Tydens ’n gesprek oor vertaling by die Tuin van Digters noem Nicol Stassen aan Daniel Hugo en Kobus Geldenhuys dat die woord vir vertaal in Middelnederlands ontbind was.
“Ontbind julle ooit ’n teks?” vra hy toe.
“Altyd,” antwoord Hugo oombliklik. “Dan kom die uitlegkunstenaar en lê dit uit soos ’n lyk.”
Geldenhuys se reaksie is: “Ek het beslis nie ’n beter antwoord as dit nie.”
Geldenhuys en Hugo is twee van die land se voorste vertaalkunstenaars en Protea Boekhuis, waarvan Stassen die hoof is, is bekend vir die talle uitstaande vertalings wat hulle jaarliks uitgee. Stassen het self al boeke uit Europese tale vertaal.
Die Tuin van Digters vind jaarliks by die Breytenbach Sentrum in Wellington plaas. Hierdie gesprek oor vertaling is op Saterdag 28 November aangebied.
Sinskonstruksie: die fyn balanseertruuk
Die vertaler van ’n teks doen meer as om woorde van een taal in ’n ander oor te skryf. Die vertaler moet ook die gevoel van die bronteks oordra – sonder om die teikenteks lomp en ontoeganklik te maak.
Hugo, wat gereeld uit Nederlands vertaal, noem as voorbeeld die baie lang sinne wat moderne Nederlandse skrywers so graag gebruik. Hy behou graag dié lang sinne, mits hulle bly sin maak in Afrikaans. Soms sal die Nederlandse teks ’n bladsy lange sin bevat. Kyk jy egter mooi, is dit ’n aantal hoofsinne, gewoonlik deur kommas geskei. In sulke gevalle is hy die Afrikaanse leser ter wille en skei hy die hoofsinne met punte, sonder dat hy aan die styl of die ritme van die bronteks verander.
Hierteenoor sien Hugo gereeld hoe Engelse vertalers elke lang sin opbreek en dit in talle korter sinne vertaal. Hierteen maak hy beswaar, want jy verander dan die styl en die ritme van die prosa. Die gevaar van so ’n tegniek, om sinne voor die voet korter en eenvormig te maak, is dat alle skrywers dan dieselfde klink. Dit kan tog nie. As jy so vertaal, ontneem jy die oorspronklike skrywers hulle stem.
Tog sê hy: ’n Vertaling moenie soos ’n vertaling lees nie. Dit moet steeds vloei in die teikentaal. Om die twee wêrelde te behou – getrouheid aan die bronteks én getrouheid aan die teikenteks – is ’n fyn “balanstruuk”.
Geldenhuys het ’n aantal van JK Rowling se boeke vertaal. Hy noem dat sy gereeld dubbelpunte in haar paragrawe gebruik. Van die laaste twee Potter-boeke is die lesers ouer; hy kon die moeiliker sinne dus behou. Maar toe hy onlangse Die Ickabog vertaal, het hy besef die lesers van dié boek is jonger: Hulle gaan met die lang, moeilike sinne sukkel. Hy het daarom gekies om in die Afrikaans baie meer punte te gebruik as wat in die oorspronklike Engels die geval is.
Anders as Hugo, wat redelik gou besluit hoe hy gaan vertaal en teen die einde van die vertaling “99 persent klaar” is, doen Geldenhuys die teenoorgestelde. Sy eerste weergawe is vinnig en baie letterlik. Dan skep hy ’n weergawe van die teks in ’n ander lettertipe en ander grootte. Dié lees hy baie fyn en redigeer dan sy eie, meer letterlike vertaling. So maak hy seker die teikenteks lees uiteindelik soos dit moet. ’n Afrikaanse leser wil nie ’n Afrikaanse boek lees wat byvoorbeeld met Duitse sinskonstruksies geskryf is nie, sê hy.
Korrek, sê Hugo. ’n Vertaalde werk moenie opval as ’n vertaling nie. Met ’n hoogs literêre teks doen hy baie meer moeite om die gevoel van die oorspronklike teks te behou, maar dit moet steeds Afrikaans wees. Met ’n jeugboek het die vertaler ’n bietjie meer vryheid.
In sy vertaling van Anna Provoost se roman Die Arkvaarders, sê Hugo, het hy meer ingrepe as gewoonlik gemaak. Die Nederlandse teks was ’n poging om ’n liriese, Ou-Testamentiese gevoel te skep, maar Hugo meen Provoost se kennis van Bybelse tale laat haar in die steek. Dié vertaling verskil dus van wat hy gewoonlik sou doen. Hier was sy doel om die teks vlot te laat lees in Afrikaans, deels ook omdat dit op jonger lesers gemik is.
Tong in die kies vra Stassen of Hugo al ’n teks beter gemaak het as die oorspronklike?
“Ongetwyfeld,” antwoord Hugo. “Anna Provoost se Die Arkvaarders.”
Op ’n ernstiger noot noem hy dat hy tydens die vertaling van Die Plaag deur David Van Reybrouck enkele feitefoute oor Suid-Afrika reggestel het.
Vreemde woorde
Wat maak vertalers met vreemde woorde wat in die bronteks voorkom? Soms is daar geen direkte vertaling nie, maar die eindleser sal nie noodwendig die woord ken nie? Behou jy die woord, wetende dat die leser van die teikenteks dit nie gaan verstaan nie? Verafrikaans jy dit? Dan ontneem jy weer die bronteks van ’n sekere betekenis? Of doen jy iets tussenin?
Vir Hugo lê die antwoord op hierdie vrae op ’n spektrum. Sy maatstaf is die literêre diepte van die bronteks.
In die geval van meer literêre werke, soos dié van Tom Lanoye, Hugo Claus en Stefan Hertmans, behou jy so ver moontlik die vreemde woorde. In Claus se baksteendikke roman Die verdriet van België kom Frans, Duits en Engels voor. Die verhaal speel af in België gedurende die Tweede Wêreldoorlog; die verskillende tale dra dus sosiale kommentaar en gee ’n stuk geskiedenis weer. Sou ’n mens al dié tale eenvoudig in Afrikaans vertaal, ontneem jy die leser van die ervaring wat daardie tale tot gevolg het. Tog, sê Hugo, moes hy hier en daar ’n stuk verklaring “insmokkel”. Dít is veel beter as ’n voetnoot, wat die leesgenot versper.
Minder literêre tekste bied groter vryheid en word makliker in ’n verstaanbare teikentaal vertaal.
Maar, sê Stassen, soms is daar gewoon woorde wat in een konteks dalk verstaanbaar is, maar nie in ’n ander nie. Wat doen ’n vertaler met vreemde begrippe wat eintlik onvertaalbaar is? Belgiese Nederlands is deurspek met Frans; dit word dalk nog relatief maklik vertaal, maar in Nederland is daar weer ander invloede. Soos Benny Lindelauf se jeugboeke, wat heelwat Jiddisje woorde bevat. Saskia Goldschmidt se roman Die hormoonfabriek bevat omtrent dertig verskillende woorde vir ’n meisie; dié woorde was nie almal ewe maklik te vertaal nie.
Dit is waar, sê Hugo. Jy kan tog nie alles “wegmoffel en toeverf” nie. Jy behou van daardie woorde om die oorspronklike sfeer en atmosfeer te behou. Dis immers nie ’n boek wat in Suid-Afrika afspeel nie. Die karakters praat nie Afrikaans nie. Ander woorde, weer, moet jy gewoon vertaal om seker te maak die teks maak vir die teikengehoor sin. Om dan ekwivalente woorde in Afrikaans te vind ... Dis nie altyd maklik nie, maar dis moontlik. Afrikaans is self ryk aan geleende woorde.
Geldenhuys stem saam. Hy sê hy pes woorde wat kunsmatig geskep en dan aanlyn in die Pharos-woordeboekversameling ingesluit word. Hy leen liewer uit ons ryk kultuurerfenis. As vertaler moet jy besluit wat om te vertaal, en wat nie. As vertaler moet jy weet hoekom jy bepaalde keuses maak, en dan soek jy: In Afrikaans se ryk woordeskat moet jy daardie woord vind wat die regte emosie oordra.
Name
Geldenhuys was nie die vertaler van die eerste Harry Potter-boeke nie. So, toe hy gevra word om die laaste boeke in die reeks – dus vir ouer lesers – te vertaal, was die eerste ding wat hy aan sy redakteur sê: Hy sou nooit Dumbeldore se van na Dompeldorius verander het nie, al is dit in die vorige boeke gedoen. Die boeke is verfilm. Afrikaanse kinders kyk na die Engelse films. Hulle ken dus die Engelse name. Boonop, sê Geldenhuys, waarom sou ’n Nederlandse omie op die Engelse platteland wil klasgee?
Dit beteken egter nie hy is gekant teen vertaalde name nie.
In die kinderboek Die Ickabog, Rowling se nuutste wat pas verskyn het, wou hy die monster Iekabog laat heet, maar Rowling het vasgeskop. Uiteindelik heet die monster dus steeds Ickabog. Nie net in Engels en Afrikaans nie, maar ook in Duits en Frans.
Ten spyte hiervan het Geldenhuys en die span by LAPA-uitgewers besluit om wel die koninkryk se naam te vertaal. In Afrikaans heet dié ryk nou Kornukopië.
Talle ander persoonsname is ook vertaal – om by die storie te pas én om die teikengehoor, jonger lesers, in ag te neem.
Weer moes onthou word: Die gaan boek verfilm word, maar die lesers van hierdie teks is jonger. Die Engelse woordspeletjies moet dus ook in Afrikaans werk.
Dit gee Geldenhuys die geleentheid om humor in te span. Een karakter, wat maklik lieg, heet nou prof Foppenfnuik. Geldenhuys weet maar te goed slimmer kinders gaan dié amperse vloekwoord raaksien, en dit geniet.
’n Ander karakter, wat baie slim is en lig verteenwoordig, heet Bright in die Engels. In die Afrikaanse boek is hy Blinkenaar.
Vir Geldenhuys staan verstaanbaarheid en bekendheid voorop. Hy is byvoorbeeld gevra om ’n nuwe vertaling van Roald Dahl se Charlie and the Chocolate Factory te maak. In ’n vorige vertaling is Charlie Bucket se naam na Kallie Emmer vertaal, maar daardie dae is verby, sê Geldenhuys. Hy het Charlie Bucket so gehou. Daar was ’n tyd toe Afrikaanses alles wou verafrikaans, Peter sou outomaties Pieter word, maar nie meer nie. Afrikaanse kinders is deesdae baie bewus van wat in die Engelse media aangaan.
Toe hy egter Cressida Cowell se drakeboeke vertaal, was Geldenhuys in sy element. Dié name kon én wou hy deeglik verafrikaans. Aangesien die storie in die antieke tyd afspeel, het Geldenhyus na argaïese woorde gaan soek om die drake te benoem. Terugvoer van die teikenlesers, kinders, toon dat hulle daardie outydse name terdeë geniet.
Nog ’n Afrikaanse vonds is Phillip de Vos se naam vir die monster in Julia Donaldson se boek Die Goorgomgaai, wat in Engels natuurlik The Gruffallo heet. Die Nederlandse vertalers het die Engelse naam behou, maar die Afrikaanse naam vermaak jonk en oud.
Protea Boekhuis gee ook die Asterix-boeke in Afrikaans uit. Die standaard wat die Franse uitgewer vir vertalings van dié reeks stel, is baie hoog. Sonya van Schalkwyk-Barrois is gekeur om die boeke in Afrikaans te vertaal. Naamgewing is hier baie belangrik en moet fyn uitgewerk word. In Asterix by die Pikte kuier die Galliese duo in Skotland, wat ’n hele versameling Macs tot gevolg het. MacLawaai, MacAber, MacRiel, MacLaar, MacAtini, MacOuw, MacGou, MacRanka, MacIti en MacEdop is van die heerlike Afrikaanse name wat vir dié Skotte geskep is.
Die moderne Asterix-reeks veroorsaak wel soms moeite, soos wanneer die draak gesteek word met ’n moderne politikus wat aan Franssprekendes bekend sal wees, maar nie noodwendig elders in die wêreld nie. Vir die Afrikaanse leser moet dan ’n alternatief gevind word. Soms is daar verwysings na Franse volksliedjies, wat humoristies aangewend word. Om sulke verwysings in Afrikaans te vertaal is ’n uitdaging, want die idioom moet vertaal word, nie bloot die woorde nie.
Ongelukkig is ’n goeie vertaling nie altyd moontlik nie. Die uitgewer wat die regte besit, waak dikwels ook jaloers oor die name van karakters, wat dan as handelsmerke geregistreer word. Stassen wou byvoorbeeld Dick Bruna se Nijntje-reeks in Afrikaans as Nyntjie uitgee, maar die maatskappy aan wie die regte deesdae behoort, weier. Hulle laat die Nederlanders nog toe om die oorspronklike naam te gebruik, maar in alle ander tale moet die konyn nou Miffy heet, na die geregistreerde Engelse handelsnaam. In Afrikaans werk dít natuurlik nie.
Sensitiewe kwessies as uitvoerproduk
Geldenhuys het reeds ’n hele paar van David Walliams se boeke in Afrikaans vertaal. Walliams se karakters is totaal aweregs en sy storielyne is dalk nie vir alle Afrikaanse ouers ewe aanvaarbaar nie, maar dié skrywer se vermoë om karakters van verskillende agtergronde en oriëntasies in sy werk in te trek, vind hy verfrissend, sê Geldenhuys.
Tog moet ons nie die fout maak en dink alle Britse uitgewers is so oopkop soos Walliams s’n nie.
Geldenhuys vertel hy moet veral versigtig wees wanneer hy Jaco Jacobs in Engels vertaal. Jaco skets graag karakters deur te vertel hoe hulle lyk – soos ’n tannie met ’n sigaret wat by haar mondhoek uithang. Dit is vir die Engelse onaanvaarbaar.
Ook mag ’n skaap nie in die teks vir die Engelse geslag word nie. Om Dinge wat ek nie van skape geweet het nie te vertaal, was ’n uitdaging. In dié storie steel die hoofkarakter ’n skaap om dit van die slagter se mes te red, maar vir Engelse lesers moes ’n ander verduideliking bedink word: Die storielyn moes vir die Britte gewoon verander word.
Op ’n vraag van Hugo of dit politieke korrektheid aan die kant van die Britse uitgewers is, antwoord Geldenhuys dat hy nie weet nie. Hy het bloot aanvaar die uitgewers is bang vir die Britse ouers.
Hugo die lettergreepteller
Hugo het al by verskeie geleenthede gesê dat hy ’n lettergreepteller is, veral wanneer hy poësie vertaal. Stassen vra hom om hieroor uit te wei.
Dit hang af of die oorspronklike digter ook lettergrepe tel, sê Hugo. As die oorspronklike gedig nie aan ’n streng metrum of vorm voldoen nie, is die tel van lettergrepe nie so belangrik nie, want die vertaling word dan ’n parafrase. Vertaal hy egter ’n digter soos Gerrit Komrij, is dit ’n ander saak. Komrij se versreëls is almal ewe lank; hulle het almal agt of tien lettergrepe. Torring ’n mens hieraan, sal die leser dit dadelik agterkom. In so ’n geval tel hy beslis lettergrepe.
Stassen voeg by dat die Nederlandse en Afrikaanse vers in Afrikaanse uitgawes boonop dikwels teenoor mekaar staan. Indien reëllengtes beduidend van mekaar verskil, sal die leser dit dus dadelik raaksien.
Inderdaad, sê Hugo. Hy verkies dit ook so. Lesers van Afrikaanse poësie is dikwels opgeleide mense wat ook die Nederlands verstaan en die spel tussen die bron- en teikenteks geniet.
Die ingeligte leser wil sien hoekom daar soms van die oorspronklike gedig afgewyk word, en dit gebeur wel. Die dubbele nie in Afrikaanse bemoeilik vertaling. In Nederlands is daar ’n enkele niet. In Afrikaans kan ’n mens nie die tweede nie as rymwoord gebruik nie; dit kom in ’n onbeklemtoonde posisie te staan. Wanneer hy hiermee te doene kry, is die enigste oplossing dikwels om ’n ontkennende versreël affirmatief te maak. Dis dan dat die leser wat beide gedigte lees, die spel raaksien en dit waardeer.
Die tekste teenoor mekaar
Vir die leser wat nie bekend is met Hugo se versvertalings, hiermee ’n voorbeeld uit sy vertaling van Onder die appelboom, ’n keur uit die gedigte van Rutger Kopland, uitgegee deur Protea Boekhuis. In die bloemlesing staan hulle teenoor mekaar en kan die leser sien hoe Hugo begrippe vertaal, maar ook die struktuur van die vers probeer behou.
Jonge sla
Alles kan ik verdragen,
het verdorren van bonen,
stervende bloemen, het hoekje
aardappelen kan ik met droge ogen
zien rooien, daar ben ik
werkelijk hard in.
Maar jonge sla in september,
net geplant, slap nog,
in vochtige bedjes nee.
Jong slaai
Alles kan ek verdra,
boontjies wat verdor,
sterwende blomme, met droë oë
kan ek kyk hoe hulle
aartappels uit die grond
trek, dit laat my koud.
Maar jong slaai in September,
pas geplant en nog slap,
in vogtige bedjies, nee.
Die kolonie skryf terug
Verkoop vertaalde werk in Suid-Afrika?
Ongelukkig verkoop baie min Suid-Afrikaanse tekste in groot getalle. Stassen sê wel dat Afrikaanse vertalings van oorsese boeke dikwels beter verkoop as Engelse vertalings van dieselfde boek. Hy verwys na die bekende Asterix-boeke, maar ook boeke van die Belgiese skrywer Pieter Aspe. Die verkope van Aspe se boeke in Afrikaans vergelyk goed met sy verkope in Engels.
Stassen sluit die gesprek op ’n filosofiese noot af met ’n vraag oor vertaling as ’n moontlik koloniserende handeling. Moet ons nog die koloniale tale vertaal?
Die uiteinde is dat al drie saamstem: Vertaling het eintlik die teenoorgestelde tot gevolg. Vertaling bied lesers die kans om boeke in hulle moedertaal te lees. Boonop maak wedersydse vertaling ook vir lesers elders in die wêreld deure oop om Suid-Afrikaanse tekste te lees wat hulle andersins nie sou kon nie.
Lees ook:
Vertaalhistoricus Lieven D’hulst over de tactiek van kleine talen
Bekroonde Belgiese digter "gelukkig en dankbaar" oor ontvangs van sy bundel in Afrikaanse vertaling
"Als de bundel een huis is, doet Daniel Hugo de deur open en leidt de bezoeker rond"
Uitnodiging na Gent lei tot wedersyds verrykende program vir vertaler en digter Daniel Hugo