Ek loop die pad al lank, my lam
So kaalvoet deur die kou
Van doeriekant se doringveld
En kyk hoe lyk ek nou
Só begin een van Amanda Strydom – kabaretster, aktrise en skrywer – se mees bekende liedere, “Ek loop die pad”. Al is dié lied haar eerste oorspronklike komposisie – en waarskynlik die een wat haar loopbaan as sanger afgeskop het – kan ’n mens dié lirieke as ’n soort plekaanduider vaspen op enige tydstip in haar lang en gevierde loopbaan, en die woorde sou van pas wees.
Strydom is in 1956 gebore en het in die vroeë 1980’s begin naam maak as kunstenaar – veral as verhoog- en filmaktrise, maar ook as platejoggie en televisie-aanbieder vir die program Musiek en liriek. In ’n LitNet-onderhoud met Ingrid Glorie sê Strydom: “Ek is eerstens opgelei as aktrise. Ek het geen sangopleiding gehad nie; trouens, ek kan nie ’n noot musiek lees of skryf nie!” Reeds in 1980 het sy die eerste keer in ’n kabaret van die oorlede digter en skrywer Hennie Aucamp – Met permissie gesê – verskyn.
Aucamp was Strydom se mentor in die kunste en die lewe. Oor ’n 1979-simposium oor Afrikaanse musiek sê sy in ’n onderhoud met Murray la Vita: “Al wat ek kan onthou van daardie naweek, is Hennie Aucamp. Ons het om een of ander rede net gekliek van die oomblik wat ons vir mekaar hallo gesê het.”
Hoewel Strydom in dié tydperk besonder gewild en bekend geword het onder Afrikaanse musiekaanhangers, was sy nie bereid om stil te bly oor Suid-Afrika se donker politieke situasie nie. Dit was kort voor apartheid se laaste stuiptrekkings, en benewens dié stelsel se wreedheid teenoor landsburgers, was daar ook uiters streng sensuur en ander drakoniese maatreëls in die land. Sy het onder meer in die verhoogstuk Hell is for whites only (geskryf deur Pieter-Dirk Uys) verskyn, maar haar afsku en aktivisme teen apartheid het op een aand in 1986, by die Oude Libertas Teater op Stellenbosch, ’n klimaks bereik. Kort ná sy haar eie komposisie “Die pas” ( ’n proteslied teen die paswetstelsel, waarvolgens swart Suid-Afrikaners passe by hulle moes hê om in “wit” gebiede te beweeg), het sy met haar vuis in die lug “Amandla!” geroep – die bevrydingskreet van swart Suid-Afrika, deel van “amandla awethu” (“mag aan die mense”).
In Schalk van der Merwe se boek On record word sy as volg aangehaal oor dié besluit: “Die voorval het my lewe verander. Aanvanklik was die effek daarvan baie traumaties. Om in die 80’s, op die destyds konserwatiewe Stellenbosch, op te staan en my lied oor die paswette te sing, was net so goed as om vir myself die doodstraf op te lê. Maar dit was ’n diepe oortuiging in my siel.”
In bogenoemde onderhoud met La Vita onthou sy dié aand so: “Hennie [Aucamp] was in die gehoor. Ná die tyd het hy vir my gesê: ‘Ek hoop jy besef dat jy vanaand jou toekoms hééltemal verander het. Jy gaan báie vyande maak’ ... ”
Wat gevolg het op dié gebaar, het Strydom se fondamente geskud – in so ’n mate dat sy uiteindelik in ’n inrigting opgeneem is. In die LitNet-onderhoud met Glorie onthou sy: “In die maande daarna kon ek die verwerping van my mede-Afrikaners en die sensasie in die pers nie meer hanteer nie, en het ek totaal ineengestort. Ek is in ’n inrigting opgeneem, waar ek vir maande behandel is vir bipolêre gemoedsversteuring. Die lang pad na herstel het voorgelê en tydens daardie tyd was Hennie Aucamp ’n steunpilaar vir my.”
Strydom het die kunste vaarwel geroep, en vir jare by ’n versekeringmaatskappy gewerk. Dit was uiteindelik ander kunstenaarsvriende van haar – Johannes Kerkorrel en Didi Kriel – wat haar oortuig het om weer te begin sing en optree. Haar terugkeer na die verhoog het min of meer saamgeval met die ontbanning van die ANC, die vrylating van Nelson Mandela en die einde van apartheid. ’n Nuwe land – en ’n nuwe Amanda (of, soos sy soms steeds genoem word, Amandla).
In die jare sedertdien het Strydom gereeld opgetree en nuwe musiek vrygestel – te veel om hier op te noem. Sy het ook in 2007 haar eerste toer na die Lae Lande onderneem, en het groot sukses in dié hoek van die wêreld bereik, en sy sing deurentyd in Afrikaans. “Dit is waarvoor hulle lief geword het,” sê sy in die La Vita-onderhoud, “my Afrikaanse liedjies.”
Strydom skryf baie van haar sukses toe aan haar medemusikante en steunpilare – orkeslede en medewerkers soos Janine Neethling, Juan Oosthuizen, Didi Kriel, Lize Beekman, Peter McLea en Coenraad Rall. Die tyd sedert daardie stormagtige tydperk in die laat ’80’s was egter nie sonder struikelblokke nie. Onder meer het Johannes Kerkorrel, ’n groot vriend en vertroueling, in 2002 aan sy eie hand gesterf. Aucamp, immers haar mentor, is in 2014 in die ouderdom van 80 jaar oorlede.
Oor die noodwendige berge en dale van die lewe – en veral dié van iemand wat aan ’n gemoedstoornis ly – sê Strydom in ’n onderhoud met Sarie: “Die grootste fout wat depressielyers maak, is om in ontkenning te leef en sodra hulle beter voel, hul medikasie weg te smyt. Dis so belangrik dat jy ... weet hoe om jouself op te pas. Jy verloor nie jou kreatiwiteit of identiteit as jy medikasie gebruik nie.”
Amanda Strydom is nou in haar 60’s, maar haar aptyt vir optredes toon geen teken van kwyn nie. In dieselfde Sarie-onderhoud sê sy: “’n Kunstenaar is niks sonder sy publiek nie ... Elke optrede is soos ’n skelm liefdesverhouding.”
Buro: MvH