Zuma se vrylating “om veiligheidsredes” geheim gehou

  • 0

Dit bly steeds ’n raaisel wanneer Jacob Zuma weer op vrye voet by sy huis in Nkandla sal wees nadat mediese parool op omstrede wyse aan hom toegestaan is.

Die Jacob Zuma-stigting het Woensdag op Twitter gesê weens ’n stortvloed navrae van die media stel hulle die media in kennis dat sy ontslagdatum ter wille van sy veiligheid nie nou bekendgemaak sal word nie.

Die stigting se woordvoerder, Mzwanele Manyi, sê Zuma se ontslag sal “op die regte tyd” aangekondig word onderhewig aan die Departement van Korrektiewe Dienste se bepalings.

Die Helen Suzman-stigting het intussen in ’n verklaring bevestig dat hulle ook aan die kommissaris van korrektiewe dienste, Arthur Fraser, ’n brief gestuur het waarin hulle hom versoek om redes te verskaf vir sy besluit om mediese parool aan Zuma toe te staan.

Die Suzman-stigting sê hulle het teen Maandag nog geen reaksie van Fraser ontvang soos wat hulle versoek het nie.

Gevolglik het hulle ’n dringende aansoek oor die aangeleentheid by die Gautengse Hooggeregshof ingedien. Hulle sê hulle meen die voorgenome vrylating het op ’n ongrondwetlike manier geskied. Zuma het tot dusver slegs twee maande van sy 15-maande-tronkstraf uitgedien.

Die medieseparool-adviesraad het bevind dat Zuma se toestand stabiel is. Die raad se bevinding is egter deur Fraser geïgnoreer.

“Ons het as organisasie bedenkinge of die besluit om mediese parool aan Zuma toe te staan in ooreenstemming met die relevante wetgewing en regulasies daaroor is, veral met betrekking tot die feit dat die medieseparool-adviesraad nie aanbeveel het dat hy op mediese parool vrygelaat word nie,” sê Chelsea Ramsden van die Suzman-stigting in hulle verklaring.

Die burgerregte-organisasie AfriForum is ook in die proses om ’n dringende hofaansoek teen sowel die Departement van Korrektiewe Dienste as Arthur Fraser te beteken, lees meer hier. Hulle bevraagteken ook pres Cyril Ramaphosa se rol vra of die president ernstig is daaroor om korrupsie en misdaad stop te sit.

Daar is uiteenlopende reaksies op die Zuma-stigting se vaagheid rondom die datum van sy ontslag uit die hospitaal. “Dit is vreemd dat ’n persoon wie se hofverskyning algemene kennis is en die datum wanneer hy tronk toe is algemeen bekend was, nou ewe skielik skaam is vir sulke publisiteit,” het een van die Zuma-stigting se volgelinge op Twitter op die nuus reageer.

Die meeste waarnemers is dit egter eens dat dit onwaarskynlik is dat Zuma se mediese parool ongedaan gemaak sal word.

Selfs al sou die onwaarskynlike gebeur, sal sy 15-maande-tronkstraf reeds verby wees en is daar feitlik geen kans dat hy weer sal teruggaan tronk toe nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top