
’n Hele kosskat wag in ons vlakwaters.
Baie van ons geniet ’n wyn-en-kos-pasmaat-spyskaart: Iemand anders – gewoonlik die sjef of sommelier of wynkelner – pas die geure in jou wynglas by die regte smake op jou bord. Die nuutste neiging is om Suid-Afrika se eiesoortige bestanddele, soos boegoe of fynbos of maketaan of rooibos, voor te sit.
Ek het die afgelope maande die voorreg gehad om verskeie hiervan in die Moederstad en op Stellenbosch met ons land se voorste sjefs te ervaar: De Tafel met Gregory Henderson in Rondebosch; Urchin The journey met Marcus Gericke in die Bo-Kaap (wat nou die prys gewen het vir Afrika se Beste Fynproewers-ervaring 2026 en Suid-Afrika se Beste Kulinêre Ervaring 2026); Upper Union met Amori Burger in Kloofstraat; The Test Kitchen Fledgelings met Luke Dale Roberts in Woodstock; VUUR met Shaun Scrooby; en vele meer. Die onlangse ervaring was by Heirloom.
Maar seewier van die strand wat in disse gebruik word en wyn daarby, is ’n nuutjie vir my.
Maar wag, ek span die wa voor die perde in, of dalk die seeperdjie voor die soutwater, of hoe?
In ’n era waarin gesondheidstendense kom en gaan, en die soeke na volhoubare kosbronne dringender as ooit is, lê een van die wêreld se rykste superkosskatkamers reg voor ons oë – of beter gesê, onder ons voete langs ons ryk kuslyne.

Lindy Taverner
“Die praktyk van volhoubare snuffelkosversameling (sustainable foraging) ondergaan tans ’n kragtige herlewing onder leiding van inisiatiewe soos Reserve Edge Wild Food. Dit herinner ons daaraan dat voedsame, geurige bestanddele nie altyd in plastiek verpak hoef te wees nie. Die natuur voorsien dit gratis, mits ons weet waar om te kyk en hoe om dit met respek te oes,” vertel Lindy Taverner ons op Melkbosstrand se wit sand.
Goed, jy het my aandag!
Voor haar is ’n tafel oortrek met verskillende soorte seewier.
In die parkeerterrein staan die bussie van Durbanville Wine Safari wat die Durbanville Wynvallei se skatte aan toeriste ontbloot. Twee van die bussie se mense, Joss Terry en Karli du Toit, is juis deel van ons uitstappie, want ons het al ligdag begin met borrels by Durbanville Hills-wyne se pragtige dek buite die Tangram-restaurant voor ons Melkbos toe gery het.

Annemarie Fick en Lindy Taverner
Annemarie Fick, bestuurder van die Durbanville Wynvallei, en Charles Hopkins van De Grendel het ’n kort oorsig oor die vallei se wyne en terroir gelewer, gevolg deur Morgan Steyn van De Grendel, Kobus Gerber van Durbanville Hills en Mari Branders van Diemersdal, wat die koel klimaat geloof het en sy bekendheid vir sauvignon blanc, wat hier in die valleie gedy.
Lindy vertel: “In Ysland word seewier reeds sedert 960 vC geëet. Chinese poësie uit 800 vC besing die fyn gehalte van seegroente. In Hawaii het die adel seewiertuine aangehou; hulle het seldsame en uitgesoekte soorte na ’n beskermde plek naby hul strandwonings verskuif en die minder gewenste spesies verwyder.
“Seewier vorm steeds ’n belangrike deel van die dieet in die meeste Oosterse kulture, en in Rusland, op die Kamtsjatka-skiereiland, word Palmaria palmata gefermenteer en as ’n alkoholiese drankie gebruik. Porphyra (bekend as nori in Japannees, kim in Koreaans en chi choy in Chinees) is die soort wat die meeste geëet word.
“Dit word ook in Skotland, Ierland en Wallis gebruik in variasies van ’n basiese resep: Kook dit totdat dit ’n papagtige massa vorm, dreineer die water, rol dit dan in hawermout en braai dit in ’n bietjie olie.”
Die goue reëls van volhoubare versameling
Voordat jy jou mandjie gryp en jou kus toe haas, is dit noodsaaklik om te verstaan dat die natuur se hulpbronne beskerm moet word. Volhoubare versameling beteken dat jy slegs in gebiede oes wat nie besoedel is nie. Oes slegs wat jy nodig het en wat jou permit toelaat, en maak altyd seker dat die plante of seewiere wat jy pluk, gesond en volop is.
Wanneer dit by seewier kom, is die tegniek van kardinale belang: Sny dit altyd van die rotse af in plaas daarvan om dit uit te trek, sodat die vashou-organe (holdfasts) ongeskonde bly vir hergroei. Neem slegs die helfte van ’n spesifieke plant. Veiligheid is ewe belangrik – oes tydens laagwater naby die getylyn, hou altyd die golwe in jou visier, en respekteer die ryk diversiteit in die rotspoele.
Lindy sê voorts in Suid-Afrika is daar uit die sowat 850 spesies wat langs ons 3 000 km lange kuslyn voorkom, slegs een soort seewier wat mens nie kan eet nie: Desmarestia firma, wat heel gepas algemeen as “suurwier” bekend staan.
Seegroente: die oseaanskatkis
Seewier is ’n mineraaldigte makroalg wat ryk is aan kalsium, vitamiene A tot K, yster, en selfs die skaars plantaardige vitamien B12. Dit is ook ’n uitstekende bron van jodium, wat noodsaaklik is vir ’n gesonde skildklier.
Die eetbare seewiere word in drie kategorieë verdeel:
- Bruin seewiere (Phaeophyceae)
- Kelp (seebamboes): Dit is die vinnigs groeiende seewier en uiters volhoubaar. Die ligter punte is heerlik as groente- of pastaplaasvervanger nadat dit vinnig in water met ’n bietjie asyn gekook is. Die taaier stamme is perfek vir piekel. Dit bring ’n ryk umamigeur na borde, stowe en soppe.
- Hangende seebreuk (hanging wrack): Die ligter punte van die blaaie is heerlik rou in slaaie of ligweg geroerbraai.
- Sargassum: Geurige blare wat perfek pas in geregte met klapper, knoffel en rissies.
- Dooie-man-se-vingers (dead-man's fingers): Hierdie unieke seewier is gevul met ’n taai slymvloeistof wat as ’n natuurlike gesigmasker gebruik kan word om die vel plomp en gehidreer te laat voel.
- Groen seewiere (Chlorophyta)
- Seeslaai: Helder, smaraggroen blare wat rou in slaaie gebruik kan word of soos spinasie gekook kan word. Dit is baie ryk aan kalsium en magnesium. Wanneer dit gedroog en gerooster word, maak dit ’n uitstekende umamispesery.
- Rooi seewiere (Rhodophyta)
- Rooilinte: Hierdie spesie is ryk aan agar-agar (’n natuurlike jelliemiddel). Deur dit te kook kan jy die jel onttrek om heerlike, natuurlike panna cottas of vrugtejellies te maak.
- Nori (Porphyra capensis): Dit bevat tot 35% proteïen. Dit is uitsonderlik wanneer dit in die oond of lugbraaier met ’n bietjie olyfolie en sout gerooster word om bros “nori-skyfies” te maak.
Inheemse veldkos en wilde kruie
Beweeg ons weg van die rotspoele na die sandduine en binnelandse velde, tref ons ’n ewe indrukwekkende verskeidenheid inheemse plante aan wat tradisioneel as kos en medisyne dien.
- Duinspinasie (Tetragonia decumbens): ’n Souterige, vlesige blaar wat perfek werk in aartappelslaai of roerbraaie met baie botter. Dit verloor van sy soutgeur wanneer dit gekook word.
- Duinseldery: ’n Meerjarige kruieplant waarvan die blare en blomme baie soos gewone pietersielie en seldery proe, met ’n uitstekende raklewe.
- Spekboom (Portulacaria afra): Hierdie bekende Suid-Afrikaanse plant het sappige, glansende blare met ’n skerp, suur geur, ryk aan vitamien C. Dit kan rou in slaaie gebruik word, gepiekel word, of selfs fyngekap ingemeng word by luukse sjokoladebruintjies.
- Suurvy (Carpobrotus edulis): Die sap van hierdie vlesige blare is ’n bekende natuurlike pleister vir oop wonde, bloublasiesteke en seer kele, terwyl die ryp vrugte gebruik kan word om heerlike konfyte te kook.
- Wildeals (Artemisia afra): Een van Suid-Afrika se bekendste medisinale teeplante wat ingespan word teen koors, verkoue, griep en maagkwale.
- Brandnetel (Stinging nettle): Ten spyte van sy pynlike steekhare is brandnetel ’n voedingskragbron propvol aminosure, vitamiene en minerale. Sodra dit gekook of gedroog word, verdwyn die steek heeltemal en kan dit veilig in bredies, sop of as ’n genesende tee geniet word.
- Veldkool (Trachyandra ciliata): Hierdie inheemse wilde produk is beskikbaar van Julie tot vroeg September. Die groen lote en knoppe proe en lyk baie soos aspersies en is heerlik wanneer dit ligweg in botter met knoffel en suurlemoen gebraai word.
Bring die wildernis na jou kombuis
Om met wilde kosse te kook vereis nie ’n sjefsdiploma nie, net ’n bietjie kreatiwiteit, verduidelik Lindy. Die boodskap van volhoubare snuffelkos is duidelik: Deur met aandag en respek na ons natuurlike omgewing te kyk, kan ons ons dieet verryk met kosse wat nie net supervoedsaam is nie, maar ons ook dieper verbind met die land en see wat ons ons tuiste noem. Dit is tyd om die inheemse geure van Suid-Afrika te vier!
Maar gelukkig is ons dag nog in sy babaskoene – die groot fees lê voor by De Grendel, waar twee sjefs, Martin de Kock van Diemersdal-wynlandgoed en David Wilson van De Grendel wynlandgoed, saam in die kombuis werskaf om vir ons ’n onvergeetlike maal met seewier as basis te berei.
En met die wynplase van die vallei wie se sauvignon blancs weer hoogty gevier het in die onlangse Veritas-toekennings én die FNB Top 10-sauvignon blanc-kompetisie lê ’n heerlike bederf vir ons voor.
Voor ons aansit, kan ons eers van die vallei se wyne proe, en die wyne is ook in groepe opgedeel vir voorgereg, hoofgereg en nagereg. Nog ’n unieke pasmaat. Ons smul aan tuna ceviche met ponzu en forelkaviaar en ’n ryskoekie met seewierstof; en geklopte bokmelkfeta met beet, bloekomheuning en pistachio vir peuselhappies.

Voorgereg
Saam met die voorgereg Klipkombersaftreksel, tongslaaitempura, geposjeerde krap, pekelseldery en duinspinasie is die Durbanville Sauvignon Blanc 2026; D'Aria Sauvignon Blanc 2026; Groot Phesantekraal Sauvignon Blanc 2026 en Hillcrest Sauvignon Blanc 2025 bedien.
Die vishoofgereg van fyn boontjies, komkommer, babavinkel, kekerertjie en ’n mosselvelouté is met Durbanville Hills Collectors Reserve Cape Mist Sauvignon Blanc 2025, Mellish Bakenkop Blanc Fumé 2024, Klein Roosboom Limited Release Blanc Fumé 2025, en Maastricht Contour Sauvignon Blanc 2025 bedien.
Nagereg, amasi parfait met bamboessoetgoed, seewaterbotterkaramel en yuzu, is met Meerendal Sparkling Sauvignon Blanc 2025, Nitida Wild Child Sauvignon Blanc 2025, Diemersdal The Globe Sauvignon Blanc 2024, en De Grendel Sauvignon Blanc Noble Late Harvest 2025 voorgesit.
Ek kyk nou met ander oë na seewier. Maar sal dalk nog ’n werkswinkel met Lindy moet doen,, voor ek self seewier versamel en berei.
En toe ek later saam met vriende twee van die wen-Sauvignons, die De Grendel Koetshuis Sauvignon Blanc 2025, en Groot Phesantekraal Marizanne 2025 met vars gebraaide geelstert geniet, besef ek weer hoekom hierdie Suid-Afrika se geliefdste witwyn is.
Kitsfeite
- Vir diegene wat belangstel om meer te leer oor die identifikasie en voorbereiding van wilde kosse bied Reserve Edge Wild Food gereeld aanlyn en persoonlike werkswinkels aan. Loer by www.rewildfood.co.za.
- As jy die lekker uitstappie saam met die bussies van die Durbanville Wine Safari wil meemaak, bespreek by https://durbanvillewinesafari.com.
- Vir meer inligting oor die lede van die Durbanville Wynvallei en die bekroonde wyne wat hulle maak, loer by https://durbanvillewine.co.za.
- Om te sien hoe goed Durbanville Wynvallei se sauvignon blanc nou eintlik is, loer by die 2026-uitslae van die Veritas-toekennings (https://veritas.co.za) of bestel die wenners by https://vinoveritasbyctp.co.za en ook die FNB Top 10-sauvignon blanc-toekennings (https://sauvignonblanc.com/fnb-sauvignon-blanc-sa-top-10-2026-20-years) en koop sommer die Top 10-wenners by Get Wine.
Foto’s: Clifford Roberts en Light Lounge Studio
Lees ook:
Die reuk van rook en die kuns van langsaam kuier: VUUR Goose Island

