ’n onlangs verskene gedig met my op Facebook. Die gedig se titel is “Gozo” en dit gaan oor Odusseus se (gedwonge?) aanhouding deur die nimf Kalipso, volgens oorlewering in die grot by Ramlabaai op Gozo, nie ver van Xaghra af nie:
Gozo
Wees lig
op jou seemansbene
as jy vroegmôre die veerboot
haal na Gozo.
En rus maar swaar teen
die relings van jou verbeelding,
want by Xaghra lê vroue-reuse
se klipstapeltabernakels
duisende jare al vervalle.
Selfs die lieflike Kalipso
se eens verleidelike grot
bied deesdae weinig skuiling
vir die ou rondlopermatroos
sewe jaar al aan die verlang
na eie vrou en kroos,
want soos Odusseus
het die vervloë gode
lankal reeds van hierdie
bar stuk kalksteen af
pad moes gee
en staan
elke kruin
en plein
nou vir goed oorheers
deur ’n goue bousel
tot aan die blou:
ter ere van ons dorp,
ons Moeder
en haar Seun.
©Hennie Nortjé 2018, Versindaba
Bronne
Esterhuysen, Willie. 2015. Geagte Jahwe. Kaapstad: Naledi.
Malta & Gozo, Lonely Planet.
Wikipedia.