Zuid-Afrikahuis se gespreksreeks oor Afrikaanse skrywers en boeke begin met Jolyn Phillips se Bientang

  • 0

’n Bespreking van die “laaste Strandloper” en Jolyn Phillips, die skrywer van ’n verhalende gedig oor haar, het ’n nuwe reeks aanlyn gesprekke ingelei oor Afrikaanse skrywers en hul onlangse werke. Die Gentse hoogleraar Yves T’Sjoen het met haar gesels vir die eerste uitsending van Boeken uit het Huis. Dit is ’n tiendelige reeks op YouTube wat die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam aanbied. 

Oorspronge

Bientang het sy aanloop gekry toe Phillips die grotrestaurant Bientang’s Cave Restaurant and Wine Bar op Hermanus besoek het. “Agter op die spyskaart was daar ’n kort storie van ’n vrou na wie verwys word as ‘die laaste strandloper’ wat in die grot gebly het. En die storie het my bygebly, veral die idee dat die laaste strandloper dáár gebly het.”

As deel van navorsing vir ’n doktorale studie aan die Universiteit van Wes-Kaapland het sy ondersoek gedoen na die historiese Bientang. Sy kon egter nie nog ’n verhaal oor haar vind nie. Totdat sy in 2017 deur Ingrid Glorie genooi is vir optredes op die Festival voor het Afrikaans. Daar het sy saam met onder andere Antjie Krog, die musiekmakers van die Wasgoedlyn-projek en die Surinaamse gospelkoor The Elzabad Voices opgetree. Phillips het saam met Riku Lätti, Gert Vlok Nel en Churchil Naudé die strate van Amsterdam ingevaar soos troebadoers, vertel sy. In ’n Surinaamse restaurant het sy, heeltemal onverwags, weer die naam van Bientang teengekom, tóé as die naam van ’n soort bier. So kom sy toe te wete dat dit in Indonesië “hemelliggaam” beteken en in Tagalog “beskuldiging”. En sy dog toe: Dit is waarmee ek sit, dié struweling, ook dié van vrouwees, dat sy in die eerste instansie ’n hemelliggaam is, maar terselfdertyd ook ’n beskuldiging; dat sy ’n liminale figuur is wat die vrou speel in letterkunde en in die society.

Tradisie en vernuwing

In die argiewe was sy nougeset op die spoor van haar inheemsheid, maar dis of Bientang toe die hele tyd vir haar sê sy is méér as wat sy tot op daardie stadium gedink het sy is, vertel Phillips.

Sy het toe Bientang en haar verhaal by die poëtiese vryhede van die digkuns ingeskryf. Die resultaat hiervan is Bientang, wat in Augustus verlede jaar by Human & Rousseau verskyn het. 

Jolyn Phillips (Foto: Brenda Veldtman)

Dit was vir haar “’n wonderlike pad wat sy gestap het”, van haar een grot van Duiwelsgat af tot by die tweede grot waar sy haar tuiste gevind het. “Maar terselfdertyd het ek ook die voorreg gehad om huis toe te gaan en opnuut na my dorp (Gansbaai) te gaan kyk, opnuut na die natuur te kyk, opnuut te luister na die taal wat gepraat word. Hierdie dinge wat alreeds by my is omdat ek daar gebore is.”

Sy het aan T'Sjoen vertel dat sy al hierdie dinge byeenbring in die persoonlike woordeskat wat sy in haar poësie tot stand bring (sy verwys na haar poëtiese idiolek as “’n taal binne in taal”).

Die epiese wat sy as digvorm vir Bientang gekies het, het haar voor bepaalde vrae en kwessies rakende tradisie en vernuwing te staan gebring. Vir eers het sy gevoel as sy sou probeer om die epiese digvorm te breek, sou dit nie meer epies wees nie, maar iets nuuts.

Beteken dit dan sy kan nooit ’n epiese gedig skryf nie? Gaan dit altyd nét nuut wees? 

Versvorm as redigeertegniek

Dit was Néstor Canclini se idee van die kontraepiek wat vir haar die nodige uitkoms gebied het op haar vrae. Daarin het sy bevry gevoel om te weet dat dit nie so onveranderlik is soos wat Bakhtin sê dit is nie en dat die epiese vorm ouer is as wat die navorsing sê. Toe sy Gilgamesj gelees het, was die mengvorm van poësie en prosa daarin vir haar ook bevrydend.

Bientang het as ondertitel “’n !naugedig”. Sy vertel die konsep van die !nau het sy in ’n boek van 1939 gevind. Dit beskryf ’n proses waardeur ’n meisie oorgaan in vrouwees. Sy het vir Bientang egter in die loop van daardie proses laat bly; haar !nau kon nie verwesenlik word nie. "Ek het gedink sê nou maar dat sy die laaste is? Wie gaan haar help?” Eindelik skep Phillips toe vir Bientang haar eie kultuur, haar eie taal, haar eie identiteit as mens.

Die versvorm is sowel bevrydend as redigeertegniek – dit het gehelp as woorde die stem wil oorlaai, het sy verduidelik. “Dan sê die ritme vir my daai woord moet uitgehaal word, of hierdie woord het nog ’n sillabe nodig. Ek weet in die klassieke tekste word daar sterk gefokus op die liriekvorm, maar die epiese gedig is baie meer hibried (as digvorm).”

Na T’Sjoen se gevoel gaan dit in Bientang om meer as die een of ander historiese figuur. Hy sê dit kom voor of Bientang ook ’n soort Elckerlijc is en ook ’n middel waardeur Phillips teruggryp na haar eie wortels, taal en bevolking, daar waar sy grootgeword het, en ook ’n manier bied om vanuit haar hedendaagse partikuliere standpunt weer haar band met haar eie gemeenskap op te neem.

Jolyn stem daarmee saam, en sê dan dat hierdie proses haar ook geleer het om met haar eie gewaarwordinge wat betref haar eie hibriditeit in gesprek te laat tree. Sy sê dat waar sy vandaan kom, is ook nie die enigste aspek van wie sy as mens is nie, en dat jy dan te staan kom voor wie jy is, waar jy gebore is, waar jy skoolgegaan het en al hierdie tale wat jy saam met jou dra. In die bundel radbraak praat sy van uitbreek en inbreek. En breek is nie altyd net stukkend maak nie. Breek is ook om te vernuwe, het sy gesê.

radbraak was dit vir haar asof die “stukke gevra het om weer terug te kom na die legkaart toe”.

Terwyl sy aan Bientang geskryf het, het sy gevoel dat sy as digter bewustelik moes terugstaan en vir taal moes gaan soek en soos ’n argivaris moes wees. Bientang word dan eindelik vir haar ’n gewete.

Musikaliteit

Die karakter van Bientang steur haar nie aan tyd en geskiedenis nie, of selfs aan haar wat Phillips is nie, sê sy. “Baie kere het ek gevoel ek verstaan haar ook nie, ander kere het sy my toegelaat, of het sy nie.”

In haar gedig skep sy ruimte vir eksistensiële vrae wat aan die orde is van: Wie is sy? Wat is haar naam? Waarvandaan kom sy? Dit doen Phillips omdat daar altyd námens iemand soos Bientang gepraat is.

“Ek wonder wat was Bientang se naam? Want die woord vat jou Indonesië toe. Maar natuurlik is dit ’n legende, uiteindelik. Sy speel met my, sy speel met jou, sy is die triekster. Jy kry die idee dat die triekster jou om die bos lei, maar ek voel die triekster is die een wat die meeste die waarheid praat.”

Na haar gevoel is Bientang ’n waarneming van háár soos wat Bientang op haar beurt ’n waarneming van die digter word.

Die manier waarop die digter nie net speel met ’n bepaalde idiolek nie, maar ook ’n bepaalde klankstruktuur, ’n soort musikale komposisie tot stand bring, het vir T’Sjoen opgeval. Phillips se musikaliteit as sanger en haar oor as digter kry op interessante en roerende wyse samehang en toeligting in uitvoerings (om en by 31:12 en 35:10 in die opname) wat as deel van die gesprek aangebied word.

Die pad na die verhoog

Hoewel die gedig oor Bientang klaar geskryf en uitgegee is, staan die storie nie stil nie – dit wen aan moontlikhede vir voortverbeel in verskeie media, het sy laat blyk.

Phillips is immers benewens digter, skrywer, musiekmaker, sanger en akademikus ook ’n teatermaker, en sy bekyk saam met ander kunstenaars die moontlikheid van ’n teatervoorstelling. Vir haar loop die pad na die verhoog dieselfde soort paadjie as wat sy met die skryf van Bientang geloop het, sonder om te weet wat die eindproduk sal wees.

T'Sjoen bring die opening en slot van die bundel in verband met die gedig van Krog se “ek staan op  ’n moerse rots langs die see by Paternoster”. Maar vir Phillips was Bientang net oor haar (Phillips) en Bientang.

“Ek het agterna die verskillende vertrekpunte gehoor. Uiteindelik dink ek niks is nuut nie. Alles is al geskryf. Hoe meer ek dit verstaan, hoe meer maak ek vrede daarmee. Ek voel dalk ook dat ek nog nie so ’n vergelyking verdien nie, want Antjie Krog het baie lank geskryf voor my.”

Jolyn vertel sy kom van die see af, van die rotse. Sy verstaan die klank van ’n klip, en weet wanneer dit laaggety of hooggety is. Sy verstaan die tyd van wanneer om wurms te grawe, wanneer dit tyd is vir die skuite om uit te gaan. “So in daai oomblik het Bientang gestaan op die plaat wat baie belangrik is in ons area, en sy staan daar en wroeg: Moet ek terug huis toe gaan of moet ek gaan na my vryheid toe? Ek het nog ’n lang pad om te stap en ek het nog baie om te lewe.”

* Luister na Phillips se voordrag van ’n ongepubliseerde gedig (1:01 op die opname), “Prometheus is my pa se naam”, wat sy vir PEN Afrikaans en Moedertaaldag geskryf het. 

* Bientang is in Suid-Afrikaanse boekwinkels, in Nederland by spesialisboekhandels en in e-formaat beskikbaar.

* Op 25 Maart om 16:00 word die Nederlandse vertaling van Harry Kalmer se laaste roman, In een land zonder vogels (wat by Aldo Manuzio verskyn het) bespreek. Hans Pienaar sal by dié geleentheid ’n inleiding gee van Kalmer se lewe en werk.

Boeken uit het Huis is ’n nuwe reeks gesprekke met skrywers wat elke laaste Donderdag van die maand op YouTube uitgesaai word.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top