Die 2024-Simposium van Suid-Afrikaanse Komponiste se fokus is hierdie jaar om konneksie te skep, opvoeding te bied, te luister en te eksperimenteer.
Dit is die tweede simposium hierdie, en is tans enig in sy soort in Suid-Afrika. Dit word beskryf as ’n hoeksteen van ’n gesonde komposisiekultuur.
Antoni Schonken, simposiumsameroeper en deeltydse dosent aan Stellenbosch-universiteit, sê hy verwag dat na afloop van die simposium jonger komponiste beter vriendskappe met hulle vennote sal bou. “Ek het ’n direkte belangstelling daarin om navorsing en kreatiewe uitsette te skep deur die simposium en hierdie sal my persoonlike fokusareas wees na afloop van die week.”
Vir Schonken is die beste deel van komponis wees die geweldig komplekse konstellasie van tegniese, geskiedkundige, estetiese, sosiale, en gesondheidsfaktore wat die skep van musiek bepaal. Hy sien die proses as ’n konstante leeruitdaging.
Schonken sien in besonder uit na die diversiteit en vernuwende uitdrukking van kreatiewe identiteit wat die 2024-simposium sal bring.
“Elke jaar wat organisasies soos SA Composers, Vektor Produksies of die KFO hierdie tipe geleenthede skep vir jong komponiste en kunstenaars, word die grense afgebreek wat voorheen benadeelde groepe eens uitgesluit het. As gevolg van hierdie nuwe ondersteunende meganismes is daar tans ’n ongelooflike renaissance van kreatiewe uitdrukking in Suid-Afrika.”
Alhoewel die landskap van musiekwaardering oor die laaste 20 jaar baie verander het en die aanbieding van simfonie-orkes- en klassiekemusiekkonserte veel meer toeganklik gemaak moet word vir nuwe generasies, glo Schonken dat daar steeds ’n kultuur van waardering vir musiek bestaan. “Ek is nie seker dat konsertaanbieders altyd die tegnologiese en sosiale veranderinge in hierdie landskap effektief aangespreek het nie. Die aanbieding daarvan moet moontlik net meer eietyds gemaak word.”
Schonken se belangstelling in musiek en die tegniese aspekte daarvan het ontwikkel rondom die meganiese kompleksiteit en klanke wat instrumente soos die klavier en klarinet maak. Sang, veral kore, het ook sy belangstelling geprikkel.
“Saam daarmee was die abstrakte logika van musiekteorie vir my ’n ruimte om kreatiewe, ruimtelike en tegniese denke te verken. Uiteindelik sou ek komposisie self ook as probleemoplossing beskou meer as skepping, en vandaar dus my liefde vir die komplekse organisatoriese aspekte van die simposiumlegkaart.”
Daar is ’n persepsie oor klassieke musiek dat dit net vir ’n sekere “tipe mens” is. Daarop reageer Schonken met ’n besliste “Nonsens”. Hy sê voorts musiek hoef nie altyd “mooi” te wees nie, ook dat musiek ons juis laat terugsit, waardeer en besin: “Menswees is immers nie altyd mooi nie, en ons oomblikke van diepste groei gebeur telkens in die lewe se leliker oomblikke; ’n lewe wat net bestaan uit mooi goed is leeg. Musiek kan, en moet dus, hierdie kompleksiteit van menswees weerspieël, en dit is telkens in die oomblikke wanneer musiek ons skok en selfs verafsku dat ons kan besin oor die volle breedte en diepte van ons menswees.”
Musiek is ’n deel van ons sosiale rituele en die liefde daarvoor deel van ons bestaan. Deur self deel te neem aan klassieke musiek, kan ouers jongmense help om ’n liefde daarvoor te ontwikkel. “Elke liewe studie wat tans beskikbaar is, wys dat musiekbeoefening goed is vir die brein, en veral in die ontwikkeling van laterale denke, kommunikasievaardighede, probleemoplossing, komplekse logika, kreatiwiteit, en selfs fisieke koördinasie. In die konteks van so ’n indrukwekkende bewysstuk ... wat kan moontlik ons rede wees om nie musiek saam met ons vriende en ons familie te praktiseer nie? Wie van ons voel nie beter na ons ’n gunstelingstuk musiek gehoor het nie.”
Schonken se visie vir die simposium is om wedersydse geleenthede op ’n internasionale verhoog te sien, maar hy hoop ook om inklusiwiteit en diversiteit as die kern van musiek in Suid-Afrika te plaas: “Oor vyf jaar wil ek ’n simposium sien wat nasionaal en internasionaal toonaangewend is, wat jonger komponiste ondersteun en inspireer en wat grense tussen genres in geheel kan verskuif om nuwe maniere van musiekmaak te genereer. Ek wil gehoorlede wat soms so gemaklik is met ou en bekende werke, inspireer om nuwe en onbekende musiek te ondersteun.”
Naas die simposium is aktiwiteite soos verhoogproduksies, eie kreatiewe uitsette en ’n album in die vooruitsig. Dit is gewoon deel van hierdie besige dosent se lewe. Schonken erken hy moet homself herinner hoe baie hy van alles hou om nie oorweldig te voel nie. Hy leer al van die eerste jaar af sy studente om hulself gereed te maak vir ’n lewe wat altyd oorvol sal wees.
Hy skerts dat hy ook tyd maak om ’n Pokémon te vang: “Ja, Pokémon Go bestaan nog.” Hy geniet ook graag ’n glasie wyn saam met ’n goeie vriend en geniet die berge rondom Stellenbosch. “Ek het ’n lewenslange bewondering vir geomorfologie en die honderde miljoene jare wat visueel in ons landskap ingekerf is.”
Hy sleep gereeld vriende saam veld toe vir voëlkyk en erken dat dit soms maar teen hulle wil is. Vir ontspanning sal hy graag verf, lees, stap en kos te maak. Hy geniet stil tye, meditasie en om kunsgalerye te besoek.
“Fisieke gesondheid is ’n ander belangrike komponent van kunstenaar wees. Ek dink dat mense geneig is om aan hulle bewussyn te dink as apart van hulle fisiese bestaan, maar natuurlik is ons eintlik net ’n fenomenaal komplekse biomeganiese masjien. Ek lag vir my studente wat skaars oefen of iets eet in ’n dag, en dan hoop dat hulle vingers die uitdaging van ’n Bach-fuga sal oorleef.”
Vir Schonken is dit belangrik om sy verhoudings met die mense vir wie hy lief is te koester, eerder as sy kreatiewe werk.
Sy gunstelingkomponis is Einojuhani Rautavaara met sy landskapmusiek: “Veral sy 7de en 8ste simfonieë is vir my sielsroerend mooi.”
Ter afsluiting sê Schonken dat die simposium ’n belewenis sal wees en dat die volle diversiteit van nuwe Suid-Afrikaanse musiek op ’n genotvolle en toeganklike manier genot aan gehore sal bring: “Hierdie musiek verg soms ’n brawe oor en ’n bereidwilligheid om nuwe en selfs vreemde klanke te hoor. Die somtyds onbekende klanke is tog egter die lieflikheid van nuwe musiek, want dit is daar waar ons die kuns van ons eie tyd kan verken en sodoende ook onsself binne daardie kreatiewe uitdrukking kan leer ken!”
- Kaartjies kan by webtickets.co.za gekoop word: 2024 Symposium of South African Composers
- Webtuiste: www.sacomposers.com
- E-pos-adres: info.sacomposers@gmail.com
- Instagram: www.instagram.com/sacomposers
Foto’s van Schonken verskaf, bladmusiek deur HeungSoon | Pixabay.