Breyten schrijven #43: Postumiteiten voor Breyten. In gesprek met Annika van der Linde

  • 0

Naar aanleiding van de tweede herdenking van de sterfdag van Breyten Breytenbach (1939-2024) verschijnt een gelegenheidsbundel met getuigenissen van dichters, vertalers en vorsers. Het huldigingsboek wordt gepresenteerd op het symposium “Inter-Breyten. Breytenbach in context” (Universiteit Gent, 26-27 november 2026).

Postumiteiten voor Breyten. Door het oog van dichters en vorsers presenteert reacties van Zuid-Afrikaanse en enkele Nederlandstalige dichters op een reeks met vragen.

Daarnaast komen vorsers aan het woord in een tweede deel. Zij spreken over hun specifieke framing van Breytenbachs werk, de accenten die ze leggen in het wetenschappelijk onderzoek. Niet alleen schrijvers en vertalers construeren hùn beelden van Breytenbachs oeuvre, ook onderzoekers dragen bij aan de (academische) beeldvorming. Zij belichten hun persoonlijke leeservaringen en geven te kennen hoe zij een aandeel hebben in de beeldvorming van Breytenbach of dus de literaire postuur, met name de “heterorepresentatie”.

Voor het herinneringsboek reageren Zuid-Afrikaanse Breytenbach-experten op een vragenlijst. Een zevende gespreksgenoot in die reeks is Annika van der Linde, een van de sprekers op het congres “Inter-Breyten. Breytenbach in context”.

...
Hierdie insig beklemtoon dat Breytenbach se werk nie beperk is tot ’n plaaslike of nasionale konteks nie, maar ’n universele gesprek voer oor identiteit, bewussyn en die rol van die leser as medeskepper van betekenis.
...

YT: Kun je in kort bestek een overzicht geven van het zelf ondernomen wetenschappelijk werk over facetten van Breytenbachs oeuvre? Welke framing – een benadering van literatuurwetenschappelijke, vertaalwetenschappelijke, kunstwetenschappelijke, cultuurhistorische, politiek-ideologische of biografische aard – kreeg daarbij de voorrang?

AVDL: My studie ondersoek die liriese subjektiwiteit en poëtiese bewussyn in Breytenbach se bundels die na-dood (2016) en op weg na kû (2019). Die navorsing plaas die klem op die verhouding tussen die liriese ‘ek’ en die digter. Dit is ’n kwessie wat lank reeds omstrede en veelbesproke is binne die veld van die liriese teorie en literêre kritiek. Die studie kies dus ’n literatuurwetenskaplike invalshoek vanuit die liriese teorie, maar brei dit uit deur ook filosofiese (Zen-Boeddhistiese) en wetenskapsteoretiese (kwantumteorie) perspektiewe te betrek.

Die literatuurwetenskaplike benadering steun op Sabine Coelsch-Foisner (2002) se tipologiese model van poëtiese bewussyn. Hierdie model kategoriseer poëtiese bewussyn volgens die wyse waarop dit in gedigte manifesteer. Dit bied ’n sistematiese manier om die verhouding tussen die liriese ‘ek’ en die digter te ondersoek. Die raamwerk is egter hoofsaaklik in Westerse en Christelike tradisies gesetel.

Die Zen-Boeddhistiese perspektief bring ’n alternatiewe dimensie in. Zen-denke beklemtoon die opheffing van die self en die ervaring van die Niet. Hierdie invalshoek help om Breytenbach se paradoksale spel met die ‘ek’ te verstaan. Dit wys hoe die prominente ek-spreker in sy poësie tegelyk ontbind en leeg gemaak word.

Na aanleiding van reeds bevestigde verwantskappe tussen die denkraamwerk van die Zen-Boeddhisme en die kwantumteorie word ’n derde invalshoek gebied. Hierin word daar gebruik gemaak van die werk van Karen Barad (2007) waarin sy konsepte soos intra-aksie en verstrengeling toepas op diskursiewe praktyke sowel as haar diffraktiewe metodologie. Barad se diffraktiewe metodologie lees uiteenlopende velde deurmekaar om nuwe insigte te verkry. Haar agentgebaseerde realisme stel die gedig voor as ’n meetinstrument vir subjektiwiteit en bewussyn. Verder word daar gesteun op Atmanspacher et al. (2002) se swak kwantumteorie wat gebruik word vir die toepassing van ’n kwantumteoretiese raamwerk buite die veld van die fisika soos in die sielkunde en, in hierdie studie, die letterkunde. Hierdie benaderings word gebruik om die dinamiese verhouding tussen digter, leser en gedig te ondersoek en beskryf soos dit neerslag vind in Breytenbach se laaste twee digbundels.

Hierdie triangulasie van Coelsch-Foisner se literatuurwetenskaplike raamwerk, die Zen-Boeddhistiese filosofie en die kwantumteorie bied ’n versoenende en aanvullende perspektief op liriese subjektiwiteit. Dit belig die paradoksale aard van subjektiwiteit in Breytenbach se werk en ontsluit nuwe interpretasiemoontlikhede vir sy oeuvre.

YT: Zijn er onderzoeksbevindingen die je, het onderzoek overschouwend, onder de aandacht kunt brengen? Of anders gezegd: op grond van welke overwegingen kan Breytenbach een schrijver en beeldend kunstenaar van internationale allure worden genoemd?

AVDL: Uit my studie het ek bevind dat Breytenbach se werk ’n unieke liriese subjektiwiteit in Afrikaans ontwikkel waarin die intra-aktiewe verhouding tussen digter, teks en leser voortdurend herbesin word. Hierdie dinamiese intra-aksie, wat deur kwantumteorie en Zen-Boeddhisme belig word, plaas sy poësie binne ’n interdissiplinêre raamwerk wat Westerse en Oosterse denktradisies versoen. Verder bied die kwantumteorie ook ’n raamwerk waardeur verstrengeling tussen tekste, outeurs en bewussyne bestudeer kan word in die wyse waarop Breytenbach ook intertekstueel met ander skrywers omgaan en sy eie metatekstuele besinning oor hierdie verstrengeling.

Die bevindinge toon dat Breytenbach se gebruik van metafore soos die maan, spieël, water en die kluisenaarskap nie net estetiese beelde is nie, maar ’n voertuig is van ’n besinning oor bewussyn en die self. Die intra-aksie tussen digter, leser en teks skep ’n voortdurende skepping van betekenis… die liriese ‘ek’ funksioneer nie net as ’n individuele stem nie, maar as ’n refleksie van ’n kollektiewe bewussyn. Hierdie insig beklemtoon dat Breytenbach se werk nie beperk is tot ’n plaaslike of nasionale konteks nie, maar ’n universele gesprek voer oor identiteit, bewussyn en die rol van die leser as medeskepper van betekenis.

Kwessies van die self en subjektiwiteit in die poësie, identiteitsvorming, die rol van beweging in die skeppingsproses, die bewoning van die Middelwêreld, en sosiale betrokkenheid is alles universele temas wat herhaaldelik in Breytenbach se oeuvre na vore kom. Hierdeur neem Breytenbach deel aan die aktuele en universele diskoers, maar bring ook ’n unieke intellektuele stem en insig wat nêrens anders in die Afrikaanse letterkunde te vinde is nie juis vanweë Breytenbach se unieke belewing en lewenservarings, sy liefde vir Afrikaans, sy besonderse intellektualiteit en filosofiese ingesteldheid en die wisselende omgang met Westerse en Oosterse fenomenologie. Breytenbach se konsep van die Middelwêreld verwoord ’n universele belewing in ’n geglobaliseerde wêreld, maar beskryf ook Breytenbach se unieke posisie binne die Afrikaanse literatuur.

Daarby wys die navorsing dat sy poësie die ontoereikendheid van taal self dramatiseer, wat aansluit by internasionale modernistiese en postmodernistiese tradisies. Die kombinasie van Breytenbach se belesenheid wat intertekstueel in sy werk na vore kom, sy konsep van die Middelwêreld, filosofiese diepte, wetenskapsteoretiese resonansies en ’n sterk visuele en metaforiese styl maak dat Breytenbach se oeuvre met reg as dié van ’n internasionale skrywer en kunstenaar beskou kan word.

YT: Zijn er in het ruime studiegebied aspecten die tot op heden relatief weinig aandacht kregen? Zie je krachtlijnen in de benaderingen van Zuid-Afrikaanse en buitenlandse onderzoekers, in zekere mate bepaald door onderzoekparadigma’s die in het onderzoek in de loop van de tijd verschuiven of wisselen? Waarop kan het onderzoek zich nu, na het overlijden van Breytenbach, méér toeleggen?

Er worden de komende jaren veel wetenschappelijke en essayistische publicaties, wellicht ook promotieonderzoek, toegevoegd aan een inmiddels indrukwekkend corpus van beschouwende teksten (zie de bibliografieën in de huldigingsbundel voor Breytenbach Woordenaar woordnar, 2019). Zijn er richtingen die het onderzoek bij voorkeur uitgaat, al dan niet leunend op of in kritische dialoog met bestaande studies?

AVDL: Veral Breytenbach se bundels sedert 2010 het nog relatief min aandag geniet, met navorsing wat dikwels eerder terugkeer na sy tronkpoësie en vroeër werke.

Navorsingsvelde sluit meermale ’n studie van subjektiwiteit en Breytenbach se gebruik van verskeie eiename in verwysing na die digterlike subjek in, maar daar is ruimte om hierdie studies oor Breytenbach se gebruik van eiename uit te brei na die latere werke.

Verskeie studies is reeds gedoen oor die herhalende metafore en motiewe in Breytenbach se werk. Die kognitiewe linguistiek van Lakoff en Johnson (1999) het ’n sterk invloed op literêre metaforiek gehad, maar is nog nie sistematies toegepas op Breytenbach se oeuvre nie. Alhoewel metafore soos die maan, spieël en voëls dikwels in akademiese ontledings genoem word, is daar min studies wat dit binne ’n kognitiewe raamwerk plaas wat metafore as strukture van menslike bewussyn en ervaring beskou. Hier lê ’n groot geleentheid: Breytenbach se herhalende metafore kan ontleed word as konseptuele metafore wat sy filosofiese en sosiale kritiek dra. Dit kan ook vergelyk word met metaforiese patrone in ander ballingskapsdigters se werk.

Studies oor laatwerk is ook populêr in die onlangse navorsing, maar is in Breytenbach se oeuvre gekompliseerd, juis omdat soveel van sy vroeër werk reeds die kenmerke van laatwerk toon. Hoewel daar ’n korpusondersoek gedoen is oor Breytenbach se poësie as laatwerk is daar nog nie laatwerkstudies deur middel van literêre analise gedoen oor die bundels wat in die laaste dekade van sy lewe gepubliseer is nie. Hierdie studie kan ook in vergelyking met die moontlikheid van laatwerk wat deur sy gevangenisskap gestimuleer is (soos bevind in die korpusondersoek) ondersoek word – hoe lyk die doodsbewussyn van ’n jong persoon wat die traumatiese gevangenisskap verwerk teenoor die doodsbewussyn van die Breytenbach wat werklik aan die einde van sy lewe staan?

Die psigoanaliese en spesifiek dié van Jung is ook veral gebruik in die ondersoek na Breytenbach se werk, tot ’n mate in my studie, maar veral in dié van Kuhn in haar PhD studie. Daar is ook in die tagtigs en negentigs studies daaroor gepubliseer. Navorsingsgeleenthede sou wees om hierdie studies uit te brei tot die bundels wat nog nie hierdeur ondersoek is nie en om ook nuwe teoretiese ontwikkelinge in die psigoanalitiese veld toe te pas.

Politieke betrokkenheid is goed gedek in tronktekste, maar sy latere sosiale kritiek is nog nie volledig in postapartheid-diskoerse geplaas nie. Hoewel daar dikwels verwys word na Breytenbach se politiese, taalpolitiese en sosiale betrokkenheid in die resensies oor sy bundels, is daar nog weinig akademiese navorsing hieroor gedoen, veral oor die bundels wat sedert 2010 gepubliseer is. Die tydperk tussen 2008 en 2016 asook 2016-2023 toon geweldige politieke omwentelinge – nie net in die Suid-Afrikaanse konteks nie, maar veral internasionaal. Verder was Breytenbach veral betrokke by die stryd van Afrikaans se posisie in Suid-Afrika en meer spesifiek by Stellenbosch Universiteit. Hoe hierdie klimaat in die sosiaal-kritise gedigte van Breytenbach neerslag gevind het en hoe hy deelneem aan die diskoers oor Afrikaans en Afrikaans se voortbestaan het nog weinig aandag geniet in die akademiese navorsing van die afgelope dekade.

Vergelykende studies tussen Breytenbach en ander ballingskapsdigters (sommige met wie Breytenbach ook intertekstueel in gesprek tree in sommige gedigte) kan sy transnasionale relevansie beklemtoon.

Die Zen-Boeddhisme is ’n blywende denkraamwerk en vertrekpunt in Breytenbach se oeuvre en daar is reeds baie navorsing daaroor gedoen, insluitend my eie.

YT: Wanneer het onderzoekdomein omtrent het literaire en artistieke werk wordt overschouwd, welke inzichten hebben jou als onderzoeker zelf veel bijgebracht en/of hebben de studie een bepaalde richting uitgestuurd?

AVDL: Vir my was die studies oor die liriese ‘ek’ en subjektiwiteit (Sienaert, Smuts, Viljoen) die beginpunt van my studie, veral vanweë die opponerende perspektiewe wat daar bestaan oor die verwantskap al dan nie tussen die digter en die liriese ‘ek’. Die biografiese verwantskap is onmiskenbaar in Breytenbach se werk, maar terselfdertyd hoogs gekompliseerd in ’n veelvuldigheid van subjektiwiteite en identiteite, soms in een en dieselfde gedig. Die vraag was dus of daar ’n raamwerk geskep kon word binne die diskoers oor liriese subjektiwiteit waarbinne Breytenbach se selfbewussyn en subjektiwiteit verstaan en beskryf kan word. Verder het ek veral voortgebou op die werk van Sienaert (1993) -spesifiek in verband met haar artikel waarin sy Brink (1985) se transgressie tussen die kwantumteorie en dekonstruksie ondersoek. Sy het hierdie artikel gebruik om analogieë tussen die Zen-Boeddhisme en dekonstruksie te ondersoek en dit toe te pas op Breytenbach se poësie en kuns. Ek het dus dieselfde transgressie toegepas deur weer die analogiese verband tussen die Zen-Boeddhisme en kwantumteorie te ondersoek.

Brink, A. 1985. ‘Transgressions: A quantum approach to literary deconstruction’. Journal of literary studies. 1(3):10–26.

Sienaert, M. 1993. ‘Aspects of contemporary literary theory, Zen‐Buddhism and the Breytenbach‐Oeuvre: An intertextual reading’. Journal of literary studies. 9(2):139–155

Sienaert, M. 2004. ‘The I of the Beholder: Identity and Place in the Art and Writing’. In J.L. Coullie & J.U. Jacobs (reds.). Aka Breyten Breytenbach: critical approaches to his writings and paintings. Amsterdam: Rodopi. 221–247.

Smuts, L. 1995. Die desentralisasie van die subjek : ’n post- strukturalistiese beskouing van Breyten Breytenbach se die ysterkoei moet sweet en (‘YK’). Universiteit van Kaapstad.

Smuts, L. 2004. “‘I’ is a Complex Place”: Transforming and Disseminating the Subject in the Poetry’. In J.L. Coullie & J.U. Jacobs (reds.). Aka Breyten Breytenbach: critical approaches to his writings and paintings. Amsterdam: Rodopi. 57–73.

Smuts, L. 2009. ‘Die “ek” in (‘YK’): die desentralisasie van die subjek in Breyten Breytenbach se digbundel (‘YK’)’. Tydskrif vir Letterkunde. 46(2):81–96.

Viljoen, L. 1988. Breyten Breytenbach se (‘Yk’): ’n Semiotiese ondersoek. PhD-Proefskrif. Universiteit Stellenbosch.

Viljoen, L. 2014. Die mond vol vuur: Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach. Stellenbosch: African Sun Media.

YT: Breytenbach werk is omvangrijk en uitermate veelgelaagd. Het is onmogelijk vanuit een specifiek literatuur- of kunstwetenschappelijk standpunt de (inter- en intratekstuele of intermediale) veelzijdigheid te benaderen. Zijn er invalshoeken – probleemstellingen en onderzoeksvragen – die je voor een eigen voortgezette studie overweegt?

AVDL: Vir ’n voortgesette studie vanuit my bestaande navorsing oor subjektiwiteit en die kwantumteoretiese raamwerk sou ek graag hierdie benadering terugwerkend op Breytenbach se oeuvre wou toepas. Ek stel veral belang in die toepassing van Everett se veelvuldige-wêrelde-teorie om die verskillende netwerke van subjekposisies, soos dit deur die gebruik van eiename na vore kom, deur sy hele oeuvre te ondersoek. Verder wil ek ook metafore as verstrengelings wat direk verband hou met die mens se bewussyn en bewuswording vanuit die kognitiewe linguistiek van Lakoff en Johnson (1999) ondersoek.

YT: Tot slot: Breytenbachs literaire werk is vertaald in meerdere talen en wordt mede dankzij het vertaalwerk internationaal gelezen en bestudeerd. Hoe heb jezelf, als particulier lezer of toeschouwer, het werk van Breytenbach ontdekt? Hoe verliep de eerste ontmoeting, wie heeft daar als beschouwer een bepalende rol in gespeeld? Welke teksten van Breytenbach waren voorgeschreven op school of aan de universiteit? Wat heb je zelf opgenomen op de leeslijsten voor studenten, teksten waarvan zou beslist hoogte moesten nemen? En ten slotte wat het receptieproces betreft: welke titels of kunstwerken van Breytenbach beschouw je zelf als hoogtepunten van de schrijvers- en kunstenaarsloopbaan?

AVDL: My eerste kennismaking met Breytenbach se poësie was in my eerste jaar toe ons ‘Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif’ behandel het as ’n voorgeskrewe gedig. Daarna het ons ‘bedreiging van die siekes’ behandel en ek onthou ons moes self die gedig probeer ontleed ter voorbereiding vir die klas. Ek het destyds met ’n groep vriende oor die gedig gesels, en die belangstelling wat dit onder studente in ingenieurswese- en die natuurwetenskappe-studente gewek het, was vir my besonder opvallend. Dit het my laat besef dat die uitdagende aard van Breytenbach se poësie en die intellektuele eise wat dit aan die leser stel, juis deel van die aantrekkingskrag daarvan vorm. Die poësie boei nie alleen nie, maar nooi die leser ook uit tot ’n proses van intra-aktiewe betekenisskepping.

Self het ek in navolging van my eie ervaring op tersiêre vlak ook ‘Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif’ en ‘bedreiging van die siekes’ voorgeskryf, daarnaas het ek ‘liefling, taal’ uit die beginsel van stof (2011), ‘die hengel-komposisie-kompetisie’ uit vyf-en-veertig skemeraandsange (2014), ‘soos hierdie gedig’ uit die na-dood (2016), ’nEKRA’ uit (‘YK’) (1983) en ‘Kû’ uit op weg na kû (2019) voorgeskryf. Verder is die gedigte ‘jou brief’ en ‘(taalstryd)’ wat opgeneem is in die bloemlesing Afrikaans Poems with English Translations (2018) saamgestel deur Van Coller, Van Vuuren en Viljoen ook in my derdejaarsmodule voorgeskryf naas die bloemlesing Rooiborsduif saamgestel deur Charl-Pierre Naudé.

Vir my was die lees van vyf-en-veertig skemeraandsange wel die lekkerste leeservaring tot dusver en ek sou eintlik baie graag dit by my studie wou insluit, maar dit het uiteindelik meer sin gemaak om op die laaste twee bundels te fokus. My leesreis van Breytenbach se oeuvre is egter nog nie volbring nie en hierdie mening sal moontlik verander en aangevul word namate ek sy werk lees.

Lees ook:

Breyten schrijven #42: Postumiteiten voor Breyten. In gesprek met Alwyn Roux

Breyten schrijven #41: Postumiteiten voor Breyten. In gesprek met Marilet Sienaert

Breyten schrijven #41: Postumiteiten voor Breyten. In gesprek met Marilet Sienaert

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top