Akademie kap minister oor stereotipering van Afrikaans

  • 0

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns sê die minister van hoër onderwys en opleiding, Blade Nzimande, se uitsprake oor Afrikaans is ’n belediging vir die Afrikaanse taalgemeenskap.

Die Akademie se reaksie volg op uitsprake wat Nzimande gemaak het na aanleiding van die Konstitusionele Hof se uitspraak oor Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit Stellenbosch (US).

Die Konstitusionele Hof het verlede Donderdag beslis die US se 2016-taalbeleid is grondwetlik regverdigbaar. Die organisasie Gelyke Kanse wou gehad het die 2016-taalbeleid wat voorkeur gee aan Engels as onderrig- en administratiewe taal moes tersyde gestel word en dat die 2014-beleid van krag bly.

Nzimande het die hofuitspraak wat Engels as voorkeurtaal bevestig, verwelkom. Hy het baie Afrikaanse mense warm onder die kraag gehad toe hy gesê het Afrikaans word gebruik as ’n middel om “’n bekrompe en rassistiese Afrikanernasionalistiese agenda na te streef soos in apartheid”.

Blade Nzimande (Foto: Wikimedia Commons)

Die SA Akademie sê in ’n verklaring hulle betreur die minister se uitlatings oor die Afrikaanse taalgemeenskap.

“Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns distansieer hom met groot nadruk van Blade Nzimande se uitgediende stereotipering van die Afrikaanse taalgemeenskap soos berig op 14 Oktober 2019 op Netwerk24.”

............

“Die Akademie wil by die minister weet wat die onbedoelde gevolge en skade sal wees in die groot poging om van Afrikaans as onderrigtaal ontslae te raak.” 

............

Die Akademie sê om stééds in 2019 te wil argumenteer dat die gebruik van Afrikaans, ’n inheemse taal wat ten volle ontwikkel het as ’n akademiese en wetenskapstaal, ’n middel is om “’n bekrompe en rassistiese Afrikanernasionalistiese agenda na te streef soos in apartheid”, nie net ’n belediging vir die Afrikaanse taalgemeenskap is nie, maar ’n powere poging om politieke munt te slaan uit die Konstitusionele Hof se uitspraak oor US se taalbeleid.

Die SA Akademie sê hy neem kennis maar is bekommerd dat die minister die hofuitspraak as “’n oorwinning” oor ’n vermeende Afrikaanse hegemonie beskou.

“Ons wys graag die minister daarop dat die hegemonie van Afrikaans wat 30 jaar gelede in die tagtigerjare in die hoër onderwys bestaan het, nou mos vervang is met ’n Engelse hegemonie, ten koste van ons inheemse tale. Daar kan geen sprake meer wees van ’n Afrikaanse hegemonie nie. Afrikaans is tot onlangs slegs op enkele universiteitskampusse saam met ander tale gebruik.”

Die Akademie wil by die minister weet wat die onbedoelde gevolge en skade sal wees in die groot poging om van Afrikaans as onderrigtaal ontslae te raak. “As ons sê Afrikaans word gebruik om uit te sluit, wie word nie almal deur Engels uitgesluit nie? Alle tale is mos dan uitsluitend vir niesprekers of tweede- of derdetaalsprekers?”

Die Akademie sê in hulle verklaring die Afrikaanse taalgemeenskap is die mees diverse taalgemeenskap in Suid-Afrika. “Hierdie gemeenskap het reeds ver gevorder op ’n pad van versoening en inklusiwiteit binne en buite die gemeenskap. Ons beskou ons jong taal as ’n onskatbare bate vir haar sprekers en mede-Suid-Afrikaners in die strewe na nasiebou in ’n konteks van diversiteit. Ons bestuur ons taal- en kultuurbates met groot sorg. Ons is trots op die konstruktiewe rol wat ons gemeenskap vervul in die heropbou van ons land.”

Volgens die Akademie moet die minister liewer die onderwysstelsel red as om Afrikaans te takel. “U wil Afrikaans ‘red van ’n wit regse agenda?’ Red eerder ons onderwysstelsel, asseblief,” is die Akademie se boodskap aan die minister.

Lees ook 

Geen gelyke kans vir Afrikaans

Afrikaanse onderrig laat vonke weer spat

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top