Zuma al weer te siek vir Zondo

  • 0

..........

“Zuma speel reeds jare lank kat en muis met die land se howe om ‘sy dag in die hof’ waaroor hy so breedsprakig was, deur middel van tegniese punte uit te stel.”

..........

Die hele land gis oor die aard van die geheime siekte wat oudpresident Jacob Zuma na bewering onder lede het. Zuma se onbekende siekte is Dinsdag voor die Zondo-kommissie as een van die redes aangevoer waarom hy nie later die maand vir ’n tweede keer voor die kommissie kan verskyn nie.

Jacob Zuma se regsverteenwoordigers het aan regter Raymond Zondo gesê hul kliënt sal eers in Maart beskikbaar wees om te getuig voor die kommissie wat staatskaping ondersoek. Advokaat Thabani Masuku sê die gewese staatshoof ontvang behandeling in Suid-Afrika en in die buiteland vir ’n siektetoestand. Die kommissie se regsverteenwoordigers wou hê dat Zuma gedagvaar word om die laaste week in Januarie te getuig.

Foto: YouTube

Zuma speel reeds jare lank kat en muis met die land se howe om “sy dag in die hof” waaroor hy so breedsprakig was, deur middel van tegniese punte uit te stel. Nou het hy glo een of ander mediese toestand wat verhoed dat hy voor die Zondo-kommissie kan verskyn.

Sy regsverteenwoordigers het Dinsdag aan regter Zondo gesê die oudpresident is bereid om ’n mediese sertifikaat in te dien om sy siekte te bevestig.

Zuma was onlangs in Kuba, waar hy glo mediese behandeling ontvang het. Die aard van sy siekte is nie bekend gemaak nie, maar sommige koerante het bespiegel dat dit verband hou met beweerde vergiftiging. Tot dusver was daar nog geen bewyse dat Zuma wel vergiftig is soos wat vroeër beweer is nie.

Die vreemde storie oor Zuma se beweerde vergiftiging spruit ’n vete wat hy meer as vier jaar gelede met een van sy vorige vrouens, Nompumelelo Ntuli-Zuma, gehad het. Hy het haar glo destyds uit die huis geskop na bewerings dat sy ’n komplot gesmee het om hom te vergiftig, maar sy ontken die bewerings.

Zondo wou nie Dinsdag die aard van Zuma se beweerde siekte bekendmaak nie. In die beëdigde verklaring wat deur Zuma se regsverteenwoordigers aan Zondo voorgelê is, word wel ’n aanduiding van die siekte gegee, maar Zondo sê dit is nie inligting wat hy sal bekend maak sonder om ongemaklik te voel nie.

..........

“Sy regsverteenwoordigers het Dinsdag aan regter Zondo gesê die oudpresident is bereid om ’n mediese sertifikaat in te dien om sy siekte te bevestig.”

..........

Zuma se mediese personeel sal later privaat met Zondo vergader om die aard van Zuma se siekte aan hom te verduidelik. Daarna sal daar besluit word wanneer hy in staat sal wees om weer voor die kommissie te verskyn. Volgens Zuma se regsverteenwoordigers is Zuma meer as bereid om weer voor die kommissie te verskyn wanneer sy gesondheid dit toelaat.

Dit is nie die eerste keer dat Zuma siek pleit wanneer hy voor die kommissie moet verskyn nie. Hy sou reeds verlede jaar in November vir die twee keer voor die kommissie getuig het, maar het op nommer 99 laat weet hy is te siek om te getuig.

Zuma was van die begin af huiwerig om voor die kommissie te getuig, maar het later skoorvoetend besluit om wel te getuig. Tydens sy getuienis het Zuma verskeie bewerings voor regter Zondo gemaak, van ’n beweerde komplot om van hom ontslae te raak tot bewerings dat verskeie hooggeplaastes in die ANC eintlik apartheidspioene is wat steeds hulle mes vir hom in het.

Dit is nie bekend wanneer Zuma weer vir sy siekte behandeling sal ondergaan nie. Na sy vorige behandeling by ’n “geheime hospitaal” in Kuba is hy verlede maand ná sy terugkeer perdfris en springlewendig opgemerk en gesond genoeg om die jaarlikse JG Zuma-skaaktoernooi in Durban te open.

Zuma se regspan het Dinsdag ook voor regter Zondo uitgevaar omdat die oudpresident se integriteit glo bevraagteken word deur die kommissie se regspan. Zuma se regsverteenwoordiger sê die kommissie se regspan hanteer Zuma se saak met antagonisme teenoor Zuma.

Lees ook 

Zuma te siek vir Zondo

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top