Daniel Hugo, ’n bekende Afrikaanse digter wat al meermale bekroon is vir sy vertalings uit Nederlands, is die eerste vertaler wat ná die instelling van die leerstoel Zuid-Afrika: talen, literaturen, cultuur en maatschappij aan die Universiteit van Gent daarheen genooi is. Hy het Willem de Vries se vrae beantwoord oor sy werk, optredes en ervarings daar as "vertaler op kampus".
Jy het onlangs teruggekeer van die Nederlande, waar jy ’n vol en interessante program gehad het. Wat het jou besoek aan die Universiteit van Gent behels? Waaraan het jy in hierdie tyd vertaal? Wat het jy as interessante bekendstellings en welkome herbesoeke ervaar?
By die voorgraadse studente wat Afrikaans as vak neem, het ek ’n lesing gegee oor Jeroen Bosch in die Afrikaanse digkuns. DJ Opperman, Boerneef, Breyten Breytenbach, WEG Louw, Johan van Wyk en ek self het gedigte geskryf wat na skilderye en tekeninge van Bosch verwys. Daarmee wou ek die noue kultuurband tussen die Lae Lande en die Afrikaanssprekendes aan die suidpunt van Afrika illustreer. (In Nederlands staan sulke lesings met geprojekteerde beelde bekend as “praatjes bij plaatjes”!) Toevallig het daar in dié tyd ’n artikel van Carina van der Walt oor dieselfde onderwerp op die webwerf Versindaba verskyn, na aanleiding van ’n lesing wat sy voor studente in Afrikaans aan die Universiteit van Wene gehou het. “Great minds ...!”
By die nagraadse studente het Yves T’Sjoen (hoofdosent in die Afdeling Nederlands van die Vakgroep Letterkunde aan die Universiteit van Gent) ’n vraaggesprek met my gelei oor die taalkundige uitdagings wat die oorsetting van tekste uit Nederlands in Afrikaans stel: valse vriende, styl, register, woordeskat, historiese, geografiese en kulturele verwysings, ens. Praktiese sake soos hoe word jy ’n vertaler, wie kies wat vertaal word, wie betaal die vertaler, wie publiseer dit en wie lees dit, het ook aan bod gekom.
By twee geleenthede het ek aan ’n paneelgesprek oor vertaling deelgeneem. Die eerste een was in ’n goedgevulde lesingsaal van die fakulteit saam met Stefan Hertmans en Tom Lanoye, met Yves T’Sjoen as gespreksleier. Van Hertmans het ek sy veelbekroonde roman Oorlog en terpentyn vertaal, en van Lanoye Kartondose, ’n Slagterseun met ’n brilletjie, Sprakeloos en Gelukkige slawe. Dit was ’n besonder aangename gesprek met ’n altyd vermaaklike, briljante Tom en ’n ernstiger, erudiete Stefan.
Die tweede geleentheid was in die Gentse Poëziecentrum saam met die digteres Miriam Van hee en haar Franse vertaler Philippe Noble. Ek het in 2011 ’n keuse uit Van hee se gedigte vertaal onder die titel In plaas van die stilte. Tydens die gesprek het dit geblyk dat die twee vertalers plek-plek dieselfde struikelblokke in haar werk teëgekom het en dit op min of meer dieselfde wyse probeer oorkom of omseil het. Miriam het selfs apologeties geraak en gesê dat sy ’n gedig waarmee ons moeite gehad het, liewer nie in ’n bundel moes opgeneem het nie!
Verder het ek by die Zuid-Afrikaanse Leeskring in Gent oor my eie poësie gepraat, met weer eens Yves T’Sjoen as gespreksleier. Veral die begrip vernufspoësie, waaroor my proefskrif gehandel het en wat ook tiperend van my verse is, het belangstelling uitgelok.
In my proefskrif van 1988 het ek dankbaar gebruik gemaak van die Vlaamse geleerde literator Paul Claes se Claus-reading – sy “close-reading” van Hugo Claus se gedigte. Daarom was ek besonder bly dat ek op Saterdag 24 November, net voor my vertrek uit Gent, die viering van sy 75ste verjaarsdag in die Poëziecentrum kon bywoon. Agterna het hy vir my sy vertaling van TS Eliot se digbundel Prufrock and other observations geteken.
By hierdie geleentheid het ek ook vasgeloop in Patrick Lateur, die vertaler van onder andere Homeros, Michelangelo en Da Vinci, met sy stralekrans wit hare. Sy vroom voorkoms het hom egter nie verhoed om ’n glas of twee Belgiese bier ná die tyd saam met my op die Vrijdagmarkt te geniet nie.
Tydens my verblyf van twee maande (Oktober en November 2018) het ek Benno Barnard se jongste digbundel, Het trouwservies van 2017, vertaal. Hy woon deesdae in Engeland en het spesiaal onderdeur die kanaal na Gent gekom om met my oor die vertaling te praat. Ek kan onbeskaamd verklaar dat Benno ’n geesgenoot is en dat ek sy poësie met groot plesier vertaal het. Die vertaling sal in Junie by Naledi verskyn – betyds vir die bekendstelling by die Vrystaatse kunstefees, waarheen die digter reeds uitgenooi is.
Deur die toedoen van Yves T’Sjoen (ek begin al rym op sy naam!) het ek ’n Vlaamse digter ontdek wat totaal onbekend aan my was: Marc Tritsmans. Hy staan beslis op my vertaallys vir 2019.
Dit was vir my lekker om Thomas Eyskens, die biograaf van Herman de Coninck, weer te sien. Hy het my uitgenooi na sy tuisdorp, Mechelen, vir ’n egte braai met skaaptjops en wors van die Marokkaanse slagter. Ek het ’n bottel Suid-Afrikaanse wyn bygedra. Ludo Teeuwen, ’n ou kennis, het my weer na Leuven genooi vir ’n egte Vlaamse stoofpot. Daar was ook ander uitnodigings – die Vlaminge is besonder hartlike mense.
Jy het aan die Afrikaans-kollokwium aan die Universiteit van Gent deelgeneem en in die Poëziecentrum opgetree by die 20ste herdenking van die Ernst van Heerden-versameling. Dit is duidelik dat Gent ’n besonderse, gasvrye en welkome adres vir die Afrikaanse letterkunde bied. Wat het jou daar die meeste opgeval oor hoe Afrikaans en Afrikaanse boeke benader en ontvang word, as vak en in informele besprekings?
By die vyfde Gentse kollokwium oor Afrikaans het ek op Vrydag 5 Oktober ’n “keynote lezing” (dit is glo goeie Nederlands!) gelewer met die titel “Wie is Kees Fens? Uitdagings wat die Nederlandstalige digkuns aan die Afrikaanse vertaler stel”. By die Van Heerden-herdenking het ek kortliks gepraat oor sy gedig “Insident” wat Van Heerden gedurende sy studieverblyf (1951–1953) in Gent geskryf het. By dié geleentheid het ook twee ander Suid-Afrikaners opgetree, naamlik Wannie Carstens, 2018 se Afrikaanse gasprofessor in Gent, en Nicol Stassen, die uitgewer van onder meer Afrikaanse digbundels en talle vertalings uit Nederlands.
In Gent is die groot dryfkrag agter die bestudering van die Afrikaanse taal- en letterkunde die reeds meermale genoemde Yves T’Sjoen. As almal in Suid-Afrika wat betrokke is by die instandhouding en bevordering van Afrikaans so energiek en entoesiasties kon wees, sou ons minder te vrese gehad het vir die behoud van Afrikaans en veral sy hoë funksies wat oor ’n tydperk van 100 jaar gevestig is en nou weens interne verwaarlosing en eksterne druk binne twee dekades aan die kwyn is.
Ewe opgewonde oor Afrikaans as Yves T’Sjoen is Stefaan Goossens, die bibliotekaris by die Poëziecentrum, waar die grootste versameling Afrikaanse poësie in die Noordelike Halfrond bewaar word. Die Ernst van Heerden-skenking, wat die basis van die versameling vorm, word jaarliks met nuwe bundels aangevul. Die biblioteek bied ’n gerieflike en warm ruimte vir navorsers oor die Afrikaanse digkuns.
Jy het ook in Amsterdam tuisgegaan in die Vertalershuis en daar gewerk. Wat was op jou rooster vir jou besoek aan Nederland?
Ek was van 1 tot 31 Desember saam met my vrou, Marlene Malan, in Amsterdam, waar ek gewerk het aan die vertaling van Hugo Claus se Die verdriet van België, wat vanjaar nog by Protea Boekhuis moet verskyn.
Op Donderdag 6 Desember was daar ’n vertaalmiddag en -aand in die Zuid-Afrikahuis aan die Keizersgracht, gereël deur Ingrid Glorie. Dié middag het ek my Gentse kollokwiumlesing herhaal voor vertalers wat uit Afrikaans in Nederlands vertaal, en daarna het Rob van der Veer (vertaler van André P Brink, Willem Anker en ander) ’n vraaggesprek met my gevoer. Daardie aand het Ingrid ’n gesprek met my en Gerbrand Bakker gelei.
My vertaling van Bakker se Boven is het stil het in 2013 verskyn. Die openingsin van sy roman het reeds klassieke status in die Nederlandse literatuur verwerf: “Ik heb Vader naar boven gedaan.” En onvermydelik moes ek my vertaling verdedig: “Ek verskuif Pa boontoe.” Veral die gebruik van die teenwoordige tyd het die Nederlandse gehoor onmiddellik opgeval. Dit lei dan vanselfsprekend tot ’n uiteensetting van die historiese presens as verteltyd in Afrikaans, asook die (nadelige) invloed wat dit soms op die sinsritme het.
Op Vrydag 14 Desember het ek en Marlene die jaarlikse Literaire Vertaaldagen in De Rode Hoed, ’n pragtige “skuilkerk” uit die 17de eeu aan die Keizersgracht, bygewoon. Daar was meer as 300 Europese vertalers wat in of uit Nederlands vertaal. Adembenemend en asemrowend. Die tema was “Nieuwe stemmen, oude stemmen – samenwerking baart kunst”. Die gesprekke en lesings het gehandel oor die opleiding van nuwe vertalers deur middel van ’n sisteem van mentorskap. Literêre vertalers word meestal in die praktyk opgelei, nie by universiteite en ander tersiêre instellings nie. Vertaalteorieë en die vertaalwetenskap het selde enige verband met die werklikheid van die vertalerswêreld.
Tot my groot vreugde kom ek toe die altyd vrolike Frank Westerman daar teë. Van hom het ek El Negro en ek vertaal. Dadelik skenk hy my sy jongste boek, Wij, de mens, waarvoor hy ook in Suid-Afrika, die wieg van die mensdom, navorsing gaan doen het. (Ja, skrywers bly die effektiefste bemarkers van hul eie boeke.)
Vir die eerste keer het ek ook Zeeland besoek, op uitnodiging van Bart de Graaff, van wie ek die boek oor die Khoi-mense van Suid-Afrika, Ware mense, vertaal het. Hy woon in Middelburg op die eiland Walcheren. Dit is daarom geen wonder dat hy ’n boek oor Nederlandse plekname in Suid-Afrika – waar daar twee Middelburgs is – geskryf het nie: 1599 km tussen Amsterdam en Gouda. Een ontdekkingstocht langs Nederlandse plaatsnamen in Zuid-Afrika. Hy praat vlot Afrikaans en sy belangstelling in ons land dateer van die 1980’s, toe hy geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer het. In sy drieverdiepinghuis staan daar op elke vloer ’n kokerboom in ’n pot. Verstommend.
Reintje Gianotten van die Nederlands Letterenfonds in Amsterdam het ook gesorg dat ek by ander geleenthede met Nederlandse uitgewers, vertalers en skrywers kontak kon maak. Nog ’n skitterende voorbeeld van energieke entoesiasme! Sonder geld en geesdrif is kulturele uitwisseling gedoem.
Dit wil lyk of poësie en literêre vertaling twee kante van dieselfde munt is: Die taak van ’n vertaler, kan ’n mens sê, is om uit die teks te verdwyn; daarteenoor is dié van ’n digter die daarstel van ’n individuele, selfs verrassende en herkenbare eie formulering wat dan sterk in verband met die digter staan. In watter mate slyp die kundigheid in die een bedrewenheid in die ander?
Die vertaler moet inderdaad in ’n groot mate onsigbaar en onhoorbaar bly, hoewel elke vertaler tog ’n eie styl het wat voortkom uit ’n min of meer konsekwente, persoonlike “keuseregister”. Die vertaler moet byna by elke woord en frase tussen verskillende moontlikhede kies. Sy styl ontstaan dan uit sy voorkeur vir en afkeer van sekere woorde en uitdrukkings. Dit verskaf aan die vertaalde teks (die doeltaalteks) ’n soort vlotheid en leesbaarheid, aangesien lukrake registerwisselings ’n leser baie gou kan irriteer. Om dieselfde rede bestaan daar ook nie iets soos ’n ideale vertaling wat deur ’n vertaalkomitee saamgeflans kan word nie. Dit is die soort tekste wat soms uit vertaalwerkswinkels te voorskyn kom, maar gelukkig selde gepubliseer word. ’n Kameel is mos ’n perd wat deur ’n komitee ontwerp is.
Wanneer poësie deur ’n digter vertaal word, is die moontlikheid groter dat sy eie stem kan deurskroei, juis omdat versvertaling ’n groter mate van vrye omgang met die bronteks vereis. ’n Alte letterlike vertaling het selde ’n volwaardige gedig in die doeltaal tot gevolg. In hierdie geval mag die Europese perd maar soos ’n Bosveldse kameelperd lyk. Elkeen het sy eie bekoring en elegansie.
By watter Nederlandse digters, skrywers en/of vertalers vind jy in jou werk aansluiting?
As digter lê Herman de Coninck se woordspelige verse my na aan die hart. Terselfdertyd is dit daardie meerduidige betekenisspel wat sy gedigte soms onvertaalbaar maak. Verder het Gerrit Komrij se manier om ’n gedig met gesonde verstand te lees en sy bevindings dan prikkelend en kernagtig te formuleer my sterk beïnvloed. In my versameling artikels, rubrieke en resensies wat verlede jaar onder die titel Vers & Kapittel (Kraal Uitgewers) gebundel is, gee ek hom dankbaar erkenning daarvoor. Ek lees graag Nederlandse vertalings uit die wêreldpoësie – en daar is ’n groot aantal goeie versvertalers – maar ek kan nie een uitsonder wat vir my rigtinggewend was nie. Dit is eerder ’n geval van ’n onbewuste, kollektiewe invloed.
By die Amsterdamse antikwariaat Kok in die Oude Hoogstraat het ek tot my groot vreugde ’n Nederlandse vertaling van die Roebaijat vir drie euro gevind. Omdat ek self Edward FitzGerald se beroemde Engelse vertaling van die Omar Khajjam-kwatryne in Afrikaans omgewerk/omgewoel het, verskaf dit my eindelose plesier om Johan van Schagen se vertaling met myne en die ander Afrikaanse vertalers (Langenhoven, Leipoldt, Bosman, Jonker, Van Soelen en Basson) s’n te vergelyk. Ek moet my bedwing om hier interessante voorbeelde aan te haal.
Is daar ’n spanning tussen vertaalbaarheid van verse en die saamstel van verteenwoordigende werk van ’n digter? Indien wel, hoe navigeer ’n mens dit?
Ek was nog altyd in die gelukkige posisie dat ek die verse uit ’n digter se oeuvre kon kies wat ek wil vertaal. Eintlik moet ek sê: wat ek kán vertaal. Want daar is beslis so iets soos ’n onvertaalbare gedig. Die onvertaalbaarheid kan die gevolg van verskillende faktore wees: woordspel, klankspel, nuutskeppings, kultuurspesifieke verwysings wat slegs in voetnote verklaar kan word. En ’n gedig met voetnote is ’n onding, want dit versteur die tipografiese en semantiese integriteit van die teks. My vertalings van Nederlandse digters is daarom altyd bloemlesings in die kleine – my persoonlike keuse. Maar benewens vertaalbaarheid is ’n verteenwoordigende keuse ook belangrik om die tipiese temas en stilistiese hebbelikhede van ’n digter te demonstreer. Dit is inderdaad ’n genavigeer tussen Skilla en Charibdis.
Jy was, soos reeds genoem is, by die 20ste herdenking van die Ernst van Heerden-versameling in Gent. Die digter Fanie Olivier se versameling is nou ook daar. Jy het jou eie versameling ’n tyd gelede vanaf die Universiteit Stellenbosch oorgeskuif na Akademia. Hoe voel jy oor die stand tans van (universiteite se) spesiale versamelings waarin Afrikaanse letterkundige werke opgeneem is?
Dit is onthutsend dat Afrikaans se status by Suid-Afrikaanse universiteite in so ’n mate gedaal het dat daar nie meer plek is vir sulke versamelings nie. JC Kannemeyer se boeke, mét knipsels en aantekeninge, is soos herfsblare deur die wind versprei. Ek het self gesien hoedat die Universiteit Stellenbosch DJ Opperman se boekery vir ’n paar sikkels silwer verkwansel. Sy dokumente word wel nog daar bewaar, saam met ’n aantal ander Afrikaanse skrywers s’n: NP Van Wyk Louw, WEG Louw, Hennie Aucamp, Lina Spies, en ander. Hoe lank die verengelste universiteit dit nog daar gaan duld, is ’n vraag. Op die oomblik is private versamelings in Suid-Afrika, asook buitelandse instansies, soos die biblioteek van die Universiteit Gent, die Poëziecentrum in Gent en die biblioteek van die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam die veiligste opsies. En dan uiteraard ook Akademia, wat gebruik maak van die Erfenisstigting in Pretoria se moderne biblioteek en argief. Die Afrikaanse literêre erfenis sal noodgedwonge privatiseer of emigreer.
PEN Afrikaans het betreklik onlangs ’n vertaalfonds tot stand gebring. Van jou vertalings verskyn vele, danksy subsidies van Nederlandse en Vlaamse letterkundefondse. Hoe belangrik is só ’n fonds vir Afrikaans? Wat sou jy graag sien dat dit verrig?
Ek herhaal graag: Sonder geld en geesdrif is kulturele uitwisseling gedoem. Dat daar uiteindelik ’n fonds gestig is vir die vertaling van Afrikaanse boeke is lofwaardig. Daar is die afgelope drie dekades ’n groot verskeidenheid literêre tekste uit Afrikaans in Nederlands vertaal. Maar die inisiatief het meestal vanuit die Lae Lande gekom. Dit is meer as gepas dat daar nou ook ’n beweging vanuit Afrikaanssprekende en -skrywende geledere kom om die Afrikaanse literatuur wyer toeganklik te maak. Want Afrikaanse skrywers met hulle unieke kyk op Afrika het veel om te bied.
In jou twee maande lange besoek aan Gent, asook die maand in die Vertalershuis in Amsterdam, het jy met verskeie vakgenote gesels, sowel vertalers as skrywers en akademici. Hoe word Afrikaanse letterkunde vandag ontvang? Jou indrukke in die breë.
Die belangstelling in Suid-Afrika en sy skrywers het drasties afgeneem ná die euforie van die Mandela-era. Die Nederlandse leser se belangstelling het, weens die ideologiese woelinge in Europa met sy emigrante- en vlugtelingkwessies, verskuif na buitelandse en binnelandse skrywers wat lig op dié toestand kan werp. Daar word nou minder boeke uit Suid-Afrika vertaal – behalwe as dit, nog steeds, oor Mandela handel, soos Zelda le Grange se Good morning, Mr Mandela wat onlangs as Goedemorgen, meneer Mandela in Nederlands uitgegee is. Antjie Krog bly natuurlik enorm gewild en het ’n byna onaantasbare status in die Lae Lande verwerf. Remco Campert, die mees senior Nederlandse skrywer, het haar selfs tot ’n Nobelpryskandidaat uitgeroep. Haar boeke is dan ook in elke goeie boekwinkel – waarvan daar baie in die Lae Lande is – in Nederlandse vertaling verkrygbaar. En dan is daar natuurlik ook Breyten Breytenbach wat weer in die kollig gekom het nadat die Universiteit Gent (op die aanbeveling van Yves T’Sjoen) ’n eredoktorsgraad aan hom toegeken het. Van hom is daar nou ook nuwe vertalings van sy gedigte beskikbaar: De zingende hand, vertaal deur Laurens van Krevelen.
In hierdie tyd waarin daar ongekende potensiële toegang is tot allerlei soorte tekste aanlyn, gaan die bewustheid van prosesse, soos wat vertaling alles behels, maklik verlore. Hoe gaan jy te werk wanneer jy ’n bepaalde werk vertaal?
Ek begin op die eerste bladsy by die eerste woord en hou vol tot by die laaste woord op die laaste bladsy. As voltydse vertaler het ek nie die tyd om ’n boek eers deur te lees en strukture, simbole, temas en motiewe te ontleed nie. Dit is ook nie nodig nie. As jy getrou vertaal, sal die doelteks daar onder jou tikkende hand opborrel, begin sing en dieselfde vorm aanneem as die bronteks.
Lees ook
Buro: MvH