Die DA-leier, John Steenhuisen, het in aanloop tot Donderdag se staatsrede wat deur president Cyril Ramaphosa gehou sal word, sy eie alternatiewe staatsrede Dinsdag in Kaapstad gelewer.
Kaapstad, waar die DA ’n volstrekte meerderheid in die metro geniet, is telkens in Steenhuisen se “staatsrede” as voorbeeld voorgehou hoe Suid-Afrika onder ’n DA-regering kan lyk. Hy het ook na ander DA-beheerde munisipaliteite verwys waar die DA volstrekte meerderhede geniet waaronder heelwat in die Wes-Kaap, asook Midvaal in Gauteng, Kouga in die Oos-Kaap, en meer onlangs, uMngeni in KwaZulu-Natal.
Hierdie munisipaliteite bied volgens Steenhuisen ’n blik op hoe Suid-Afrika kon gelyk het byna 30 jaar na demokrasie.
???? [MUST WATCH]
"Our choice of road will determine whether we end up a failed state with misery, poverty and hunger, and social anarchy, or whether we embark on the long, arduous journey to recovery, and ultimately prosperity." - @jsteenhuisen#TSONA2023 #SONA2023 pic.twitter.com/D5DFOhzxSN
— Democratic Alliance (@Our_DA) February 7, 2023
“Hoe sou Suid-Afrikaners oor die toekoms gevoel het as die hele land in dieselfde rigting as Kaapstad, Midvaal, uMngeni, Kouga en ander plekke met stewige DA-meerderhede op pad was?” het Steenhuisen gevra.
“Hoe sou beleggers na Suid-Afrika gekyk het as die nasionale regering nie korrupsie duld nie en die private sektor as ’n vennoot omarm, soos wat die Wes-Kaap doen?”
Hy sê hoewel hy nie voorgee dat DA-regerings perfek is nie, hy vol vertroue is dat die meeste mense baie meer hoopvol oor Suid-Afrika se toekoms sou wees as die nasionale regering eerlike en kwaliteitdienste lewer op dieselfde vlak as die Wes-Kaap, Midvaal en uMngeni.
Sedert Ramaphosa vyf jaar gelede as president ingehuldig is, ry hy volgens Steenhuisen op die rug van leë beloftes nadat hy op ’n golf van welwillendheid en euforie die leisels oorgeneem het ná die ramp wat die ANC-regering van Jacob Zuma aangerig het.
Hy sê vandag weet almal dat daar baie min oor is van daardie welwillendheid, en nog minder vertroue dat dinge sal verbeter.
Steenhuisen sê die mees sprekende maatstaf waarmee die regering se prestasie gemeet kan word is waarskynlik die ure, of dae, wat die land sedert 2018 onder beurtkrag deurgeloop het, want dit is verreweg die enkele grootste belemmering vir belegging en groei.
In 2018 het Suid-Afrika altesaam ses dae onder beurtkrag deurgeloop.
“Sedertdien het dit elke jaar gestyg – eers na 22 dae, toe 35 dae, en in 2021 het ons 48 dae onder beurtkrag deurgeloop.”
Steenhuisen sê dit was egter in 2022 dat die wiele regtig afgekom het toe die land ’n ongelooflike 157 dae onder beurtkrag moes verduur. En dit lyk reeds of 2023 daardie rekord gaan verpletter.
“Net die afgelope Sondag het Eskom ’n twyfelagtige nuwe rekord opgestel vir die langste tyd ooit van ononderbroke beurtkrag, naamlik ’n verbysterende 984 opeenvolgende ure.”
Hierdie is nie ’n land aan die herstel nie. Dit is ’n land wat uitmekaar val, het die DA-leier gesê.
Hy sê hoewel beurtkrag die sigbaarste en mees dreigende staatsversuim is wat Suid-Afrikaners raak, is dit geensins die enigste nie.
“Ons poskantoor het ineengestort. Ons vragspoornetwerk het ineengestort. Ons passasierspoordiens het ineengestort. Ons hawens het amper ineengestort. Ons polisiediens verloor die oorlog teen geweldsmisdaad. En munisipale dienslewering in honderde dorpe regoor die land bestaan feitlik nie.”
Die enigste hoopvolle alternatief vir Suid-Afrika in volgende jaar se algemene verkiesing is volgens Steenhuisen ’n regering wat gelei sal word deur dieselfde DA-waardes en -beginsels wat ’n plek soos Kaapstad op ’n fundamenteel beter baan geplaas het as alle ANC-bestuurde regerings.
Hy sê hoewel dit moeilik is om die presiese samestelling van ’n nuwe regering te voorspel, sal enige sodanige meerderheidskoalisie per definisie die DA as die anker moet hê.
“Die waarheid is dat daar net twee realistiese moontlikhede op die tafel is hoe die Suid-Afrikaanse politiek ná die 2024-verkiesing gaan lyk. Die een is die afgryslike vooruitsig van ’n regering wat aanhou funksioneer op grond van die mislukte ANC-paradigma van staatsbeheer, kaderontplooiing en patronaatskap.
“Die ander, hoopvolle moontlikheid is ’n regering wat ’n nuwe koers uitstippel, gelei deur die DA se waardes en beginsels: aanspreeklikheid, nierassigheid en ’n standvastige verbintenis tot die oppergesag van die reg en ’n sosiale markekonomie.”
Selfs diegene wat hoop dat een of ander nuwe party gestig word, of dat ’n “gesuiwerde” weergawe van die ANC voor 2024 ’n wegbreekparty sal vorm, kan volgens Steenhuisen nie die realiteit vryspring dat sulke splinterpartye nêrens naby 50% sal kom nie.
"It is for precisely a moment like this – where we are confronted with a binary choice between oblivion and reconstruction – that we have a democracy.
Now is the time to use it to save our beloved country.
Thank you." - @jsteenhuisen #TSONA2023 pic.twitter.com/JqSagL12lh
— Democratic Alliance (@Our_DA) February 7, 2023
Volgens Steenhuisen sal niks wat Ramaphosa Donderdag sê, iets aan die ANC-mislukkings verander nie.
“Trouens, Ramaphosa is die een wat ons oor die afgelope vyf vermorste jare op hierdie pad van mislukking geneem het, waartydens hierdie land vinnig agteruit gegaan het volgens elke denkbare maatstaf,” het Steenhuisen gesê.
Lees ook:
Tien stukkies raad aan mnr Ramaphosa voor die Staatsrede van 2023