ANC se rasvoorstel vir skole is "ondeurdag, onsinnig en onprakties"

  • 0

’n ANC-voorstel dat skole in Suid-Afrika minstens ewe veel swart as wit leerlinge moet hê is uit verskeie oorde as onhaalbaar en politieke opportunisme bestempel.

Die plan dat skole minstens 50% swart en 50% wit leerlinge moet hê is die afgelope week deur Lindiwe Sisulu geopper in haar hoedanigheid as voorsitter van die ANC se maatskapliketransformasiekomitee.

Luidens die berigte beteken transformasie vir Sisulu dat almal in Suid-Afrika tot een kultuur moet saamgroei.

Haar voorstel is reeds deur onder andere die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole (Fedsas), die Afrikanerbond, die DA en die Vryheidsfront Plus afgeskiet.

Die DA sê die party verwerp die minister se voorstel om skole met ras te belas in plaas daarvan om wanfunksionele skole reg te stel wat die meerderheid swart kinders in die land raak.

Die VF Plus sê in hulle reaksie met hierdie uitspraak wys Sisulu opnuut dat Suid-Afrikaners in 2024 die stembus moet gebruik om van die ANC ontslae te raak. Daar is volgens dié party geen verbetering sonder verandering nie.

Volgens Sisulu sal die voorstel deel wees van die week se bespreking tydens die ANC se nasionale beleidskonferensie.

Die DA se skaduminister van basiese onderwys, Baxolile “Bax” Nodada, sê in ’n verklaring die DA het hom verbind tot die beginsel van nierassigheid wat die voortgesette ekonomiese uitsluiting van 30 miljoen verarmde burgers effektief sal regstel en terselfdertyd wegdoen met voortgesette apartheidstylrasseklassifikasie soos hierdie.

“Vir meer as 25 jaar het die toestand van ons skole en dié van basiese onderwys vinnig versleg – wat weer eens bewys dat die ANC letterlik alles vernietig wat dit raak. In die lig hiervan was dit skokkend om die voorgestelde oplossing deur die ANC se maatskapliketransformasiekomiteevoorsitter, minister Lindiwe Sisulu, te hoor om ’n sogenaamde ‘50/50’-rassemodel in skole in te stel.”

Nodada sê hierdie voorgestelde rassemanipulering deur die ANC is sterk in ooreenstemming met hul steun vir die drakoniese wysigingswetsontwerp op basiese-onderwys-wette (BELA) en veral die "Lesufi-klousule" wat poog om skoolbeheerliggame te ontmagtig.

Hy sê die DA sal dit nie duld ​​nie. “Dit is ’n klassieke voorbeeld van die ANC wat ’n probleem verkeerd diagnoseer en dit dan boonop die verkeerde middel gee. “Weer eens poog die patologiese ANC om ras te gebruik as ’n manier om mense te kategoriseer en te behandel, hierdie keer onskuldige skoolkinders.”

Wynand Boshoff van die VF Plus  sê in sy verklaring Sisulu se uitspraak dat skole geregistreer behoort te word net as hulle ewe veel swart as wit kinders bevat, wys tot watter mate die ANC besig is om tred met die werklikheid te verloor.

“In ’n land waar meer as 80% van die bevolking swart en minder as 9% wit is, kan skole nie om die helfte bevolk word nie – tensy die bedoeling is dat party skole oorwegend swart mag wees, maar geen skool oorwegend wit nie.”

Die Afrikanerbond het hom ook sterk teen die voorstel uitgespreek. Die organisasie sê in hulle verklaring die rasvoorstelle oor ’n 50/50-verhouding is opnuut ’n demonstrasie van armoedige denke in die regerende party.

“Die rasobsessie en -teikens van die ANC wat volgens Lindiwe Sisulu voorgehou word, is ondeurdagte, onsinnige en onpraktiese voorstelle. Dit is juis voorstelle soos dié waarmee die ANC in die verlede met skole gedobbel het en wat direk gelei het tot disfunksionele skole en wanfunksionele leerders wat in die samelewing as jong volwassenes ingestuur word,” het die hoofsekretaris van die Afrikanerbond, Jan Bosman, gesê.

Lees ook:

Onderwyswet is glo ongrondwetlik en bedreig Afrikaans

DA ruk op na Lesufi se kantoor om oor onderwyswet te betoog

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top