Druk neem toe op minister om Afrikaans as inheems te erken

  • 0

Taalaktiviste vir Afrikaans dring daarop aan dat die minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, Blade Nzimande, sy departement se standpunt dat Afrikaans ’n uitheemse taal is, hersien en die taal as inheems erken.

DAK Netwerk en die DA het albei te kenne gegee dat hulle druk op die minister wil uitoefen om Afrikaans as inheemse taal te erken.

DAK Netwerk se uitvoerende voorsitter, Danie van Wyk, het aan Voertaal gesê hulle het reeds geruime tyd gelede ’n volledige voorlegging aan die Minister gestuur waarom Afrikaans as ’n inheemse taal erken moet word.

Hy sê die departement het ontvangs van hulle memorandum erken, maar daar was nog geen verdere reaksie van die Minister of sy departement nie.

Die hernude druk met betrekking tot Afrikaans se inheemse status volg op verlede week se uitspraak deur die Konstitusionele Hof oor Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Die hof het bevind dat Afrikaans wel as inheems in ons konstitusionele reg beskou word.

Die DA het Maandag ’n klag by die Menseregtekommissie teen Nzimande ingedien oor sy aandrang dat Afrikaans as ’n “uitheemse” taal in Suid-Afrika geklassifiseer word. Volgens die DA is dié standpunt haatdraend en ongrondwetlik.

Die party sê in ’n verklaring deur aan te hou om die hof in dié verband te minag, ondermyn Nzimande die reg op moedertaalonderrig en oortree hy die regte van Afrikaanssprekendes op waardigheid en gelykheid.

Vroeër vanjaar het Nzimande in die jongste taalbeleidsraamwerk vir openbare hoëronderwysinstellings Afrikaans uitgesluit in sy definisie van inheemse tale. Die beleid maak slegs voorsiening vir tale wat “tot die suidelike Bantoetaalfamilie behoort” as inheems.

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie (Foto: Amerikaanse ambassade, Suid-Afrika, via Wikimedia Commons [openbare domein])

“Hierdie foutiewe, onwetenskaplike en skadelike uitsluiting van Afrikaans is reeds by die Universiteit Stellenbosch gebruik om ’n agenda te bevorder wat Afrikaans by dié instelling uitrangeer,” sê die DA in hulle verklaring.

Die DA sê hulle het reeds voorheen aan Nzimande geskryf en gevra dat die definisie aangepas word sodat Afrikaans as inheemse taal erken kan word en dieselfde status geniet as alle ander inheemse Suid-Afrikaanse tale.

“Nzimande het ons versoek geïgnoreer en ons het nou ons korrespondensie na die Menseregtekommissie verwys as bewys dat Nzimande moedswillig en doelbewus teen Afrikaans diskrimineer.”

Volgens die DA is daar uit beide ’n wetenskaplike en ’n regsperspektief geen twyfel dat Afrikaans net so inheems tot Suid-Afrika is as die kokerboom en die protea nie.

“Dit is deur regter Steven Majiedt bevestig toe hy die Konstitusionele Hof se uitspraak gelewer het dat Afrikaans weer by Unisa ingestel moet word. Regter Majiedt erken die belangrike rol wat gespeel is deur mense wat inheems is en aan slawerny onderworpe was in die ontwikkeling van Afrikaans, en verwys uitdruklik na inheemse tale, insluitend Afrikaans. Regter Majiedt verwerp ook die karakterisering van Afrikaans as “die taal van die onderdrukker” en sê dat hierdie idee lynreg indruis teen “die ware geskiedenis van Afrikaans se oorsprong en ontwikkeling”.

Die party sê in hulle verklaring deur aan te hou om Afrikaans van die definisie van inheemse tale uit te sluit, weens oënskynlik ideologiese en politieke redes, tart Nzimande die Grondwet uit en ondermyn hy aktief taal- en menseregte tot die punt waar die waardigheid en gelykheid van Afrikaanssprekendes geskend word. Die DA doen ’n beroep op die Menseregtekommissie om vinnig en beslissend teen Nzimande op te tree om te verseker dat Afrikaans sy regmatige plek as amptelike, inheemse Suid-Afrikaanse taal kan inneem.

“As Nzimande vir een oomblik ophou om teen sy ideologiese oogklappe vas te kyk, sal hy eerder ons land se diversiteit omarm deur ag te slaan op Majiedt se beskrywing van Afrikaans as ’n ‘heterogene, reënboogtaal’ wat ’n ‘wonderlike paradoks van menslike vindingrykheid en kreatiwiteit bevat’,” sê die DA se parlementslid en kiesafdelingshoof van Stellenbosch, Leon Schreiber.

Lees en kyk ook op Voertaal en LitNet:

Konstitusionele Hof sê Afrikaans is nie die taal van rassiste en onderdrukkers nie

https://www.litnet.co.za/the-classification-of-afrikaans/

https://www.litnet.co.za/kaaps-is-the-future-of-afrikaans/

https://www.litnet.co.za/griefskrif-met-sewe-eise-vir-afrikaans-aan-us-oorhandig/

https://www.litnet.co.za/is-afrikaans-aan-die-us-n-spyker-ryker-in-haar-doodskis/

https://www.litnet.co.za/speech-by-david-jantjies-at-the-dak-meeting-with-the-sahrc/

https://www.litnet.co.za/us-taaldebat-2021-ek-is-afrikaaps/

https://www.litnet.co.za/william-sezoe-gesels-met-open-stellenbosch-en-studenteplein/

https://www.litnet.co.za/belgiese-akademikus-stuur-sterk-boodskap-aan-us/

https://www.litnet.co.za/die-eerste-woordeboek-in-kaaps-n-onderhoud-met-quentin-williams/

https://www.litnet.co.za/afrikaans-language-dissent/

https://www.litnet.co.za/holland-word-kaaps/

https://www.litnet.co.za/fotoblad-die-boekbekendstelling-van-the-afrikaans-of-the-cape-muslims/

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top