Verskeie gesprekke by die tiende Tuin van Digters het gehandel oor die wisselwerking tussen tale wat meer behels as ’n vertaling van woorde – dit behels dikwels ook die oordrag van kulturele kennis na ’n ander groep. In ’n gedig is dit soms ekstra moeilik.
Afrikaans en Nederlands is oënskynlik na aan mekaar, tog is bemiddeling dikwels nodig tussen die twee taalgemeenskappe.
Wanneer ’n Pool in Afrikaans gedigte skryf, of wanneer Arabiese verse in Afrikaans aangebied word, ook wanneer Breyten Breytenbach in Frans skryf, word die raakvlakke minder en die noodsaak van bemiddeling groter.
Die prys van vertalings onder die loep
Dit word nou reeds ’n instelling dat PEN Afrikaans ’n optrede aanbied by Tuin van Digters. Vanjaar se paneelbespreking het gehandel oor vertaling, veral van poësie. Die bespreking se titel was “Verse oor taalgrense heen”.
Marius Swart, ’n dosent in vertaalkunde, het die gesprek gelei. Twee gesoute vertalers, Alfred Schaffer en Zandra Bezuidenhout, asook Nèlleke de Jager, ’n uitgewer by NB, was op die paneel.
Een van die vrae aan hulle was: Hoe word besluit watter gedigte vertaal sal word, al dan nie?
Die antwoord het twee kwessies belig: finansies en persoonlike voorkeure.
Vertalings is duur. Dit gaan oor veel meer as die vertalers se fooie – daar is ook allerlei kontraktuele aksies wat aandag en geld verg; maar meer nog, die redigeer, nagaan en korrigeer van vertalings neem dikwels veel langer as om ’n nuwe, oorspronklike werk uit te gee.
Vertalings is dus ’n luukse, sê De Jager.
Daar is wel subsidies beskikbaar vir die vertaal van sekere boeke – die Nederlandse Letterenfonds steun byvoorbeeld graag vertalings van Nederlandse tekste in ander tale. PEN Afrikaans bied weer subsidies aan uitgewers wat Afrikaanse werke in ander tale wil vertaal. Sodanige subsidies dek egter nie alle kostes nie, en die tyd wat nodig is om enige vertaling uit te gee, maak dat uitgewers maar lugtig is daarvoor.
Protea Boekhuis gee wel gereeld vertalings uit en De Jager was self, as uitgewer en redakteur, betrokke by Zandra Bezuidenhout se vertaling van Mens dier ding deur Alfred Schaffer.
Hoe word daar dan besluit watter werke vertaal moet word?
Anders as met algemene Suid-Afrikaanse fiksie, gaan dit by literêre vertalings, waaronder poësie, dikwels oor werke wat tot die vertaler, of ’n uitgewer, spreek. Die vertaling van Schaffer se Mens dier ding is byvoorbeeld moontlik gemaak deur ruim subsidies van meer as een instansie. In dié geval is Bezuidenhout se passie vir die projek geëwenaar deur verskeie instansies wat die waarde daarvan ingesien het en dit dus gesteun het.
Alfred Schaffer is weer bekend vir sy vertalings Antjie Krog, Ronelda Kamfer, André Trantraal en ander, soortgelyke betrokke digters. Hy doen dit deels omdat hy daarin belangstel, maar ook weens die belangstelling daarin by die uitgewers in Nederland.
Naby en tog ver
Bezuidenhout het aan die gehoor ’n skyfie gewys waarin sy demonstreer hoe sy sekere keuses moes maak om die betekenis van Nederlandse woorde aan ’n Afrikaanse gehoor oor te dra terwyl sy steeds getrou wou bly aan die versvorm en die intensie van ’n Nederlandse digter.
Sy het as voorbeeld die oorspronklike gedig “Waar is het feest?” deur Anna Enquist voorgehou saam met haar eie vertaling daarvan.
Woorde soos asfalt (teer) en hypotheken (huisverbande) is onbekend in Afrikaans, dus is dit ’n wins om die vertaling te lees. Daarteenoor is boeken, baby’s, pillendozen en brillen maklik om te verstaan – maar wat van feest? In Nederlands is feest ’n partytjie; vir ’n fees soos ons dit in Afrikaans ken, gebruik hulle festival .
Bezuidenhout moes toe kies watter betekenisse sy sou wen of verloor met enige keuse van woorde in hierdie vertaling. “Waar is die partytjie?” het nie dieselfde gevoel nie en partytjie is veel langer as feest – ritmies sou dit dus nie in die latere versreëls werk nie.
Sy het “Waar is die jol?” oorweeg, of “Waar is dit lekker?”, maar deur ’n meer informele register te gebruik sou van die erns in die gedig verlore gaan.
Daarom het sy fees behou, want ons sê tog maklik “dit was nou ’n fees” vir iets wat baie lekker was, maar glad nie werklik voldoen het aan die groter begrip van iets soos ’n openbare saamtrek nie.
Let ook op hoe sy “Hij bijt / in asfalt, laat sich trekken naar de stad” vertaal het as “Hy vreet / die teerpad, laat hom aantrek na die stad” in ’n poging om die ritme van die oorspronklike vers te behou.
Schaffer het ’n gedig van Ronelda Kamfer gekies wat sy vir haar man geskryf het. Daar is verskeie redes waarom hy oor die bepaalde gedig wou praat.
Die eerste is dat ’n vertaler tydens die vertaalproses ook werklik diep lees.
Schaffer sê hy het die gedig geken, dikwels gelees en toe besluit om dit te vertaal. Eers toe hy begin vertaal, besef hy hoe diep en mooi dit werklik is. Hy het begin huil toe hy die ware betekenis hiervan snap.
Die ander rede waarom hy die gedig saamgebring het, gaan oor van die redakteur se opmerkings.
Suid-Afrikaners ken Rothmans Red as goedkoop sigarette, maar hulle is nie in Nederland bekend nie. Tog, as ’n mens “Rothmans Rood” google, kom die sigaretpakkie met die rooi etiket op. Schaffer en sy uitgewer het dus gekies om die handelsmerk te behou, maar om die Engelse Red te vertaal – dus Rood. Die “rook samen uit hetselfde pakje Rothman Rood” sal ook aan die leser die idee gee dat dit oor sigarette gaan – al ken hulle nie die handelsmerk nie.
Ditto met Black Label. Die hoofletters toon dat dit ’n handelsmerk is. In Nederland ken hulle nie dié soort bier nie, maar mens kan dit opsoek. Schaffer sê hy het ander handelsmerke oorweeg wat Nederlanders ken, soos Heineken, maar uiteindelik drink die twee oor wie die gedig gaan, juis nie Heineken nie. Dus is die oorspronklike naam behou.
Die redakteur het egter besluit dat Texie’s Fish & Chips moeiliker op die oor val. Dit is met de snackbar vervang.
Vondste en verliese
Die vertaling van ’n gedig gaan dus oor meer as woorde wat van een taal na ’n ander oorgeskakel moet word. ’n Ruimte en ’n omgewing moet deur die woorde oorgedra word.
Kies ’n mens vir een woord, of begrip, verloor jy dikwels iets in die oorspronklike, maar vir die lesers is daar ’n vonds as hulle iets kan snap wat andersins verskuil sou bly.
Heel dikwels sal sy uitgewers voetnote plaas om moeilike, onvertaalbare woorde of handelsmerke te verduidelik, sê Schaffer, maar dit vertraag tog weer die leestempo.
Breytenbach in Frans
Die vorige aand het Catherine du Toit gedigte van Breyten Breytenbach voorgelees, waarvan talle in Frans was.
Die Franse en Afrikaanse tekste is gelyktydig op die skerms vertoon. So kon selfs ek die Franse voorlesings volg, terwyl die voorlesings andersins net klanke sou gewees het.
Dit was heel anders, en ’n vonds, om Breyten in Frans te hoor én grootliks te kon verstaan.
Vertalings maak wêrelde oop
Een van die verrassings van vanjaar se Tuin van Digters was die gesprek tussen Bester Meyer en Desmond Painter oor Meyer se vertalings van Magmoed Darwiesj, ’n Palestynse digter.
Meyer se belangstelling is geprikkel deur ’n stuk op LitNet oor Breyten Breytenbach se interaksie met Darwiesj, soos vervat in die bundel Oorblyfsel / Voice over. Toe begin hy soek na Darwiesj en kom op die Engelse vertalings af.
Meyer het ook meer oor die Palestynse kwessie begin lees. Sy eie vertalings van Darwiesj, Die vlug van ’n vreemdeling, het verlede jaar by Naledi verskyn.
Meyer het ook ’n eie toonsetting van ’n Darwiesj-gedig in Engels gesing ná hy sy eie Afrikaanse vertaling aan die gehoor voorgelees het. Die Engelse ritme het gewerk, sê Meyer toe, maar hy kon nie die Afrikaanse gedig toonset nie.
Om in ’n vreemde taal te dig
Jerzy Koch is ’n Pool, maar hy praat uitstekend Afrikaans en het verlede jaar gedebuteer met ’n Afrikaanse digbundel, Pleks van plaas. Dit het by Naledi verskyn.
Koch is die hoof van die Afdeling Nederlandse en Suid-Afrikaanse Studies by die Fakulteit Engels van Adam Mickiewicz Universiteit in Poznań.
Hy het reeds talle gedigte van Breyten Breytenbach en Antjie Krog vertaal.
By die Tuin van Digters het Daniel Hugo met hom gesels en ook gevra waarom hy, as Pool, in Afrikaans dig, want talle van die gedigte gaan oor baie privaat kwessies, soos sy gesin.
Koch se antwoord was interessant: Dalk sou hy juis dit waaroor hy dig, te intiem ervaar as hy in sy moedertaal byvoorbeeld oor sy gesin sou moes skryf.
Koch, wat baie gereeld in Suid-Afrika is, hou ook van die klanke waarmee hy in Afrikaans kan dig, en die klankkwaliteit van ’n gedig, enige gedig, is vir hom baie belangrik.
’n Vonds vir die leser
Ná die talle gesprekke oor wins en verlies hoef ’n mens nie ’n boekhouer te wees om te besef dat die lesers van vertaalde werk uiteindelik die wenners is nie.
Afrikaans is bevoorreg om mense te hê wat as tussengangers tussen tale kan werk om aan ons ’n ryker leeservaring te bied, ook om ons letterkunde aan buitelanders bekend te stel.
Lees ook
Die tiende Tuin van Digters, ’n visuele oorsig
Huldigingsrede | Alfred Schaffer (Tuin van Digters-feesdigter 2021)
PJ Philander-huldiging, Tuin van Digters 2021: ’n Oorsig
"’n Soetsuurlemoen": ’n Memoir deur PJ Philander
Breytenbach's oorblyfsel/voice over: an intimate sharing
Die vertaler ontbind, verklaar en bewaar ’n ruimte tussen tale
"Als de bundel een huis is, doet Daniel Hugo de deur open en leidt de bezoeker rond"
Vertaalhistoricus Lieven D’hulst over de tactiek van kleine talen