’n Week voor stellig die spannendste algemene verkiesing in Suid-Afrika sedert 1994 stoot die regering die petrolprys hemelhoog op.
Hoe nou? Wil die ANC- (African National Congress-) regering hom/haar nog verder in die voet skiet?
Hoewel die owerheid ’n baie sexy slagspreuk vir die verkiesings (nasionaal en provinsiaal) uitgedink het, nl Xsê, byt die herinnering aan die katastrofale korrupte regering van die vorige president, Jacob Zuma, plus woedende interne faksionalisme erg aan die hakskeen van die regering.
Op 8 Mei word verrekening gedoen by die stembus.
Dis asof die land hom voorberei op ’n beslissende drumpel vir die toekoms. Gaan dit goed of sleg gaan? Daar is geen middeweg nie. Drama, meestal verspot, sin én sinneloosheid, skouspelagtige (en soms vervelige) protesoptogte in selfs die mees afgeleë gehuggies dans, trippel, skreeu vir water, huise, paaie, elektrisiteit.
Ook onder die massiewe aandagsoekers is ’n groepie sg Eerste Mense. Op aanspraak dat hulle van die historiese Khoisan (die oorspronklike Khoekhoen en Boesmans/San) afstam, het die groepie tent opgeslaan en skuilings gemaak vir ’n groot gesamentlike kombuis en ablusiegeriewe in die goedversorgde tuin van die Uniegebou, die presidensiële setel.
Bedink die ironiese beeld: Geklee in hul skamele velle soos die oerdrag skyn te gewees het, voor die imposante koloniale Uniegebou. Tussen die sg Khoisan-kampie en die 1910-gebou staan die toringhoë standbeeld van Nelson Mandela met arms uitgesprei asof hy die hele nasie verwelkom.
Die nuwe Khoisan-gemeenskap wag tot die President hulle kom vertel waarom hy nog nie aan hul vele versoeke voldoen het nie (onder meer om hul grootliks reeds uitgestorwe taal te help red).
En ook, byna lagwekkend, neem 48 partye aan die twee gelyktydige verkiesings deel.
Maar sowat 10 miljoen stemgeregtigde jongmense het nie vir die verkiesing geregistreer nie. Wat beteken dit? Apatie? Woede? ’n Sein van die middelvinger vir die huidige bestel?
Is hierdie afwesigheid in sigself nie die beduidendste “stem” in die komende verkiesing nie? Dat “môre se leiers” geen vertroue het in “vandag se mense” nie?
Maar, nee. Dalk gaan die beduidendste stem rondom die charismatiese huidige ANC-leier, Cyril Ramaphosa, wees.
Nou lui die tafelgesprekke so: Stem vir “Cyril” (want so word hy in die algemeen beskryf) nasionaal en vir die ander groot partye provinsiaal.
Om vir “Cyril” nasionaal te stem, beteken dat die ANC se meerderheid sodanig sal wees dat daar nie ’n versoeking sal kom om met die “stout” Economic Freedom Fighters (EFF) in koalisie te gaan nie.
Die EFF teer op die roem dat die party nie die knie buig voor selfs manierlikheid nie. Tog, ondanks die sosialistiese krete en sg verbintenis tot die armstes, is dit duidelik dat die leiers hulself allerlei weelde toelaat. En soos baie ontleders dit ophaal, as die EFF so na die jong stem vry, waarom het so baie jong stemme nie gaan registreer vir die verkiesing nie?
Dat Cyril Ramaphosa ’n geleerde en aantreklike persoonlikheid het teenoor die deklamering en vingerwysing van Julius Malema, die EFF se leier, is beslis. Maar die gevoel van “stem vir Cyril om die EFF uit te hou” begin minder traksie kry noudat ’n gevoel posvat van “stem vir Cyril en jy stem maar weer vir die ANC”.
Daarby heers ’n vrees dat Ramaphosa na die verkiesing wel deur sy eie party herroep kan word, want sy vyande binne in sy party maak aanspraak op groot gevolg. En duidelik sal Ramaphosa, as hy president van die nuwe regering word, goed skoonmaak in die kabinet wat hy van die verderflike Zuma-tydperk geërf het.
Een van hierdie “erfgename” is die sinistere sekretaris-generaal van die party, Ace Magashule. Ongetwyfeld is hy Ramaphosa se nemesis. Openlik nog ’n Zumaïet, daarby vir byna ongekende korrupsie in ’n onlangse onthulling geopenbaar, het Magashule geen teken laat blyk dat hy Ramaphosa goedgesind is. Sou Ramaphosa die verkiesing en derhalwe die presidentskap wen, sal Magashule met sy gevaarlike mag in die party nie ’n opstand binne die party lei om Ramaphosa as president te herroep nie? By baie ingeligte ontleders is dit ’n groot moontlikheid.
Kiesers weet dat die Suid-Afrikaanse ekonomie kantel; dat die land inderdaad ’n ononderhoubaar groot onderklas het; dat die ongelykheid die grootste internasionale aanklag teen die land is, ondanks die demokratiese daeraad van die negentigerjare.
Tog neig die land tot ’n selfie-manie. So lyk ons. So stry ons. So glo ons. So ly ons. So eis ons ook dat die regering moet kom skoonmaak in die gemors wat ons self in die strate stort. Gee vir ons werk, al het ons geen opleiding nie. Maak reg die hospitale wat ons deur proteste verrinneweer. Gee vir ons treine wat ons self afbrand. Gee, gee, gee.
Gaan Xsê op 8 Mei nie dalk ’n oproep word om maar nog meer te eis nie?
Lees ook
Buro: MvH