Lank voordat die uitdrukking “valse vriende” gebruik is om woorde in Nederlands en Afrikaans te beskryf wat dieselfde lyk, maar wat mettertyd volkome verskillende betekenisse gekry het, het Suid-Afrikaners én Nederlanders al ervaar hoe sommige skynbaar onskuldige woorde kan lei tot verleentheid, vermaak of verwarring in mekaar se lande, om van misverstande nie eens te praat nie.
Dit gebeur omdat hierdie twee sustertale in verskillende rigtings ontwikkel het uit 17de-eeuse Nederlands. Nadat lank daaroor gewonder is, het die ANNA (die Afrikaans-Nederlandse / Nederlands-Afrikaanse woordeboek) dit uiteindelik statisties moontlik gemaak om vas te stel dat die twee tale se woordeskat met ongeveer 70% ooreenstem. Veel interessanter as die ooreenkomste is egter die verskille.
Dit dra wedersyds by tot die gevoelens van herkenning én vervreemding wat afwisselend in die ander se land ervaar word, maar ook tot die genot wat uit die verwante ander taal geput word. Dit blyk ook uit die hoogs vermaaklike boekie Afrikaans met een knipoog deur Peter en Gaby Beekmans, wat onlangs reeds ’n sesde druk beleef het. Hierin wy hulle ses bladsye aan “valse vriende”, maar die lys is nog ver van volledig.
Volgens hulle dink Nederlanders by die woord dop aan fles-afsluiting, maar dit beteken borreltje (of drankie); by klomp aan ’n houten schoen, maar dit beteken grote hoeveelheid; by lemoen aan citroen (suurlemoen), maar dit beteken sinaasappel; by mus aan ’n stadsvogeltje (Afrikaans mossie), maar dit beteken muts; by olik aan vrolijk/grappig, maar dit beteken ziek/onwel; by opskiet aan voortmaken (Afrikaans opskud), maar dit beteken lanceren; by rat aan ’n rot (Afrikaans), maar dit beteken versnelling; by uittrap aan buitengooien, maar dit beteken berisping. En veel meer.
Meestal vind mens hierdie dinge deur skade en skande uit. Self het ek ontdek ’n rok (Afrikaans) is ’n jurk in Nederlands en ’n romp (Afrikaans) ’n rok. Dit kan sorg vir groot misverstande in ’n winkel. As ’n mens in Nederland die trein amper haal, staan jy op die trein, want amper beteken net-net, maar in Afrikaans bly jy op die stasie agter, omdat amper in Afrikaans net nie beteken! Vaak beteken in Nederlands dikwels en nie slaperig nie, en as jy aardig (gaaf) is, sal niemand aardig (in Afrikaans) voel oor jou nie, maar juis heel positief.
Misverstande weens valse vriende kan selfs gevaarlik wees. Toe vrind Willem eendag in druk verkeer in Den Haag sê my man Wium moet dadelijk na regs draai, pluk hy die stuurwiel van die motor (auto; ’n motor is eintlik ’n motorfiets of enjin) om, met die benoude kreet van Willem in sy ore: “Nee, niet onmiddellijk, ik zei toch dadelijk.” Amper te laat kom ons toe agter dadelijk of zo dadelijk beteken oor ’n rukkie!
Suid-Afrikaanse studente wat die busbestuurder op hul eerste dag in Nederland vra waar hulle moet afklim, lok altyd sarkastiese kommentaar uit, want ’n mens stap tog af – jy kan net óp klim! Daarom vind Nederlanders dit ook so eigenaardig (snaaks herken enkeles net op grond van die 17de-eeuse woord snaak) dat ons soos die Engelse ópwas, terwyl hulle skottelgoed (of vaat, vandaar vaatdoek wat ons vadoek noem) áfwas – ’n mens was mos die vuiligheid af.
’n Bekende amptenaar van die Nederlandse Taalunie was hoogs geamuseerd toe hy hoor ek stap saans om fiks te bly, want dit beteken glo kroegjes lopen, dit wel sê kuier van kroeg tot kroeg – nie juis die indruk wat ek wou bewerkstellig nie! Kuier is op sigself verwarrend, want in Nederlands beteken kuieren slegs om stadig (langzaam in Nederlands) te beweeg.
Die meeste besoekers se vriende lig hulle wel vooraf in watter woorde hulle veral moet vermy. So is Verskoon my heel beleef in Afrikaans, maar in Nederlands beteken dit maak my skoon, ruil my doek om. Maar ’n goeie vriend was elke keer as hy in Nederland moes praat so entoesiasties dat hy gehore steeds ingelig het dat hy opgewonde was om daar te wees, terwyl dit ’n nogal sterk seksuele betekenis het in Nederlands. ’n Vriendelike tannie van Wellington wou agterdogtig op die mark weet: “Verneuk jy my?” Eers toe sy die nogal geskokte reaksie van die verkoper sien, onthou sy dit is deels ’n kru seksuele woord in Nederlands.
Toe ’n goeie ouer Nederlandse vriend my eendag gou ’n parkie gaan wys en ek struikel, sê ek ewe onskuldig: “Amper val ek op jou.” Dit het byna tot ’n dubbele misverstand gelei, want (naas amper) beteken dit in Nederlands om verlief te wees op iemand. Ek kon ook nie weet dat een van my eerste pogings tot ’n Sinterklaasrym oor twee geliefdes wat met mekaar stoeien, so ’n reaksie sou uitlok nie, want ook dié woord het (sonder dat my ouer woordeboek daarna verwys het) intussen skabreuse bybetekenisse opgedoen!
Die meeste Nederlanders weet hulle moet in Suid-Afrika liefs verwys na kat en nie na die in Nederlands gebruiklike p...s. Nie alle akademici besef dit egter nie – wat gewoonlik sorg vir hilariese lagbuie by die studente en groot verleentheid by die besoeker.
’n Ander Suid-Afrikaanse student in Nederland het ’n baie bevreemdende uitdrukking uitgelok op die gesig van die loodgieter wat haar kamer inkom sonder om te klop, toe sy verontwaardig vra: “Hoe kan jy dit doen, gestel dat ek kaal was?” Dit het haar in die woordeboek laat kyk – en inderdaad: kaal beteken kaalkop. En sy had ’n bos welige krulhare (van haar eie)!
Afrikaans kaal is bloot of naakt. So was die biblioteek-mevrouw nogal kwaai toe ek as student ’n boek soek: “U mag het niet meenemen.” My antwoord: “Nee, ik wil het bloot fotostateren” (dit nog in plaas van fotocopiëren) laat haar verbysterd, voor sy afkeurend sê: “U komt zeker uit Zuid-Afrika.” En my laat met die beelde van ’n poedelkaal ekke al dansend om ’n kopieermasjien!
Maar gelukkig: doorwinterde liefhebbers van Nederlands het altyd baie te sê vir gesoute liefhebbers van Afrikaans (die voorsate het die lang seereis kennelik erger gevind as die suidelike winters). Juis die twee tale se ooreenkomste en verskille maak verhoudinge tog só fassinerend.
Buro: MvH