Geweld het op 14 Augustus in Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo uitgebreek toe die polisie met rubberkoeëls en traanrook op betogers losgebrand het.
Die meeste besighede en skole het uit vrees vir moontlike geweld of skade hulle deure gesluit toe die skare oproerig begin raak. Die polisie sê hulle het met rubberkoeëls op die betogers geskiet nadat hulle swart vullissakke buite die dorp se munisipaliteit aan die brand gesteek het. Minstens nege mense is beseer.
Inwoners het met massabetogings begin weens gebrekkige dienslewering, onstabiliteit en politieke moorde. Hulle sê hulle was verbaas oor die polisie se optrede omdat hulle nie uitgelok is nie. Gemeenskapsorganiasies soos SANCO en die Mokopane-taakspan was aan die voorpunt van die betogings.
Die joernalis Yusuf Abramjee het videomateriaal op Twitter geplaas van die betoging op die dorp wat handuit geruk het.
Mokopane Limpopo: Unrest pic.twitter.com/DDtI4nz8sI
— Yusuf Abramjee (@Abramjee) August 14, 2019
.............
Ontevrede inwoners het vroeër gedreig om die dorp onbepaald tot stilstand te dwing omdat hulle ontevrede is met dienslewering en die dorp se burgemeester, Andrina Matsemela. Sy word beskuldig van verskeie ongerymdhede en die inwoners kla dat hulle nie basiese dienste kry nie.
Verskeie ander mense het ook foto’s en video’s op Twitter gedeel oor die betoging wat volgens die polisie onwettig was.
Mokopane shutdown.. #potties pic.twitter.com/bbiPpgMden
— BlackJuice🍊🍊 (@TiReverend) August 1, 2019
.............
Die provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus en lid van die provinsiale wetgewer, Marcelle Maritz, het die polisie se optrede skerp gekritiseer. Sy sê die betogers het vreedsaam voor die munisipaliteit vergader en weet nie waarom die polisie op hulle begin skiet het nie.
Maritz het ’n video op Facebook gepos waarin sy haar kritiek teenoor die polisie uitspreek. Sy sê die optog was baie vreedsaam en die mense het net hul misnoeë oor [beweerde] korrupsie in die stadsraad uitgespreek. Volgens haar het die polisie skielik op die vreedsame betogers losgebrand.
Sy sê dit is kommerwekkend dat die polisie in 2014 niks gedoen het toe daar teen die [beweerde] korrupte mense opgetree moes word nie en dat daar nou opgetree word teen onskuldige mense wat net moeg is omdat hulle sonder water en dienslewering moet klaarkom.
Geplaas deur Marcelle Maritz op Woensdag 14 Augustus 2019
.............
Die provinsiale polisiewoordvoerder, brigadier Motlafela Mojapelo, het egter volgens Times Live gesê die betogers wou die hele dorp tot stilstand dwing en die polisie moes optree omdat hulle die strate afgesper het.
Die VF+ het ook gevra dat burgemeester Matsemela onmiddellik ontslaan word. Die party het die provinsiale owerheid versoek om ’n dringende ondersoek na die omstandighede by die Mogalakwena-munisipaliteit te gelas.
Die munisipaliteit het [na bewering] in drie jaar meer as R1 miljard wanbestee en is die tweede swakste munisipaliteit in die land, sê Maritz.
Die situasie in die dorp het volgens haar plofpunt bereik. “Weens wanadministrasie het dienslewering tot stilstand gekom en is die munisipaliteit se naam deur die modder gesleep.”
Gemeenskapsleiers en burgerlike organisasies eis reeds geruime tyd dat daar van die burgemeester ontslae geraak word.
Netwerk24 berig gemoedere in die dorp loop hoog sedert twee ANC-hoës byna drie weke gelede koelbloedig doodgeskiet is, kort na ’n raadsvergadering waar hulle blykbaar vir ’n forensiese ondersoek na beweerde tenderbedrog gevra het.
’n DA-raadslid op die dorp, Korny Dekker, het vroeër die week gesê sy party gaan op die volgende raadsvergadering, wat binne die volgende twee weke gehou word, ’n mosie van wantroue teen die burgemeester indien. Hy sê sy gee niks vir die gemeenskap om nie en haar onbevoegdheid veroorsaak erge diensleweringsprobleme.
Afriforum het reeds ’n klag teen die beleërde burgemeester ingedien omdat sy na bewering verlede jaar meer as R1 miljoen se munisipale geld aan ’n verjaardagpartytjie vir haarself bestee het.
#MokopaneShutdown pic.twitter.com/qJlIXAmmdJ
— 💜🇿🇦 (@mogalakwena_s) August 13, 2019
Lees ook
Buro: MvH