Afrika systap nog gevreesde Covid-19

  • 0

...........

“Een van die grootste vrese is dat Afrika met sy swak mediese stelsels nie in staat sal wees om dit te hanteer as die virus in veral die armer lande sou begin versprei nie.”

...........

Die koronavirus, of Covid-19, is besig om stadig maar seker al hoe nader aan Suid-Afrika te beweeg, maar gesondheidskenners sê daar is nog niks om oor paniekerig te raak nie.

Daar is slegs enkele gevalle van die virus in Afrika bevestig. Die hoop dat die virus tot China beperk sou kon word, het egter verdwyn namate dit besig is om wêreldwyd te versprei.

Volgens die jongste inligting het meer as 2 800  mense sover gesterf as gevolg van Covid-19 en is meer as 83 000 mense daardeur geaffekteer.

Foto: Pixabay.com

Altesaam 151 Suid-Afrikaners wat hulle in Wuhan bevind het waar die virus op sy ergste is, behoort binnekort terug te wees in Suid-Afrika. Die minister van binnelandse sake, Aaron Motsoaledi, wat deel is van die interministeriële komitee wat Suid-Afrikaners van China gaan terugbring, het aansprake ontken dat Suid-Afrika nie ’n uitbreking van die koronavirus sal kan hanteer nie.

Die regering gaan binne die volgende 10 dae die 151 Suid-Afrikaners in Wuhan na die land terugbring. Hulle sal by aankoms in Suid-Afrika in kwarantyn geplaas word. Motsoaledi het by ’n mediakonferensie by die OR Tambo-lughawe gesê Suid-Afrika is daartoe in staat om enige gebeurlikheid te hanteer.

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, SAMA, het sy kommer uitgespreek oor of Suid-Afrika daartoe in staat is om ’n groot aantal mense in kwarantyn te plaas ten opsigte van die koronavirus.

SAMA se voorsitter, Angelique Coetzee, sê ’n kwarantyngebied moet voldoen aan die bepalings en vereistes van die Wêreldgesondheidsorganisasie én alle korrekte prosedures moet gevolg word. Coetzee sê dat geeneen van dié wat teruggebring gaan word, die virus opgedoen het nie. Hulle sal dus anders hanteer word, en nie op dieselfde plek as siek mense in kwarantyn wees nie.

Van die 201 Suid-Afrikaners in Wuhan het 16 besluit om nie saam met die ander 151 huis toe te kom nie.

Gesondheidsamptenare in Nigerië het bevestig dat talle mense in daardie land in aanraking was met ’n Italiaanse man wat die eerste bevestigde koronageval in Afrika suid van die Sahara is.

Suid-Afrika se minister van gesondheid, Zweli Mkhize, sê die plek waar die Suid-Afrikaners in kwarantyn geplaas sal word, is reeds geïdentifiseer en voldoen aan die nodige vereistes. Om veiligheidsredes wou hy nie sê waar dit is nie. Die kwarantyngebied, by ’n militêre basis, sal onder streng bewaking van die Suid-Afrikaanse Weermag wees. Selfs familielede van diegene onder kwartyn sal nie toegelaat word om hulle te besoek nie.

...........

“Volgens die jongste inligting het meer as 2 800  mense sover gesterf as gevolg van Covid-19 en is meer as 83 000 mense daardeur geaffekteer.”

...........

Mediese kenners is tegelyk verbaas en verlig dat daar tot dusver nog slegs drie bevestigde koronavirusgevalle in Afrika is. Een van die grootste vrese is dat Afrika met sy swak mediese stelsels nie in staat sal wees om dit te hanteer as die virus in veral die armer lande sou begin versprei nie.

In ’n studie wat in die mediese joernaal The Lancet gepubliseer is rakende die vatbaarheid van Covid-19 op die kontinent, het ’n internasionale span wetenskaplikes Suid-Afrika, Algerië en Egipte geïdentifiseer as die mees waarskynlikste lande in Afrika van waar die virus na die res van Afrika kan versprei. Hulle voeg egter by dat dié lande ook die beste in Afrika daarop voorbereid is.

Niemand weet presies waarom Afrika tot dusver so lig daarvan afgekom het nie. Een van die redes is volgens sommige omdat daar nie soveel tussen Afrika en China gereis word nie. Afrika se grootste lugredery, Ethiopian Airlines, het nog geen vlugte na China opgeskort sedert die epidemie uitgebreek het nie.

Lees ook

Dodelike koronavirus op pad na Suid-Afrika

Suid-Afrika gereed vir dodelike koronavirus

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top