ANC en EFF slaan vure dood oor bankplundery

  • 0

Die leiers van beide die ANC en die EFF slaan nou vure dood nadat albei daarvan beskuldig word dat hulle op een of ander manier betrokke was by die VBS-bankplundery, of daarvan bewus was.

Intussen het die ANC sowel as die EFF gesê die skuldiges se koppe moet rol.

President Cyril Ramaphosa het berigte verwerp dat hy reeds in 2017 uitgevind het van die ongerymdhede by die VBS Mutual Bank en nie opgetree het nie.

Intussen het die leier van die EFF, Julius Malema, gesê diegene wat onwettig bevoordeel is uit die VBS-bankskandaal moet vervolg word. Malema het joernaliste Dinsdag by ’n nuuskonferensie in Braamfontein toegespreek. Dit volg nadat beweer is sy tweede in bevel, Floyd Shivambu, het miljoene rand ontvang deur middel van die bankplundery.

Die EFF ontken dat hulle enige geld van VBS ontvang het. Malema sê die EFF het ook geen rede om Shivambu te wantrou nie omdat hy hom van sy broer, Brian Shivambu, gedistansieer het.

Volgens ’n forensiese verslag van die Reserwebank het Brian Shivambu 16 miljoen rand van VBS ontvang, waarvan 10 miljoen rand na bewering na Floyd Shivambu se rekening oorgeplaas is. Malema het die media van bevooroordeling beskuldig. Hy sê Brian Shivambu word as die gesig van korrupsie voorgehou, terwyl nie een van die ANC-lede in munisipaliteite wat geïmpliseer word in die kollig geplaas word nie.

Die DA het in reaksie op die EFF se nuuskonferensie gesê dit was ’n groot lawaai maar kon nie daarin slaag om Shivambu se beweerde betrokkenheid by die bankskandaal uit die weg te ruim nie. Volgens die DA was dit ’n flou poging om die aandag af te trek van die party se eie betrokkenheid by die saak deur die nasionale tesourie en joernaliste aan te val. Die DA wil hê die Valke moet ’n amptelike ondersoek doen na die bewerings teen Shivambu en die rol wat hy en sy broer gespeel het in die bankplundery.

Die ANC se ses topleiers het die kwessie vroeër die week agter geslote deure bespreek terwyl bewerings oor en weer rondgevlieg het oor wie almal skuldig is.

Ramaphosa se kantoor hou vol die president is onskuldig en sê hy dra geen kennis van enige vergadering waarop hy enigiemand ontmoet het wat met die VBS verbind word en hom oor die kwessie ingelig het nie. Die presidensie sê in ’n verklaring die VBS-sage is deur die amptelike regeringskanale, wat die nasionale tesourie insluit, onder die president se aandag gebring.

Die DA wil intussen hê Ramaphosa moet vandag, wanneer hy vrae in die Nasionale Vergadering beantwoord, duidelikheid verskaf oor die bewerings dat hy vooraf geweet het van die geldelike plundering by die VBS-bank. Die DA-leier, Mmusi Maimane het aan die speaker, Baleka Mbete geskryf om te vra dat die vraag dringend bygevoeg word op die lys van vrae waarop Ramaphosa moet antwoord. Maimane sê in ’n verklaring Ramaphosa se ontkennings van die bewerings waarvan hy beskuldig word, verskaf nie duidelikheid oor sy betrokkenheid nie.

Intussen het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens aangedui dat hy die belastingsake gaan ondersoek van diegene wat voordeel getrek het uit die plundering van die VBS-bank. Sowat 50 individue en maatskappye word betrek by die bykans R2 miljard-verlies wat die bank gely het wat tot die instelling se ondergang gelei het.

Die waarnemende kommissaris van die Inkomstediens, Mark Kingon het aan die parlementêre komitee oor finansies gesê hulle het die verslag ontvang voordat dit openbaar gemaak is en hulle gaan werk maak daarvan. Die Minister van Finansies, Tito Mboweni, het Dinsdag vir die eerste keer voor die komitee verskyn. RSG berig die vergadering is gekenmerk deur spitsvondighede, maar die voorsitter van die komitee, Yunis Carrim het Mboweni daaraan herinner dat hy ’n reusetaak het.

Lees ook

EFF se rooi gesig oor beweerde bankdiefstal

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top