Wynmuseums: Wyngeskiedenis kry lewe by dié wynplase

  • 0

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf was op 2 Februarie vanjaar 364 jaar oud. Dis in 1659 dat die Nederlandse goewerneur aan die Kaap, Jan van Riebeeck, die eerste wyne hier laat maak het. Drie wyn-ervarings en -museums gee agtergrond oor die afgelope bykans vier eeue van wynmaak hier aan die suidpunt van Afrika, skryf Maryke Roberts.

Ry jy so al proe-proe en kuier-kuier deur die Wynlande, bied drie uiteenlopende ervarings lekker insigte in hoe die bedryf ontwikkel het tot een van die groot rolspelers op die internasionale wynplatforms.

Die verste rit van die Kaap af is na Weltevrede Wynlandgoed in die pragtige Robertsonvallei. Die 100 hektaar-landgoed net buite Bonnievale staan onder bestuur van Philip Jonker, vierde geslag wynmaker op dié familieplaas. Sy visie het ’n jaar of wat terug gesorg vir ’n uitgebreide besoeker-ervaring wat vandat jy op die plaas arriveer, wys hoe dinge destyds gedoen is.

In plaas van ’n gewone oprit onder ou bome is dit ou wingerde wat sedert die begindae van Weltevrede gekoester is wat in plantbakke herplant is om besoekers na die nuwe proelokaal te lei. Dié is nou ’n luukse dubbelvolume onthaalsaal. In die somer is dit koel en stil as die Bolandse hitte jou gô wil laat uithang; in die winter wil jy nie die kaggel en goeie wyne agterlaat nie.

Die ondergrondse kuipe by die Weltevrede Chardonnay-ervaring het elkeen ’n ander uitstalling en karakter en vertel die geskiedenis van wyn van die vroegste eeue af.

Zizipho Jantjies, sommelier à la toergids, wag ons in vir twee unieke ervarings: “Captivated by Chardonnay” en “Captivated by Cap Classique”. Albei is die twee pilare waarop Weltevrede se sukses en toekenningsrekord berus: Chardonnay wat danksy ’n konsentrasie van kalksteengronde hier floreer, en Cap Classique. “Hierdie landgoed is net soveel ’n feesviering as ’n werkende plaas.” Hy verduidelik dat hulle Chardonnay en Pinot Noir vir hul vonkelwyn verkies, omdat dit hoog in suur en laag in suiker is.

Hy vertel: Daar is destyds byewas teen die mure gebruik om die wyn te beskerm teen sementkontak.

Elkeen van die twee toere lei jou ondergronds in die ou verouderingskelder in wat smaakvol opgeknap is en die geskiedenis van die wynmaakproses deur die millennia uitbeeld. Elke toer duur twee uur en word weerskante van middagete aangebied.

Die geskiedenis van wyn word op interessante borde vertel; antieke implemente en ou wingerdstokke steek af teen die gladde sementmure [...] Mense onderskat die gehalte van Chardonnay wat uit Suid-Afrika kom. “Ons het regtig ’n individualistiese styl, en ons moet dit herontdek en self begin waardeer.”

Toere aan die Weltevrede Wynlandgoed lei besoekers deur die ondergrondse netwerk.

Kerse en gedempte beligting behou die heilige atmosfeer, terwyl klassieke musiek in die agtergrond speel. Die geskiedenis van wyn word op interessante borde vertel; antieke implemente en ou wingerdstokke steek af teen die gladde sementmure. Drie Chardonnays word op dié toer geproe.

Philip kom verras ons met ’n vinnige besoek. Hy sê mense onderskat die gehalte van Chardonnay wat uit Suid-Afrika kom. “Ons het regtig ’n individualistiese styl, en ons moet dit herontdek en self begin waardeer.”

............
Wynmaker Philip Jonker reken dat mense die gehalte van Chardonnay wat uit Suid-Afrika kom onderskat. “Ons het regtig ’n individualistiese styl, en ons moet dit herontdek en self begin waardeer.” Hy streel oor een van die uitstallings en erken: “Wyn se geskiedenis is nie ’n perfekte een nie; Suid-Afrika se geskiedenis ook nie. En die geskiedenis van ons familie beslis ook nie.”

............

Hy streel oor een van die uitstallings en erken: “Wyn se geskiedenis is nie ’n perfekte een nie; Suid-Afrika se geskiedenis ook nie. En die geskiedenis van ons familie beslis ook nie.”

Philip Jonker, vierde geslag wynmaker van Weltevrede

Aan die einde van die Chardonnay-ervaring dop ons weer in die proelokaal uit en stap oor na die nuwe Kapokbos-restaurant vir middagete by Juan en Samantha Fourie as sjefs en eienaars. Die kaggeltjie knetter gesellig as jy by die reuseruite uitkyk oor die plaas. Die spyskaart is geen plattelandse gedoente met verstokte disse nie. Nee, dis plaaslike produkte, plattelandse cuisine wat in ’n kontemporêre styl bedien word. Die jong egpaar se ondervinding van regoor die land kom duidelik na vore in hul passie vir kos.

Heerlike middagete by die plaas se Kapokbos-restaurant

“Captivated by Cap Classique” sluit die bottelering van jou eie bottel Cap Classique in. Op hierdie toer is die musiek uit die vyftigs en sestigs wat deur die nou gangetjies speel en gou klap jou vingers ritmies saam, terwyl jy eers na die hele proses van hoe die magiese borrels in die bottel beland op ’n kort video kyk en dan deurstap na waar die vonkelwyn lê en verouder. Hier is bekendes – van Sean Connery tot Winston Churchill – se foto’s met hul bekende aanhalings oor hul liefde vir vonkelwyn.

In ’n smal vertrek proe ons twee Philip Jonker Cap Classiques – die Brut Entheos en The Ring 2013 Brut. Terug by die proelokaal mag elke gas ’n yskoue bottel se gismoer laat uitspuit, die bottel weer effe opvul, die kurk insit en foelie en die goue ringetjie om die nek laat gly.

............

Druk nou jou motor se neus terug Kaap se kant toe en as jou slimfoon wys jy moet Robertson deur, Aan de Doorns, Villiersdorp deur na Franschhoek ry, is dit nie bloot omdat dit die vinnigste pad is nie, maar volgens my ook die mooiste. Die uitsigte oor die Theewaterskloofdam, die kronkelende pad voor jy die Franschhoekvallei voor jou sien, is beslis deel van jou reis.

............

By Backsberg Family Wines is Clarine Fischer, proelokaalbestuurder, se glimlag gul. Ons stap deur die groot deure en verkyk ons deur die glasmure aan die koppies oortrek met grasgroen wingerde aan die linkerkant van die proelokaal. Sy sien ons oop monde en sê dis hoekom sy vir mense klein sakkies springmielies bring voor hulle begin wynproe. “Die uitsigte hier is so mooi, dit lyk soos ’n fliek en daarom sê ek graag: ‘Enjoy the movie!’”

Die nuwe proelokaal by Backsberg Family Wines in die hartjie van Stellenbosch

Die proelokaal is nuut en keurig, maar die mure dra die geskiedenis van dié etiket wat ook oor vier geslagte strek. Die Back-familiebesigheid is in 1902 deur Charles Louis Back gestig – wat as ’n brandarm, ongeletterde, Joodse vlugteling uit Litaue in Kaapstad geland het. Hy word in 1908 ’n slagter in Paarl, maar verkoop dit agt jaar later toe hy die plaas Klein Babylonstoren koop.

Sy seun Sydney sluit in 1936 by hom aan en plant in 1941 die eerste wingerdblok op kontoerland in Suid-Afrika. In 1945 wen hy die Generaal Smuts-trofee vir algehele prestasie by die SA Jongwynskou en koop in 1951 die plaas by sy pa. Hy registreer die naam Back’s Wines.

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is op daardie stadium meestal in koöperatiewe kelders vervat en hy is een van die boere wat in 1969 die regering oortuig om wynplase toe te laat om wyn onder hul eie naam en etiket te maak en te bottel. Hy plant 60 000 Pinotage-wingerde. Skaars maande daarna word die naam Backsberg in gebruik geneem en hiermee saam die eerste wynproelokaal in die omgewing.

Michael word die derde geslag Backs op die plaas en hy en sy pa smokkel saam met ’n paar ander wynboere Chardonnay-stokkies uit Europa die land in.

In 1991 – ’n tyd toe baie dinge in Suid-Afrika aan’t verander was – produseer Sydney die eerste landgoed potketelbrandewyn uit ’n ingevoerde Alembic-potketel. Vier jaar later wen hy by die International Spirit Show die Domecq-trofee vir die wêreld se beste brandewyn.

Die plaas en die vier geslagte se prestasies word treffend teen een muur uitgebeeld.

Die uitbeeldings van die geskiedenis lees soos ’n storieboek: Saam met die wynmaker Alicia Rechner stap ons al teen die mure langs en lees verder. Sy is self al 21 jaar deel van die plaas en sy wen-wyne. Ons sien dat Simon Back in 2008 aangesluit het.

“In die plaas se 107 jaar was dit ’n gemengde boerdery – van vrugte tot druiwe en selfs vee – maar vandag is die fokus op die wynbesigheid. Met die viering van vier generasies van familie-eienaarskap en etlike jare van kwaliteit wynmaak, gaan Backsberg Family Wines voort om te floreer deur die verlede te eer en terselfdertyd voort te gaan met vooruitdenkende holistiese praktyke,” vertel sy.

Sy wys na die jaartal 2006 toe Backsberg as die eerste koolstofneutrale wynmakery in Suid-Afrika gesertifiseer is een van slegs drie wêreldwyd op daardie stadium. Michael is juis met die International Drinks Business se Lifetime Achievement Award vir sy bydrae tot die omgewing, etiese praktyke, volhoubaarheid en opvoeding vereer.

Daar is verskeie wynproe-opsies, met of sonder peuselgoed, en jy kan binne of buite sit. Ons sit buite onder die sambreel en kyk na die berge en die wolke. Clarine kom skink ons wyne en vertel ook dat die plaas die International Drinks Business se Climate Change Leadership Award in 2011 ontvang het en dat die produksie van kosjer wyne hier begin is.

Clarine Fischer, proelokaalbestuurder by Backsberg Family Wines

In 2021 koop DGB (Edms) Bpk ’n meerderheidsaandeelhouding in Backsberg en ’n nuwe entiteit, Backsberg Family Wines, word gestig. Die nuwe kelder en handelsmerktuiste word laat verlede jaar hier in Franschhoek geopen.

In die aangrensende geboue word ’n proelokaal vir die brandewyne beplan en daar staan ’n pragtige stookketel wat alles sommer in perspektief bring.

Op Backsberg kry ons inderdaad ’n bakkie springmielies voor ons wynproe begin.

Nie veel verder af in die pad nie, draai jy by Simondium in en volg die bordjies na Babylonstoren. Die plaas het ook pas hul indrukwekkende wynmuseum, genaamd “Die storie van wyn”, geopen. Dink ougoed, maar in moderne aanbiedings, interaktiewe ervarings, hommeltuigvideo’s en meer kurktrekkers as dae in die jaar. Die oudiogidse is in sewe tale beskikbaar en jy kan dit op jou eie ritme deurstap.

Hoog bo besoekers se koppe hang ’n regte Shiraz-wingerdstok uit die dak.

Elsa Vogts, die plaas se museoloog, vertel die sukses van die museum berus daarop dat daar iets is om beginners wat net wil deurstap, nuuskierig te hou, maar ook wyn-connoisseurs wat gretig is om iets nuuts oor wyn en die geskiedenis te leer, se vrae te beantwoord.

Die wynmuseum op Babylonstoren stal ougoed uit, maar in ’n baie kontemporêre gebou en daar is interaktiewe dele, hommeltuigmateriaal en selfs sensoriese ervarings.

As al die interaktiewe en virtuele aspekte jou nie geval nie, kan jy jou verlustig in die verskillende grondsoorte wat wyne hul eiesoortige eienskappe gee, óf uitvind hoekom verskillende glase vir verskillende wynkultivars gebruik word.

............

“En soos enige goeie wyn, verklap ‘Die storie van wyn’ nie al sy subtiele nuanses gelyktydig nie.”

............

Besoekers stap deur ’n groot struktuur van gedraaide wingerdstokke en wingerdwortels – ook die ingang na ’n interaktiewe tweeverdiepingruimte. Hierdie “oerwortel”-konsep was een van die mees uitdagende om te skep, het Etienne Hanekom, die museum se binnenshuise ontwerper, erken. “Die inspirasie hieragter was om ’n gevoel te skep van die oorsprong van wyn – binne sy diepste wortels en ontstaan. Ons wou hê besoekers moet soos een van die organismes in die grond voel wat sy pad deur die terroir vleg.”

Besoekers betree die Babylonstoren-wynmuseum deur ’n reusagtige struktuur van gedraaide wingerdstokke en wingerdwortels. Hierdie “oerwortel”-konsep was een van die mees uitdagende om te skep.

Twee interessante bottels wat op hul eie manier geskiedkundig is, is ook op uitstalling: Die eerste bottel wyn wat in September 2011 op die plaas gebottel is, die Chenin Blanc, wat dieselfde jaar die streek se SA Jongwynskou-trofee ingepalm het. Die tweede bottel is ’n Constantia-dessertwyn wat in 1821 gemaak is – een van Napoleon Bonaparte se gunstelinge. Hy het glo terwyl hy op St Helena in ballingskap was elke maand 30 bottels uit die Kaap laat aflewer. “Watter tipe ballingskap is dit?” kan jy maklik wonder.

Natuurlik is jy dors as jy uit die museum kom en tussen die lang kurkarms van ’n steeggordyn uitstap, en gelukkig is die wynproelokaal – ’n pragtige ruimte met glasmure in die wingerde – daarneffens. Hier kan jy die plaas se wyne proe en aan heerlike kaas- en vleisborde peusel, voor jy al die etery en drinkery gaan afstap in die wêreldbekende tuine.

Hierdie kaart by Babylonstoren illustreer die wêreld se wynproduserende lande en hulle wynsoorte.

Ek dink aan die gesegde: “Mans is soos wyn – sommige word asyn, maar die beste onder hulle word net beter met ouderdom.” Dis ook op die wynbedryf van toepassing. Die asyn-gevalle word al minder en die veroudering al beter.

Museums en ervarings waar dié bedryf gehuldig word, is kosbaar en noodsaaklik.

Foto’s: Clifford Roberts

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top