Wim en Edwin praat rugby oor ’n glasie

  • 0

Wat het die Springbokke se oorwinning in die Wêreldbekertoernooi in Japan met die Grondwetlike Hof se uitspraak oor taal op Stellenbosch te doen? Alles!

Links: Een van die rugbyvelde by Universiteit Stellenbosch (Foto: Pixabay.com)

Ek was tydens die eindstryd in Melville in Johannesburg as deel van ’n lekker gemengde gehoor wat omtrent vyf keer opgestaan het om die volkslied te sing; elke versie, die berugte Afrikaans ook, uit volle bors. ’n Ware reënboognasie-oomblik. Die honderde selfies het gedui op ’n kollektiewe narsisme eerder as Ubuntu, maar dit was lekker pret vir ’n uur of wat met mense wat toeters blaas en op die sypaadjies dans.

Kaptein Siya Kolisi het die land verenig, het ’n ieder en elk verklaar, en sy onmiddellike aanneming as nasionale held is ’n fenomeen wat net so deel van rugby se storie oor nommer 6-truie gaan word as Nelson Mandela en Francois Pienaar s’n. Maar dit bly ’n gelapte eenheid, soos ’n voorspeler in ’n wêreldbekereindstryd met ’n verband om elke ledemaat.

Die taal op die skerm in ons pub was Engels. Die tale aan die tafels om my was ’n mengelmoes, en so ook die tale in die volkslied. Hiervan het min tereg gekom in die bespreking. Toe die swart lede van die span, Herschel Jantjies inkluis, alleen begin gwarra-gwarra na die eindfluitjie, het ’n mens gedink o wee, daar gaan Twitter weer. Die kamera het gou elders heen geskuif, ook gehalt toe dit lyk of president Cyril Ramaphosa te na aan Eben Etzebeth kom.

Natuurlik is Engels die lingua franca en sal dit nou werklik kleinsielig wees om te verwag die verrigtinge moes nie basies in Engels gewees het nie. En daar was darem kommentaar in ander tale wat jy kon kies as jy tuis was. Tog het dit my opgeval hoe ingeburger en outomaties hierdie aanname van Engels as die natuurlike taal (en nie net die lingua franca nie) van Suid-Afrika al geraak het.

En dis wat ek ook sien in die jongste hoofstuk in die Stellenbosch-taaldebakel, en in Edwin Cameron en Wim de Villiers se ete. (En laat ek onmiddellik noem dat ek geteken het as Gelyke Kanse-ondersteuner). De Villiers se stelling dat hy “tevrede” is dat hy met integriteit opgetree het, is soos die moordenaar wat sê: “Ek het darem nie gemors nie, Edelagbare, want ek het haar verwurg en nie keelaf gesny nie.” Dat hulle besef het hulle tree oneties op, blyk natuurlik uit die feit dat hulle Gelyke Kanse se regsmense gevra het of dit okay is. 

Hoekom GK ingestem het, weet ek ook nie, want hoe kan ’n mens redeneer, nadat jy besef het ’n ete is dalk oneties – en is daarom wel oneties: filosofie 101 – dat ’n blote regsbrief dit eties maak? Dit dui op ’n nogal onthutsende miskenning van die beperkinge van die “rule of law”.

Aanvanklik het ek gedink die hof kon nie ’n ander uitspraak lewer nie, weens die ernstige gebreke van ons grondwet (veral daardie begrippie “praktiese uitvoerbaarheid”, wat die bevordering van regte ondergeskik stel aan die staat se manipulasies). Maar na die nuus oor die ete, het ek weer gaan kyk en besef die uitspraak is vol gate en absurditeite, soos wat goed deur Corneels Lourens en Theuns Eloff behandel is. In hierdie geval het die regters regtig die land se toekoms gekompromitteer met tweedehandse werk.

As Wim en Edwin tydens hul ete oor die saak gepraat het, was dit onbehoorlik en moet De Villiers bedank. As hul ter aanvang teenoor mekaar verklaar het dit sou oneties wees om hoegenaamd oor Maties te praat, sou dit nog kon gaan. Maar amper die ergste moontlikheid sou wees dat hulle geen woord oor die saak gerep het nie en dit net eenvoudig geïgnoreer het.

Heelwat is nou al geskryf oor die belangrikheid van veeltaligheid vir ’n behoorlike opvoedingstelsel. ’n Mens hoef nie verder te kyk as na hoe die Afrikaans-gebaseerde onderrig onder die Nasionale Party amper ’n halfmiljoen wit Afrikaanse mense in staat gestel het om elders in die wêreld te gaan werk nie.

As Wim en Edwin nie oor die saak gepraat het, sou dit net ’n aanduiding wees van hul uiterste geringskatting van die kwessie. Dit is so dat die Engelse koeël vir baie mense lankal deur die Stellenbosse kerk is, maar vir Wim en Edwin mog dit tog nie die geval wees nie – dit sou pligsversaking op ’n ernstige skaal beteken. (Waaroor het hulle gepraat? Pieter-Steph se blou oë? Hoe goed die rolprent Kanarie is?)

Die etetjie, met twee ouerige wit mans, dui op wat die magsverskuiwing by Stellenbosch eintlik beteken, en dit het nie veel met die wil van die meerderheid te doen nie. Inteendeel, die universiteit is sedert 1994 stilweg gekaap deur lede van ’n onerkende, self-negerende minderheid, gevorm deur ’n “crime that dare not mention its name”. Daar was ’n tyd toe hulle hulself ESSA’s (English-speaking South Africans) genoem het, maar nie meer nie, want ESSA’s is gewoonlik wit. En dit mag nie. (Laat ek dit nou ook noem dat ek self ’n ESSA is – my moeder was Engels en beide my dogters het Engels as taal gekies.)

Ek sal my kop op ’n blok sit dat die dosente op Maties wat omgee hoeveel swart studente daar in hul klasse is, nie ’n dosyn sal haal nie. Nie dat ek ’n oordeel oor enige individu wil vel nie. Akademici se loopbane is onder kwaai druk van die neoliberalistiese eise aan universiteite regoor die wêreld, en heelwat het op Stellenbosch toevlug van die regering se regstellende aksie gevind. Voeg daarby ESSA-ouers wat hul kinders liewer na ’n Afrikaanse universiteit stuur as na die “ANC-universiteite”, en Afrikaanse ouers wat hul kinders wil verskans teen ’n anti-Afrikaanse toekoms, en Afrikaans het nie eintlik veel van ’n kans gehad nie.

’n Mens moet ook waak om nie anti-Engels te raak nie. Engels is ’n verkwikking vir die siel en ’n enorme hulpbron vir enigiemand wat dit behoorlik kan praat. Die benadering tot universiteite behoort te wees dat veral in die vierde industriële revolusie, ’n streek se universiteite eintlik op allerlei maniere heg met mekaar verweef is en dat een taal, Engels, hierdie web die beste kan dra. Maar in ’n veeltalige land op ’n onontwikkelde vasteland moet bepaalde universiteite ook die opdrag kry om kennis in die taal van hul streke te ontwikkel – in SA se geval ter uitvoering van die grondwet se opdrag om elke landsburger se moedertaal te bevorder. En, in die taal van die neoliberalisme, om daardie universiteite mededingend te maak.

Die uitspraak oor Maties se taal is ’n belangrike oomblik in die land se geskiedenis omdat dit hierdie opdrag sonder enige demokratiese insette tersyde stel. Uit die uitlatinge van ANC-ministers is dit duidelik waarom: dit ruim ’n groot teenwig teen ’n ANC-nasionalisme uit die weg.

Nasionalisme vorm die burgers in die beeld van sy heersers, en hierdie beeld kom uit die swart woonbuurte van die stede, wat ’n bepaalde soort Engels, een van baie “Englishes”, as die taal van aspirasie en dominasie gebruik. Siya Kolisi maak dit vir die elite moontlik om die Springbokke as ’n nasionale span aan te bied, al is dit ’n sameflansing van spelers van wie die meeste in ander lande ’n lewe maak. (Die Springbokke was naas Fiji waarskynlik die span met die meeste buitelandse huursoldate).

Net so word Stellenbosch, wat altyd ’n provinsiale universiteit sal wees, in ’n nasionale bate omskep omdat ’n handjie vol “real Africans” daar studeer. Die ESSA’s gebruik swart studente se vermeende en “lived experience”-voorkeure om hulself in een van die mooiste dorpe ter wêreld in te grawe. Maties se tragedie het ten dele ontstaan uit sy versuim om sedert 1994 ’n massiewe poging aan te wend om bruin Afrikaanse studente te lok. Die ESSA’s handhaaf hierdie situasie. As ons vir ’n oomblik aanvaar dat daar so iets soos witheid is, dan is Wim en Edwin besig om witheid te verskans soos min andere nog. 

Bon appétit vir die volgende een, gentlemen!

Lees ook op Voertaal en LitNet

US rektor en nuwe kanselier se koppe geëis oor Afrikaans

Persverklaring: Konstitusionele Hof lewer uitspraak ten gunste van die Universiteit Stellenbosch se Taalbeleid

Stellengate? ’n Ongelyke kans: Ope brief aan regter Edwin Cameron

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top