Breyten schrijven #26: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Alwyn Roux

  • 0

Door het oog van de dichter is de titel van een gesprekkenreeks over de literaire nalatenschap van Breyten Breytenbach (1939-2024) en de impact op het schrijverschap van hedendaagse Afrikaans-, Engels- en Nederlandstalige dichters. Najaar 2026 verschijnt Postumiteiten voor Breyten in Zuid-Afrika, waarin de dialogen worden gebundeld. In een tweede deel komen Breytenbach-navorsers aan het woord. Tot vandaag kwamen de volgende dichters aan het woord: Joan Hambidge, Alfred Schaffer, Marlise Joubert, Antjie Krog, Louis Esterhuizen, Bernard Odendaal, Ilse van Staden, Andries Bezuidenhout, Diana Ferrus, Hein Viljoen, Pieter Madibuseng Odendaal, Klara du Plessis, Charl-Pierre Naudé, Nkateko Masinga, Erwin Mortier, Marius Crous, Gilbert Gibson en Heilna du Plooy. In deze zeventiende aflevering ben ik in gesprek met Alwyn Roux.

De inleidende tekst met een toelichting bij de opzet van de interviewreeks over de literaire erfenis van Breyten Breytenbach kan hier worden gelezen: https://versindaba.co.za/2026/01/21/yves-tsjoen-postumiteiten-voor-breyten/. In totaal zijn veertig dichters uitgenodigd. De gespreksgenoten ontvangen allen dezelfde vijf vragen over hoe zij zich in hun schrijfwerk verhouden tot het oeuvre van Breytenbach.

Foto deur Philip de Vos

...
Soos die afstand tussen die beeld van “’n spykerige jesus” en die wêreld, waarin hy self geen hoop het op ontbinding nie soos in die gedig ‘ikoon’ uit sy debuutbundel nie, is ek huiwerig om ikoniese betekenis aan Breytenbach te gee, sonder om dit terselfdertyd te wil ontluister
...

YT: Alwyn, is in het lyrisch werk van Breytenbach voor jou een afzonderlijke bundel of zelfs een esthetische fase aan te wijzen die om een specifieke reden jouw uitgesproken voorkeur geniet? De schrijver heeft in drie omvangrijke delen zijn verspreid gepubliceerde bundels samengebracht: Ysterkoei-blues. Versamelde gedigte 1964-1975, Die ongedanste dans. Gevangenisgedigte 1975-1983 en Die singende hand. Versamelde gedigte 1984-2014. Welke Breytenbach is voor jouw dichterlijke loopbaan betekenisvol gebleken? Verkies je het vroege werk of de ‘late style’ in Breytenbachs lyriek? Zou je zelf gewagen van een bepaalde literaire invloed, dus een moment of zelfs een gedicht dat jouw dichterschap in enigerlei mate mee heeft gestuurd?

AR: Die bundel wat vir my vooropstaan is Nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde (1993). Dit is ’n bundel wat my geweldig aanspreek en ook die rede was waarom ek besluit het om my PhD-studie oor landskap in die werk van Breytenbach te doen.

Saam met Hein Viljoen het ek twee akademiese artikels oor werk in hierdie bundel die lig laat sien – op LitNet Akademies (2017) en Stilet (2017). Daarom dat die werk wat vir my die mees betekenisvolle was, Breytenbach se laatwerk is, alhoewel die vroeë werk natuurlik klassiek geword het. Sy tronkgedigte het my op ’n ander manier aangespreek. Op versoek van die ontslape komponis Martin Watt het ek ’n libretto Tronkvoël geskryf, wat deur hom verwerk is tot kort opera. Dié stuk is deur Cape Town Opera (2010) en Gauteng Opera (2015) uitgevoer. Hiervoor het ek kort ná my MA-verhandeling (2009) die taak onder hande geneem om al Breytenbach se tronkpoësie noukeurig deur te lees. Een van die minder bekende bundels van Breyten, wat opgeneem is in Die ongedanste dans (2005), maar nooit as eie bundel verskyn het nie, is Die glimlag. Hierdie bundel as gesprek met Dostojeski terwyl Breytenbach in die gevangenis was, het my in die besonder aangegryp.

Waarom ek my met Breytenbach se laatwerk besiggehou het? As akademikus is jy bietjie soos ’n ploegie op die strand en moet jy al die goed wat op die strand uitspoel skoonmaak – dit is jou taak. Elke generasie akademici is soos ploegies wat strande skoonhou – ek het die voorreg gehad om te werk aan Nege landskappe (1993), Papierblom (1998), Die windvanger (2007), Die beginsel van stof (2011) en Katalekte (2012) vir my PhD. Ná dese, het ek die na-dood (2016) en op weg na kû (2019) geresenseer. Ek onthou hoe ek vir drie dae in ’n beswyming was nadat ek op weg na kû deurgelees het (nogals) op ’n strand een middag in Zinkwazi – dit was nie maklike leesstof nie, inteendeel: die swarigheid het my dae lank gevolg (ek het nog nie weer die moed gehad om daardie bundel met dieselfde intensiteit van begin tot einde deur te lees nie – êrens syfer dit deur).

Ek stel my egter oop vir literêre invloed, veral vir dié van Breyten, en dink nie dat dit weggeskryf moet word nie. Loftus Marais het my werk as “post-Breytenbachiaans” bestempel in die inleiding van Nuwe stemme 5 (2013). Ek het dit nie as ’n slegte ding gesien nie. Alhoewel my verse – spesifiek ‘’n Vreemdeling se graf’ en ‘Teken’, soos opgeneem in Nuwe stemme 5 (2013) en Weerskyn (2024) – eerder deur Rilke se Duino-elegieë geïnspireer is (dié verse is geskryf kort nadat Henning Pieterse se vertaling daarvan verskyn het), is Breytenbach se invloed nie uitgesluit nie, veral nie as mens so baie van sy poësie daagliks bestudeer het nie.

YT: Naast de expliciete maatschappijkritische poëzie zijn er de gedichten waarin de verbeelding van Afrika vorm krijgt, de vele liefdesgedichten, de lyriek waarin verval, verrotting en de dood bepalende motieven zijn, het nomadische Middenwereld-discours, de Zenboeddhistische gedichten. Is er een facet in Breytenbachs poëzie dat je met bijzondere belangstelling of affiniteit hebt gelezen?

 AR: Ek is baie lief vir sy landskapgedigte. In Nege landskappe word die begrip landskap as ’n uiteenlopende aantal dinge versinnebeeld, wat illustreer hoe Breytenbach as digter-skilder betekenisvol met dié begrip omgaan.

Reeds in die openingsafdeling, ‘laat ons nou dit nag is weer begin praat van vuur’, word landskap in ‘Inleiding’ (NL 3-4) as ’n toestand van rus voorgestel: “Die ware landskap is een van rus” en later bevestig as “die ware landskap is rus”, terwyl dieselfde gedig ook landskap verbind aan waarneming en musiek wanneer verklaar word: “Sienlied is landskap”. In ‘Eiland 1’ (NL 5-6) word landskap egter baie meer dinamies voorgestel, aangesien “wind [...] die landskap permanent [bewerk]”, maar ook internaliseer: “elkeen paai sy landskap in hom groot”.

In die afdeling ‘landberig’, spesifiek in die siklus ‘Dinkding’ (NL 11-22), verskuif landskap na die domein van die skryfhandeling en tydservaring: in die vierde gedig vertel die digter hoe hy sy “landskappe woorddroog in stansas uit[-sit]”, terwyl die sewende gedig wys op “die geduld wat in so ’n landskap / ingespit is” (‘’n wingerd’); die tiende gedig van dié siklus suggereer beweging “met die trein wat deur die landskap slang”, waarin die landskap bereis word.

In die afdeling ‘nege tekeninge uit die eerste boek van stadige bewegings’, veral in ‘Nege tekeninge’ (NL 59-69), word landskap eksplisiet ’n grensgebied tussen binne en buite: “hulle oë het reeds die grens tussen binne- en buitelandskappe / oorgesteek”, wat illustreer hoe landskap ’n subjektiewe ervaringswêreld veronderstel en van die subjek afhanklik is om tot aktualisering te bring.

Hierdie besinning word voortgesit in ‘al lê die berge nog so blou’, waar ‘Hemelvaart’ (NL 75) landskap as beeld van oneindigheid verwoord: “net die portret, van ’n landskap verskiet / in die oneindige”, terwyl ‘Paradys, ’n pruimboom’ (NL 78-79) die liefde met die landskap saamsnoer: “in hierdie dae skryf ek vir jou ’n liefde / soos ’n landskap van ink oorspoel”.

Die afdeling ‘láátskappe’ word landskap in ‘Retoer’ (NL 113) aan geheue en herhaling verbind: “in jou oorly elke oomblik ’n nagemaakte / memorie van daardie verre landskap”, dit wil sê in die sin van skep ’n landskap as herinnering aan die verlede. Hierdie beweging kulmineer in ‘Gedig as vergewissing van verlore verse’ (NL 118): “met ’n ingewing van bewegings / deur nege landskappe om na te laat / aan die hart van sy liefde”.

Uiteindelik word hierdie veelvoudige begrip in die laaste afdeling, ‘die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval’, tot voleinding gebring, waar die digter weer eens in ‘Curriculum mortis’ (NL 186-189) verklaar: “die ware landskap is een van rus om in te gaan” en “die ware landskap is dié van rus”. En dan, sluit die digter in ‘Portret van die landskapskilder’ (NL 190) af met die woorde: “en hierdie landskap in die dowe oog weer spieël”. Die landskap word ’n beeld wat ’n voorstelling gee van generasies mense wat binne daardie landskap gelewe het (’n landskapfenomenologiese benadering), maar eweneens kan dit as teks bestudeer word (’n poststrukturalistiese benadering) – albei benaderings (en veel meer) is moontlik.

YT: De schrijver heeft zich uitgedrukt in beschouwende en lyrische teksten. Daarnaast hield hij publieke toespraken, schreef zijn Notes from the Middle World, de trilogie met ’n Seisoen in die paradys, The True Confessions of an Albino Terrorist en Return to Paradise. De literaire genres waarin de schrijver zich uitsprak en een beeldrijk universum creëerde, zijn onlosmakelijk met elkaar verbonden, wat ook over het schilder- en tekenwerk kan worden gezegd. Welke teksten kunnen jou begeesteren en welke leeservaring verbind je met particuliere teksten in het oeuvre?

AR: In Nege landskappe is die motto ontleed aan Horatius: “Ut pictura poesis. Erit quae / si prorpius, Te capitat magis, / et quaedam, si longius abstes”, wat beteken: “Soos ’n skildery, so is die poësie. / Daar is een wat jou meer aangryp as jy nader staan, / en ’n ander wat dit doen as jy verder terugtree”. Hierin word die verband tussen die skilderkuns en die poësie beklemtoon omdat van die leser/aanskouer verwag word om by die ontleding van albei soms nader te staan en ander kere verder terug. Hierdie uitspraak is nie net waar ten opsigte van Breytenbach se poësie of skilderkuns nie; nee: sy kritiese opstelle en toesprake vereis eweneens dieselfde benadering van naderstaan en terugtree. Watter tekste my begeester en watter leeservaring ek met sekere tekste in sy oeuvre verbind: sy vroeë tekste is begeesterend: Die ysterkoei moet sweet (1964) het van sy mees uitstekende gedigte, wat klassieke gedigte geword het, én oral herkenbaar is. Dié tekste is onvolprese. Ek dink sommer net aan ‘wat die hart van vol is loop die mond van oor’ se eerste drie strofes wat hy opdra aan sy moeder (‘vir ounooi’):

vir u
kan ek om die dood
nie ’n bitter vers skryf nie

alhoewel dit die mode is
om stikkend verby die moederspeen
in mond te skel

en die sandkastele van kinderjare
roekeloos om te skop,
op die grafte te spoeg

juis om die dood:
want ek het u lief
en die wit van my oë word blou

YT: Hoe heb je zelf het werk van Breytenbach leren kennen? Welk beeld bewaar je van de kennismaking en is het in de loop van het leesparcours eventueel gewijzigd? Welke rol dicht je Breytenbach toe met betrekking tot het Afrikaans, dat hij een “bastertaal” noemde – een creoolse taal en vooral als een taal van Afrika zag?

AR: Ek onthou hoe my Afrikaanse onderwyser in standerd 3 oor Breytenbach as “volksverraaier” gepraat het, homself later gekorrigeer en gesê het dat hy nie politiek in die klas mag praat nie. “Dat jy eendag sal weet waarom jou pa huil in die aand”, het hy gesê, ’n reël wat my tot vandag toe bygebly het, en nou, by nabaat, dat hy moes dink dat alles waarvoor die apartheidregering gestaan het, besig was om te verbrokkel.

Ek het eers Breytenbach se werk later leer ken toe ek sy Lady One (99 liefdesgedigte) (2000) as matrikulant gekoop het. Alhoewel baie van die verse nie regtig vir my sin gemaak het nie, onthou ek dat die liriese aard van sy ongepubliseerde gedigte ’n groot indruk op my gemaak het (ek het die vorige jaar – in 1999 – begin gedigte skryf). Een spesifieke gedig heet ‘met vetkryt’ (171) – vergelyk die eerste strofe:

kom ons skryf ’n gedig
soos jy ’n vars lemoen in ’n glas uitpers
en in die sap die boord kan proe
vol son en wind en die glans
van liefdeswoorde.

Hein Viljoen het ’n groot rol gespeel in die wyse waarop ek uiteindelik Breytenbach se werk leer lees het. Sy uitstekende Perspektief en profiel-hoofstuk oor Breytenbach is insiggewend en maak veelvoudige maniere oop om Breytenbach se werk te lees, van die nege kroonblare van die heilige lotus.

Uiteindelik het ek ná my PhD-tesis saam met jou begin werk aan die wyse waarop Breytenbach Afrika verbeel in sy werk. Dit begin met sy werk wat hy in Gorée gedoen het by die Gorée-instituut ná afloop van die Dakar-konferensie in 1987. By sy uitnodiging om Afrika te verbeel, is dit van groot belang om na te dink oor die betekenis van wat Afrika as kontinent beteken, oor Suid-Afrika se plek in Afrika, asook dié van die Afrikaanssprekende. En dan groter – in die internasionale konteks. Om teoreties hieroor te kan skryf, is dit veral belangrik om krities om te gaan met ’n filosoof soos Johan Degenaar, en ek verwys na een van sy tekste wat op LitNet Akademies geplaas is in 2007, getiteld Afrikaans-wees in Afrika en die Wêreld 2000’. Degenaar herbedink Afrikaans-wees nie as ’n vaste identiteit nie, maar soos Breytenbach as ’n veelstemminge verbeeldingsruimte.

Om ’n rol toe te dig aan Breyten aangaande Afrikaans – dit is ’n moeilike vraag, want sy posisie is nie vasgesteld ten opsigte van Afrikaans nie; dit was die taal van die onderdrukker, maar nogtans was dit die taal waarin hy sy gedigte geskryf het. Dit laat dink onomwonde aan Louw se Tristia in sy gedig : “Ek haat en ek het lief: ek weet nie hoe nie”.

In Breytenbach se toespraak ‘’n Blik van buite’ (1973) tydens die Sestiger-somerskool aan die Universiteit van Kaapstad, maak hy die uitspraak:

Ons is ’n bastervolk met ’n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so. Ons moet kompos wees, ontbindend om wéér in ander vorme te kan bind. Net, ons het in die slagyster getrap van die baster wat aan bewind kom. In daardie gedeelte van ons bloed wat van Europa kom, was die vloek van meerderwaardigheid. Ons wou ons mag regverdig. En om dit te kon doen, moes ons ons gewaande stamidentiteit stol. Ons moes áfkamp, bekamp, verkramp. Ons moes ons andersheid verskans en terselfdertyd behóú wat ons verower het. Ons het van ons andersheid die norm, die standaard gemaak – en die ideaal. En omdat die handhawing van ons andersheid ten onkoste van ons mede-Suid-Afrikaners – en ons Suid-Afrikaansheid – is, het ons ons bedreig gevoel. Ons het mure gebou. Nie stede nie, maar stadsmure. En soos alle basters – onseker oor hul identiteit – het ons die begrip van suiwerheid begin aanhang. Dit is apartheid. Apartheid is the law of the bastard (Breytenbach 2015: 12).

Later, in 2006, skryf Breytenbach in enkele stellings rondom Afrikaans in Die Burger die volgende (aangehaal uit ‘Enkele stellings rondom Afrikaans’ in Parool/Parole):

Afrikaans is ’n bastertaal. Mens kan dit van alle tale sê, want hulle is die produkte van eeue se verowering, verslawing, vermenging en inkorporering. In die geval van Afrikaans is dit meer opmerklik omdat dit vry onlangs gebeur het en een van die uitvloeisels was van ’n gewelddadige proses van verknegting en bevryding wat nog soos ’n rou letsel verhoudings tussen bevolkingsgroepe beduiwel, en omdat hierdie taal meer uiteenlopende oorspronge moes snoer – Nederlandse dialekte, seemanspraat, Maleis-Portugees, inheemse invloede...

Uit die snoering is ’n Kreoolse taal gebore, grotendeels in die monde van mense wat nie van Nederlandse afstamming was nie (oorspronklik is dit wel deeglik ’n kombuistaal), in ’n dialektiese verhouding met plaaslike behoeftes en omstandighede (en daarom so ryk aan aardsheid), van meet af aan gekenmerk deur die veelsydigheid van oraliteit en skryfkultuur wat die meerhartigheid van haar oorspronge uitdra, en met die soepele aanpassingsvermoë en vindingrykheid wat Kreoolse tale byna altyd tipeer.

Verbastering beteken andersmaak, nie suiwering nie. Ter wille van verstaanbare kommunikasie is daar ’n mate van normevorming en ombuiging, maar die verrykende eggo’s van die oorspronklike bestanddele bly naklink. Wanneer jy luister na die Karoo-musiekmakers wat David Kramer op edelmoedige wyse aan die vergetelheid ontlok het, dan hoor jy deur ritme en tekstuur en melodie die ouer segging van verdwene tale wat bly voortlewe danksy die “optel-en-knyp”, die eiesinnige “instem” van die verowerde op jou eie instrument sodat jy die hart se wysies kan uitspeel. (Breytenbach 2015: 112-113)

Dit is dus belangrik dat Breytenbach se gebruik van “bastertaal” ’n inskrywing is teen die idee van Afrikaans as die norm, die standaard, dit wil sê wat teenoor vermenging praat. Afrikaans as ’n bastertaal staan hier as weerstand teenoor suiwerheid, en huldig die “smeltkroes van die tyd”, waaroor Breyten so mooi dig in ‘Bruin reisbrief’ in oorblyfsels (1970):

        Ook jy, Afrikaner, is reeds gesyfer deur
die prisma van die saad - Hollander (wat Duitser was?),
Fransman, Maleiermoeder en die kapelgeel Khoi-Khoin
dié proses is onverbiddelik
omdat die mens gekom het om te leef,
nie te láát leef nie.

YT: Kun je in een paar zinnen het grensverleggende en zelfs de iconische betekenis van de dichter Breytenbach onder woorden brengen? Of anders gezegd: hoe zou je zelf voor toekomstige lezers van Breytenbach, in Zuid-Afrika en elders, de poëzie aanbevelen?

AR: Met respek gesê, Yves, hierdie is drie groot vrae, wat nie mutually exclusive is nie.

Soos die afstand tussen die beeld van “’n spykerige jesus” en die wêreld, waarin hy self geen hoop het op ontbinding nie soos in die gedig ‘ikoon’ uit sy debuutbundel nie, is ek huiwerig om ikoniese betekenis aan Breytenbach te gee, sonder om dit terselfdertyd te wil ontluister:

bo dit alles pryk ’n spykerige jesus teen ’n kruis
sonder ’n gejanfiskaalde mossie se hoop op ontbinding,
met ’n gryns tussen baardhare;

dieper agter vir ewig net buite bereik (soos marilyn monroe)
rys ’n leë koel graf.

En dit is juis hóé ek Breyten wil voorstel aan lesers. Grensverskuiwend was hy wel, poëties en polities. Hoe ek vir toekomstige lesers oor Breytenbach wil vertel. Hoe anders sal ek begin as met sy eie woorde:

Dames en Here, vergun my om u voor te stel aan Breyten Breytenbach,
die maer man met die groen trui; hy is vroom
en stut en hamer sy langwerpige kop om vir u
’n gedig te fabriseer                   soos byvoorbeeld:
ek is bang om my oë toe te maak
ek wil nie in die donker leef en sien wat aangaan nie
die hospitale van Parys is stampvol bleek mense
wat voor die vensters staan en dreigend beduie
soos die engele in die oond
dit reën die strate afgeslag en glyerig

[…].

Lees ook:

Breyten schrijven #25: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Heilna du Plooy

Breyten schrijven #24: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Gilbert Gibson

Breyten schrijven #23: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Marius Crous

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top