
Bron: https://www.elections.org.za
Die ANC kan dalk in drie van die land se belangrikste provinsies bloedneus kry tydens die week se verkiesing.
Die jongste opname deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIR) voor Woensdag se algemene verkiesing voorspel dat geen party ’n volstrekte meerderheid in Gauteng of KwaZulu-Natal gaan kry nie.
In die Wes-Kaap, wat die enigste provinsie is wat nie deur die ANC regeer word nie, lyk dit of die DA weer die week koning gaan kraai. Die DA se steun in dié provinsie het in die laaste week of wat voor die verkiesing wipplank gery.
Sedert die vorige peiling het die DA se steun in die Wes-Kaap toegeneem van 54% tot 63% en weer teruggesak tot 57% enkele dae voor stemdag. Dit wil egter voorkom of die DA daarin geslaag het om sy steun onder bruin kiesers in die Wes-Kaap te konsolideer en het veral steun by die ACDP teruggewen sedert die vorige peiling. Die DA kan dus weer ’n volstrekte meerderheid in die Wes-Kaap behaal indien die SAIR se peiling in die kol is.
’n Lukrake opname is onder meer as 2 200 respondente landwyd gedoen. Dit dui op ’n stempersentasie van 70% en dat die ANC in Gauteng 41% van die stemme gaan kry en 48% in KwaZulu-Natal. Volgens die Instituut se peiling sal die regerende party nasionaal 53% van die stemme kry.
Die jongste opname deur die Instituut toon dus ’n effense verbetering in die steun vir die ANC. In April het die SAIR voorspel dat die ANC landwyd 51% van die stemme op hom gaan verenig. Dit is 11% laer as wat die ANC in die 2014-verkiesing gekry het.
Gauteng is die land se kleinste provinsie met die meeste aantal kiesers en die ekonomiese enjin van die land. Volgens die SAIR se jongste meningspeiling sal nie een van die partye ’n volstrekte meerderheid in die provinsie behaal nie.
Die meeste wit kiesers het aangedui dat hulle vir die DA gaan stem. Die ANC se steun onder swart kiesers het afgeneem terwyl die EFF se steun onder swart kiesers heelwat toegeneem het.
In Gauteng het die ANC se steun onder swart kiesers van 58% op die eerste dag van die peiling tot 51% gedaal, terwyl die van die EFF se steun in van 17% tot 21% onder swart kiesers toegeneem het.
Op nasionale vlak kan die ANC se steun volgens die peiling tot minder as 55% daal afhangende hoeveel kiesers by die stembus opdaag. Gareth Onselen van die SAIR sê in ’n mediaverklaring vanjaar se verkiesing sal die mees vloeibare nasionale verkiesing tot dusver wees.
Die EFF is die party wat waarskynlik die meeste groeipotensiaal het in vanjaar se verkiesing. Dit beteken dat die EFF ’n deurslaggewende rol sal speel in wie Gauteng na die verkiesing sal regeer.
Lees Van Onselen se volledige mediaverklaring hier: https://irr.org.za/media/34-6-may-press-release-irr-tracking-poll-06-05-19.pdf
Die ANC kan ook die bewind in Kwazulu-Natal waar daar ’n naelbytstryd verwag word aan ’n koalisieregering afstaan of deel word van ’n koalisieregering. Die uitslag in die provinsie sal afhang van die aantal kiesers wat gaan stem en tot watter mate die ANC daarin geslaag het om die kiesers in die doodsnikke van die verkiesingstryd terug in sy kraal te kry.
Die SAIR se volledige meningspeiling kan hier gelees word: https://irr.org.za/reports/criterion-report/files/thecriterionreportv2n4-may2019.pdf
Die hoof van die Verkiesingsinstituut vir Volhoubare Demokrasie in Afrika se waarnemersendings, Goodluck Jonathan, sê die verkiesingswaarnemers is op grond van wat hulle tot dusver gesien het, optimisties oor die verkiesing. Jonathan, ’n voormalige Nigeriese president, het by die Verkiesingskommissie se uitslagsentrum aan die SABC gesê die verkiesingskommissie en die polisie se werk is bepalend vir ’n veilige en suksesvolle verkiesing. Jonathan sê indien politieke partye en die kiesers vertroue in dié twee instellings het, sal alles vlot verloop. Hy sê verkiesingswaarnemers het ook van die partye se saamtrekke bygewoon en is tevrede met die verloop daarvan.
Lees ook
Buro: NB