“Collective imagination is the breathing of the world (firebreath, Aimé Césaire called it) – and violence is caused by a lack of imagination.” (Uit: Breytenbach, Breyten. “Drinking moon. An illusion of selves.” p 142. Parool / Parole. Versamelde toesprake / Collected speeches)
Dit was aanvanklik vir ons as navorsers belangrik gewees om Karl Popper se filosofie van die “oop samelewing” te integreer by die ondersoek oor Breyten Breytenbach se betrokkenheid by die oprigting van die Gorée-instituut – vergelyk die tweede been van ons navorsingsvoorstel van die VisionKeepers-program (https://www.litnet.co.za/the-representation-of-imagined-africas-in-the-poetry-of-breyten-breytenbach-from-1984-2014/), asook ons eerste geakkrediteerde artikel in Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans (https://journals.co.za/doi/epdf/10.10520/ejc-tna-v26-n2-a5).
Dit was veral die rol wat Frederik van Zyl Slabbert gespeel het in sy gesprek met George Soros, waarin hy melding gemaak het van Karl Popper se “oop samelewing”, wat die deurslag gegee het tot die befondsing wat hulle ontvang het vir die reël van die Dakar-konferensie in 1987, asook vir die oprigting van die Gorée-instituut vir Demokrasie, Ontwikkeling en Kultuur (GORIN) in 1992. Vergelyk die volgende anekdote uit Slabbert se boek, getiteld Afrikaner Afrikaan (1999):
Ek [FVZS][1] en Breyten praat van hoe ons ’n klomp Afrikaanssprekendes kan kry om in Dakar, maar veral op Gorée, met die ANC-leierskap te kom praat. Die situasie by die huis is so vasgeskroef dat so iets ’n losmaak-gebeurtenis kan wees. “Skep die feite,” sê hy, “en werk met die gevolge.” Ons sweep mekaar op met die moontlikhede: hy sal, met Danielle Mitterrand se hulp, sorg vir die protokol-sy van die saak en deur haar met president Abdou Diouf van Senegal skakel; ek en Alex moet sorg vir die geld, die Afrikaanssprekendes en die uitvoerende lede van die ANC. Ons het nie die vaagste benul hoeveel dit gaan kos, of die Afrikaners en die ANC gaan kom, en of PW Botha dit gaan keer nie. Maar teen daardie tyd van die aand is geen prys te hoog en geen offer te groot nie. Die simboliek van Gorée as die kern van die slawehandel in die ou dae het ons aandag ook nie ontsnap nie. “Hier kom ’n ding!” (Breyten se mees dreigende uitdrukking). (Slabbert 1999:35)
Slabbert en Breytenbach benodig R400 000 vir die reël van die Dakar-ontmoeting. Na ’n mislukte poging by die Amerikaanse Kongres, word hulle verwys na die miljardêr George Soros in New York. Tydens ’n middagete-ontmoeting in 1986 voorspel Soros dat die Sowjetunie binnekort gaan ineenstort weens hul “geslote” ideologieë wat hulle verhinder om by te bly met moderniteit. Slabbert noem daarop dat Suid-Afrika ’n “geslote samelewing” is en verwys na Karl Popper se konsep van ’n “oop samelewing”. Hierdie verwysing raak Soros, wat as tiener uit Nazi-Duitsland gevlug het en onder Popper by die London School of Economics studeer het. Na sy sukses as belegger in die VSA, skenk Soros ’n deel van sy rykdom om die idee van ’n “oop samelewing” te bevorder. Boraine herinner Soros aan hulle doel – befondsing vir die Dakar-konferensie. Soros skryf ’n tjek van $75 000 en vra niks terug nie (Slabbert 1999:36–37).
Francis Galloway neem op ’n baie deeglike wyse bestek op van die verskillende beskouings tydens die Dakar-konferensie in haar boek Breyten Breytenbach as openbare figuur (1990). Die resultaat van die samesprekings op Dakar is dat 57 van die 59 Suid-Afrikaners en al 17 afgevaardigdes van die ANC onder leiding van Thabo Mbeki die verklaring na afloop van die konferensie onderteken. Galloway (1990:261) vermeld dat volgens die verklaring “die deelnemers uit Suid-Afrika die gemene verbintenis gehad [het] dat hulle reeds sowel die ideologie as die beoefening van die stelsel van apartheid verwerp het en hulle beywer vir die skepping van ’n verenigde, demokratiese en nie-rassige Suid-Afrika.” Galloway (1990:263–264) argumenteer dat “Breytenbach se deelname aan die samesprekings beskou kon word as deel van sy strategie om binne sy eie groep te bly werk, vastrapplek te behou [...] en by te dra tot die opsie van die tipe ‘onderhandeling’ wat hy onderskryf”.
Hermann Giliomee skryf in dieselfde trant in sy artikel “True confessions, end papers and the Dakar conference: A review of the political arguments” (1999:33) dat Breytenbach se “verterende liefde vir Suid-Afrika en [sy] geloof in die land en sy mense [hom] gedryf het om ’n ontmoeting tussen Suid-Afrikaners en die ANC te [help] reël”, asook die nagedagte dat “solank mense praat, daar nie tyd is vir skiet nie” (Galloway 1990:261). Tot hier die geskiedenis van die Dakar-konferensie.
Slabbert (1999:40–41) skryf dat hy en Breytenbach kort ná die Dakar-konferensie weer Senegal toe gegaan het om president Diouf te bedank vir sy ondersteuning, wat daarvan oortuig is dat hulle samewerking Suid-Afrika eiehandig deur die drif getrek het. Dit is wel die volgende vraag van Diouf wat Breytenbach en Slabbert onkant vang: “Gaan julle ons hier in Afrika ignoreer noudat julle hier kongres gehou het?” Hulle beloof plegtig om ’n plan te beraam. Ek haal aan:
Daardie aand [...] begin ek [FVZS] en Breyten mekaar weer opsweep. Terwyl ons die vruggies van die wingerde van Noord-Afrika plunder, swem die visioene deur ons verbeelding: wat nodig is, is om ’n gesprek tussen Suid-Afrika en die res van Afrika aan die gang te kry, oor demokrasie, kultuur en ontwikkeling. Tussen gewone mense, sodat ons oor gemeenskaplike probleme kan besin. Dink aan die ontsaglike kulturele verskeidenheid en rykdom van die kontinent; die uitruil van kennis en ervaring. Kyk na al die lesse wat ons kan leer van postkoloniale mislukkings. Geen prys is te hoog, geen offer te groot om net daar op die slawe-eiland van Gorée ’n instituut in die lewe te roep nie. Dink net aan die simboliek: van slawerny tot bevryding in Afrika! Nog voordat ons klaar is met die ete, doop ons hom die Gorée-instituut vir Demokrasie, Ontwikkeling en Kultuur in Afrika. “Hier kom ’n ding.” (Slabbert 1999:40–41)
Maar wat is die “oop samelewing” en waarom is dit van belang vir GORIN se “om Afrika te verbeel”-aspirasie en -strewe? Volgens ’n artikel van Donrich W Jordaan, getiteld “The open society: What does it really mean?”, verwys die “oop samelewing”, soos beskryf deur Popper, na ’n samelewing waarin daar ’n strewe is na vryheid, menslikheid en rasionele kritiek as fundamentele waardes (Jordaan 2017:398–401). In die Suid-Afrikaanse konteks word daar na die transformasie weg van die “geslote samelewing” van apartheid na ’n samelewing wat gebaseer is op vryheid en menslikheid verwys as die “oop samelewing”.
By die aanvang van ons ondersoek oor Breytenbach se betrokkenheid by die oprigting van die Gorée-instituut en die evaluasie van sy “om Afrika te verbeel”-aspirasie, het ons besluit om Popper se teorie vir die aanwas (of vermeerdering) van kennis en sy “drie wêrelde”-model te gebruik. Hierin illustreer Popper hoe kennis vermeerder deur ’n aanvanklike probleem (P1) te identifiseer, ’n tentatiewe teorie (TT) te skep, met die gevolg dat foute uitgeskakel word (EE), om dan by die tweede probleem (P2) op te daag (Faure en Venter 1995:40); die “drie wêrelde”-model stel ’n pluralistiese ontologie voor, wat uit drie of meer interaktiewe wêrelde bestaan: wêreld 1 as die fisiese wêreld, wêreld 2 as die wêreld van bewussyn, en wêreld 3 as die wêreld van hipotetiese veronderstellings – vergelyk ons Voertaal-artikel (https://voertaal.nu/om-afrika-te-verbeel-brugfuncties-van-breytenbach-en-goree-instituut/).
Alhoewel ons aanvanklike beweegrede ten doel gehad het om Breytenbach se tekste rakende die verbeelding van Afrika te evalueer as ’n wêreld 3-objek, het ons egter tot die besef gekom dat Breytenbach se tekste nie sigself voorgee om “wetenskaplike tekste” met weerlegbare teorieë te wees nie. Bygesê, Breytenbach se verbeelding oor Afrika wil Afrika nie verbeel vanuit ’n Eurosentriese of Westerse blik nie. Met ander woorde, die teks vra nie vir dié soort evaluasie nie. Breytenbach se verbeelding van Afrika-strewe vra veel eerder vir ’n Afrika-perspektief om daarvolgens gelees en geïnterpreteer te word. Dit is egter nie te sê dat Afrika-konsepte uit die Afrika-filosofie nie strook met Popper se “oop samelewing” nie. Inteendeel, Jordaan (2017:401) wys immers hoe die konsep van ubuntu as kollektivisme aanvanklik met die individualistiese benadering van die “oop samelewing” gebots het, alhoewel dit later eerder as altruïsme met Afrika-wortels beskou is.
Ons moet egter onsself veel eerder wend tot die Afrika-filosofie om Breytenbach se ideaal binne die Afrika-konteks te verstaan en uit te bou. Daarom is die voorstel dat ons afstand doen van Popper se kritiese rasionalisme en ons fokus rig op die ondersoek van twee bene in die Afrika-filosofie, naamlik wysgeer- of wysheidsfilosofie (of “sage or wisdom philosophy” in Engels) soos uiteengesit in die werk van Henry Odera Oruka en Pius Mosima en/of Afrika se politieke filosofie, waarvan Kwame Nkrumah, Léopold Sédar Senghor, Aimé Césaire en Frantz Fanon die belangrikste figure is (vgl Higgs en Letseka 2022).
Ons poging om meer geïntegreerd te werk te gaan met Afrika-filosowe het reeds ’n aanvang geneem. Hierin verwys ek na T’Sjoen se inleidende ondersoek na Kwame Nkrumah op Samespraak (https://www.samespraak.com/blogs/yves-tsjoen-dr-kwame-nkrumah-en-de-pan-afrikaanse-gedachte). Hierin word insigte rakende Nkrumah se nalatenskap as Ghana se eerste president en ’n voorstander van Pan-Afrikanisme vermeld. Nkrumah se Pan-Afrikaanse idees, tesame met denkers soos Senghor en Fanon, beklemtoon ’n gedeelde Afrikaanse identiteit oor die hele kontinent.
Ons navorsingsvoorstel word daarom gewysig en ons sien uit na die nuwe fase van ons ondersoek, waarin Afrika-filosofie en -filosowe die kollig verkry in Breytenbach en GORIN se “om Afrika te verbeel”-aspirasie en -strewe.
Bibliografie
Breytenbach, Breyten. 2015. Parool / Parole. Versamelde toesprake / Collected speeches. Kaapstad: Penguin Random House.
Faure, Murray. en Venter, Albert. 1995. Karl Popper se kritiese rasionalisme. In Snyman, Johan. Wetenskapbeelde in die geesteswetenskappe. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing. 35–64.
Galloway, Francis. 1990. Breyten Breytenbach as openbare figuur. Pretoria: HAUM-Literêr.
Giliomee, Hermann. 2009. True confessions, end papers and the Dakar conference: A review of the political arguments. Tydskrif vir Letterkunde, 46(2):28–42.
Higgs, Philip en Letseka, Moeketsi. 2022. Philosophy of education today: An introduction. Kaapstad: Juta.
Jordaan, Donrich W. 2017. The open society: What does it really mean? De Jure, 50(2):396–405. http://www.scielo.org.za/pdf/dejure/v50n2/12.pdf.
Roux, Alwyn. 2019. The representation of “imagined Africas” in the poetry of Breyten Breytenbach from 1984–2014. LitNet, 26 Julie. https://www.litnet.co.za/the-representation-of-imagined-africas-in-the-poetry-of-breyten-breytenbach-from-1984-2014/ (25 Augustus 2023 geraadpleeg).
Roux, Alwyn en T’Sjoen, Yves. 2019. ’n Kartering van Breyten Breytenbach se betrokkenheid by die Gorée-instituut vir demokrasie, ontwikkeling en kultuur in Afrika (1987–2017). Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 26(2):30–50. https://journals.co.za/doi/epdf/10.10520/ejc-tna-v26-n2-a5.
—. 2020. Om Afrika te verbeel: Brugfuncties van Breytenbach en Gorée Instituut. LitNet, 17 Januarie. https://www.litnet.co.za/om-afrika-te-verbeel-brugfuncties-van-breytenbach-en-goree-instituut/.
Slabbert, Frederik van Zyl. 1999. Afrikaner Afrikaan: Anekdotes en analise. Kaapstad: Tafelberg.
T’Sjoen, Yves. 2023. Dr Kwame Nkrumah en de pan-Afrikaanse gedachte. Samespraak, 27 Julie. https://www.samespraak.com/blogs/yves-tsjoen-dr-kwame-nkrumah-en-de-pan-afrikaanse-gedachte (25 Augustus 2023 geraadpleeg).
Eindnota
[1] Ons invoeging.
Foto’s
Breyten Breytenbach, Izak de Vries
Frederik Van Zyl Slabbert se voorblaaie, Tafelberg
George Soros: Niccolò Caranti, WikiMedia, CC BY-SA 4.0: https://commons.wikimedia.org/w/index.php?curid=69674607
Henry Oruka, Twitter: https://twitter.com/HenryOruka_acci
Karl Popper, WikiMedia, Openbare domein: https://en.wikipedia.org/wiki/Karl_Popper#/media/File:Karl_Popper.jpg
Kwame Nkrumah, WikiMedia, Openbare domein: https://en.wikipedia.org/wiki/Kwame_Nkrumah#/media/File:Kwame_Nkrumah_(JFKWHP-AR6409-A).jpg
Pius Mosima, Universiteit Leiden: https://www.ascleiden.nl/content/ASC-community/members/pius-m-mosima
Lees ook
Om Afrika te verbeel: Brugfuncties van Breytenbach en Gorée Instituut
‘Imagine Africa’. Gorée-instituut voor democratie, ontwikkeling en cultuur in Afrika (1992-2022)
The representation of “imagined Africas” in the poetry of Breyten Breytenbach from 1984–2014