Du Bois se erfenis kry nou eers waarlik betekenis

  • 0

Jacques, Gabriël en pa Gawie klink ’n glasie van hul Sonop Chenin Blanc 2025. (Foto: Clifford Roberts)

Wanneer jy in die vroeë middag deur die Moederstad se Breëstraat se bruisende kuns- en kosdistrik stap, is dit maklik om te verstaan hoekom Kaapstad se wynkultuur die wêreld se verbeelding bly aangryp. Ek ontmoet vandag drie manne wat dieselfde bloed, dieselfde van en dieselfde passie vir grond en wingerd deel: Gabriël (Gawie) du Bois Snr en sy twee seuns Gabriël Jnr en Jacques.

Tannin. (Foto: Mia van Heerden)

Ons afspraak is by Tannin, die indrukwekkende drieverdieping-wynkroeg wat ’n paar weke gelede deur Jessica Dupuy in Food & Wine as een van die wêreld se sewe top-wynkroeë aangewys is.

Met sy wynbiblioteek van meer as 400 Suid-Afrikaanse etikette, warm houtafwerkings en kunsbelaaide mure, is Tannin die perfekte verhoog vir hierdie ontmoeting. Om ’n uitsonderlike, plek-gedrewe wyn soos die nuwe Sonop Chenin hier te proe, omring deur die heel beste wat ons land se terroir bied en bedien deur ’n sommelierspan wat elke wingerd se storie verstaan, gee aan hierdie familie-erfenis die stedelike aksent en verhewe respek wat dit verdien. (Lees Jessica se artikel hier: https://www.foodandwine.com/worlds-best-wine-bars-11958103)

Die 2025-oesjaar is nou beskikbaar. (Foto verskaf)

Terwyl die eerste proeglase ingeskink word en die stadslewe buite verbyvloei, gesels ons oor die heel eerste Du Bois wat sy voet op Suid-Afrikaanse bodem gesit het. Dit is ’n storie wat dié drie mans met sigbare trots oorvertel.

Maar ons span nou die wa voor die perde, soos my oorlede ouma altyd gesê het. Die rede vir ons kuier is baie varser en meer opwindende nuus as François Gustave du Bois wat in 1839 as ’n jong man aan die ruwe Weskus van die Kaap gearriveer het.

Maar ons kom terug na hom toe.

Die Du Bois’s van Sonop in Bottelary het pas hul tweede oesjaar van hul eie Chenin Blanc bekend gestel.

Van ons land se mees gevierde Chenin Blanc-wynmakers koop al vir dekades hul vrugte op Sonop. In oestyd vroeg elke Februarie ry die bakkies met van die bedryf se mees ikoniese kelderlogo’s tussen die wingerdrye om die heel beste druiwe met die hand uit te soek. Hierdie vrugte is dan maande of selfs jare later gereeld op podiums om as bekroonde top-wyne vereer te word. Gerekende Britse wynskrywers soos Tim Atkin MW en Greg Sherwood MW is ook in vervoering oor die wyne.

Drie generasies bymekaar: pa Gawie, oupa Johan en die vierde geslag Jacques en Gabriël. (Foto: verskaf)

Maar die afgelope twee jaar hou die Du Bois-familie ’n noukeurig gekose fraksie van daardie selfde historiese wingerdblokke vir hulself uit. Uit daardie klein, kosbare aandeel skep hulle nou hul eie etiket, en wys hulle dat die vrug wat ander tot roem gebring het, hul eie familie-erfenis net só helder laat skyn. Gawie as patriarg en oorkoepelende boer en wingerdboukundige, Gabriël Jnr as wynmaker en Jacques as wingerdboukundige en plaasbestuurder.

Toe François Gustave – wie se van letterlik “van die bos” beteken – bykans 190 jaar gelede aan wal gestuur is om hout vir die skip te versamel, kon hy nie sy toekoms hier voorspel nie. Toe sy oë oor die vlaktes van die Weskus gegly het, het sy aanvanklike planne om na Kaapstad te reis en dalk ’n nuwe begin in die Franse Hugenote-vestiging van Franschhoek te soek, soos mis voor die son verdwyn.

Die betowerende skoonheid van die Weskus het hom heeltemal oorrompel. Sy nuuskierigheid het hom na Jacobsbaai, ’n plek van stille prag, gelei en só het die Du Bois-voetspoor in Suid-Afrika begin.

Maar die familie se wortels strek selfs dieper terug na Europa en die Nederlandse geskiedenis, hoor ek.

Toe die Edik van Nantes in 1685 herroep is, het duisende Franse Hugenote – insluitend die Du Bois-voorvaders – na die Nederlandse Republiek geseil, waar stede soos Amsterdam en Middelburg as ’n hawe van godsdienstige vryheid gedien het. Vandaar het baie Hugenote via die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie na die Kaap gekom.

Wanneer Gabriël die familiewapen op die wynetiket uitwys, sien ek hierdie hele geskiedenis daarin opgevang. Die oorspronklike familiewapen beeld ’n brullende leeu uit tussen twee gekapte boomstompe, met die leuse: “Hold on to your faith.”

“Vir die Hugenote het dit gehandel oor die vryheid van uitdrukking,” verduidelik Jacques. “Vir ons vandag verteenwoordig daardie leeu ’n nuwe era. Dit spreek van moed, vasberadenheid en die kontinuïteit van ons familie. En die bosstokke op die wapen herinner ons aan die oorvloed wat hierdie skaliegronde elke seisoen vir ons gee.”

Die verhaal van die plaas self begin by Gawie se oupa Nicolaas du Bois. Nicolaas het as wingerdkundige op die bekende plaas Uitkyk gewerk, voordat hy in 1931 die grond in Bottelary gekoop het.

“My oupa het aanvanklik oorweeg om die plaas Windheuwel te noem,” vertel Gawie met ’n glimlag. “Die winde kan maar kwaai oor daardie bult waai. Maar toe hy sien hoe die eerste môrelig so sag op die hange kom sit, het hy besluit op Sonop. Vir hom – en vir ons vandag – verteenwoordig dit ’n nuwe daeraad.”

Die unieke terroir van Bottelary, waar die ou bosstokke knoestig en diepgewortel in die rooi en blou skaliegrond staan, 240 tot 280 meter bo seevlak. (Foto verskaf)

Daardie môrelig val vandag nog eerste op die twee historiese wingerdblokke wat in 1982 en 1986 op die noordelike en oostelike hange van Sonop-heuwel geplant is. Vir meer as 40 jaar versorg die familie hierdie ou bosstokke en word die druiwe aan ander bekende kelders verkoop.

Ek vra vir Gabriël hoe dit gevoel het om groot te word op ’n plaas waar die druiwe altyd in iemand anders se bottels beland het. Hy het immers vyf jaar lank as assistent-wynmaker onder die bekende wynmaker Chris Alheit by Hemelrand deurgeloop, voordat hy teruggekeer het huis toe. Wyn vloei ook in sy are.

“Ons het vir jare toegekyk hoe ons druiwe deel word van ander mense se stories,” sê Gabriël rustig, maar met ’n duidelike nostalgie in sy stem. “Dit was altyd ’n enorme eer om ons vrugte in van die land se mees gesogte wyne te sien. Maar om uiteindelik huis toe te kom en wyn van die druiwe uit jou eie grond te maak ... Dit voel soos om ’n storie klaar te skryf wat al geslagte gelede deur ons voorvaders begin is.”

Wat my die meeste tref terwyl ons daar rondom die tafel by Tannin sit, is die natuurlike wisselwerking en respek tussen pa en seuns. Hulle vul mekaar se sinne aan, spog onbeskaamd met mekaar se werk en deel dieselfde visie vir die landgoed.

Toe hulle in November verlede jaar hul eerste eie oesjaar – die 2024 – bekend gestel het, was die reaksie oorweldigend. Die hele oes het binne vier maande uitverkoop.

“Dit was fantasties dat mense ons wyn gekoop het en dat dit so vinnig uitverkoop het,” sê Gawie met die beskeidenheid van ’n man wat sy hele lewe lank met dié grond werk en weet waartoe die druiwe in staat is.

“Nou het ons ons volume ’n bietjie vergroot. Ek is ongelooflik opgewonde oor ons tweede oesjaar. Vir my persoonlik is 2025 selfs nog beter.”

Jacques knik en stem saam met sy pa. “Dit is ’n absolute eer en voorreg om hierdie droom saam met my pa en my broer te leef,” sê hy. “Ons het verlede jaar beslis in die diep kant ingespring. Daar is ’n groot verantwoordelikheid op ons skouers, maar ek is opgewonde oor wat voorlê. Gabriël het ongelooflike werk in die kelder gedoen. Hoewel die wyn nou heerlik is, gaan dit net beter word met veroudering.”

Terwyl ons die glase met die skaars 2024-oesjaar teen die lug draai en die wyn kans gee om asem te skep, dra die Tannin-span kougoed aan om te wys hoe goed die wyn met kos pasmaat.

Tussendeur gesels Gabriël oor die unieke terroir van Bottelary, waar die ou bosstokke knoestig en diepgewortel in die rooi en blou skaliegrond staan, 240 tot 280 meter bo seevlak.

“Dié landskap het ’n eeue-oue geologiese geskiedenis,” verduidelik hy. “Eeue gelede het daardie heuwel waarop ons staan as ’n eiland uitgestaan in ’n antieke see, wat die hele Bottelary-vallei bedek het. Laer af na die vallei kry jy ysterryke gronde, wat ons koffieklip noem. Hierdie samestelling van skalie en klei gee vir die wingerd ’n natuurlike vogreserwe en ’n baie spesifieke mineraliteit.”

Die koel briesies wat vanaf Valsbaai oor die heuwel waai, keer dat die stokke te geil groei en konsentreer die geure in die klein druiwekorrels. Dit is ’n terroir wat nie gejaag kan word nie; dit eis geduld en deurdagte werk.

Die nuut vrygestelde Du Bois Vineyards Sonop Chenin Blanc 2025 is volgende in ons glase. Hier by Tannin – tussen van die land se mees bekroonde en geliefste wyne – staan hierdie Chenin breëbors. Hier is geen ingewikkelde kelderjargon nodig nie; die wyn praat vir homself.

Dit is liggoud in die glas en die geur van wit blomme en delikate perske tref jou dadelik, gevolg deur ’n subtiele, hartlike speseryagtigheid. Wanneer jy ’n teug neem, ontvou lae van wit peer, groen appel en pomelo, skerp en vars geure met ’n souterige sweempie en daardie kenmerkende, gruisagtige mineraliteit van die Bottelary-skalie.

Daar is ’n pragtige tekstuur in die mond – die stempel van ou bosstokke wat nie kunsmatig gedwing is nie, maar toegelaat is om die seisoen eerlik te weerspieël. Gabriël het die wyn in ou 500 liter houtvate verouder om die natuurlike varsheid en presisie van die vrug te beskerm.

Slegs 5 500 bottels is gemaak en Gabriël beduie dit sal pragtig verouder, “mits jy jou hande lank genoeg daarvan kan afhou,” vertel hy met ’n groot glimlag.

Toe ek enkele ure later by Tannin uitstap in die koel Kaapse naglug in, besef ek net weer dat wyn veel meer is as net ’n drankie in ’n glasie. Dit is die somtotaal van ’n familie se geskiedenis.

Dit is die storie van François Gustave wat in 1839 met sy byl moes houtkap; van Oupa Nicolaas wat in 1931 na die môrelig oor die hange gekyk het en besluit het om die plaas Sonop te noem; en van Gawie, Gabriël en Jacques wat vandag skouer aan skouer as derde en vierde geslag die grond bewaar.

In ’n wêreld waar alles haastig en vlietend is, het die Du Bois-familie gewys wat gebeur wanneer jy met geduld oor geslagte heen aan jou grond en jou geloof vashou. Hulle het nie net hul eie wyn gemaak nie; hulle het hul eie verhaal voltooi en die fondasie gelê vir dié wat ná hulle gaan kom.

Christian Eedes skryf oor die Du Bois Chenin: “Die resultaat is ’n wyn van presisie, terughouding en ’n stille selfvertroue.” Hy ken die wyn 94/100 toe.

Greg Sherwood MW gee een punt meer en skryf oor die Du Bois Vineyards Sonop Chenin Blanc 2024:

Still embryonic, so lock this Chenin Blanc up in the cellar and revisit with interest in 2 to 3 years’ time. A phenomenal maiden release, Gabriel du Bois is definitely an exciting new young talent to watch very closely.

Dit is nog in sy beginstadium. Bêre hierdie Chenin Blanc dus in die kelder en kyk oor twee tot drie jaar weer met belangstelling daarna. Die wyn is ’n fenomenale debuutvrystelling en Gawie is beslis ’n opwindende jong talent om fyn dop te hou. Drink van 2027 tot 2038+.

Dis so lekker om sulke historiese mylpale te vier binne ’n groter Stellenbosch-wyndistrik waarin Stellenbosch Wynroetes en sy 130 ledeplase vanjaar hul 55ste bestaansjaar vier.

As die land se oudste en grootste wynroete, bly Stellenbosch die onbetwiste pasaangeër vir innovasie en volhoubare wyntoerisme in die “Nuwe Wêreld”. Dié georganiseerde netwerk van plase word wêreldwyd as ’n rolmodel gesien – soveel so dat wynroete-bestuurder Elmarie Rabe gereeld plaaslik en internasionaal genooi word om hul suksesresep te deel.

Die visioenêre stigters, Frans Malan (Simonsig), Niel Joubert (Spier) en Spatz Sperling (Delheim), sou skaars kon glo hoe hul idee gegroei het. Sedert dié eerste roete in 1971 gestig is (wat in 2002 na vyf subroetes uitgebrei het), spog Suid-Afrika vandag met 23 wynroetes en ’n Cape Brandy-roete oor vyf provinsies.

Die saadjie is al in 1969 in Boergondië, Frankryk gesaai. Frans en Niel het gesien hoe Franse kelders hul deure langs die Route des Vins vir die publiek oopstel. Hierdie eenvoudige konsep het Frans – wat reeds ’n pionier was met Simonsig se eie etiket en Suid-Afrika se eerste vonkelwyn – se kop aan die dink gesit.

Terug op eie bodem het hulle Spatz betrek om lede te werf. Die uitdaging was egter enorm: Wynplase was toe bloot produksie-eenhede sonder proelokale of bemarking. Toe net één uit 15 plase op ’n uitstuurvraelys reageer, het Frans droogweg opgediep: “Jy ken nie my mense nie. Hulle sal nooit ’n brief beantwoord nie.”

Die trio het toe nie op hul hande gesit nie. Hulle het van deur tot deur gery om hul kollegas te oortuig. Dit is danksy dié tipe vasberadenheid dat die land se eerste wynroete sy deure vir die wêreld kon oopgooi.

Lees ook:

Storie van Pinotage is vervleg met vriendskap en pioniersgees

Unieke wynprojek eer tradisie en vernuwing

Various milestones celebrated at Stellenbosch’s Meerlust Wine Estate

Groot jaar vir Lord’s se Oosthuizens

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top