Antjie Krog gehuldig by vanjaar se Tuin van Digters

  • 0

Antjie Krog word op 23 Oktober vanjaar 70. Sy is een van Suid-Afrika se groot digters. Nie net is haar werk al in vele tale vertaal nie, sy het ook baie gedoen om ander digters, in verskeie van ons land se inheemse tale, groter bekendheid te gee.

Haar debuut, Dogter van Jefta, het in 1970 verskyn toe sy maar 18 jaar oud was. Talle ander digbundels het verskyn. Sy is bekroon met die Eugène Marais-prys (1973), die Rapport-prys (1987), die Hertzogprys (1990), die FNB Award (2000) en die RAU-prys (2000).

Ook Poetry International het haar al vereer.

Krog was onlangs ook die samesteller van ’n opwindende bloemlesing, Mixtape van die liefde, wat vroeër vanjaar by LAPA Uitgewers verskyn het. In dié bloemlesing staan Ronelda Kamfer en Boerneef naas mekaar. Oud en nuut praat oor die liefde soos nog nie tevore in een boek in Afrikaans nie.

Krog se heel nuutste bundel, Plunder, en ’n reeks kinderversies, Vetplantfeetjies, wat sy saam met Ingrid de Kok geskryf het en wat deur Fiona Moodie geïllustreer is, is ook by die Tuin van Digters bekendgestel.

As joernalis het sy bekend geword vir haar berigte oor die Waarheid-en-versoeningskommissie, waaruit boeke soos Country of my skull (1998), A change of tongue (2003) en Begging to be black (2009) voortgespruit het.

As akademikus het Krog diep spore getrap by die Universiteit van die Wes-Kaap, later het sy ook al hoe bekender geword in die Lae Lande. Dit het onder meer tot gevolg gehad dat die Universiteit van Gent in België haar in Oktober en November 2021 as die eerste literêre gasskrywer ontvang het.

Tuin van Digters is vanjaar vir die elfde keer gehou, by die Breytenbach Sentrum in Wellington. Die fees het Vrydagaand 7 Oktober 2022 begin en het die aand van 8 Oktober klaargemaak. Krog is hier gehuldig en verskeie items op die feeskalender is aan haar werk gewy.

’n Tekening van Krog, deur haar seun Willem Samuel, het die gaste verwelkom wat by die Sentrum se voordeur ingekom het.

Krog en haar man, John (bo), het die fees soos twee gewone feesgangers bygewoon. Ek het hulle kort voor die aanvang gesien en gaan groet. “Moet ek curtsey?” het ek gevra. John het gelag, Antjie het  ’n tongklik gegee, maar darem geglimlag.

Maar ja, ek kon nie anders nie as om op te let hoe sy rustig met almal gesels het, pizzas geëet het wat drade trek saam met haar kinders en kleinkinders (wat ’n lae profiel gehandhaaf het).

Tussendeur het sy boeke geteken.

En gesels, soos met Babs Gons, ’n Nederlandse digter en verhoogkunstenaar.

Die eerste geleentheid waar Krog gehuldig is, was waar Diana Ferrus, Gaireyah Fredericks, Theresa Carstens en Merle Danhouse verskeie van Krog se protesgedigte voorgedra het. Krog het oor die jare heen nie geskroom om oor die onreg in ons samelewing te skryf nie, en sy belig vrouwees en lyflikheid soos min ander dit in Afrikaans kan doen. Die titel van hierdie geleentheid was “Pryssang vir ’n digter: Antjie Krog gehuldig”.

Diana Ferrus

Theresa Carstens

Merle Danhouse

Gaireyah Fredericks

Fredericks is ook ’n oudstudent van Krog en het met veel lof gesels oor hoe Krog dit vir haar moontlik gemaak het om by die Universiteit van die Wes-Kaap te studeer.

Ná die voorlesing het Krog summier vir Fredericks gaan omhels.

Die amptelike feeshuldigingsrede is deur Frieda van den Heever geskryf. Van den Heever was egter betrokke by die produksie die oerkluts kwyt waarin Antoinette Kellermann verse van Krog voordra. Die produksie sou daardie aand by Aardklop open, dus het die digter Johan Myburgh Van der Heever se woorde in Wellington voorgelees. Lees die volledige huldigingsrede hier.

Anne-Ghrett Erasmus Coetzee het daarna ’n beeldjie namens die direksie van die Breytenbach Sentrum aan Krog oorhandig.

Die aand is afgesluit met ’n video waarin “Die Nuwe Verbond”, ʼn toonsetting van Krog se O brose aarde, ʼn misorde vir die Nuwe Verbond, op die groot skerms in die ATKV-Akkoordtent vertoon is.

Die sangpaar Frazer en Deniel Barry het die volgende dag toonsettings van Krog se gedigte gesing. Hulle het dit genoem “Antjie Krog: omdat jy is”.

Babs Gons het by hulle aangesluit om sekere items te lewer.

“Om Antjie te vertaal” was die titel van ’n gesprek tussen Georges Lory en Antjie Krog.

Lory is in Parys gebore, maar het sy jeugjare in Brugge deurgebring, waar hy Nederlands geleer het. Op skool het hy van Suid-Afrika gehoor en het later na Suid-Afrika gekom om navorsing te doen. Sy kennismaking met en belangstelling in Breyten Breytenbach het ook baie bygedra tot sy kennis van ons land.

Lory het talle werke van Krog, Breyten Breytenbach en André P Brink in Frans vertaal.

Krog en Lory het verse voorgelees, strofe vir strofe, sodat die gehoor die twee tale naas mekaar kon hoor.

Tydens dié sessie is daar ook ’n video-onderhoud met Robert Dorsman uitgesaai. Dorsman is een van die vele mense wat Krog se werk in Nederlands vertaal het.

Vier digbundels deur NB Uitgewers is by Tuin van Digters bekendgestel. Louise Viljoen het daardie gesprek gelei.

Krog se Plunder is ook by die geleentheid bekendgestel – so byna gewoonweg, saam met al die ander digters. Die feit dat sy die feesdigter was, het nie enige impak op hierdie gesamentlike sessie gehad nie.

Nie net was Krog deel van ’n groepbekendstelling nie, sy het moeite gedoen om die ander by te staan deur vir Loit Sōls en vir Stevlyn Vermeulen die mikrofoon vas te hou terwyl hulle voorgelees het.

Die ander bundels wat saam met Plunder bekendgestel is, is Sōls se Moerstaāl, Philip de Vos se Môre en gistraand en die einde van die maand, en ’n nuwe samestelling van verse deur Adam Small getiteld Die maand is swart.

Vermeulen het uit Small se werk gelees.

PEN Afrikaans het daarna vir Krog gehuldig onder die titel “Digter wordende”.

Pieter Odendaal het die program saamgestel en die fokus was op verse in verskillende tale. Krog is al in vele tale vertaal, maar het ook baie gedoen om ander skrywers te laat vertaal.

Krog en Koos Oosthuysen het byvoorbeeld saam talle Xhosa-gedigte vertaal.

’n Luisterryke spel van woorde en musiek het gevolg. Die digters en musikante wat saam met Odendaal deelgeneem het, is Jolyn Phillips, Frazer Barry, Deniel Barry, Jerzy Koch, Alfred Schaffer, Shirmoney Rhode en Mbongeni Nomkonwana.

Jolyn Phillips

Frazer Barry

Jerzy Koch

Alfred Schaffer

Shirmoney Rhode

Mbongeni Nomkonwana

Krog bedank vir Jolyn Phillips.

Die Tuin van Digters word finansieel ondersteun deur die Dagbreek Trust, NB Uitgewers, ATKV, Boland Cellar, Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, NLDTF (Nasionale Lotery), Drakenstein Munisipaliteit, Rupert Historiese Huise-stigting, Prosperity Management Africa en Annandale Wines.

Lees ook:

Huldigingsrede: Antjie Krog, 7 Oktober 2022

Toyota US Woordfees 2022: Afrikaans herontdek by feeste

Die elfde Tuin van Digters deur Izak se lens

Koos Oosthuysen (1933–2021): Vertaler van veelvoud

In vertaling verlore? In vertaling gevind?

Die tiende Tuin van Digters, ’n visuele oorsig

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top