DA begin petisie om Afrikaans as inheemse taal te erken

  • 0

Die DA het ’n petisie van stapel gestuur vir die regering om Afrikaans amptelik as ’n inheemse taal te erken. Die petisie is gerig aan die minister van hoër onderwys en opleiding, Blade Nzimande, in reaksie op sy klassifisering van Afrikaans as “uitheems” in sy departement se Beleidsraamwerk vir Hoëronderwysinstellings.

Die geveg tussen die DA en Nzimande oor Afrikaans het in ’n yslike taaltwis ontaard nadat die DA hom daarvan beskuldig het dat hy Afrikaans haat. Dit volg op Nzimande se volgehoue weiering om Afrikaans as inheemse taal te erken ondanks ’n beslissing deur die Konstitusionele Hof dat Afrikaans wel ’n inheemse taal is. Die Konstitusionele Hof het vroeër eenparig beslis dat die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) ongrondwetlik opgetree het toe hulle Afrikaans as onderrigtaal aan die  universiteit geskrap het.

Nzimande het aangedui sy departement gaan regsadvies inwin na  aanleiding van die hof se uitspraak en die DA van ’n wit regse agenda beskuldig.

Die DA-parlementslid Leon Schreiber, kiesafdelingshoof van die DA in Stellenbosch, het op Facebook teen Nzimande uitgevaar.

“Eers beswadder Blade Nzimande die DA se klag teen sy haatdraende klassifisering van Afrikaans as ‘rassisties’, maar nou soek sy eie departement regsadvies daaroor? Die DA gaan hierdie stomp Blade aanhou slyp totdat hy Afrikaans as inheems erken!” het Schreiber op Facebook geskryf.

Die Afrikaanse Taalraad het ook hulle misnoeë op Twitter uitgespreek teen enige suggestie dat Afrikaans nie ’n inheemse taal is nie.

“Afrikaans is ’n Afro-Germaanse taal wat in Afrika ontstaan het en dus inheems is. Dié werklikheid kan nie deur politici, beamptes of howe verander word nie en geld vir al die variëteite van Afrikaans. Om anders te beweer, is om die wetenskap onderhewig aan die politiek te maak,” het die Taalraad op Twitter gesê.

Die petisie wat nou deur die DA begin is, eis dat Nzimande dadelik die definisie van inheemse tale aanpas om Afrikaans in te sluit, dat hy die Afrikaanssprekende gemeenskap in die openbaar en onvoorwaardelik om verskoning vra vir sy optrede, en dat hy openbare universiteite versoek om hul taalbeleide aan te pas om ruimte te skep vir Afrikaans se status as inheemse taal.

Schreiber sê in ’n verklaring Nzimande volhard met die haatlike, kwetsende en onwetenskaplike klassifisering van Afrikaans as “uitheems” ten spyte van die Konstitusionele Hof se eenparige uitspraak in die onlangse Unisa-hofsaak, waartydens regter Steven Majiedt uitdruklik daarop gewys het dat die begrip inheemse taal ook vir Afrikaans geld.

Majiedt en die volbank regters het verder gesê dat “die wanopvatting van Afrikaans as ‘die witmense se taal’ en ‘die taal van die onderdrukker’ […] ’n skreiende wanvoorstelling van die taal en die ware oorsprong daarvan [is]. Dit verg herhaling dat Afrikaans tans oorheersend die taal van swar tmense is. En dit word gebesig deur swart mense, nie net in sogenaamde ‘bruin’ woonbuurte nie, maar ook in baie swart woonbuurte in verskeie streke van ons land.”

Die DA het ook reeds ’n klag oor Nzimande se beskrywing van Afrikaans as “uitheems” by die Menseregtekommissie ingedien, omdat hulle glo dat die klassifisering inbreuk maak op die reg van die diverse Afrikaanssprekende gemeenskap op moedertaalonderrig, gelykheid en waardigheid.

“Die definisie skep ook die indruk dat die ANC-regering die sprekers van Afrikaans as ‘uitheems’ of op die een of ander manier ‘vreemd’ aan Suid-Afrika beskou.”

In sy reaksie het Nzimande hom volgens Die DA skuldig gemaak aan presies die soort “skreiende wanvoorstelling” waarteen regter Majiedt gewaarsku het deurdat Nzimande besware teen die klassifisering as “rassisties” en “nasionalisties” afgemaak het.

Die DA het alle Suid-Afrikaners aangemoedig om hierdie petisie te onderteken, waarna die DA dit aan Nzimande sal oorhandig met die eis dat Afrikaans se regmatige plek as ’n volwaardige inheemse Suid-Afrikaanse taal erken word.

Die DA se petisie kan hier onderteken word.

Lees ook:

Druk neem toe op minister om Afrikaans as inheems te erken

Europese parlemente gevra om druk uit te oefen op Suid-Afrika se rassebeleid

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top