Naar aanleiding van de tweede herdenking van de sterfdag van Breyten Breytenbach (1939-2024) verschijnt een gelegenheidsbundel met getuigenissen van dichters, vertalers en vorsers. Het huldigingsboek wordt gepresenteerd op het symposium “Inter-Breyten. Breytenbach in context” (Universiteit Gent, 26-27 november 2026).
Postumiteiten voor Breyten. Door het oog van dichters en vorsers presenteert reacties van Zuid-Afrikaanse en enkele Nederlandstalige dichters op een reeks met vragen.
Daarnaast komen vorsers aan het woord in een tweede deel. Zij spreken over hun specifieke framing van Breytenbachs werk, de accenten die ze leggen in het wetenschappelijk onderzoek. Niet alleen schrijvers en vertalers construeren hùn beelden van Breytenbachs oeuvre, ook onderzoekers dragen bij aan de (academische) beeldvorming. Zij belichten hun persoonlijke leeservaringen en geven te kennen hoe zij een aandeel hebben in de beeldvorming van Breytenbach of dus de literaire postuur, met name de “heterorepresentatie”.
Voor het herinneringsboek reageren Zuid-Afrikaanse Breytenbach-experten op een vragenlijst. Een vijfde gespreksgenoot in die reeks is Marilet Sienaert.
...
Tydens ’n byeenkoms in Lissabon (1994) was dit vir my treffend hoe gemoedelik Breytenbach met die imposante Jacques Derrida kon gesels, en moes ek glimlag vir sy geterg in Afrikaans van ’n stroewe JM Coetzee.
...
YT: Breytenbachs literaire werk is vertaald in meerdere talen en wordt mede dankzij het vertaalwerk internationaal gelezen en bestudeerd. Hoe heb jezelf, als particulier lezer of toeschouwer, het werk van Breytenbach ontdekt? Hoe verliep de eerste ontmoeting, wie heeft daar als beschouwer een bepalende rol in gespeeld? Welke teksten van Breytenbach waren voorgeschreven op school of aan de universiteit? Wat heb je zelf opgenomen op de leeslijsten voor studenten, teksten waarvan zou beslist hoogte moesten nemen? En ten slotte wat het receptieproces betreft: welke titels of kunstwerken van Breytenbach beschouw je zelf als hoogtepunten van de schrijvers- en kunstenaarsloopbaan?
MS: Die ses vrae gestel aan Breytenbach navorsers veronderstel ’n akademiese loopbaan in die Afrikaanse letterkunde wat nie werklik op my van toepassing is nie, hoewel ek wél vir ’n tiental jare daarmee betrokke was. Ek het nie Afrikaans of Nederlands op Universiteit geneem nie, maar met ’n ompad myself in die laat tagtigerjare by die destydse Natal- en later Durban-Westville universiteite bevind waar ek aan die hand van ’n doktorsgraad in die Lettere aangestel is om, onder andere, Afrikaanse poësie te doseer. Hoewel Groot Verseboek (en daarmee saam enkele Breytenbach gedigte) deel van my verwysingsraamwerk op skool was, het ek eintlik eers as dosent Breytenbach as digter werklik ontdek. My agtergrond was in Franse poësie en literêre teorie – formalisties struktureel maar ook psigo-analities, postmodernisties (Lacan, Derrida, Foucault) – wat my onmiddellik aanklank gegee het by veral sy gevangenisbundels wat destyds nuut op die rakke was.
In daardie jare was Afrikaans 101 ’n verpligte kursus vir regstudente by Engelstalige universiteite, en ons het groot eerstejaar-klasse van 300 studente of meer gehad. Daarna het die getalle egter afgeneem en slegs ’n handjievol studente het in die senior klasse volhard. Ek het die poësiekursus vir hierdie kleiner groep aangebied en het besluit om op Breytenbach te fokus, denkende dat sy aktivisme en Zen-Boeddhistiese wêreldbeskouing – in prikkelende kontras met die Calvinisties-nasionalistiese stereotipe – vir my studente ’n ongewone invalshoek tot Afrikaanse letterkunde sou bied. Breytenbach was op besoek in Durban (dit was vroeg negentigs) en het ingestem om met my studente te kom gesels. Gou het hulle die gesprek gestuur na sy tyd in die gevangenis, en wou hulle weet hoe mens onder sulke omstandighede gedigte kan skryf. Dis ’n manier van oorlewing, het hy verduidelik. Mens wil met iets of iemand ’n gevoel van kontak beleef, al is dit noodgedwonge met ’n verbeelde leser, of jousèlf as ander op papier; ’n soort verdubbeling om die depersonalisasie van eensame opsluiting te besweer. Breytenbach se gemoedelike gesels met die studente, en sy vermoë om hulle te betrek, het my reeds talentvolle derdejaarklas geïnspireer om ons daaropvolgende verkenning van die gedigte verdiep – en, glo ek, gelei tot ’n eerste groep honneursstudente die volgende jaar.
In die weke ná hierdie besoek, en omdat ek my belangstelling in die skilderwerk op die bundelomslae en die duidelike verweefdheid van sy poësie en skilderye genoem het, het Breytenbach vir my al die katalogusse van sy Europese uitstallings tot op daardie stadium gestuur, asook ’n uitnodiging om sy ateljee in Parys te besoek en die werk te fotografeer. ’n Sabbatsverlof-toekenning van die destydse nasionale navorsingsraad het ’n sesmaande-besoek moontlik gemaak, en ek kon, danksy gereelde gesprekke met hom en kennismaking met sy toe reeds omvangryke skilderwerk, begin bou op die insig dat skryf en skilder as ’n enkele interaktiewe sisteem benader kan word, eerder as twee afsonderlike praktyke of produkte. Dit het toe ook reeds vir my duidelik geword hoe sterk Breytenbach se visuele kuns hom na aan die hart lê.
Wat hoogtepunte in Breytenbach se werk betref, beskou ek nog steeds die gevangenisbundels, veral (‘Yk’), as uitsonderlik, maar deesdae is dit sy laatwerk wat my die meeste aantrek. Miskien omdat ek via korrespondensie ’n binne-blik gekry het op die ontstaan van Hokhokaai, Verwelkingslied, die los gedigte wat hy voorlopig Klaarmaak (op hede ongepubliseerd) en In die fragmentarium (LitNet, Desember 2022 en Mei 2023) genoem het. Dieselfde geld vir die skilderwerk: Benewens die ouer Boekdoek Lappesait-reeks panele (1999), asook werke soos Arbre à oiseaux (1992), Night tree (1992), Moonlight arab 2 (1992) en meeste van die skilderye wat in Can Ocells (Katalonië) te sien is, is dit veral die meer onlangse visuele werk wat uitstaan (die “Skeursels”- en “Breyten”- uitstallings).
YT: Kun je in kort bestek een overzicht geven van het zelf ondernomen wetenschappelijk werk over facetten van Breytenbachs oeuvre? Welke framing – een benadering van literatuurwetenschappelijke, vertaalwetenschappelijke, kunstwetenschappelijke, cultuurhistorische, politiek-ideologische of biografische aard – kreeg daarbij de voorrang?
MS: Die vrugte van my kennismaking met die Breytenbach-oeuvre was verskeie joernaalartikels, hoofsaaklik oor sy poësie, asook ’n boek, The I of the beholder: Identity formation in the art and writing of Breyten Breytenbach, wat deel was van die Social Identities South Africa Series wat in 2001 deur Kwela en South African History online gepubliseer is. ’n Onderhoud wat ek met Breyten gevoer het oor sy kuns is opgeneem in a.k.a. Breyten Breytenbach. Critical approaches to his writings and paintings (red. J. Lütge Coullie & J.U. Jacobs, Rodopi, Amsterdam, 2004). ’n Persoonlike hoogtepunt vir my was Breytenbach se uitnodiging om die titelhoofstuk te skryf vir die boek Painting the Eye, wat ter aandenking van sy eerste kunsuitstalling in Suid Afrika deur David Philip in 1993 uitgegee is. My uitgangspunt was deurgaans dat identiteit, soos wat dit deur skryf of skilder tot stand kom, verhoudingsgebonde is, en dat dit totaal afhanklik is van deelname deur die leser/kyker, of hy/sy nou aanklank vind by die werk, of dit verwerp, of miskien verder transformeer. Binne hierdie teoretiese raamwerk het ek aan die hand van verskillende voorbeelde Breytenbach se spel met tyd en ruimte, gebruik van intertekstualiteit, Zen-Boeddhisme as strukturele beginsel (en nie bloot eksotiese versiering nie), en sy verknogtheid aan Afrika as skeppende impuls, ondersoek en probeer om die nooit-voltooide en altyd-veranderende ossillasie tussen self en ander tydens die skryf/lees en skilder/kykproses te demonstreer.
Daarna het ek van loopbaan verander en moes ek die navorsing eenkant skuif, maar het wel net ná Breytenbach se “Skeursels”-uitstalling in 2021 ’n artikel vir LitNet daaroor geskryf (https://www.litnet.co.za/saam-mekaar-anders-maak-as-beweging-n-perspektief-op-breyten-breytenbach-se-skilderkuns-tydens-covid-19/). Ek sou vandag sê dat ek eintlik ’n meta-modernistiese benadering gebruik het: meta-modernisties want kuns en skrywe as verhoudingsgebonde, waar die kompleksiteit van onderlinge verweefdheid tussen alle sisteme (soos tussen beeldende werk, tekste en tradisies en natuurlik ook tussen self en ander) verwoord of verbeeld word.
YT: Zijn er onderzoeksbevindingen die je, het onderzoek overschouwend, onder de aandacht kunt brengen? Of anders gezegd: op grond van welke overwegingen kan Breytenbach een schrijver en beeldend kunstenaar van internationale allure worden genoemd?
MS: Reeds as Sestiger het Breytenbach Afrikaans in ’n kosmopolitiese dampkring geplaas. Die werk van Francis Galloway demonstreer ook duidelik sy statuur as internasionale, openbare intellektueel. Ek het eerstehandse ervaring gehad van die aansien en kameraderie wat Breyten geniet het by die Poetry International‑feeste in Rotterdam wat ek bygewoon het (1994, 1995 en 1996), met poësievoorlesings deur wêreldbekende digters soos Yehuda Amichai, Adrian Henri, James Fenton, Seamus Heaney, Bei Dao, Wole Soyinka, Miroslav Holub, Joseph Brodsky, Bert Schierbeek, Edoardo Sanguineti, Simon Vinkenoog, Niyi Osundare, Tahar Ben Jelloun en vele ander. Tydens ’n vertalingswerkwinkel een jaar in Rotterdam het die besoekende digters ’n twaalftal Breytenbach-gedigte, wat reeds in Engels, Frans of Duits vertaal is, laat herleef in hul eie moedertale, wat daarna ook deur die betrokke digters as deel van die verrigtinge voorgelees is. Breytenbach was ook ’n stigterslid van die Internasionale Parlement van Skrywers, ’n organisasie wat ondersteuning bevorder het vir skrywers wat in hul eie lande vervolg word. Tydens ’n byeenkoms in Lissabon (1994) was dit vir my treffend hoe gemoedelik Breytenbach met die imposante Jacques Derrida kon gesels, en moes ek glimlag vir sy geterg in Afrikaans van ’n stroewe J.M. Coetzee.
In hierdie konteks is dit interessant om te onthou tot watter mate Breytenbach totaal outodidakties was. Hy het na Europa vertrek lank voor hy sy studies aan die Universiteit van Kaapstad se Michaelis-kunsskool voltooi het. Deur ses Europese tale op eie stoom onder die knie te kry het hy baie wyd gelees en homself op hoogte gehou van intellektuele strominge en debatte. Benewens sy ingeligte deelname aan die imagination au pouvoir kulturele rewolusie van Mei 1968 in Parys, het hy – soos getuig deur sy kennis van biblioteke en museums in sy omgewing, sowel as sy fenomenale boekery, homself lewenslank gedompel in die kuns-, lettere- en filosofiewêrelde van die Ooste, Afrika, Europa en Amerika.
Hoewel ek nie in ’n posisie is om verder oor Breytenbach se statuur in globale konteks uit te wei nie, is dit tog opvallend hoe sterk sy kuns en skrywe steeds aanklank vind by ’n aantal internasionale strominge en tradisies, veral dié waar gevestigde denke en kategorieë oor identiteit- of magspolitiek oorskry word, en dikwels gesetel is binne breër debatte van ballingskap en heimat; en kulturele hibriditeit. As uitgewekene, wat oral en nêrens tuis is nie, is sy fokus onder meer op etiese burgerskap, taal-as-tuiste, en ballingskap as skeppende praktyk, wat raakpunte verskaf met skrywers/digters soos Walter Benjamin, Federico García Lorca, Osip Mandelstam, Paul Celan en Mahmoud Darwish. Breytenbach se gevangenisbundels word eweneens geposisioneer in ’n wêreldwye tradisie van protes- of tronkliteratuur met die verskil dat sy gedigte getuig van baie meer as blote protes: As Zen-geïnspireerde denker wat werk binne Westerse literêre tradisies (en anders as baie Westerse skrywers wat Oosterse begrippe oppervlakkig gebruik), integreer Breytenbach Zen-epistemologie – en veral die konsep van identiteit as vloeibare deurlopendheid – as strukturele beginsel in die máák van kuns en poësie self, wat hom onder meer in gesprek plaas met digters soos Gary Snyder, en met die bewussynsfilosofie van ’n Evan Thompson.
Internasionaal gesproke vind Breytenbach se Zen-epistemologiese benadering in sy beeldende kuns ook treffend gestalte in die ensō en gongshi tradisies, juis omdat hy dit nie gebruik as dekoratiewe embleem nie, maar as uitdrukking van ’n oomblik wat nie deur ego-identifikasie begrens word nie en wat tydens die máák- of lees/kyk-proses ervaar word. Die Chinese ensō-tradisie dateer uit die 28ste eeu vC, van waar dit in die 5de eeu nC na Japan versprei het. Die sirkel wat met swart ink en kwas met die vrye hand in ’n enkele beweging aangebring word, is veronderstel om intense bewuswees uit te beeld tydens die spontane, enkele oomblik van die handgebaar (Seo, Audrey Yoshiko. 2007. Ensō; Zen circles of enlightenment. Weatherhill/Shambhala Publications). ’n Kort vers word gewoonlik in kalligrafie daarby aangebring. Breytenbach se aansluiting by die ensō tradisie word dikwels op speelse manier uitgevoer, maar hy is ernstig oor die gebruik daarvan as eenmalige uitbeelding van ’n enkele tydgreep: “You cannot change it – you don’t do it two times, you do it in one go.” (Katalogus van solo-uitstalling “Breyten” (3 September tot 30 Oktober 2021, Amsterdam): https://viewingroom.stevenson.info/viewing-room/47-breyten-amsterdam/)
Op soortgelyke wyse dui die menigvuldige uitbeeldings van ’n (spoel)klip in Breytenbach se latere visuele werk op die Chinese gongsji-tradisie van sogenaamde spirit rocks of scholar’s rocks wat gekoppel word aan die Chinese landskapkuns. Breyten se weergawe van die gongsji verbeeld – soos in Chinese kuns, ’n heelal in die kleine en herinner deur die ronde vorm daarvan terselfdertyd ook aan ’n ensō: die gestolde oomblik van uitruil en aangee tussen skilder en kyker wat ideaalgesproke deur die kunswerk tot stand kom.
Aansluiting by sekere strominge in veral die Franse kuns en poësie is ook voor-die-hand-liggend. Kenmerke van die simbolistiese digkuns (poésie symboliste) waar betekenis indirek gesuggereer word deur die gebruik van beelde, simbole, klank- en betekenispatrone, ritme, en die vermenging van sintuiglike waarneming, eerder as logiese beskrywing of vertelling, is eie aan Breytenbach se digkuns. Om net enkele voorbeelde te noem, dink ek aan die vernuwende taalgebruik van Charles Baudelaire, Paul Verlaine, en Arthur Rimbaud; Henri Michaux met sy surrealistiese verkenning van bewussyn, dikwels in beide geskrewe en visuele vorme , en Francis Bacon by wie se verwronge, ontstellende skilderkuns sommige Breytenbach-werke as verkenning van die syn aansluiting vind.
Die manier waarop Breytenbach homself identifiseer as terselfdertyd skrywer én visuele kunstenaar herinner aan die Dada en surrealistiese bewegings, waar die grense tussen skryf en skilder doelbewus vertroebel word. Dink maar aan Max Ernst, Jean [Hans] Arp, René Magritte en Salvador Dalì, wat benewens skilders ook skrywers of digters was en dieselfde surrealistiese beginsels in beide hul kuns en skrywe toegepas het. Dada en surrealisme was uiteraard interdissiplinêre strominge waar baie kunstenaars hulle visuele en literêre skeppings beskou het as twee eweknie metodes om onbewuste of anti-rasionele ervarings te vergestalt, en waardeur nuwe betekenis geskep word deur die onverwagte vermenging van sintuiglike waarneming en die byeenbring van verrassende teenstellings. Vandaar Breyten se eksplisiete en soms implisiete aansluiting by sogenaamde abbavaders (waarvan hy sommige ook geskilder het) as wegwysers van hoe hy intertekstueel te werk gegaan het en stylvorme transformeer het om dit sy eie te maak. Op hierdie wyse vind hy openlik aansluiting by tendense wat grensverskuiwend gewerk het en sy denke en praktyke gevorm het, en wat hom koppel aan die skeppingsbeginsel van kreatiwiteit-as-weerstand, en kunstenaars/skrywers wat vreesloos identiteit, ballingskap en die onbewuste verken het.
YT: Zijn er in het ruime studiegebied aspecten die tot op heden relatief weinig aandacht kregen? Zie je krachtlijnen in de benaderingen van Zuid-Afrikaanse en buitenlandse onderzoekers, in zekere mate bepaald door onderzoekparadigma’s die in het onderzoek in de loop van de tijd verschuiven of wisselen? Waarop kan het onderzoek zich nu, na het overlijden van Breytenbach, méér toeleggen?
Er worden de komende jaren veel wetenschappelijke en essayistische publicaties, wellicht ook promotieonderzoek, toegevoegd aan een inmiddels indrukwekkend corpus van beschouwende teksten (zie de bibliografieën in de huldigingsbundel voor Breytenbach Woordenaar woordnar, 2019). Zijn er richtingen die het onderzoek bij voorkeur uitgaat, al dan niet leunend op of in kritische dialoog met bestaande studies?
MS: My kennis van bestaande navorsing oor Breytenbach is weens die aard van my veranderde beroep beperk, en dit is moontlik dat my tentatiewe voorstelle hier nie van toepassing is nie. Maar ek waag die volgende:
Eerstens dink ek dat Breytenbach se toneelwerk meer aandag verdien omdat hierdie multisensoriese kunsvorm al sy voorliefdes byeenbring: taal, die visuele, en die rol van beweging om betekenis tot stand te bring. Soos in die eeue-oue mondelinge tradisie waar gebeure deur aktiewe opvoering oorvertel is, en ten spyte van woordelikse herhaling telkens uniek was, gevorm deur die spreker/uitvoerder se liggaamlike betrokkenheid (gebaar, toon en tempo) en die teenwoordigheid en deelname van die gehoor, ontgin Breytenbach op soortgelyke wyse die eenmalige betekenis wat telkens op die verhoog tot stand kom deur interaksie tussen klank, gebaar, die visuele, en die gevoel wat dit wek by die gehoor. Hoe vergelyk die ervaring van die toneelstuk met die ervaring van kuns kyk, of gedig lees? En hoe kan die begrip dat kuns nie uit die ek of ego ontstaan nie, maar uit voortdurende interaksie met, of weens onderlinge verhoudings tussen ander tekste, tradisies, vorme, lesers en kykers hier verhelderend wees? Die invloed van en intertekstualiteit met sowel eietydse Europese (veral Franse) as die klassieke Griekse teater (waarmee Breyten goed bekend was) sou byvoorbeeld vanselfsprekende sleutels bied tot beide Boklied en Verwelkingslied.
Tweedens bestaan daar vyf weergawes van Verwelkinglied wat Breyten telkens ‘voltooi’ het voor hy dan weer verder daaraan verander het, en dit sal interessant wees om die stuk se ontwikkeling te bestudeer wat hy onder die druk van ’n sperdatum oor ’n kwessie van weke geskryf het.
Derdens meen ek dat ’n behoorlike opname van al Breytenbach se visuele werk dringend nodig is, omdat daar nog baie te ontgin is in die aansluiting daarvan by veral sy latere bundels. Ek is oortuig dat studie hieroor binne ’n meta-modernistiese raamwerk nog vele insigte sal lewer, nie net in terme van die Breytenbach-oeuvre nie, maar ook tot die mate waarin sodanige insigte ons menswees kan toelig.
In die vierde plek is die aansluiting wat Breyten in sy laatwerk maak by die Sebald-tradisie (vernoem na die Duitse skrywer W.G. Sebald [1944–2001]) deur die gebruik van klein, swart en wit foto’s as integrale deel van ’n bundel vir my interessant. Ek meen dat Breytenbach hierdie tradisie op heel eiesoortige manier betree, wat ’n ondersoek na die bundels waar hy foto’s gebruik, sal regverdig.
YT: Tot slot, Marilet, wanneer het onderzoekdomein omtrent het literaire en artistieke werk wordt overschouwd, welke inzichten hebben jou als onderzoeker zelf veel bijgebracht en/of hebben de studie een bepaalde richting uitgestuurd?
Breytenbachs werk is omvangrijk en uitermate veelgelaagd. Het is onmogelijk vanuit een specifiek literatuur- of kunstwetenschappelijk standpunt de (inter- en intratekstuele of intermediale) veelzijdigheid te benaderen. Zijn er invalshoeken – probleemstellingen en onderzoeksvragen – die je voor een eigen voortgezette studie overweegt?
MS: My verkenning van die Breytenbach oeuvre in die negentigerjare was uit die invalshoek van Franse literêre teorie en die surrealisme as kunsstroming. Siende die laaste twee en ’n half dekades se gepubliseerde navorsing oor Breytenbach se werk destyds nog nie die lig gesien het nie, was dit eerder Breyten se eie oorwoë Zen-Boeddhistiese lewensbeskouing, veral soos wat dit in Boek (of Boek: Dryfpunt) (Taurus, 1987) vorm aanneem, wat my navorsing in ’n bepaalde rigting gestuur het. (Breytenbach het Boek geskryf terwyl hy aangehou is, spesifiek tussen Desember 1975 en Julie 1977. Die werk is eers in 1987 gepubliseer na sy vrylating uit die gevangenis in 1982.)
Sekere aspekte van die Boeddhisme was vir my vreemde terrein en dus ’n uitdaging. Gevolglik het ek my verdiep in studie van veral die Zen-geïnspireerde illusie van ’n afgesonderde self, en hoe skryf of skilder (of lees of kyk) op literêr- of kunsteoretiese wyse die tydelike ophef van ’n afgebakende ego kan bewerkstellig en daarmee die vermeende eksistensiële verweefdheid van alles kan verbeeld of verwoord. Hierdie beskouing, wat vir my die grondslag vorm van Breytenbach se denke, struktureer sy kreatiwiteit en maak daarvan ’n filosofiese poëtika van wording, van bewussyn. Ek vermoed dat ek enige verdere navorsing binne ’n sodanige raamwerk sal onderneem.
Lees ook:
Breyten schrijven #40: Postumiteiten voor Breyten. In gesprek met Alfred Schaffer
Breyten schrijven #39: Postumiteiten voor Breyten. In gesprek met Louise Viljoen
Breyten schrijven #38: Postumiteiten voor Breyten. In gesprek met Anke van der Merwe


