Die derde Week van de Afrikaanse Roman het van 29 September tot 8 Oktober 2017 in Nederland en Vlaandere plaasgevind. Menán van Heerden het met deelnemer Amy Jephta gesels oor haar terugskouende indrukke van hierdie opwindende week in die Lae Lande.
Wat was die hoogtepunte van die Week?
Om te sien hoe oop en nuuskierig die Nederlandse gehore was om Afrikaans te ervaar. Ek was bang hoe en of my werk in daardie konteks sou vertaal. Dit was verfrissend om te sien hoe oop die gehore was en dat daar soveel belangstelling in, en liefde vir, Afrikaans is buite hierdie grense.
Wat geniet jy die meeste van Nederland/Amsterdam?
Die kos en die kultuur. Dit voel vir my daai twee gaan hand aan hand in Nederland. Die hele groep het heerlike maaltye saam gedeel wat gepaard gegaan het met wonderlike gesprekke. Ook die aande in Amsterdam: hulle voel soos ’n sprokie. Liggies orals, water, geplaveide strate, kafees. Die hele atmosfeer van die plek voel soos ’n droom.
Watter interessante boeke het jy onlangs gelees?
Ek lees tans Ingrid Winterbach se Aanspraak van lewende wesens. Dit was ’n Kersgeskenk aan myself en ek geniet dit voluit. Ek’t ook onlangs die kontroversiële Fire and fury: Inside the Trump White House deur Michael Wolff gelees. Alhoewel dit my nie direk raak nie, is dit ’n fassinerende insig in die man en die politiek.
Waarmee is jy tans besig?
Ek werk vryskut aan ’n reeks projekte, onder andere as dialoogskrywer by die sepie Suidooster en as draaiboekskrywer vir twee nuwe dramas op SABC 3 en Mzansi Magic; behartig regie vir die 2018 kykNET Fiëstas, wat ’n opwindende uitdaging is, en daarna pak ek die Woordfees Eeukonsert aan as regisseur. Ek begin ook skryf aan ’n nuwe vollengtefliek: dis ’n komedie-draaiboek wat in 2018 verfilm word.
Buro: MvH