St Helena: bewaring kry nuwe betekenis op dié afgeleë eiland

  • 0

St Helena is afgeleë.

St Helena-eiland in die Suid-Atlantiese Oseaan is afgeleë – vier uur per vliegtuig van Afrika, 1 300 km van Ascension – maar hierdie afsondering het nooit beteken sy ekosisteme sou teen die mens beskerm bly nie. Dit wat vernietig is, het eeue geneem om te vestig en dit wat herstel moet word, kan net so lank neem. In albei gevalle is die mens verantwoordelik: vir vernietiging én herstel. Twee bewaringsprojekte is stadig maar seker besig om die skade te ondervang.

Aaron Legg van Aaron’s Adventure Tours

Ons ry vroegoggend saam met Aaron Legg van Aaron’s Adventure Tours vir ’n voldagtoer van die eiland. Hy vertel ons onder meer van die Millenniumwoud-projek en belowe dat ons later daar sal kan aandoen. Ons kry ’n goeie oorsig danksy ’n reuse-papierkaart wat hy op sy skoot oopvou.

Die Millenniumwoud aan die oostekant naby die lughawe is in oranje gemerk.

Ons deurkruis die eiland; soms deur digte woude met palms, varings en baie mis; soms deur woestyndele met rooigrond en pikswart vulkaniese rotse. Die eiland is waarlik een van kontraste. Die weer verander binne minute van sonskyn na bewolk en grys en dit is nie lank nie, of ’n seebries kom swiep oor alles.

Die ingang na die Millenniumwoud-projek

Ons het nagelees oor die Millenniumwoud-projek en die herstel van die eiland se tropiese wolkwoud. Ja, jy het reg gelees: ’n woud waarvan die boomkruine hoog bo die wolke strek en wat verantwoordelik is vir ’n groot gedeelte van die eiland se water.

Die Peaks Nasionale Park, ’n 81 hektaar-wildernis van steil klowe en welige groen bome, het eens ’n geraamde 600 hektaar beslaan, maar slegs 16 hektaar se plantegroei is oor. Dit is die tuiste van ongeveer 250 unieke spesies, waarvan baie aan die steil, mosbegroeide hellings vasklou. Dié endemiese spesies wat nêrens anders in die wêreld voorkom nie, is meer as ’n sesde van die Verenigde Koninkryk se totale endemiese biodiversiteit. Dit is enige stapper se paradys en word as een van die eiland se sewe wonders bestempel, maar die wolkwoud se ware rol in die eiland se watersekuriteit is lank onderskat en eers onlangs behoorlik evalueer om te besef presies hoe krities die bewaring daarvan is.

Die Nieu-Seelandse vlasplant wat nou ’n groot indringerprobleem geskep het en uitgeroei moet word sodat die endemiese plante kan terugkeer.

Vogbelaaide winde kondenseer op die boomtoppe en voed waterstrome wat gemeenskappe ver onder in die valleie van water voorsien. Teen die vroeë 2000’s was die habitat egter in ’n haglike toestand, met indringerspesies waaronder vlasplantasies en erosie wat vrugbare grond wegspoel.

’n Groot restourasieprojek het in 2021 begin, wat regeringsdepartemente, die St Helena National Trust en Connect St Helena, wat almal onder die Peaks Management Plan werk, bymekaarbring. Ons vra in die ry uit oor die projekte. Die Millenniumwoud is toeganklik vir toeriste, maar die Wolkwoud-projek is – gelukkig – net vir botaniste en werkers beskore, tensy jy ’n afspraak met iemand van die bewaringspan kry.

Aaron vertel: “Lank voor Britse vestiging in 1659 was St Helena se oostelike plato bedek met ’n uitgestrekte en welvarende ekosisteem, wat as die Groot Woud bekend was. Dié woud het die droë oostelike hange oorheers en ’n verstommende verskeidenheid endemiese voëls, plante en ongewerweldes ingesluit: spesies wat nêrens anders op aarde voorgekom het nie. Die reuse-oorwurm, ’n vreemde – en nou uitgestorwe – dier, het eens hier geleef.”

Die woud se gloriedae van destyds was egter kortstondig. Binne ’n paar dekades ná kolonisasie was ’n groot deel van St Helena se inheemse plantegroei vernietig. Bome is afgekap vir brandhout en boumateriaal; boombas is vir looiery afgestroop; en ingevoerde bokke en donkies het elke saailing verorber. Teen 1710 het die eiland se goewerneur gewaarsku: “Die groen eiland sal oor 20 jaar totaal verwoes wees as gevolg van die voortdurende behoefte aan hout.” Hy was reg. Teen die middel van die 18de eeu was daar niks van die Groot Woud oor nie. Die grond het vinnig in ’n windverwaaide semi-woestyn verval, weggevreet deur erosie, en van die eens oordadige plant- en inseklewe was daar niks oor nie.

Oral op die eiland is tekens van hervestigingsprojekte.

Wanneer jy nou in die ooste op die rantjies staan en uitkyk oor die groen kolle van die Millenniumwoud-projek, kry jy gelukkig weer hoop. Hierdie amper heeltemal gestroopte stuk grond is stadig maar seker besig om nuwe lewe te kry. Ons lees van die inligting op die borde. Daar is in 2000 begin met die historiese herbebossingsprojek, wat onvermydelik vir dekades sal moet voortduur om van die meeste van die gebied wat voorheen deur die Groot Woud beset was, weer ’n gevestigde woud te maak.

Byna elke eilandbewoner het vir ’n boom betaal en baie van hulle het self hul bome geplant. Gedurende die eerste fase is ongeveer 3 000 bome geplant, ’n parkeerterrein aangelê en ’n hek gebou. Die totale grondoppervlakte wat vir herbebossing aangewys is, is die afgelope 23 jaar uitgebrei en beslaan nou 250 hektaar. Teen 2012 was meer as 35 hektaar al met meer as 10 000 bome beplant.

Die plante begin goed vestig in die projek. Die lughawe en aanloopbaan is op die agtergrond sigbaar.

Endemiese boomspesies waarvan heelwat kritiek bedreig is, is in die Millenniumwoud aangeplant, waaronder die St Helena gumwood (Commidendrum robustum), dwerg-ebbehout (Trochetiopsis ebenus) en boxwood (Withania begoniifolia). Daar is tans meer as 6 000 gumwoods in die Millenniumwoud, maar volgens berekening is meer as 55 000 verdere aanplantings nodig om die gebied wat as woud bestem is, te bedek.

Later, terug by die hotel, lees ek dat die projek in 2010 die Joint Nature Conservation Committee (JNCC) se Blue Turtle-toekenning vir natuurbewaring in die Verenigde Koninkryk se oorsese gebiede en kroon-afhanklike lande ontvang het. Die JNCC se programbestuurder, Tony Weighell, wat een van die toekenning se beoordelaars was, het gesê: “Ek wil almal wat betrokke is by die St Helena Millenniumwoud-projek gelukwens. Daar is baie voorbeelde van gemeenskappe wat werk om biodiversiteit te bewaar en te bestuur, en dit is presies die soort innoverende, gemeenskapsgebaseerde inisiatief wat aangemoedig moet word. Vir 2010 was hierdie projek die eenparige keuse van die beoordelaarspaneel. Maar St Helena bied belangrike lesse vir ons bestuur van woude wêreldwyd – dit is beter om ons woude nou te beskerm en te bewaar as om dit later te probeer herstel.”

Hoe bemoedigend om 25 jaar ná die projek van stapel gestuur is, die resultate so duidelik voor jou te sien. Om ’n halfwoestyn tot woud te herstel, is egter uitputtende werk. ’n Klein bosbouspan – soms net twee of drie mense – baklei teen hitte, wind, plae, indringerspesies en gereelde mislukkings. Saadversameling, die kweek van skaars plante, duisende ure se natlei en voortdurende monitering is deel van hul roetine.

Tog groei die woud.

Ons hoor later die Millenniumwoud is veel meer as ’n bewaringsterrein. Dit het ’n plek van samekoms, leer en kultuur geword. Skoolgroepe kom leer oor endemiese plante en kwesbare insekspesies. Gesinne kom hou piekniek onder jong boompies. ’n Opvoedingsentrum en kweekhuise produseer jaarliks duisende saailinge, waarvan sommige in herwonne houers verkoop word om fondse in te samel. Die projek se hoof-finansiering kom van die John Ellerman-stigting, maar baie van die bome word steeds deur inwoners en besoekers geborg. Ek kyk weer na die foto’s wat ons daar geneem het en wonder of ek eendag die voorreg sal hê om te sien hoeveel van die 55 000 bome intussen aangeplant is.

Enkele dae later is my geliefde gelukkig genoeg om wel ’n besoek aan die Peaks Nasionale Park te kan bring. Soos die indringers uitgeroei word, keer die endemiese plant- en inseklewe terug na die hoë pieke. Hy vertel die aand terwyl ons langs die see sit en kyk hoe die son ondergaan: “Daar bo-op die smaraggroen kruin van High Peak, met diep valleie onder jou en die eindelose blou van die Suid-Atlantiese Oseaan rondom jou, is dit amper ondenkbaar dat hierdie klein vulkaniese eiland byna kaal gestroop was – en dat dit boonop in só ’n kort tydjie kon gebeur.”

Die werk wat in die herstelprojek gedoen word, het hom baie beïndruk. Dit sluit onder meer in die verwydering van indringerplante op byna onbegaanbare terreine; die kweek van skaars wolkwoudspesies; water- en mismonitering te midde van klimaatsverandering; geofisiese en hidrogeologiese navorsing; en die balansbestuur tussen bewaring, toerisme en plaaslike behoeftes.

High Peak, waar jy ’n stempel kry.

Shayla Ellick, projek-koördineerder, het saam met hom gestap en vertel dat net toe die projek begin momentum kry, ’n nuwe bedreiging opgeduik het: Phytophthora, ’n vernietigende fungus wat inheemse plante aanval. Dit het gelei tot die sluiting van baie gewilde staproetes. Een van die min wat heropen is, is High Peak, ná deeglike toetsing wat dit as patogeen-vry verklaar het. Hier is een van die eiland se gewilde posbus-staproetes waar jy ’n stempel kry en die besoekersboekie kan teken. Sy het vertel dat daar eenvoudig net te min kennis oor die fungus beskikbaar is en dit maak die projekbestuur moeiliker. Dit is nou natuurlik benewens die ligging van die wolkwoud: honderde meters bo seespieël teen skerp rante en diep ravyne. Al die werk moet met die hand verrig word en verandering gebeur nie oornag nie. Sommige werkers is al 20 jaar hier besig en omdat die resultate dekades neem om sigbaar te word, is dit soms moeilik om mense van die waarde van die projek te oortuig.

Gelukkig het St Helena ’n indrukwekkende rekord van fondsinsameling en omdat die eilandgemeenskap die waarde van die projek besef, is daar geen tekort aan welwillendheid nie. Dit is ongelooflik hoe ’n eiland eienaarskap kan neem van die skade wat mense aan ’n ekosisteem aangerig het; hoe hul entoesiasme en groen vingers al soveel verandering gebring het.

Kitsfeite

Foto’s: Clifford Roberts

Lees ook:

Boomplantweek kry dieper betekenis vanjaar

Riverhide: Rivierwegkruip laat die stres verdwyn

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top