Stemdag kan baie verrassings inhou

  • 0

Met skaars ’n week oor voordat Suid-Afrikaners hulle kruisies by die stembus gaan trek, is die groot vraag hoe die drie grootste partye gaan vaar.

Volgens die marknavorsingsmaatskappy Ipsos se jongste meningspeiling het die ANC se steun skerp gedaal sedert 1994. Die ANC kan vir die eerste keer minder as 60% van die land se kiesersteun op hom verenig. Volgens Ipsos het die DA se steun ook die afgelope paar maande verminder van 18% in Maart tot net meer as 15% in Ipsos se jongste peiling wat tussen 22 Maart en 17 April onder 3 600 geregistreerde kiesers gedoen is. Die EFF staan volgens Ipsos tans op 9,5% teenoor 10% in die vorige Ipsos-peiling in Maart.

Hoewel Ipsos se peilings in die twee vorige nasionale verkiesings in 2009 en 2014 ’n hoë mate van akkuraatheid gehad het, sê politieke waarnemers daar is talle onbekende faktore wat vanjaar se uitslag kan beïnvloed. Daar kan nie slegs op Ipsos se peiling staatgemaak word om te voorspel hoe die politieke landskap na 8 Mei gaan lyk nie.

Een ding waarvoor feitlik al die kommentators saamstem, is dat die ANC weer die verkiesing gaan wen. Die groot vraag op almal se lippe is tot watter mate president Cyril Ramaphosa daaraan geslaag het om ontevrede ANC-ondersteuners wat in die vorige verkiesing weggebly het van die stembus, terug te lok om vanjaar weer vir die ANC te gaan stem.

Hoe hoër die stempersentasie, hoe groter is die kans dat die ANC steeds meer as 60% van die stemme kry. Ipsos voorspel dat indien 71% van die kiesers by die stembus opdaag om te gaan stem, die ANC 61% van die stemme sal kry, die DA 19% en die EFF 11%. ’n Lae stempersentasie kan beide die ANC en EFF benadeel.

Die politieke annalis Dawie Scholtz het op Twitter gesê die ANC en EFF se steun soos deur Ipsos voorspel, het nader beweeg aan sy eie verwagtings. Hy meen egter Ipsos se voorspelling vir die DA is aansienlik minder as sy eie verwagting. Hy meen die DA sal tussen 20 en 25% van die stemme kry. Hy sê beide kante toe wag daar ’n groot verrassing óf Ipsos onderskat die DA se steun onder die kiesers.

Kleiner partye soos die Vryheidsfront Plus hoop ook om vanjaar beter te vaar as tydens die vorige verkiesing. Die VF+ het hulle mikpunt vanjaar op eenmiljoen stemme gestel en hoop om veral DA-kiesers af te rokkel. Meeste politieke waarnemers stem saam dat die VF+ beter sal vaar as tydens die vorige verkiesing, maar is skepties oor die party se verwagting van eenmiljoen stemme.

In die Wes-Kaap is daar veral nuuskierigheid oor hoe Patricia de Lille se nuwe GOOD-party gaan vaar. Sy hoop om die DA met behulp van koalisie-vorming met ander partye uit die kussings te lig. Die ANC maak daarop aanspraak dat hulle gereed is om weer die bewind in die Wes-Kaap oor te neem met ’n volstrekte meerderheid.

In Gauteng is die ANC op die verdediging. As daar nie ’n hoë stempersentasie is nie, kan die provinsie vir die eerste keer sedert 1994 in die opposisie se hande beland afhangend watter samewerkingsooreenkomste tussen die partye suksesvol is.

Politieke partye speel hulle kaarte na aan die bors tot ná die verkiesing oor moontlike koalisievennote. Hoewel daar reeds agter die skerms oor en weer voelers na mekaar uitgesteek word oor moontlike koalisies, sal gewone Suid-Afrikaners tot na 8 Mei moet wag om te sien wie gaan saam met wie in die politieke bed klim waar daar nie volstrekte meerderhede behaal word nie.

’n Lys van die politieke partye wat vanjaar op nasionale vlak aan die verkiesing deelneem kan hier gesien word:

https://www.elections.org.za/content/uploadedImages/MainSite/Content/Elections/2019_National_and_provincial_elections/Final%20National_Ballot_FA_02.jpg

Kiesers wat nie seker is waar om te gaan stem nie, en of hulle name op die kieserslys is, kan op die verkiesingskommissie se webwerf hulle besonderhede nagaan: https://www.elections.org.za/IECOnline/Home

Lees ook

ANC kan in drie provinsies bloedneus kry

Verkiesing 2019: maak of breek vir Suid-Afrika?

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top