Naar aanleiding van de tweede herdenking van de sterfdag van Breyten Breytenbach (1939-2024) verschijnt een gelegenheidsbundel met getuigenissen van dichters, vertalers en vorsers. Het huldigingsboek wordt gepresenteerd op het symposium “Inter-Breyten. Breytenbach in context” (Universiteit Gent, 26-27 november 2026).
Postumiteiten voor Breyten. Door het oog van dichters en vorsers presenteert reacties van Zuid-Afrikaanse en enkele Nederlandstalige dichters op een reeks met vragen.

Daarnaast komen vorsers aan het woord in een tweede deel. Zij spreken over hun specifieke framing van Breytenbachs werk, de accenten die ze leggen in het wetenschappelijk onderzoek. Niet alleen schrijvers en vertalers construeren hùn beelden van Breytenbachs oeuvre, ook onderzoekers dragen bij aan de (academische) beeldvorming. Zij belichten hun persoonlijke leeservaringen en geven te kennen hoe zij een aandeel hebben in de beeldvorming van Breytenbach of dus de literaire postuur, met name de “heterorepresentatie”.
Voor het herinneringsboek reageren Zuid-Afrikaanse Breytenbach-experten op een vragenlijst. Een volgende gespreksgenoot in de reeks, intussen de achtste van tien genodigden, is Andries Visagie.

...
Wat my destyds geïnteresseer het, was die verskillende voorbeelde van manlike liggame wat gefragmenteer is en hoe selfs die dood as ’n manlike verkragter voorgestel is.
...
YT: Kun je in kort bestek een overzicht geven van het zelf ondernomen wetenschappelijk werk over facetten van Breytenbachs oeuvre? Welke framing – een benadering van literatuurwetenschappelijke, vertaalwetenschappelijke, kunstwetenschappelijke, cultuurhistorische, politiek-ideologische of biografische aard – kreeg daarbij de voorrang?
AV: Breyten Breytenbach se werk bied ryke stof vir die navorser en student. As doktorale student het ek in my proefskrif oor die representasies van manlikheid in die Afrikaanse prosa (1980-2000) ’n hoofstuk gewy aan Breytenbach se boeke Mouroir (1983), Dog Heart (1998) en Woordwerk (1999). ’n Verkorte weergawe van hierdie hoofstuk het verskyn in a.k.a. Breyten Breytenbach. Critical Approaches to his Writings and Paintings (2004) met J.U. Jacobs en Judith Lütge Coullie as redakteurs. Wat my destyds geïnteresseer het, was die verskillende voorbeelde van manlike liggame wat gefragmenteer is en hoe selfs die dood as ’n manlike verkragter voorgestel is.
Woordwerk was ook aanleiding vir my om na te gaan watter fasiliteringsrol Breytenbach vir Adriaan van Dis gespeel het met die skryf van Adriaan van Dis se novelle Palmwijn (in Afrikaans vertaal deur Abraham H. de Vries). Waarskynlik danksy sy vriendskap met Breytenbach het Van Dis ’n besoek aan die eiland Gorée aan die kus van Senegal gebring. Palmwyn is die resultaat van sy verblyf in Gorée. Dit was nog altyd my voorneme om Gorée te besoek om na te gaan watter spore van Van Dis se besoek aan die eiland daar te vinde mag wees. Ek moet maar voortgaan om die stuk uiteindelik te publiseer omdat so ’n studiereis, ten minste in die afsienbare toekoms, nie sal realiseer nie.
Meer onlangs het ek ’n hoofstuk bygedra tot Benno Barnard handboek (2024) met as redakteurs Carl De Strycker, Matthieu Sergier en Yves T’Sjoen. Die titel van die hoofstuk is ‘Voëls en die liriek: Benno Barnard en Breyten Breytenbach’. Voëls figureer baie gereeld in die werk van Breytenbach. In reaksie op Benno Barnard se gedigte oor voëls wat op LitNet verskyn het, het Breytenbach in Januarie 2024 ’n gedig ‘birdsmoke’ as antwoord op Barnard op LitNet gepubliseer. Die sangvoël as simbool van die digter en die transkulturele aard van die gedigte deur die twee digters het my gelei in my vergelykende studie van beide digters se verse.
YT: Zijn er onderzoeksbevindingen die je, het onderzoek overschouwend, onder de aandacht kunt brengen? Of anders gezegd: op grond van welke overwegingen kan Breytenbach een schrijver en beeldend kunstenaar van internationale allure worden genoemd?
AV: Twee van die studies wat ek oor Breytenbach onderneem het, is vergelykend van aard en verken sy verbintenisse met digters en skrywers uit die Lae Lande. Sy uitgebreide netwerk van vriende, medewerkers en kennisse asook sy fokus op Afrika, die Oosterse Zen-filosofie, en sy lewe in Frankryk en Spanje is die agtergrond waarteen sy eie unieke kosmopolitisme ontwikkel het. En soos dikwels die geval is by kosmopoliete in die republiek der lettere was Breytenbach se moedertaal nie net sy vertrekpunt nie, maar ook dikwels die spilpunt van sy aktivisme. Navorsers in Suid-Afrika en in Europa, met België as belangrike voorbeeld, werk onverpoosd voort om sy oeuvre te ondersoek. Jonger digters soos Alwyn Roux en Klara du Plessis sluit steeds aan by die poësie van Breytenbach en ek verwag dat die belangstelling in sy werk in Suid-Afrika maar ook in Europa lank ná sy dood sal voortduur.
Oor die dekades heen het Breyten Breytenbach ’n verwikkelde kode ontwikkel waarteen ’n mens sy werk behoort te lees om geldige insigte oor sy literatuur te kan formuleer. Die betekenismoontlikhede van perde, pampoene, honde, voëls, die maan, Zen en die ‘ek’ is enkele voorbeelde van die agtergrond wat nodig is om Breytenbach-geletterd te word. Dit skrik sommige lesers af en mag lei tot ’n tanende belangstelling in sy poësie. Gelukkig is daar baie goeie navorsing wat ondernemende lesers kan raadpleeg om Breytenbach se werk beter na waarde te skat.
YT: Zijn er in het ruime studiegebied aspecten die tot op heden relatief weinig aandacht kregen? Zie je krachtlijnen in de benaderingen van Zuid-Afrikaanse en buitenlandse onderzoekers, in zekere mate bepaald door onderzoekparadigma’s die in het onderzoek in de loop van de tijd verschuiven of wisselen? Waarop kan het onderzoek zich nu, na het overlijden van Breytenbach, méér toeleggen?
Er worden de komende jaren veel wetenschappelijke en essayistische publicaties, wellicht ook promotieonderzoek, toegevoegd aan een inmiddels indrukwekkend corpus van beschouwende teksten (zie de bibliografieën in de huldigingsbundel voor Breytenbach Woordenaar woordnar, 2019). Zijn er richtingen die het onderzoek bij voorkeur uitgaat, al dan niet leunend op of in kritische dialoog met bestaande studies?
AV: Francis Galloway het met haar boek Breyten Breytenbach as openbare figuur (1990) begin om fassinerende biografiese aspekte omtrent Breyten Breytenbach se lewe te verken. Yves, jou boeke oor Breytenbach is eweneens ’n waardevolle toevoeging oor die verbintenisse wat Breytenbach met aktiviste, skrywers en kunstenaars in Europa aangegaan het. Sedert sy dood begin ’n mens uitsien na ’n biografie oor hom. Min Afrikaanse skrywers het so ’n fassinerende lewe gehad, maar dit was ook ’n vol lewe met ’n groot oeuvre wat nagelaat is. Ek hoop dat daar ’n biograaf na vore sal tree wat kans sien vir die 85 lewensjare van Breyten Breytenbach. Wanneer Breytenbach se persoonlike argief eendag beskikbaar word vir raadpleging sal daar ongetwyfeld interessante en selfs opspraakwekkende materiaal tot die beskikking van die biograaf wees.
Breytenbach se laatwerk wat sedert Die singende hand. Versamelde gedigte 1984–2014 (2016) verskyn het, verdien meer aandag in die literatuurwetenskap. Sy teaterteks Verwelkingslied (2025) wat postuum gepubliseer is, wag nog op kritiese aandag.
Ek was getuie van Breyten Breytenbach se energieke pogings om die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch in 2015–2016 teen te gaan. As lid van die beweging Gelyke Kanse het hy saam met invloedryke intellektuele soos Hermann Giliomee en J.M. Coetzee hom beywer vir ’n toekoms vir Afrikaans as onderrigtaal by US. In Januarie 2016 het hy op uitnodiging van die US-konvokasie saam met Lovelyn Chidinma Nwadeyi deelgeneem aan ’n debat oor die vooruitsigte van Afrikaans en Engels as onderrigtale by US. Honderde mense het by die geleentheid na sy meevoerende toespraak geluister. Francis Galloway het in breyten breytenbach: woordenaar woordnar – ’n huldiging (2019) verslag gedoen van die gebeure by US. Haar hoofstuk met die titel ‘Breyten Breytenbach: Fragmente van sy loopbaan as skrywer en openbare figuur’ lê die grondslag vir verdere kritiese navorsing oor Breytenbach se verhouding met sy moedertaal en ook die ander tale waarin hy geskryf het.
YT: Wanneer het onderzoekdomein omtrent het literaire en artistieke werk wordt overschouwd, welke inzichten hebben jou als onderzoeker zelf veel bijgebracht en/of hebben de studie een bepaalde richting uitgestuurd?
AV: Wanneer ek blaai deur die plakboek wat ek op hoërskool in 1983 en 1984 saamgestel het uit letterkundige berigte wat in Afrikaanse koerante verskyn het, herlees ek graag André P. Brink se resensies van Breyten Breytenbach se publikasies. In Rapport (29 Januarie 1984, bl. 18) skryf Brink die volgende oor die gedig ‘Nekra’ uit (‘YK’) in ’n resensie met die titel ‘Is dit Breyten en Afrikaans se grootste dié?’: “En die hele vervloeiing van ‘normale’ sintaksis demonstreer dan ’n nuwe soort ‘grammatologie’ waarin die skryf-self ter sprake is, nie dit wat daar ánderkant, be-teken word nie.” Dit was danksy Louise Viljoen met haar proefskrif oor (‘YK’) (1988) en ook haar ander publikasies dat ek later ’n beter begrip ontwikkel het vir die poststrukturalistiese begrippe wat Brink hanteer het.
Deesdae verkry ek onontbeerlike kontekstuele inligting oor Breytenbach as literêre figuur in die boeke wat jy oor Breytenbach publiseer. Ek dink byvoorbeeld hier aan die afdeling ‘Breytenbach en Afrika’ uit De ontdekking van het eiland. breytenbachiana (2025) wat jy met die medewerking van Alwyn Roux geskryf het. Verder was dit vir my ’n intellektueel opwindende ervaring om Annika van der Linde se MA-tesis met as titel ‘Liriese subjektiwiteit en die vorming van self-bewussyn in die na-dood (2016) en op weg na kû (2019) van Breyten Breytenbach’ te begelei. Haar ondersoek na die aard van die self-bewussyn in Breytenbach se meer onlangse poësie maak met insigte uit die kwantumteorie waardevolle nuwe perspektiewe oop.
YT: Breytenbach werk is omvangrijk en uitermate veelgelaagd. Het is onmogelijk vanuit een specifiek literatuur- of kunstwetenschappelijk standpunt de (inter- en intratekstuele of intermediale) veelzijdigheid te benaderen. Zijn er invalshoeken – probleemstellingen en onderzoeksvragen – die je voor een eigen voortgezette studie overweegt?
AV: Ek dink dit is wel moontlik om vanuit ’n hoofsaaklik literatuurwetenskaplike hoek voort te gaan met navorsing oor die oeuvre van Breytenbach, maar ’n goeie greep op relevante biografiese en kontekstuele oorwegings sal die literatuurwetenskaplike in staat stel om sinvoller gevolgtrekkings te kan maak. Ek is byvoorbeeld nuuskierig om eendag Breytenbach se nagelate boekery deur te gaan. Wat het hy alles gelees en watter spore is daar van sy leeswerk in sy kreatiewe werk?
YT: Tot slot: Breytenbachs literaire werk is vertaald in meerdere talen en wordt mede dankzij het vertaalwerk internationaal gelezen en bestudeerd. Hoe heb jezelf, als particulier lezer of toeschouwer, het werk van Breytenbach ontdekt? Hoe verliep de eerste ontmoeting, wie heeft daar als beschouwer een bepalende rol in gespeeld? Welke teksten van Breytenbach waren voorgeschreven op school of aan de universiteit? Wat heb je zelf opgenomen op de leeslijsten voor studenten, teksten waarvan zou beslist hoogte moesten nemen? En ten slotte wat het receptieproces betreft: welke titels of kunstwerken van Breytenbach beschouw je zelf als hoogtepunten van de schrijvers- en kunstenaarsloopbaan?
AV: Ek kan nie onthou wanneer ek as skolier met Breyten Breytenbach se werk vir die eerste keer kennis gemaak het nie. Een herinnering is hoe ’n Stellenbosse musiekonderwyseres by Paul Roos Gimnasium tydens ’n eksamentoesigbeurt nogal selfvoldaan met Breytenbach se bundel eklips (1983) in haar hande verby my skoolbank gestap het. Ek het lankal vergeet die vraestel ek geskryf het, maar tot vandag toe wil ek weet van haar leeservaring van die bundel.
Op ’n boekrakkie in my slaapkamer as kind het daar ’n paar aankope van my ouers gepryk waaronder Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede (1963) deur Rob Antonissen, Kitaar my kruis (1962) van Adam Small, Die purper iris (1931) deur A.G. Visser, Sprokies van Venda (1977), Steenbok tot Poolsee (1955) van Peter Blum en ’n Seisoen in die paradys (1976) van Breytenbach. By US het ek in my eerste jaar lesings bygewoon oor gedigte waaronder vroeë gedigte van Breytenbach soos ‘bedreiging van die siekes’, ‘’n brief van hulle vakansie’ en ‘iets om aan te peusel in my igloo’. Die bundel (‘YK’) is in my honneursjaar deur prof. P.H. Foster deeglik en meesleurend met ons bespreek. Dr. Piet du Toit het ons laat kennis maak met Breytenbach se prosa en het onder meer ‘Die ontdekking van die beeld’ uit Mouroir (1983) bespreek.
As dosent het ek oor die jare heen my studente laat kennis neem van kortverhale soos ‘selfmoord 2’, ‘Die boenk’ en ‘Die fascistiese pampoen’ uit Katastrofes (1964) en ek het ook graag Die windvanger (2007) met my senior studente bespreek. Vir my is hoogtepunte uit Breytenbach se oeuvre sy tronkbundels (Die ongedanste dans), The true confessions of an albino terrorist (1984), Dog heart (1998) en Die windvanger. Dit is tekste wat my opvattings oor die literatuur telkens verruim het. Kortom, transformerende leeservarings.
Lees ook:
Breyten schrijven #43: Postumiteiten voor Breyten. In gesprek met Annika van der Linde
Breyten schrijven #42: Postumiteiten voor Breyten. In gesprek met Alwyn Roux

