.....
‟Dis waarskynlik reg om Het verdriet van België (ook weer in ’n voortreflike Hugo-vertaling in Afrikaans beskikbaar) en Godenslaap as die (voorlopige) hoogtepunte van Vlaamse skrywers se verkenning van die twee oorloë te bestempel. ”
.....
In Godenslaap, ’n roman wat die Eerste Wêreldoorlog op aangrypende wyse die groter Nederlandse literatuur binnegebring en aan die skrywer en digter Erwin Mortier die AKO-literatuurprys besorg het, kyk ’n Belgiese digter terug op haar lewe van bykans 100 jaar.
Dit is as “de eerste grote roman” oor die Eerste Wêreldoorlog bestempel en die jurie ag dit “een uniek beeld van een tijd die tot nu toe onderbelicht is in de Nederlandstalige literatuur”.
Danksy Fanie Olivier se vertaling daarvan as Wanneer gode slaap (Protea) is hierdie werk nou in Afrikaans beskikbaar. Willem de Vries het met hom oor sy ervaring en vertaling van hierdie monumentale boek gesels.
Die Tweede Wêreldoorlog is in die letterkunde van die Nederlande veel meer teenwoordig as wat die Eerste Wêreldoorlog al daarin verken en weergegee is. Godenslaap het in 2008 verskyn en het die bewustheid en nawerking van die Eerste Wêreldoorlog in die Nederlande se verhalewêreld na vore gebring. Dié volgende opmerking is in ’n Belgiese geselsprogram gemaak: As Hugo Claus dan met Het verdriet van België die groot boek oor België en die Tweede Wêreldoorlog geskryf het, het Mortier dít gedoen met Godenslaap wat betref die Eerste Wêreldoorlog. Is dit ’n billike vergelyking?
Ek lees jou vrae en kom agter hoe hulle inmekaargevleg raak. Soms makliker en soms moeiliker. En onbillik, want die maklike antwoorde is daar nie.
Die Eerste Wêreldoorlog is een van daardie massiewe gebeure wat eintlik in die geheue weggeraak het. Dalk is dit omdat dit nie neerslag in rolprente gekry het op dieselfde manier as die Tweede Wêreldoorlog nie, of omdat die verskrikking van die Jode-vervolging bly nadraai.
In die Afrikaner-geskiedenis het die Eerste Wêreldoorlog natuurlik aanleiding gegee tot die Rebellie, die eerste formele versetsbeweging teen die koloniale bewind en wat in die Afrikaanse letterkunde veral in die werk van J van Melle neerslag gekry het en in ’n handvol besondere gedigte.
As gevolg van die feit dat Nederland gedurende die Eerste Wêreldoorlog neutraal gebly het, is hierdie oorlog uiteraard ’n Belgiese en, vir ons taalwêreld, ’n Vlaamse ervaring. Tog is dit opvallend dat Suid-Afrikaners, en Afrikaanssprekendes, daardie kloutjie nie by die hoor bring nie. As ons aan daardie oorlog en die verskrikking van die loopgrawe en die gifgas dink, is dit altyd rondom Engels.
Terwyl die Tweede Wêreldoorlog in albei die Nederlandse letterkundes plek gekry het, juis dan ook Hugo Claus se Het verdriet van België, is dit Vlaamse romans wat met die Eerste Wêreldoorlog as agtergrond of tema werk (kyk byvoorbeeld na die inligting hieroor, maar onthou dat dit nie omvattend is nie).
Die belangrikstes is seker hierdie roman van Erwin Mortier uit 2008 en sy “opvolg”, De spiegelingen (2014), en dan ander wat net voor of tydens die honderdjarige herdenking van die oorlog gepubliseer is: Kris van Steenberge se Woesten (2013, wat ek vir Protea vertaal het as Van kant gemaak) en Stefan Hertmans se Oorlog en terpentijn (2013, ook pragtig vir Protea vertaal deur Daniel Hugo) en Post voor mevrouw Bromley deur Stefan Brijs (2018).
Dis waarskynlik reg om Het verdriet van België (ook weer in ’n voortreflike Hugo-vertaling in Afrikaans beskikbaar) en Godenslaap as die (voorlopige) hoogtepunte van Vlaamse skrywers se verkenning van die twee oorloë te bestempel.
Claus se betekenis spruit uit die wyse waarop die roman die politieke en maatskaplike atmosfeer in Vlaandere rondom die aanloop tot die oorlog raakvat en die vreemde lojaliteite wat daarmee saamhang. En hoe verhoudings juis as gevolg daarvan ontspoor terwyl die oorlog sy gang gaan.
Godenslaap is die herroeping baie dekades later van die waarde van ’n verhouding binne die verskrikking en verwoesting, die ellendes van die oorlog. Die hoofkarakter en ek-verteller (iewers rondom 100 jaar oud) se lewe en herinnering word self op ’n manier die storie en geskiedenis van ’n Vlaamse België sonder die swaar politieke las. Juis die afwesigheid van iets soos die Tweede Wêreldoorlog, en alles daarna, wat sy as volwassene moes ervaar het, gee aan die roman sy merkwaardige betekenis.
Wat jou vraag ook besonder interessant maak, is Mortier se geweldige bewondering vir Claus. Sy toespraak by die openbare “afskeid” aan Claus ná sy dood in 2008 loop oor van lofprysing vir hom, onder andere die volgende:
“We nemen vandaag ook afscheid van de naoorlogse geschiedenis van België. Nu Claus dood is, leven we voorgoed in de eenentwintigste eeuw.
“Ik betuig mijn hulde, mijn dank, mijn genegenheid, mijn bewondering, aan onze allergrootste dichter en één der meest bevrijdende schrijvers die ooit ons pad heeft gekruist. Ik prijs me gelukkig dat ik geboren ben in een België waar Hugo Claus heeft bestaan.
“Hij schonk ons een oeuvre dat in zijn veelzijdigheid en omvang haast niet te overzien is; het zal ons blijven bevrijden en verbijsteren, en kietelen en doen verschieten. Ik loof het meest speelse artistieke talent dat ik gekend heb.”
Die Tweede Wêreldoorlog was natuurlik ’n onderliggende gegewe in Mortier se vroegste romans, maar kom sterk aan bod in De spiegelingen, waarna ek reeds verwys het en waarin een van die verhaallyne van Godenslaap voortgesit word. En ook in De onbevlekte, wat vroeg vanjaar verskyn het.
Erwin Mortier is as digter en romanskrywer werksaam. Veral eersgenoemde blyk uit sy taalbeheersing, die ritmiek en metafore in sy prosa. Jy is ook ’n digter en vertaler. Het die feit dat ’n digter aan die woord is, bepaalde uitdagings aan jou gestel vir die Afrikaanse vertaling van die prosa? Vertel asseblief hoe jy die vertaling in die breë benader het. En wat was jou eerste kennismaking met Mortier se werk?
Ek moet erken dat ek van Mortier as digter niks gelees het nie, ten spyte (of dalk juis as gevolg) daarvan dat hy op ’n keer stadsdigter van Gent was. Maar waarskynlik is dit omdat ek in sy jare as vroeë digter in ’n oorlewingstryd aan die einde van die wêreld betrokke was waar Nederlands as die moederstam van die koloniale Afrikaans beskou is. En daarna rondom ander – ’n ander oorlog waarin taal as verskynsel van sy waarde gestroop is.
’n Paar jaar vroeër, so op die eeuwending, het ek egter wel kennis gemaak met Mortier in die pragtige Marcel en sy enigmatiese ek-verteller. Dit was die enigste Mortier-roman wat ek gelees het voordat Godenslaap by my voordeur opgedaag het, maar ek onthou dat ek destyds getref was deur die besonder liriese aard van die prosa.
Godenslaap se digterlike aanslag is ryk en met beeldspraak wat ’n vertaler waarskynlik dwing om meer met die verteller om te gaan as wat ’n mens seker sou wou! Aan die woord is ’n ou vrou, wat tagtig jaar of so ná die afloop van die Eerste Wêreldoorlog daarop terugkyk en die gebeure herroep, hoofsaaklik deur die neerskryf daarvan. Dit is ’n baie private belewing van die oorlog, haar kinderjare en verhouding met haar ouers in die aanloop daartoe en enkele fragmente oor die jare daarna. Dit is die wyse waarop Mortier sy hoofkarakter in taal gestalte laat kry wat hierdie roman ’n onvergeetlike ervaring maak. Naas die beeldspraak en metaforiek moet ek ook verwys na die lang sinne wat deur die roman spoel, sinsbou wat natuurlik direk aansluit by die wye draaie wat die verteller se gedagtes loop. Ook hierin is daar vir enige vertaler ’n stewige uitdaging.
Ek dink nie ek wil eintlik rondom vertaalteorie gesels nie, want hierdie roman het met die intrapslag geen ander opsie gelaat as om aan die verteller, die ou vrou as skrywer, getrou te bly nie. En om haar, ten spyte van die vreemde kulturele sfeer en die soort oorlog wat ons ons hier nie kan verbeel nie, in Afrikaans ewe uitsonderlik en besonders te maak.
Ek het intussen probeer om meer van Mortier se poësie te lees en wat ek gekry het, het Godenslaap eintlik indrukwekkender gemaak. Want hoewel dit duidelik is dat daar raakvlakke is tussen die tekste, is die soort taal in die gedigte net soveel anders as dié van die gryse Helena Demont en bevestig dit net die talent en vernuf van die skrywer.
Huis in mij
Het huis herademt mij, eindelijk.
Het legt zijn moederlijke muren
op de mijne. Behaagziek laat het deuren
in sloten vallen, slaat luiken open, klapt
ze weer dicht. Het diept vergeten licht
op uit zijn kelders, haalt op zolder bestofte
dromen uit het rag tussen de balken vandaan.
Vleermuizen of dode tantes worden wakker,
fladderen op, verschrikt maar koket.
Bij het raam kennen twee verschoten vitrages
plotseling hun vorige bestaan
als onderrok of voile, ooit om boezems
spelend, of, in hun strenge verbintenis
van gat en draad, panty's die vrouwen-
kuiten ongenaakbaar maakten.
Het woelt zijn lege kamers om, het huis.
Het vouwt me zorgzaam op en slaat
zich ombekommerd dicht om mij.
Pieter Steinz het in ’n bespreking van Godenslaap vir die NRC daarop gewys dat Mortier ’n bewonderaar is van Marcel Proust en dat ’n mens dit in sy skryfstyl terugsien. In ’n onderhoud wat Piet Piryns vir die program Lichtpunt met Mortier gevoer het, vermeld die skrywer dat hy die spanningsboë van musiek by sy sinne inbou en dit laat asemskep. Watter eise het veral dít – die lengte van die sinne met daarin die talle roeringe en ritmes – aan jou as vertaler van die werk in Afrikaans gestel?
Proust, inderdaad, nie alleen die uitgesponne sinne nie, maar juis ook in die omvattende herroeping van ’n stuk van ’n (stukkie) geleefde verlede deur die hoofkarakter. Ek moet erken dat ek te min van musiek weet om saam te praat oor die “spanningsboë” in die musiek. Maar die aangrypende wyse waarop Mortier hierdie soort gesprek in ’n sin of paragraaf vasvang (en dwarsdeur die roman handhaaf), laat my as vertaler net nie los nie.
Rondom vroeëre vertalings is ek al gekritiseer dat ek my nie kan distansieer van die oorspronklike nie en dat ek in die vertaling agter karakters gaan wegkruip. En in die oorsit in Afrikaans te dikwels na aan die Nederlands bly. Dus: ’n ouer soort Afrikaanse register inspan. Maar rondom Godenslaap sou dit dom gewees het om dit anders te doen. ’n Mens moet reg laat geskied aan die skrywer, die karakter en ook die taal, want Afrikaans dra immers nog steeds al daardie herinneringe aan vergange taaldinge saam.
Só het een van hierdie wonderlike sinne-sonder-einde in Afrikaans gestalte gekry (hoewel die uitgewer se redigeerder my nie my verlede tyd wou gun nie – daaroor miskien iets later in ons gesels ...):
En so het ek hulle verewig, die een in salmpienk gestreepte pajamas, die ander in grys en wit, teen mekaar vasgeplak voor die houtmuur, my broer min of meer oorweldig deur die lang, maer gestalte langs hom, die hoekige skouers, die slanke arms, die lang, lang vingers in die materiaal van sy baadjie, wat bleek en wankelrig uitstaan teen die gesonde kleure en daardie aura van seunsagtige onkwesbaarheid wat hy, hy wat my wederhelf sou word, nooit heeltemal sou verloor nie, hom onsterflik maak solank hy sou lewe – en toe my man sê: “Ek sou ’n moord kon pleeg vir ’n trekkie” en ek hom die pakkie sigarette aangee wat ek die vorige dag op die stasie gekoop het, en hy my broer een aanbied, en dan die brandende vuurhoutjie, wat soos ’n onrustige mot opvlam in die papierlantern van sy vingers, tussen hulle hou, en toe die vuurhoutjie doodgaan, die laaste een wat hy gehad het, sy eie sigaret teen die gloeiende punt van dié van my broer hou, wat ’n goeie kop korter is, hy lyk soos ’n ooievaarskuiken wat gevoed word uit die snawel van sy ma, toe neem ek hulle weer af, en ek sien hoe my broer met sy blik daardie helder, kalm gesig, die toegeknypte oë wat konsentreer op die sigaret, die hand wat ligweg op sy skouer leun, die twee medaljes wat lyk asof hulle mekaar wil troef, die een rooi, die ander blou – hoe hy daardie oomblik in homself opneem, dit in die koperplaat van die geheue ets, verlief na daardie mond kyk, die mond van my man; die lippe wat hulle om die sigaret saamtrek terwyl hulle suurstof deur die gloed suig, en dan, skielik, strome wit rook loslaat.
Natuurlik sou ’n vertaler dit anders kon doen, die brokke in aparte sinne opbreek om dit vir die eietydse leser wat haastig van een ding na ’n ander klik, tog “toeganklik” te maak. (Sou iemand dit met Proust waag? wonder ek net.)
Is daar aanknopingspunte met die werk van Afrikaanse skrywers, hetsy in die hantering van gegewens, stylaspekte of beeldspraak? Het enigiets hiervan jou opgeval toe jy dit vertaal het?
Ai, hoe verlang ek na my boeke om my eerste reaksies te gaan toets! Niks het my bygeval terwyl ek vertaal het nie, want Mortier is gewoon te oorrompelend. Maar as ek sonder loerslag moet antwoord, sou ek sekerlik Karel Schoeman sê. Die tydsame verkenning van verledes, lang en wydlopende sinne, karakters wat hulleself verken sonder om hulle aan ons op te dring in die proses. Is dit nie wonderlik dat ’n mens op hierdie manier ’n band vestig tussen Proust en Schoeman en Mortier nie?
Natuurlik sou Schoeman ook homself kom aanbied rondom die soort Afrikaans wat hy geskryf het.
Mortier bestryk in die meesleurende werk ’n groot verskeidenheid van gegewens en gewaarwordinge, met verrassende beelde wat van die lees ’n ervaring maak en dit voortdryf. Benewens die skrywer se aansienlike stilistiese vermoëns het hy ook dagboeke van oorlogsverpleegsters vertaal. Die geskiedenis is nie ’n konklusie of ’n soort objektiewe artefak nie, sê hy, ook dat dit ’n voortdurende gesprek bly en immer aan die onderhandelingstafel is. En aan die hand van hierdie roman oor die oorlog van die loopgrawe laat blyk hy dit is nog geensins uitgeskryf nie, of dat dit dalk selfs kán wees nie. Hoe vergelyk dit met die bewustheid van dié oorlog in Afrikaanse verhaalkuns? Vind Mortier se roman nog interessante aansluitings?
Dis ’n pragtige formulering: “geskiedenis [...] immer aan die onderhandelingstafel”. Dit val op, het van die Nederlandse resensente gesê, dat die beduidende Vlaamse romans oor die Eerste Wêreldoorlog byna eers ’n eeu ná die oorlog verskyn. En dit terwyl daardie oorlog, die een van die loopgrawe, soos jy dit noem, sy kloue die diepste in België ingeslaan het. En ook die oorlog waarin die ellende en verwoesting die eerste keer omvattend deur die oog van kameras gedokumenteer is. Daarom ook die karakter van die Engelse oorlogsfotograaf as katalisator in Godenslaap.
Jy verwys na Mortier se omgaan met die verpleegsters se dagboeke wat hom met ander soort oë na die oorlog laat kyk het, hoewel ek nie seker is dat dit reeds aan die gang was toe hy die roman geskryf het nie.
.....
‟Aan die woord is ’n ou vrou, wat tagtig jaar of so ná die afloop van die Eerste Wêreldoorlog daarop terugkyk en die gebeure herroep, hoofsaaklik deur die neerskryf daarvan. Dit is ’n baie private belewing van die oorlog, haar kinderjare en verhouding met haar ouers in die aanloop daartoe en enkele fragmente oor die jare daarna.”
.....
En ons dan? Ons ken natuurlik nie ’n omvattende, groot oorlog nie, het dit nooit rondom ons sien gebeur en die fisiese verwoesting daarvan meegemaak nie. Nie in die verskrikking van besettings, vernietiging van dorpe, volgepakte veldhospitale, die nimmereindigende dreunings iewers ver nie. Sirenes, bomme en mortiere. Honderde verminkte lywe van bekendes en onbekendes; dorpe sonder mans en seuns. Ons oorlog was elders, kleiner, privater. Daarom sal ’n roman soos hierdie nooit in Afrikaans geskryf word nie.
En selfs ons betrokkenheid by die twee wêreldoorloë is abstrak, behalwe die besetting van die destydse Duits-Wes-Afrika en die aktiwiteite rondom die hawens. Uys Krige is die enigste wat eintlik kom praat het oor die oorlog anderkant die ewenaar, maar die plaaslike uitlope in die Rebellie en die Ossewabrandwag (OB) het tog neerslag gekry in prosa. Vroeër het ek verwys na J van Melle; rondom die OB is dit seker HS van Blerk na wie ’n mens sou kon kyk.
Ek praat natuurlik nie van die Anglo-Boereoorlog nie, want daar het die breë gemeenskap dit aan die lyf gevoel. Sou ons meer romans gekry het as die Afrikaanse taalbewegings twintig jaar vroeër begin het?
As ek dit so begin bedink, is die besluit om Godenslaap dan spesifiek in Afrikaans te vertaal, ook een wat die deur oopstoot vir Afrikaanssprekendes om te gaan loer hoe lyk oorloë eintlik en hoe kry dit neerslag in mense se herinneringe.
Daar is geskryf dat Godenslaap onder meer enersyds ’n kultuur-elegiese verhaal oor die konkrete modernisering is en andersyds oor die kulturele modernisme wat opdaag in Europa en daarin word verskuiwende kontekste en veranderende maniere van kyk weergegee aan die ander. Die verhaal word vertel met ’n hele lewe se ontroering, ook dekadensie, sowel as obseniteite van oorlog én deurentyd tonele waarin woorde en sinne sintuiglik en estetiserend aangewend word. Wat aan die verhaal sal resoneer met die Afrikaanse leser in 2020?
Dis ’n klompie groot woorde hierdie, waarskynlik ’n samevatting van een of ander slim Europese resensent. Dit is natuurlik waar dat die tegniese en industriële Europa tydens hierdie oorlog sterk verander het, maar België het aanvanklik min daarvan meegemaak. Die fisiese, geestelike en emosionele besetting van die land het die land, soos ek dit verstaan, tot stilstand gebring. Die akademici en wetenskappers het die land in groot getalle verlaat of hulle eenvoudig onttrek aan die politieke korrektheid wat op die universiteite afgedwing is. Miskien lê daar daarin ook ’n verklaring vir die feit dat die literêre verkenning van die oorlog in Vlaams so lank agterweë gebly het. Maar niks hiervan kry eintlik neerslag in die roman nie, juis omdat dit die verhaal en perspektief van hierdie een vrou is.
Ek is ook nie seker of ek saamstem met die idee dat dit ’n verhaal is oor die modernisme wat opdaag in Europa nie. Nee, eintlik stem ek glad nie saam nie, want daar is maar min modernistiese aanduiders in die roman, ook nie in die styl waarin daar vertel word nie. Geen modernis sou ’n beeld soos die volgende wou gebruik nie:
Een van die bomme het nie ontplof nie en lê in die sand en slaap, omring deur doringdraad, langs ’n wagpos wat af en toe op die ding afkyk asof hy sy hond uitlaat en ongeduldig wag tot hy sy draai geloop het.
En “dekadensie”? Selfs as stylfiguur nie.
Jy vra wat aan die verhaal sal resoneer met die Afrikaanse leser in 2020. Só ’n vraag maak my skielik benoud en bang. Móét dinge resoneer? En hoe lyk die Afrikaanse leser by wie dit moet resoneer? Want die oorlogsgegewe gaan nie resoneer nie; die landskap ewemin. Die dominante subtiele aanwesigheid van die Rooms-Katolieke Kerk en die ongemaklike bewustheid van stand is nie deel van ons omgewing nie. Die vertelling is vermoeiend vir mense wat met die knipperende sosiale netwerke saamleef, breedsprakig en sonder emoji’s. Herinneringe is onnodig; dis waarvoor “Delete” daar is.
Mortier laat sy ou verteller self ’n soort antwoord rondom resonansie gee:
As ons oor ’n honderd jaar kon terugkeer, sou ons die oorlog nie meer herken nie, sy onvatbaarheid, sy totaliteit wat ontelbare klein lewens soos naalde op sy magnetisme laat dans het, sou ondertussen herlei geword het tot ’n handvol beelde, ontvleesde getalle, plekname en datums en gegewens – kon ons ooit iets anders doen, vra ek my af, as om gedurig sprokies, oorlaai met voetnote, te vertel?
En tog. Dis oor mens-wees, oor onmin en liefde, oor oud-word en oor onthou. En alleen om die wyse waarop vertel word, duisendmaal die moeite werd. Iewers het ek in die aanloop tot my vertaling oor die boek gaan lees en die volgende van ’n dosent, Kees van der Pol, gekopieer-en-plak:
Het hoeft geen nadere uitleg dat Mortier fantastisch mooi proza schrijft, maar je moet je dan ook de tijd gunnen om het boek rustig te lezen en de metaforen en de poëtische woorden tot je te laten doordringen. Mortier schrijft literatuur voor fijnproevers: het is de Grand Cru voor de ware wijnliefhebber. Een slokje taal nemen, ogen dicht en de woorden van zijn zinnen op je tong strelen. Wie goede wijn waardeert, zal het niet erg vinden dat de fles niet zo gauw leeg is. Mortier schrijft geen slobberwijntje van de Hema. Daarom durf ik de literaire waarde van deze roman hoog te waarderen.
De amusementswaarde zal slechts door de kenner en de fijnproever op de juiste waarde worden geschat. Maar het is ook onbegonnen werk een drinkers wat oorspronklike van slobberwijn warm te maken voor de geneugtes van een grand cru.
Jy het al verskeie werke uit Nederlands en Engels in Afrikaans vertaal. Hieronder tel die reeds genoemde Kris van Steenbergen se Woesten as Van kant gemaak, asook JM Coetzee se Disgrace as In oneer, en van Ilja Leonard Pfeijffer La Superba as Die mooiste meisie van Genua. Jy is as vertaler deur die Nederlandse en Vlaamse Letterenfonds geakkrediteer. Hoe verwerf ’n mens hierdie akkreditasie? Bied daardie model vir vertaling moontlikhede in Afrikaans? Of vra die Suid-Afrikaanse literêre landskap om ’n heel ander soort model?
Gits, nou laat jy dit klink of ek, geakkrediteerd, die een of ander te sê het rondom die vertaalbedryf. Ek was gelukkig genoeg om jare gelede met ’n kinderboekie of twee te begin vertaal en het as dosent my moes inwerk in vertaalteorie. Iewers het ’n uitgewer dit in later jare goedgedink om my te vra of ek ’n roman wil vertaal en later nog. ’n Gelukkie, ’n vloekskoot, soos ons in gewone Afrikaans sê.
(Tussen hakies: Ek is die vertaalbedryf éindeloos en grénsloos dankbaar omdat dit my in staat gestel het om wonderlike boeke uit vreemde tale te kon lees. Daarmee saam natuurlik omdat ek in ‘n meertalige Suid-Afrika grootgeword het en in ’n huis vol respek en waardering vir Engels. ’n Mens moet net ’n tyd lank in Europa gaan woon om te weet hoe gelukkig ons is omdat ons so deeglik toegang tot Engels het – en dus ook Amerikaans verstaan ...)
Terug by die tegniese vraag. Jy word ’n geakkrediteerde vertaler in die buiteland (byvoorbeeld die Letterenfonds waarna jy verwys) deur werk voor te lê vir akkreditasie. Jy kan dit op jou eie risiko en onkoste doen, maar soms sal ’n uitgewer wat jou genader het, die proses aan die gang sit.
As jy eers geakkrediteer is, nader uitgewers jou makliker. As jy eers geakkrediteer is, is daar die moontlikheid van verblyf (korter of langer) in vertalers- en skrywershuise, ook in ander lande. Gewoonlik moet ’n mens die een of ander vertaalkontrak of jou eie geloofwaardige vertaalprojek hiervoor kan voorlê. Sommige letterkundefondse stel beurse beskikbaar of gee subsidies vir vertaalprojekte (dus nie opdragte van uitgewers nie) wat hulle dink die moeite werd is met die oog op eventuele vertaling.
.....
‟Ek beweeg tussen die twee tale, soms verstom oor hoe mooi dit klink as ek dit hóór. En weer en weer onthou ek woorde wat in my kulturele DNS ingebed is en wat nie net Nederlands of Vlaams is nie. Maar ook Afrikaans, en vertaling van ’n teks soos Godenslaap maak hulle weer wakker. ”
.....
Gewoonlik is hierdie fondse finansieel baie sterk en goed gesubsidieerd. Hier in Suid-Afrika bestaan daardie opset nie, hoewel die Jakes Gerwel-stigting met sy skrywersblyplek in Somerset-Oos duidelik ’n volhoubare opset is. Dit is egter nie ingestel op vertalers nie.
Lesers of voornemende vertalers in Suid-Afrika kan gerus die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se webblad besoek om uit te vind hoe die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse vertaalvurk in die hef steek. Alhoewel daar ook die moontlikheid van akkreditasie is, het dit niks gemeen met die goedgeorganiseerde literêre akkreditasie in Europa waarna ek hier bo verwys nie.
Een van die groot hartsere rondom ons eie literêre landskap bly die feit dat ek niks weet van wat in die ander eie Suid-Afrikaanse tale gebeur nie. Verskyn daar niks wat die moeite werd is om te vertaal buiten die klompie kinderboeke nie? En as dit die geval is, hoekom?
As ons ’n ordentlike nasionale kultuurbewussyn gehad het en ’n program wat daarmee saamhang, sou ons seker ’n vertaalopset van die een of ander aard gehad het. En sou skrywers waarskynlik nie Engels of Amerikaans gekies het nie.
(’n Mens skryf seker uit jou taalbinnegoed uit – ek dink aan Breyten Breytenbach en die “stuiptrekkende taal”, Eben Venter se hibriede bestaan, en Ryk Hattingh. En ek besef onlangs eers dat die bekroonde Zirk van den Berg reeds 22 jaar in Nieu-Seeland woon.)
In die gedagtes van Wanneer gode slaap se hoofkarakter is besinnings oor taal en sêbaarheid, iets van afguns op skilderkuns en die verkenning van die mens teen die agtergrond van oorlog en waardes opgesluit in emosies. ’n Mens sou iets naasliggend aan Mortier se eie agtergrond daaruit kon aflees: Hy het kunsgeskiedenis studeer, het hom as ’n psigiatriese verpleër bekwaam en was enkele jare werksaam in die Gentse museum vir die geskiedenis van die psigiatrie. Op watter uitdagings het sy estetisering van taal vir jou as vertaler tussen die twee tale attent gemaak? Moes jy in die Afrikaans ekwivalente soek omdat die Vlaamse voorbeeld te verwyderd van Afrikaanse lesers staan? Het jy na ander vertalings gekyk of met die skrywer kontak gemaak?
Wees tog maar versigtig om naasliggendheid (nogtans ’n oulike begrip) met die skrywer se eie agtergrond uit sy teks af te lees. Al die mooi dinge wat jy aan die begin van die vraag oor die roman sê, het nie noodwendig te make met Mortier se studies of opleiding nie. Verwysings na die kuns kan ons dalk daarheen terugvoer, maar die besinnings oor taal en sêbaarheid (soos jy dit tereg noem) nie sommer nie. En alle ordentlike skrywers span taal gestileerd in, ook hulle wat hulle bes doen om dit nie te doen nie. Dalk júis hulle ...
Terwyl ek aan die vertaal is, raak ek weg in Helena se taal, probeer ek daaraan reg laat geskied, verstaan ek dit as beswering. Vroeg in die roman sit sy dit self só uiteen wanneer sy oor die verskil tussen haar en haar ma vertel:
Sy wou my instoot in die alledaagsheid van die woord, my gedagtewêreld in stewige winterklere inwurm. Saai, maar onverslytbaar, bowenal waterdig. Vir my moeder was redenasies en kledingstukke een en dieselfde ding: Hulle moes deeglik sluit, terwyl ek niks liewer gedoen het as om luilekker middae lank te drentel deur die hangende tuine van Babel en in my oop nagrok, trots op my ontluikende rondings, die ziggoerats van die boeke beklim: ...
Help hierdie stukkie my om “estetisering” beter te verstaan? Jou vrae maak net nuwe vrae wakker, ook sommige waaraan ek nie bewustelik gedink het nie. Ek beweeg tussen die twee tale, soms verstom oor hoe mooi dit klink as ek dit hóór. En weer en weer onthou ek woorde wat in my kulturele DNS ingebed is en wat nie net Nederlands of Vlaams is nie. Maar ook Afrikaans, en vertaling van ’n teks soos Godenslaap maak hulle weer wakker. Soms verdwaal ’n mens natuurlik, of, op sy ergste, is mens verlore. Dan is dit woordeboeke toe en hier en daar Vlaamse vriende. Ek en die redigeerders sien nie orals dinge dieselfde nie, maar hier en daar red hulle my. Tot in lengte van dae bly ons verskil oor wanneer dit reg, nodig is om die klassieke Afrikaanse verlede tyd te gebruik. Veral wanneer dit te make het met herinnering se wei en een verteller wat partykeer skryf, somtyds praat en soms gesels.
Maar ook hulle teken ek, onwetenskaplike vertaler, nie op of aan nie. Die verskillende weergawes sou ’n mens wel op ’n dag kon gaan uithaal en dan ’n ordentlike gesprek voer oor ons wonderlike historiese presens se plek in prosa.
Nog ’n deel van jou vraag: Spesifieke Vlaamse dinge, leefwêrelde, was daar ook wat nie sonder meer in Afrikaans moontlik was nie of wat ’n bietjie meer omskryf sou moes word. Maar ek dink nie ek het ooit iets probeer ver-Suid-Afrikaans om dit “makliker” of “verstaanbaarder” te maak nie. ’n Roman van hierdie statuur verdien dít nie.
Ek antwoord te lank en ontduikend of ontwykend. Jammer! Laaste vraag: Ek het geen ander vertaling gelees nie (net Duits en Engels sou kon). Maar nou het jy my nuuskierig gemaak om te gaan kyk wat gebeur in Engels, daar waar die tale nie so dig vergroei is nie. Nooit met die skrywer kontak gehad nie, want die teks het uit sy kloue ontsnap.
Werke van watter skrywers wil jy graag volgende vertaal? Waaraan werk jy tans wat jou eie skryfwerk betref?
Eintlik sou ek nie omgee om Mortier se De spiegelingen te pak nie. Dis ’n voortsetting van ’n faset van Godenslaap, maar met ’n ander verteller (Helena se broer, die verminkte soldaat) en ’n radikaal ander invalshoek. Nog nie gelees nie, want waar kry jy eintlik nou jonger Nederlandse boeke in die hande?
Daar is iets anders waarop ek hoop, maar Dirk Opperman het altyd gewaarsku dat jy nie moet praat oor wat in die oond is nie, ook al is dit ’n vertaling.
Intussen bly ek probeer om gedigte te maak. Met ou laaie vroeër vanjaar het ek met ’n klomp goed afgereken, maar daar is seker nog genoeg om bymekaar te gooi.
Jou boekeversameling is ’n tyd gelede in ontvangs geneem aan die Universiteit van Gent. Wat was jou ervaring van die geleentheid en hoe beskou jy vandag jou besluit om dit te doen?
Boeke, tydskrifte, dekades se resensies van almal oor alles, koerantberigte. Hier om en by 6 000 boeke – Afrikaanse letterkunde, maar ook Suid-Afrikaanse Engelse letterkunde en alles wat met Suid-Afrikaanse kultuur, politiek, geskiedenis en sulke goed te make het. Waarskynlik nou die grootste versameling in Europa, naas Amsterdam miskien. Vir my is die lekkerste gedagte dat Suid-Afrikaners wat in Gent gaan studeer, nou genoeg navorsingsmateriaal gaan hê. En dat Yves T’Sjoen-hulle mettertyd daarmee sal kan spog en weet watter belangrike reddingsdaad hulle verrig het.
Ek en Antoinette was verlede jaar daar as gaste van die universiteit. Wonderlike voorreg om te sien hoe die ontsluiting begin.
Máár, en dit het ek bedink en oorweeg: Daar is geen groter hartseer en frustrasie as om nie jou hand op ’n boek te kan lê wanneer jy dit nodig het of net daarna verlang nie. Soos dit nodig sou wees om al jou vrae ordentlik te beantwoord.
Lees ook
Buro: MvHFMR-resensie: Die mooiste meisie van Genua deur Ilja Leonard Pfeijffer